Ek weet dat dit wat ek volgende gaan sê nie “polities korrek” is nie. Kom ek stel dit so: Waarom sou u van die God van die Bybel verwag om die gebede te verhoor van mense wat tot ’n ander god bid? Mense wat op die verkeerde manier bid? Mense wat gereeld ongehoorsaam is aan die ware God? Mense wat vir die verkeerde dinge vra?

Die antwoord is eenvoudig – u sou nie! Moenie ’n fout maak nie. U het geen rede om ware antwoorde op u gebede te verwag tensy u tot die ware God bid op die regte manier nie. Dit mag buitensporig klink vir diegene wat Christenskap as vanselfsprekend aanvaar; dit beskou as net nog een van die baie godsdienste in die wêreld. Tog is die waarheid dat letterlik miljoene mense in ons Westerse, sogenaamde Christenwêreld, GEEN BENUL het wie die ware God is of hoe hulle tot Hom moet bid nie.

Ja, ek is baie bewus daarvan dat baie mense ’n sinnelose geprewel of “mantra” vir hulself herhaal en daarna “beter voel”. Aangesien probleme hulself dikwels oplos, voel baie mense dan dat hulle gebede verhoor is, terwyl dit nie werklik so is nie. Dit gaan hand aan hand met die beoefening van “wetenskap van die verstand” of die “krag van positiewe denke”.

Maar dit is NIE die tipe “verhoring” waarvan ek praat in hierdie boekie nie. Dit waarvan ek praat is direkte, goddelike INGRYPING deur die persoonlike God van die Bybel – die Skepper van die hemele en die aarde en aktiewe Heerser van die ganse heelal! Hoe kan u en u geliefdes hierdie soort verhoring van u gebede ervaar? Hoewel ander punte uitgelig kan word, wil ek ’n paar basiese “sleutels” tot verhoorde gebed meld. Ek is oortuig dat wanneer u hierdie punte letterlik, opreg en van ganser harte navolg, u sal begin om ware ANTWOORDE op u gebede te ontvang. Dit mag so werklik en kragtig wees dat dit baie sal verras wat nog nie tevore hierdie soort krag ervaar het nie.

Sleutel #1 – Bid Opreg tot die Ware God

Dit is absoluut lewensbelangrik dat u tot die werklike God van die Bybel bid as u ware verhoring van u gebede verwag. Hy onthul Homself aan die mensdom op baie wyses: deur die skepping, in die Bybel, in Sy voorafvertelling van spesifieke goddelike ingryping in wêreldaangeleenthede en in direkte VERHORING van diegene wat Hom soek en gehoorsaam.

Die apostel Paulus is geïnspireer om die ware God op hierdie wyse te beskryf: “Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is – soos daar baie gode en baie here is – tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom” (1 Korintiërs 8:5-6).

In ons moderne, ekumeniese (universele) benadering tot godsdiens, mag ons dink dat gebede tot die een of ander vae “wese” in die lug of tot ’n beeld van Boeda, dieselfde is as gebede tot die SKEPPER, die God van Abraham, Isak, Israel en Jesus Christus, maar dit is hoegenaamd nie dieselfde nie!

Die ware God is deur Jesus Christus onthul (Mattheus 11:27). Aan een van Sy dissipels sê Hy: “Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self” (Johannes 14:9-11).

Ons lees van Jesus Christus wat erken dat God ’n liefdevolle, goddelike Persoon is, ’n “Vader”. Ons sien ook die Vader wat deur Christus die siekes genees, die swaarmoediges troos en diegene wat Hy roep, leer om die Tien Gebooie te onderhou as ’n lewenswyse (Mattheus 19:17). Dit help ons sekerlik om God se karakter asook Sy begeerte vir ons, beter te verstaan.

Christus het ook vir ons ’n voorbeeld gestel in sy gebede tot die Vader: “DIT het Jesus gespreek, en Hy het sy oë na die hemel opgehef en gesê: Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik” (Johannes 17:1). Weer, toe Hy sy dissipels in breë trekke, die behoorlike benadering tot gebed gegee het, sê Hy: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” (Mattheus 6:9-13).

Daar het Jesus weer onthul dat die God tot wie ons moet bid, ’n Vader is. Wat onthul Christus aangaande Hom? Hy is “in die hemele”. Hy het ’n Koninkryk of Regering wat op hierdie aarde opgerig gaan word. Hy, as ons Vader, is die Een wat ons ons daaglikse brood kan gee, ons sondes vergewe, ons van Satan kan verlos en ons in daardie ewigdurende Koninkryk kan bring.

In sy beskrywing van hierdie ware God, waarmee so min mense vandag bekend is, maak die apostel Paulus die stelling: “Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ’n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ’n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle. Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Handelinge 17:23-26).

Ons leer meer aangaande die ware God in die Ou Testament. Die groot Babiloniese koning, Nebukadnésar, is vertel dat hy uit sy koninkryk verdryf sou word “totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil” (Daniël 4:32). Hierdie God sal geen voorrang met enige ander God deel nie. Hy inspireer Jesaja om te skryf: “Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie. Ek sweer by Myself, geregtigheid gaan uit my mond, ’n woord wat nie herroep word nie: dat voor My elke knie sal neerbuig, by My elke tong sal sweer” (Jesaja 45:22-23).

