INHOUD

  1. Hoofstuk 1: Na God se beeld
  2. Hoofstuk 2: Selfbeeld of selfbeheersing?
  3. Hoofstuk 3: Konsekwentheid: Die weg na sekuriteit
  4. Hoofstuk 4: Oordrag van verantwoordelikheid
  5. Hoofstuk 5: Die nalatenskap van voorbeeld
  6. Hoofstuk 6: Skep ’n Godgesentreerde gesinskultuur
  7. Hoofstuk 7: Pas God se riglyne toe

Hoofstuk 1: Na God se beeld

Reeds vir duisende jare gaan die siklus van menslike lewe voort. Kinders word gebore, word groot en die meeste het uiteindelik self ook kinders. Een geslag sterf en word vervang met ’n volgende. Tog verstaan min mense die antwoord op die eeue-oue vraag: “Wat is die doel van hierdie herhalende lewenssiklus?” Vir diegene wat aan die dwaalleer van evolusie vasklou, is die enigste gevolgtrekking dat dié siklus van menselewe bloot voorkom ter wille van die voortbestaan van die spesie. Hulle glo die lewe het geen betekenis nie; dit bestaan bloot.

Vir dié van ons wat glo aan die bestaan van die Skepper-God volg dit logies dat ons met ’n doel geskape is deur ons Skepper. Die Woord van God onthul daardie wonderlike doel baie duidelik: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Genesis 1:26). Die mens is geskape na die beeld van die Godgesin(Efesiërs 4:14-15). Indien ons bereidwillig is om opgelei te word deur die Godgesin (God die Vader en Sy Seun Jesus Christus) en ontvanklik daarvoor is om die werklike karakter en gedagtegang van God in onsself te ontwikkel, kan ons met Christus se wederkoms letterlik ten volle deel word van die Gesin van God, waarvan Jesus Christus die “eersgeborene ... onder baie broeders” is (Romeine 8:29).

Intussen sê die Skrif dat “almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God ... Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Romeine 8:14, 16). Wat ’n wonderlike voorreg! As ons gewillig is dat ons geestelike ouer (God die Vader) en ons “ouer broer” (Jesus Christus) ons lei en leer, kan ons uiteindelik God se bepaalde doel vir ons verwesenlik, naamlik om ten volle na Sy beeld geskape te word. God se bedoeling is om goddelike kinders op te voed na Sy beeld.Hulle sal dan uiteindelik saam met Jesus Christus onder God se gesag, as konings en priesters op die aarde regeer. In Openbaring 5:10 lees ons: “En het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers”.

Vir Christen-ouers is die hoogste doel om uiteindelik by hulle kinders, tydens hulle jong en ontvanklike jare, die grondslag te lê sodat hulle voortdurend daarna sal streef om God ook as hulle Vader te hê. Dit is die doel, alhoewel ouers hulle kinders nie kan dwing om die regte besluite te neem nie. Selfs God ons Vader, dwing ons nie om die regte besluite te neem nie. Hy sal ons lei en die rigting aandui, maar Hy sal ons nie dwing nie. Die doel van goddelike ouerskap is om ons kinders te help om die voorbeeld te volg van hulle ouers wat volgens God se wil leef en om self ook in die voetspore van hulle geestelike Vader te wandel. As ouers wil ons ons kinders se wil ontwikkel om God te gehoorsaam en nie net ons eie begeerte beklemtoon dat hulle God moet gehoorsaam nie.

Ek en my vrou is beide geseën met ouers wat baie konsekwent was in hulle ouerskap. Nie almal is so bevoorreg om ’n voorbeeld van konsekwente ouerskap te ervaar nie. Ons almal beleef egter ons geestelike Vader se voorbeeld van konsekwente handeling met ons. Ons kan duidelik uit God se Woord sien dat die Skepper van die heelal volgens die “seëninge vir gehoorsaamheid en straf vir ongehoorsaamheid”- beginsel werk. Indien ons dié beginsel konsekwent in ouerskap toepas, lê ons die grondslag vir die toekomstige Gesin van God.

Ja, ons persoonlike voorbeeld is uiters belangrik! Kinders moet die ware God deur hulle ouers se oë sien. Jong kinders se begrip van God word hoofsaaklik ontwikkel deur hulle ouers se voorbeeld. Ons kan nie hoop om goddelike kinders groot te maak indien ons as ouers nie self ware goddelike voorbeelde stel nie. Indien kinders in hulle ouers onverdraagsaamheid, skynheiligheid, selfbeheptheid en gereelde woedebuie sien, is die kanse skraal dat hulle enige aangetrokkenheid tot hulle ouers se geloof sal hê. In plaas daarvan sal die gesagsfigure van hulle jeug eerder later ’n negatiewe gesindheid jeens God se gesag by hulle uitlok.