Hierdie is ’n eerbiedwekkende God, met oneindig baie mag en heerlikheid! Wanneer u op beide knieë gaan en u hande oplig in gebed tot die grote SKEPPER van die heelal, moet u dink tot wie u bid en Sy naam “heilig” of prys, soos Jesus opdrag gegee het. Onthou dat Hy nie nét die Skepper is nie, maar ook die aktiewe Heerser van die ganse heelal, wat die opgang en val van nasies volgens Sy wil rig. Hy is die Een in beheer van die weer, wat reën “in seisoen” stuur (verg. Deuteronomium 28:12), en by tye droogte en verwoesting na die nasies wat gestraf moet word, bring (verse 24-25).

Tog, wanneer u uself aan God oorgee, Hom gehoorsaam en Hom dien, sal HY u liefdevolle Vader, Beskermer, Geneesheer, Gewer van “elke goeie en volmaakte gawe” (Jakobus 1:17) wees en die Een wat oorloop van liefde en genade. “Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:11-14).

Maak seker dat u altyd spesifiek tot hierdie God bid, die ware God, en tot geen ander nie. Sodra u met u gebed begin, dink bewustelik tot wie u bid en aanbid die Grote God wat u lewe gee.

Sleutel #2 – Bestudeer die Bybel

Dit word natuurlik afgelei dat om tot die ware God te bid behels om te glo wat Hy sê. Ons vind Sy woorde, sy instruksies aan mense oor hoe hulle moet leef, in die Bybel. Dit onthul belangrike kennis wat ons nie op enige ander wyse kan bekom nie. Dit is God se “Handleiding” vir die mensdom. Dit vertel ons wie God is, hoe Hy is en hoe ons Hom behoort te dien. Daarin vind ons God se eie instruksies oor hoe ons tot Hom moet bid.

Maar u sal hierdie volle instruksies nie ontvang deur net “kerk toe te gaan” of sorgeloos hier en daar ietsie uit die Bybel te lees vir vertroosting of inspirasie nie. God beveel ons in Sy Woord: “Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ’n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ’n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig” (2 Timotheus 2:15 NV).

Om God te ken, Sy wil te verstaan en in Sy beloftes te GLO, moet u gereeld Sy geïnspireerde Woord BESTUDEER op ’n geordende wyse, net soos u ’n wetenskap handboek of geskiedenisboek sal bestudeer. ’n Goeie plek om te begin is die boek van Mattheus, die eerste boek in die Nuwe Testament. Lees dit stadig en noukeurig deur, let op wat Jesus werklik gesê het, en gee spesifieke aandag aan al die baie voorbeelde van verhoorde gebede.

Dit is buite die bestek van hierdie boekie om die goddelike inspirasie van die Bybel deeglik te bewys. Indien u egter wil, kan u bewys dat die profesieë wat SLEGS in die Bybel voorkom óf alreeds in letterlike besonderhede in die verlede vervul is, óf nou vervul word in hierdie opwindende eindtyd waarin ons leef. Wanneer u die besonderhede en strekking van hierdie profesieë verstaan, sal u sien dat God feitlik Sy handtekening aangebring het in die Bybel en daardeur duidelik aantoon dat hierdie boek een is wat DEUR GOD geïnspireer is! Die apostel Paulus het geskryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timotheus 3:16-17).

Wanneer u dus die spesifieke beloftes in die Bybel lees, vra die Almagtige God om hulle in u lewe te vervul. Wanneer u sien dat Jesus en ander mense vir sekere dinge gevra het, besef dat dit ’n voorbeeld vir u is om na te volg. Volg Jesus en die Apostels se voorbeeld in al u gebede. Laat u gebede dieselfde wees as hulle s’n wanneer u soortgelyke beproewinge en probleme ondervind.

Wat van Koning Dawid van Israel en die ander groot profete van die verre verlede? Hul opregte gebede en die buitengewone verlossing wat God aan hulle gegee het leer ons op dieselfde wyse en versterk ons geloof: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korintiërs 10:11).

Een van die redes waarom Koning Dawid ’n man so na God se hart was (1 Samuel 13:14), is nie net omdat hy God gehoorsaam het nie, maar omdat hy gedurig tot God gebid en met Hom geleef het, Hom gedurig aanbid en LIEFGEHAD het. U sien hierdie gesindheid duidelik dwarsdeur die Psalms: “LOOF die HERE, o my siel! HERE my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed – wat Uself omhul met die lig soos met ’n kleed, wat die hemel uitspan soos ’n tentdoek; Ek wil sing tot eer van die HERE solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is” (Psalm 104:1-2, 33).

Laat die gememoriseerde, dikwels betekenislose gebede van algemene godsdiens agterweë, begin om die leringe en voorbeelde aangaande gebed in u Bybel te BESTUDEER. Laat die geïnspireerde Woord van God u leer hoe om te bid en waarvoor om te vra. GLO die leringe en beloftes wat u in hierdie heilige boek vind.

Sleutel #3 – Diepe Bekering van u Sondes

Hoewel God van tyd tot tyd die gebede verhoor van enigiemand wat opreg tot Hom roep in tye van nood, is Hy nie deur Sy Woord verbind om dit te doen nie. Dit is waarom mans en vroue wat siek was van die gruwel van oorlog aangedring het: “Waar was GOD by die Slag van Leningrad, toe honderde duisende gesterf het?” Hulle het gevra: “Waar was GOD toe die Jode, Pole, Tjegge, Dene en Nederlanders in die Tweede Wêreldoorlog in gaskamers gesterf het?”

God se Woord antwoord: “KYK, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jesaja 59:1-2).

Dieselfde beginsel word gevind in die Nuwe Testament. ’n Man wat Jesus van blindheid genees het sê: “En ons weet dat God nie sondaars verhoor nie; maar as iemand godvresend is en sy wil doen, dié verhoor Hy” (Johannes 9:31).

Dit is nie ons plig om diegene wie se gebede in die verlede nie verhoor is sielkundig te analiseer of “geestelik uitmekaar te trek” nie. Maar ons het almal die plig om onsself te vra: “Aanbid ek die ware God? Doen ek Sy wil?”

Jesus sê: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheus 19:17). Onderhou u die Tien Gebooie, of maak u verskonings? Die apostel Johannes is geïnspireer om te skryf: “en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Johannes 3:22). Hierdie Nuwe Testament­teks­vers wys ons duidelik dat ons gebede VER­HOOR word wanneer ons GOD SE GEBOOIE ONDER­HOU!

Wees asseblief eerlik met uself. Dit is maklik om hierdie duidelike skriftuurlike lering rakende gehoorsaamheid aan God se wet te rasionaliseer of daar rondom te redeneer. Maar as u werklik u gebede verhoor wil hê, moet u u BEKEER van die verbreking van die Tien Gebooie – wat omskryf word as SONDE (1 Johannes 3:4). U moet ook Jesus Christus aanvaar as u persoonlike Verlosser (Handelinge 2:38). Dan, met die hulp van die beloofde Heilige Gees, sal u u elke dag meer en meer aan God moet OORGEE om Jesus Christus toe te laat om Sy gehoorsame lewe in u te LEEF. Onthou wat die apostel Paulus verklaar: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

Indien u meer inligting verlang rakende hoe om God te gehoorsaam, skryf asseblief vir ons belangrike en insiggewende boekie getiteld Hervestig die Christenskap van die Apostels. Dit sal absoluut gratis op versoek aan u gestuur word.

Soos u TOENEEM in genade en die kennis van Jesus Christus (2 Petrus 3:18), sal Hy Sy lewe in u toenemend vervullend leef gedurende die verloop van u Christenlewe. U sal verseker nie eensklaps “volmaak” wees nie! GEEN mens was nog ooit perfek nie, behalwe Jesus Christus self. Maar u SAL in die “weg” van die Tien Gebooie loop deur u aan Hom oor te gee. Deur “saam met Christus te loop” op hierdie wyse, kan u VERSEKER wees van meer kragtige verhoring van u gebede as ooit tevore!

Sleutel #4 – Vergewe Andere

Nog ’n noodsaaklike sleutel tot verhoorde gebed lê in ons gewilligheid om andere werklik te VERGEWE. Trouens, ons liefdevolle Vader hoor doodeenvoudig nie diegene wat na hom toe kom in ’n gees van wraak, bitterheid en haat nie. Direk nadat Hy aan ons die “Onse Vader” gegee het, die riglyn vir die korrekte algemene benadering tot gesprek met God, het Jesus Sy volgelinge geleer: “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie” (Mattheus 6:14-15).

Die profeet Jesaja is geïnspireer om ons te waarsku om nie in God se teenwoordigheid te kom terwyl ons andere verdruk, beskuldig of daarmee besig is om slegs die self te dien nie. Hy skryf: “Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag” (Jesaja 58:9-10).

Jesus gee dieselfde vermaning: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe” (Mattheus 5:23-24).

Daarom moet ons dus na God kom in ’n nederige, berouvolle en vergeeflike gesindheid. Anders sal God ons nie vergewe nie, soos Jesus gesê het! ’n Gesindheid van nederigheid en genade is die sleutel-element wat bepaal of God ons sal hoor wanneer ons bid, al dan nie. Sy geïnspireerde Woord vertel ons: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

Sleutel #5 – God Hoor Dikwels Onbekeerdes

’n Belangrike aspek an die bogenoemde punt rakende genade en vergifnis vir andere is die behoefte om in nederigheid te besef dat God dikwels ook die gebede van die totaal onbekeerde individue hoor wat tot Hom roep. Ons weet natuurlik dat God gesê het: “KYK, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jesaja 59:1-2).

Dit is sekerlik waar dat God feitlik nooit diegene hoor wat sondig en ’n verkeerde gesindheid handhaaf nie, maar daar is miljoene opregte mense wat dink dat hulle God werklik aanbid en eenvoudig VERLEI of MISLEI is. God self het dit toegelaat! In Sy geïnspireerde Woord, verduidelik God dat dit die “duiwel en Satan [is], wat die HELE wêreld verlei” (Openbaring 12:9). Net so vertel Jesus ons duidelik: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Johannes 6:44). Indien u meer inligting rakende hierdie belangrike onderwerp verlang, skryf gerus vir ’n gratis eksemplaar van ons insiggewende boekie, Is Hierdie die Enigste Dag van Verlossing?