Ouers behoort in hulle daaglikse lewe in alle opsigte te bewys dat ’n goddelike lewenswyse van groot waarde is en dat dit vir hulle werk! Indien ons nie duidelik aan ons kinders demonstreer dat God se beginsels vir ons werk nie, hoe sal ons hulle ooit van die waarde van God se wette kan oortuig, sowel as die feit dat die goddelike beginsels wat ons vir hulle leer, net tot hulle voordeel kan wees?

Die belangrikheid van ons eie voorbeeld is egter net ’n gedeelte van die volledige prentjie. Selfs al sou elkeen van ons die “volmaakte ouer” kon wees, sal ons volmaaktheidnie ’n volmaakte eindresultaat waarborg nie. Die Bybel praat duidelik van Adam as “die seun van God” (Lukas 3:38), tog weet ons dat God geweier het om Adam en Eva te dwing om die regte besluit te neem. God het Adam en Eva onderrig volgens Sy lewenswyse, maar die volmaakte Ouer se kinders het besluit om Sy voorbeeld en lering te verwerp. Later het God se kind (Adam) ’n seun (Kain) grootgemaak wat ’n moordenaar geword het.

Het ons dus enige hoop om kinders groot te maak wat hulle lewens aan God sal toewy? Ons leef in ’n wêreld wat onder die invloed is van die “god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:4), “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Die vermaaklikheidsmedia is deurweek met die verderflike denke van Satan se lewenswyse. Hierdie wêreld se onderwysstelsel is deurtrek met die sataniese evolusieteorie, asook ’n voortdurende aftakeling van enige begrip van moraliteit of waardes.

Een van die fundamentele sleutels van ouerskap is dat ons aktief aan ons kinders moet demonstreer dat God se lewenswyse in ons lewens werk! Deur die voorbeeld te stel in ons eie lewens, moet ons aan ons kinders demonstreer dat God se beginsels vreugde in hulle lewens sal bring, veel meer as wat Satan se leefwyse aanbied. “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galasiërs 5:22-23). Indien mense op straat gevra sou word of hulle ’n lewe vol liefde, vreugde en vrede wil hê, sal hulle almal sê: “Beslis!” Die probleem is dat mense deesdae nie die beginsels van God erken as die grondslag van ’n baie stabiele en vreugdevolle lewe nie. Dit gebeur hoofsaaklik omdat die wêreld nog nie geroep is tot ware Christelikheid nie, maar eerder blootgestel is aan ’n vals “sogenaamde” Christelikheid. Ons as ouers moet ons kinders aan die waarheid van die Bybel blootstel; nie slegs aan die waarheid (leerstellings) wat ons hulle leer nie, maar ook aan die waarheid wat ons uitleef. Indien kinders ’n ouer ervaar wat onvoorwaardelike liefde gee, asook duidelike reëls neerlê wat konsekwent toegepas word en waarlik die vrugte van God se Gees openbaar, sal dit nie vir hulle moeilik wees om eerbied vir en gehoorsaamheid aan God te ontwikkel namate hulle grootword nie.

Baie mense het die sataniese leuen aanvaar dat ’n godvresende lewenswyse ’n groot las is. Hulle dink dat God ons weerhou van enige plesier en dat dit lei tot ’n saai lewe van lyding en selfonthouding. Indien dit ons indruk van God is, sal ons kinders mettertyd ons benadering waarneem en sal dit ook hulle indruk van God word. Indien ouers egter werklik dankbaar is teenoor die Grote God en die geweldige seën wat ’n Godvresende lewenswyse (wat omskryf wat vir ons skadelik is asook wat ’n oorvloedige lewe op emosionele, verstandelike, fisiese en geestelike vlak tot gevolg sal hê) meebring, begryp en verstaan, sal ons kinders hulle mettertyd daarmee kan vereenselwig.

’n Christen se kinders geniet ’n spesiale seën. Die apostel Paulus herinner die Korinthiërs daaraan dat ’n kind met selfs een bekeerde ouer “heilig” is (1 Korinthiërs 7:14). Dit beteken dat so ’n kind uniek en “uitgesonder” is in God se oë. Sal al hierdie kinders van gelowiges hulle egter ywerig tot God wend? Hulle fisiese ouers kan ’n groot rol speel om dit vir hulle baie maklik – of baie moeilik – te maak om gehoor te gee aan God.

Ons moet besef dat om “deur God geroep” te wees, bloot beteken dat iemand ’n uitnodiging van God ontvang het. Soms word uitnodigings gestuur aan diegene wat gevra word om ’n bruilof by te woon. Dikwels word die uitnodiging vergesel van ’n RSVP, wat ’n antwoord op die uitnodiging verlang. Indien die persoon van plan is om die bruilof by te woon, moet die gasheer van die voorneme ingelig word sodat ’n plek gereserveer kan word.