Dit is baie belangrik dat ons NIE in self­regverdiging aanneem dat God slegs die gebede van diegene hoor wat bekeer is en Hom gehoorsaam nie. Weereens, wat van daardie opregte mense wat nog nie geroep is nie? Wat van u en my voordat ons geroep en bekeer is? Soos wat ek terugkyk op my lewe, onthou ek definitief kere wanneer God absoluut ingegryp het om my gebede te verhoor. Hy het my “geroep”. Hy was besig om Homself aan my te onthul as die “ware” God wat ingryp in my lewe. Hy het so gedoen en sal so doen vir baie, baie ander mense regoor die wêreld.

Onthou die storie van die Fariseër en die tollenaar in Lukas 18:9-14: “EN Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel. Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar. En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word”.

So sal die Skepper dikwels die gebede aanhoor van die swak of geestelik verblinde mense wat nederig tot Hom bid. Hy sal hulle NIE hoor wanneer hulle wetend ongehoorsaam is aan Hom of ’n verkeerde gesindheid het nie. Hy sal NIE diegene hoor wat direk tot afgode of valse “gode” bid nie. Maar ons genadige Vader sal diegene hoor wat, hoewel onkundig oor Sy volle openbaringe, opreg tot Hom roep as Skepper en die ware God.

Die bogemelde begrip word pragtig uitgedruk in Psalm 107:23-24, 27-31: “Die wat na die see toe afdaal in skepe, wat handel drywe op die groot waters – hulle het die werke van die HERE gesien en sy wonders in die diepte. Hulle het getuimel en gewaggel soos ’n dronk man, en al hulle wysheid is verwar. Toe het hulle die HERE AANGEROEP in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei. Hy het die storm ’n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword. Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte. Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders”.

Ons ken almal ydel, ongehoorsame en selfs “wêreldse” belydende Christene wat uitgesproke “spog” met verhoorde gebed of wat ongelooflike stories vertel van gedurige “wondere” in hul kerk of lewe. Hierdie godsdienstige spoggery en selfs vervalsings is werklik tot die nadeel van ware Christenskap en kan maklik ’n struikelblok wees vir diegene wat geroep word en deur die bedrog sien. MAAR, as u vriend of buurman opreg en hartstogtelik tot die God van die hemel bid, kan hy of sy gehoor word omdat God weet dat hul onkunde van Sy weë nie opsetlik is nie en dat hul opregtheid baie eg is.

Sleutel #6 – Soek God se Wil

Nog ’n sleutel tot suksesvolle gebed is om absoluut seker te maak, sover moontlik, dat u u wil en u versoeke in lyn bring met GOD se wil. Namate u die Bybel ywerig bestudeer en toegee dat Christus binne u leef, sal Sy wil toenemend u eie wil vervang. Dit beïnvloed die wyse waarop u bid. U sal begin besef dat God alle mans en vroue na Sy gelykenis geskape het, dat Hy die HELE mensdom tot begrip en bekering sal “roep” in Sy goeie tyd. Met dit in gedagte, sal u nie slegs bid vir u eie welsyn nie, maar vir die welsyn van andere ook. Dan kan u opreg aan God sê, soos Jesus gedoen het: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” (Lukas 22:42).

Onthou hierdie sleutelfrase van die riglyngebed in Mattheus 6: “laat U WIL geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;” (vers 10). Ons moet almal daarop fokus wanneer ons bid. Wat is regtig die beste vir ons en almal betrokke op die langtermyn? Slegs God weet verseker.

Aan die ander kant bevat die Bybel letterlik dosyne beloftes en/of direkte aanduidings van wat God gedoen het of sal doen rakende verhoorde gebed. Indien ons in geloof bid dat God ons sal hoor, asook volgens Sy wil, mag ons seker wees dat Hy luister. “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het” (1 Johannes 5:14-15).

Sleutel #7 – Hê Geloof in God

Hoe meer u inneem van die Bybel, hoe dieper sal u die belangrikheid van GELOOF besef. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6).

Dus kan u God nie tevrede stel sonder ware GELOOF nie. In die algemeen gesproke maak die Bybel dit duidelik dat God nie u gebede sal verhoor tensy u na Hom kom in geloof nie: “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1:6-7).

Soos die ander sleutels wat ons ondersoek het, word geloof gebou deur u waarlik OOR TE GEE om Jesus Christus toe te laat om Sy lewe in u te leef deur die Heilige Gees! “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17). Dus moet almal van ons gedurig die Bybel lees en die voorbeelde van geloof en gehoorsaamheid deur die groot manne en vroue van God inneem. Op hierdie wyse “voed” ons op Jesus Christus (Johannes 6:57). Ons begin dink soos Hy dink, óns wil word Sy wil. Deur die Heilige Gees, LEEF Hy toenemend binne-in ons, namate ons geestelik groei. Wanneer ons op hierdie wyse met Christus verenig is, kan ons TOTALE VERTROUE hê dat God, die Vader, ons gebede sal verhoor. Geloof is hierdie absolute, onverskrokke vertroue in God.

Let noukeurig op hierdie belangrike lering van Jesus Christus met betrekking tot gebed en geloof: “Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê. Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see – en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, GLO dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry” (Markus 11:22-24).

Deur gedurig van die Bybel in te neem en te bid vir geloof, sal u vind dat u geloof voortdurend toeneem. Verstaan dat lewende geloof deur God se Heilige Gees teweeg gebring word in ons (Galasiërs 5:22-23). Jesus sê: “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Lukas 11:13).

God wil graag hierdie dinge vir u gee as u Hom nederig daarvoor vra. Bid dus voortdurend tot Hom om u die GELOOF te gee wat u benodig. Leer om in die beloftes van God te GLO. Leer om te glo dat God werklik is, dat Hy volmaakte wysheid, volmaakte liefde en volmaakte MAG het. Besef dat Hy al Sy beloftes sal NAKOM! Leer om Abraham, die vader van die gelowiges (Romeine 4:16), na te doen, want hy “het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en was ten volle oortuig dat Hy ook die MAG het om te doen wat Hy beloof het” (verse 20-21). Dit is WARE GELOOF. Hierdie is die gesindheid wat u moet hê om ware verhoring van u gebede te verkry.

Sleutel #8 – Volhard

As u seun u net eenmaal vir ’n fiets vra en dan oënskynlik daarvan vergeet en nooit weer die onderwerp ophaal nie, hoe groot is sy behoefte daarna? Hoeveel dink u sou hy dit waardeer as hy een kry? So is dit ook wanneer ons vir iets vra van ons hemelse Vader. Voordat Hy bonatuurlik ingryp, wil God weet dat ons ’n diepe behoefte het vir dit waarvoor ons vra en dat ons Hom sal respekteer en aanbid vir die verhoring van ons gebede.

Met ander woorde, God gebruik ons behoefte of begeerte as ’n “instrument” om ons geestelik nader aan Hom te bring; om ons te laat fokus op Sy wil en op wat werklik die beste is vir ons en andere wat betrokke is. Indien ons roekeloos vir iets vra en dan feitlik vergeet dat ons dit ooit gedoen het, wat beteken dit? Dit mag aan God vertel dat ons nie enigsins daarin geïnteresseerd is dat Hy doen wat ons vra nie! Of dit kan beteken dat al ons begeertes oppervlakkig is, miskien gedurig aan die verander is en dat ons nie ’n diepe waardering en aanbidding sal voel AS Hy gedurig sulke oppervlakkige gebede verhoor nie!

U is moontlik bekend met Jesus se gelykenis oor die “onregverdige regter” (Lukas 18:1-8). Dit is die verhaal van ’n sekere weduwee wat aanhou terugkom het na hierdie “onregverdige” regter, totdat hy uiteindelik sê: “tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen [dus gehoor gee aan haar versoek], sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie” (vers 5). “Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?” (verse 6-7). Wanneer u ’n diepe begeerte vir iets het moet u dag en nag tot God roep, sonder om OOIT moed op te gee.

God wil hê ons moet volhard. Hy wil hê dat ons met Hom die pad loop, met Hom gesels en gereeld met Hom gemeenskap hê, dag na dag in hierdie tyd en uiteindelik deur alle ewigheid! Die apostel Paulus leer ons om te “bid sonder ophou” (1 Thessalonicense 5:17).

Toe ek my toekomstige vrou die hof gemaak het, kon ek “net nie genoeg van haar kry nie”. Ons het persoonlik gesels, ons het op die telefoon gesels en ek het aan haar gedink en met betrekking tot haar gebid totdat ons uiteindelik getroud is! Die ware Kerk word uitgebeeld as die verloofde bruid van Christus. Ons MOET baie tyd saam met Hom en die Vader deurbring om mekaar deeglik te leer ken. Onthou dat dit wat ons in hierdie lewe doen, ons voorberei om die EWIGHEID saam met hierdie twee goddelike Persoonlikhede deur te bring. Hierdie is ’n WARE verhouding en soos met enige ander, moet dit met tyd ontwikkel.

Leer dus om gereeld tot God te bid en genoeg tyd in gebed deur te bring om werklik “vertroud” te raak met Hom, “want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Handelinge 17:28). Volgens die Skrif het Jesus dikwels vroeg in die oggend opgestaan en lang, ononderbroke TYD in gebed tot Sy Vader deurgebring (verg. Markus 1:35).

Die profeet Daniël het uitgestyg as een van die hoogste heersers van die grootste ryk van sy tyd, die Babiloniese Ryk. Tog het hy gedurig tyd gemaak om op sy knieë tot God te bid, drie keer per dag (Daniël 6:10). Hierdie verhouding met die Ewige God was so belangrik vir Daniël dat hy uiteindelik sy LEWE GEWAAG HET om voort te gaan met hierdie belangrike deel van sy geestelike lewe (verse 5-10).