Jesus Christus leer ons dat die Koninkryk van die hemel soos ’n uitnodiging na ’n bruilof is: “Die koninkryk van die hemele is soos ’n koning wat ’n bruilof vir sy seun berei het en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie” (Mattheüs 22:2-3). Soos met enige uitnodiging aanvaar party mense dit en ander doen nie eens die moeite om daarop te reageer nie. Die Afrikaanse woorde “roep” en “genooides” in vers 3 is vertaal uit dieselfde Griekse woord. Om deur God “geroep” of “uitgenooi” te word, is een en dieselfde ding.

Dit is hierdie uitnodiging wat die apostel Petrus op Pinksterdag beskryf het toe hy gesê het: “Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Handelinge 2:39).

Hier sien ons dat God Sy gawe van die Heilige Gees nie net aan die “julle” bied wat vir Petrus op Pinkster hoor praat het nie. Hy bied dit ook aan diegene wat “julle kinders” is, die kinders van Christen-ouers, asook aan diegene “wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep”. Dit is diegene wat God met verloop van tyd sal roep.

Vir al hierdie mense is die belofte om God se Gees te ontvang voorwaardelik gekoppel aan werklike berou tot bekering en volle oorgawe aan God deur die doop (vers 38). Dit is duidelik dat, hoewel die kinders van bekeerde ouers potensiële toegang tot God het, nie almal na Hom sal soek nie.

Ons doel as ouers is dus om ons uiterste bes te doen om ons kinders se harte na hulle ware Vader, die Opperheerser te laat draai. Terwyl ons die geleentheid in hulle vroeë jare het, wil ons hulle na die beste van ons vermoë vorm om sodoende ’n grondslag vir hulle toekoms daar te stel. Nie alle kinders sal die keuse maak om God se weg heelhartig te volg nie, maar ons onderrig en opleiding sal nie vermors wees nie! Kennis van God se wette sal, ten minste in soverre dit nagekom word, steeds ons kinders in hulle lewens tot voordeel strek. Dit is selfs waar vir hulle wie se ouers nie Christene is nie. God se wette werk volgens oorsaak en gevolg – selfs tot so ’n mate dat nie-Christene wie die geestelike wette van God toepas, beter lewens kan hê.

Daardie kinders wat God se lewenswyse in hulle kinderdae geleer het, sal ten minste ’n basiese grondslag hê waarheen hulle hulle kan wend indien en wanneer hulle diekeuse moet maak. Christen-ouers hoop en bid natuurlik dat hulle kinders hulle reeds nou al tot God sal wend. Indien hulle dit egter nie doen nie, kan ons daarvan oortuig wees dat elke oomblik wat ons bestee het aan hulle onderrig (Deuteronomium 6:4-7) en al die positiewe voorbeelde en liefdevolle besorgdheid teenoor hulle nie ’n verlore saak is nie. Hulle sal ’n positiewe grondslag hê waarop hulle hulleself kan beroep voor die eindtyd, selfs al is dit met die Laaste Groot Oordeel (Openbaring 20:11-12).

’n Wonderlike toekoms wag op daardie kinders wat in hulle jeug “die lig sien” en hulle ten volle tot God wend! God bied aan om hulle Ouer en hulle lewenslange Vennoot te wees; om hulle met elke besluit en mylpaal in hulle lewens te lei, net soos ’n liefdevolle fisiese vader. Die gevolg daarvan sal beter huwelike, hegter gesinne asook vreedsame en stabiele denke wees en om bowenal in die ware Gesin van God ingebore te word met Christus se wederkoms. Hulle sal die geleentheid hê om saam met Jesus Christus te werk wanneer Hy Sy Koninkryk kom vestig en vrede op die aarde tot stand bring. Stede sal volgens God se riglyne herbou word, sonder besoedeling of misdaad of die plaag van oorbevolkte, binnestedelike krotbuurte. Ons kinders kan die geleentheid hê om deel te wees van hierdie wêreldwye hervorming in hierdie nuwe tydvak.

Ouers wat verwekte “kinders van God” is, het ’n verantwoordelikheid om te help om Christus se “groot opdrag” in die eindtyd uit te voer. Hulle gebede en finansiële steun kan ’n bydrae lewer tot die Werk van God in die verkondiging van ’n toekomstige Koninkryk van God “in die hele wêreld tot ’n getuienis” (Mattheüs 24:14). Ons sien ook dat, voor die Dag van die Here en die einde van die tyd, daar ’n poging sal wees om “die hart van die vaders terug [te] bring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie” (Maleagi 4:6). Die volmaakte Vader, na wie die harte van die kinders teruggebring moet word, is God die Vader. Soos reeds gesien, is God se doel op hierdie planeet om “mense [te] maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Genesis 1:26). God is besig om toekomstige lede vir Sy gesin as Sy letterlike kinders na Sy geestelike beeld en karakter te skep.