Koning Dawid het ook uit gewoonte drie maal per dag tot sy Skepper gebid: “Maar ek, ek roep God aan, en die HERE sal my verlos. Saans en smôrens en smiddags klaag ek en steun, en Hy hoor my stem” (Psalm 55:17-18).

Bid dus gereeld. Bring baie TYD deur in samesyn met Jesus Christus en u Hemelse Vader en moet nooit OOIT ophou om tot God te bid nie! In meer as een opsig, hang u lewe van hierdie kontak af!

Sleutel #9 – Bid Vuriglik

Ek het eenmaal ’n baie toegewyde en ywerige dienaar van God geken wat gereeld gesê het: “Geliefdes, een van die redes waarom ons moderne samelewing nie meer antwoord op gebed ontvang nie, is omdat ons nie ons harte in ons gebede plaas nie!” Een van die sleutelverse wat hy dan sou aanhaal is Hosea 7:14 wat een rede beskryf waarom God nie die gebede van die ou Israeliete verhoor het nie. Die Nuwe Vertaling vertolk hierdie vers die duidelikste: “Toe hulle na My om hulp geroep het, het dit nie uit die HART gekom nie”.

Wat van ons? Bid u en ek met ons hele wese? Of rammel ons net ’n gememoriseerde gebed af soos ’n heidense dreunsang, of prewel ons deur die slaap ’n paar halfhartige versoeke tot God net voor ons aan die slaap raak?

Onthou weereens Jesus se voorbeeld van VROEG opstaan om tot die Vader te bid! Want gebed was lewensbelangrik vir Christus. Dit is waarom Hy dit oënskynlik eerste op sy skedule geplaas het, voordat enigiets anders tussenbeide kon tree. Hy het waarskynlik herhaaldelik terug­gegaan na God soos die dag aangestap het. Die boek van Hebreërs vertel ons van Christus se hartstogtelike, innige gebede: “Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk GEROEP en TRANE aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs” (Hebreërs 5:7).

Dit is goed om na ’n “private plek” te gaan om te bid, soos Jesus geleer het in Mattheus 6. Wanneer ons alleen is kan ons van tyd tot tyd UITROEP tot ons Skepper om ons te help, te tugtig, ons te VERLOS van versoekinge of moeilikhede waar slegs die hulp van God self die situasie kan oplos. Die laaste nag van Jesus se menslike lewe, toe Hy geweet het dat hy binnekort gearresteer en gekruisig sou word, het Hy sy hele wese voor die Vader uitgestort in vurige gebed vir hulp en verlossing: “En toe Hy in ’n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val” (Lukas 22:44).

Jesus het UITGEROEP na Sy Vader op so ’n intense en hartstogtelike wyse dat sommige van Sy kapillêre bloedvaatjies letterlik moes bars en sodoende sommige sweetgaatjies met bloed gevul het! In ons moderne, plesiersoekende, “geruste” samelewing, moet ons besef dat die waarlik lewensbelangrike kwessies van die lewe nie materieel is nie! Hulle is eerder geestelik, dit wat te doen het met ons Skepper en met die EWIGHEID. Dit is sekerlik die moeite werd om oor opgewonde te raak!

Laat ons dus ons harte in ons gebede sit. Laat ons VURIG wees. Laat ons HARTSTOGTELIK wees namate ons ons harte aan die eerbiedwekkende Persoonlikheid uitstort wat ons werklike Vader wil wees: “Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef” (Jesaja 57:15).

Sleutel #10 – Vra God om U te Vorm en te Fatsoeneer

’n Ware man of vrou van God is een wat hul totaal oorgegee het aan die wil van die Skepper. Deur die profeet Jesaja vertel God ons: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

Hierdie gesindheid van ’n soeke na God se wil eerder as ons eie, van totale oorgawe aan ons hemelse Vader, is LEWENSBELANGRIK vir ons gebedslewe indien ons gereelde en KRAGTIGE antwoorde verwag. Let weereens op Jesus se gesindheid in een van Sy laaste gebede tot God terwyl Hy nog in die menslike vlees was: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie MY wil nie, maar U wil geskied!” (Lukas 22:42).

Wil u werklik geestelik GROEI, “totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus”? (Efesiërs 4:13). Indien wel, moet u, soos ons almal, geestelik “met God stoei” in u gebede soos Jakob letterlik met Hom gestoei en oorwin het (verg. Genesis 32:24-32). Ons moet met Hom in lang, deurdagte gesprekke tree oor hoe ons meer ten volle kan toegee aan Hom, met Hom ’n lewenspad stap en Hom eer in ons lewens. Ons moet gedurig vir God vra om ons te help om die grootse DOEL waarom ons gebore is, te vervul (skryf asseblief vir ons gratis boekie aangaande die onderwerp, getiteld U Uiteindelike Lotsbestemming).

Dit is doodreg om, binne perke, vir “fisiese dinge” te bid, maar die uiteindelike doel van gebed is om ons te help om op GOD te fokus, aan Hom toe te gee en ons wil aan Hom oor te gee namate ons ’n belangrike, interaktiewe verhouding met Hom kweek. Op hierdie wyse word Hy toenemend meer WERKLIK vir ons. Deur konstante en opregte Bybel­studie en gebed moet ons God se wil SOEK. Ons moet besef dat ons vorige idees en gesindhede rakende God en godsdiens in die algemeen baie verbetering nodig gehad het. God vertel ons deur Jesaja: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:8-9). Die apostel Paulus onderrig: “Want hierdie GESINDHEID moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was” (Filippense 2:5).

Leer om met Hom die pad te loop, met Hom te gesels, in stilte met Hom “samesyn” te hê, aan en af, die hele dag lank. Vra Hom opreg om u te VORM in Sy eie beeld. Die profeet Jesaja is geïnspireer om te skryf: “Maar nou, HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand” (Jesaja 64:8). Die benadering van toegewing aan God in gebed, van Hóm vra om u te tugtig, te leer en te fatsoeneer, is een van die noodsaaklikste sleutels tot werklike kragtige gebed.

Sleutel #11 – Gee Eer en Dank aan die Almagtige God

Nog een van die kenmerke wat van Koning Dawid ’n “man so na God se hart” gemaak het, was die opregte liefde, aanbidding en VERERING wat hy gedurigdeur teenoor die groot SKEPPER uitgedruk het wat hom geseën, onderhou en gelei het. Die hele boek van Psalms is letterlik GEVUL met Dawid se gebede van aanbidding en verering. Let op Psalm 18: “Ek het U hartlik lief, HERE, my sterkte. Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting. Ek roep die HERE aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos” (verse 2-4).

Duidelik was God, in die persoon van Jesus Christus, wat die “Rots” van Israel was (1 Korintiërs 10:4), Dawid se persoonlike “Held”, sy Kampioen, sy Beskermer en persoonlike Vriend. Dawid het gejubel en gejuig in die wysheid, krag en MAJESTEIT van die Grote God! Vandag, waar miljoene mense in ons “beskaafde” Westerse wêreld geneig is om “rock” sterre, “rap” sterre, fliek of televisie “ikone” en sportsterre letterlik te VERAFGOD, het dit baie oudmodies geword om ons Skepper te aanbid en te vereer soos Dawid gedoen het. Eerder as om hierdie ydele, dikwels misleide, menslike “sterre” te aanbid, waarom nie liewer die Grote God prys, wat ons lewe gee nie – die “Vader van lig”, wat soos ons gesien het, die Gewer is van “elke goeie en volmaakte gawe”? (Jakobus 1:17)

Waarom nie Jesus Christus waarlik aanbid, deur wie God die Vader ALLES geskape het wat is nie? (verg. Johannes 1:1-3; Efesiërs 3:9). Waarom nie die Een aanbid wat “Homself geledig het” van Sy goddelike heerlikheid om vir ons die perfekte voorbeeld te stel nie? (verg. Filippense 2:7-9). Waarom nie ons genadevolle en getroue Hoë Priester (Hebreërs 2:17-18) aanbid nie, wat gewillig was om vir ons te STERF op die kruis nie? Waarom nie Hom aanbid nie?

Dit is waar dat die mens iemand soek om “na op te sien”. Maar ons is skuldig aan AFGODERY wanneer ons hierdie behoefte tot aanbidding VERDRAAI, deur soms selfs te skree, gil en in agting te staan en mense te aanbid en te verafgood, ontaarde mans en vroue wat God verwerp het.

Ons moet eerder almal hierdie heldeverering herlei, insluitend die agting en gevoel van OPWINDING wat dit meebring en die ware, mees “opwindende” Persoonlikheid in die ganse heelal aanbid – die Almagtige God! Ons moet ons indink hoe God die “sterre in die donker buitenste ruim gegooi het”, hoe Hy die aarde gemaak het, die mens daarop geplaas het en ons na Sy gelykenis gemaak het om Sy eie kinders, letterlik broeders van Jesus Christus te wees, vir ewig! (Romeine 8:29). Ons moet elke pragtige sonopkoms en sonsondergang, elke meelewende stuk musiek, kuns of letterkunde, elke pragtige mens en die talente, liefde en goeie eienskappe wat hulle besit, waardeer en besef dat dit alles van God kom! Hy het nog baie meer in gedagte vir ons!

Ons moet God gedurig dank en prys vir elke goeie gawe en vir Sy hulp en seëning in elke situasie (1 Thessalonicense 5:18). Pleks daarvan om beheer te verloor in ons entoesiasme vir sport sterre, “rock” sterre of enige ander menslike “afgode”, laat ons onbeskaamd ons HELE WESE daarin plaas om die God wat ons geskape het en lewe gee, te dank, te prys en te AANBID. Dit is hierdie God wat ons VERGEWE keer op keer op keer, wat ons lei en seën en wat beplan om uiteindelik Sy EWIGE HEERLIKHEID met ons te deel, as ons net reaksie toon en leer om Hom lief te hê soos Hy ons liefhet!

Sleutel #12 – Bid in die Naam van Jesus Christus

In Ou Israel was slegs die hoëpriester toegelaat om in die Allerheiligste van die tabernakel of tempel in te gaan – wat die direkte teenwoordigheid van God uitgebeeld het. Selfs hy is beveel om SLEGS eenmaal per jaar daar in te gaan, op die Versoendag (verg. Levitikus 16). Met hierdie uitsondering op slegs een dag, is enigiemand wat hierdie heilige vertrek ingegaan het onmiddellik deur God Self gedood! Insgelyks, is die mensdom in geheel afgesny van direkte kontak met God.

Maar vandag het ware Christene direkte toegang tot die Vader, omdat Jesus Christus van Nasaret vir ons sondes gesterf het. Pleks daarvan om die DOOD te vrees wanneer ons voor God kom, word ons eerder geleer: “Laat ons dan met VRYMOEDIG­HEID na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16).

Deur die “naam” – die amp en magtiging van Jesus Christus – kan ons God direk nader in gebed en aanbidding. Ons het nie enige menslike priester nodig as ’n soort tussenganger nie, want ons het alreeds die grootste Hoëpriester, Jesus Christus (vers 14). Hy het Sy ware volgelinge geleer: “En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees” (Johannes 16:23-24).

Baie misbruik natuurlik die Naam van Christus. Jesus, het deur Jesaja aan te haal, die godsdiensleiers van Sy tyd beskryf: “Maar TEVER­GEEFS vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Mattheus 15:9). Weer sê Jesus: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).

Om Jesus se naam waarlik en korrek te gebruik, moet ons Hom gehoorsaam en vra volgens Sy wil. Onthou dat Christus in die Bergpredikasie gewaarsku het: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” (Mattheus 7:21-23 NV).

Trouens, diegene wat WETTELOOSHEID ver­kondig of beoefen – diegene wat onderrig dat gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie nie nodig is nie – is nie GEMAGTIG om die naam van Jesus Christus te gebruik nie. Hulle verkondig ’n valse Christenskap wat die absolute teenstelling is van ALLES waarvoor Jesus gelewe en gesterwe het!

Die apostel Johannes verduidelik: “Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Johannes 2:4). ’n Mens “ken” God nie werklik nie, is nie werklik bekend met Hom nie, tensy hy hom waarlik oorgee om Christus in hom te laat leef en die Tien Gebooie as ’n lewenswyse toe te pas. Net so kan u God nie ken tensy u groei, oorwin en die KARAKTER van God, wat in hierdie gebooie uitgedruk word, in u eie lewe ervaar nie.

Diegene wat die ware God of Sy weë nie werklik ken nie, is eenvoudig nie in staat om behoorlik voor Hom te kom in die naam van Jesus Christus nie. Soos ons egter gesien het, sal ’n genadevolle God selfs sondaars se gebede hoor MITS hulle opreg onkundig is en MITS hulle hul tot Hom wend met hul hele hart. Maar diegene wat gereelde verhoring op hul gebede verlang, moet die ware God dien en gehoorsaam. Soos God se Woord ons vertel: “Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde” (Jakobus 4:17).

As u God dus nader in opregte, gereelde gebede, wees verseker dat u u Heer en Meester Jesus Christus GEHOORSAAM. Hoewel Hy nie geestelike volwassenheid in ’n kits verwag nie, wil Hy hê dat ons in Sy weë wandel met behulp van die Heilige Gees. Kom dan na die Vader SLEGS deur Christus om die direkte kontak van doeltreffende gebed te kan maak en onthou dat om in Christus se naam te kom – met ander woorde deur Sy amp of outoriteit – sluit die meeste van die ander sleutels tot gebed in wat in hierdie boekie vervat word. Om ten volle en volmaak in Christus se naam te kom sou sekerlik insluit om tot die ware God te bid, vervul te wees met die Skrif, God te gehoorsaam, andere te vergewe, diepe geloof in God te hê, te volhard en vurig te bid, te leer om toe te gee en soos vormbare klei in God se hande te wees en om u Skepper hartlik te aanbid en te vereer.

Ten slotte, vir u eie beswil, studeer en hersien asseblief AL hierdie noodsaaklike sleutels! Leer om gedurig tot God te bid, met Hom gemeenskap te hê en met Hom die pad te loop. Namate die einde van hierdie tydvak nader en die verskriklike beproewinge en moeilikhede van die volle Christenlewe op u neerkom, wat sekerlik sal gebeur, dan sal u presies weet wat om te doen en hoe om dit te doen. Trouens, u sal in Christus se eie voetspore kan volg. Omdat Hy tot God uitgeroep het vir krag en moed, was Hy nie bevrees toe Sy tyd aangebreek het om te sterf nie. Inteendeel, toe Judas en ’n hele regiment troepe Hom kom arresteer het, het Jesus kalm “na hul gestap” en gevra: “Wie soek julle?” (Johannes 18:4). Jesus het gedoen wat Hy altyd gedoen het. Vroeër het Hy in die Tuin van Getsémané op Sy aangesig geval, vurig GEBID en uitgeroep: “My Vader..” (Mattheus 26:39).

Mag God gee dat u sal leer om te bid soos Jesus gedoen het! U behoort nou te verstaan hoe om een van die mees kragtige instrumente in die ganse heelal te gebruik. U is nou ware antwoorde op onverhoorde gebede gegee – 12 sleutels tot verhoorde gebed!