Ons as ouers het dus ’n baie belangrike roeping. Ons God is besig om ons as Sy kinders na Sy beeld te vorm en te leer! God doen egter ’n beroep op ons om ons kindersse jong, ontvanklike denke na Sy beeld te brei en te vorm. Dit is ’n verhewe doelwit in ’n duister en gevaarlike wêreld. As ’n liefdevolle ouer belowe God ons egter: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ’n Helper” (Hebreërs 13:5-6). Hoe nader ons aan ons Vader leef, hoe meer sal ons in ons eie lewens Sy eienskappe as die volmaakte ouer nastreef. In ouerskap het elke ouer foute gemaak, maar God weet dat ouers, net soos hulle kinders, in staat is om te leer en te verander.

Ja, dit is makliker gesê as gedaan, maar met God se leiding is daar werklik hoop. Indien ons volhard in die voorgeskrewe beginsel om kinders “na God se beeld” op te voed, sal ons kan staatmaak op al die hulpbronne van die Skepper-God.

Indien dit ons as ouers se uiteindelike doelwit is om ons kinders “na God se beeld” groot te maak, sal dit ons uitgangspunt en sentrale tema word in alles wat ons in ons gesin doen. Dit word dan ons ware begeerte om ’n kultuur van God in ons huis te skep. Een definisie van kultuur wat spesifiek hier van toepassing is, is “’n besondere stadium van vooruitgang in beskawing” (aldus Webster’s Collegiate Dictionary). In hierdie geval is dit namate ons vorder, die “vooruitgang in beskawing” van die toekomstige Gesin van God.

As ouers en grootouers – net soos ook die geval is met alle verwekte kinders van die Grote God – laat ons ons lewens weer daaraan toewy om die harte van die kinders na hulle geestelike Vader terug te bring. Dit is die uiteindelike doelwit en plan van ouerskap, om kinders “na God se beeld” te hê.

Inhoud


Hoofstuk 2: Selfbeeld of selfbeheersing?

Waarom is ouerskap so moeilik? Een ooglopende antwoord is dat daar so baie verskillende situasies is, waarvan baie buite ons beheer is. Ons belangrikste voorbeelde van ouerskap is ons eie ouers. Wat ons ookal van ons ouers ervaar het, is die patroon wat onuitwisbaar in ons denke vasgevang is, hetsy goed of sleg. Die voorbeeld wat ons by ons eie ouers gekry het kan natuurlik nie verander word nie. Die verlede is buite ons beheer. Geeneen van ons is egter in die verlede vasgevang nie. Met God se hulp kanons die hede verander!

Die samelewing waarin ons leef vorm ook ons kinders. Geweld en seksuele temas oorstroom die media soos nog nooit tevore nie en groepsdruk in die onderwysstelsel is altyd teenwoordig. Satan as die “die owerste van die mag van die lug” (Efesiërs 2:2) is gedurig besig met bose “uitsendings”. Hy is altyd gereed en bereid om ons kinders te beïnvloed.

Selfs die sogenaamde “kundiges” oor ouerskap verskil hewig onder mekaar. Gedurende die afgelope eeu het ons wilde swaaie van die pendulum tussen diegene gesien wat beweer dat hulle die antwoorde het. Die samelewing debatteer voortdurend oor wat die belangrikste is in ouerskap: Die ontwikkeling van selfbeeld of selfbeheersing? Diegene wat glo in selfbeheersing as die hoofaspek, ondersteun die outoritêre ouerskap-metode. Dit is waar “die ouer se woord wet is, nie bevraagteken mag word nie en wangedrag tot streng tugtiging lei. Outoritêre ouers blyk afsydig van hulle kinders te wees, betoon min liefde of vertroeteling. Die vereistes aan kinders om volwasse te wees, is groot en kommunikasie tussen ouers en kinders is redelik min” (The Developing Person Through the Life Span, Kathleen Berger, bl. 287).

Hierdie kenmerke is natuurlik ’n mengsel van goed en sleg. Wanneer wangedrag konsekwente straf meebring, is die vereiste vir volwassenheid hoog. Studies toon egter: “Kinders wie se ouers outoritêr is, sal waarskynlik gehoorsaam wees maar nie gelukkig nie” (ibid., bl. 288).

In die vroeë jare van ons gesin (wat uit twee seuns en twee dogters bestaan, sewe jaar uitmekaar) het ek te veel gesteun op die outoritêre model, maar ek het sedertdien baie verander. Gelukkig vir ons kinders was my vrou van die begin af meer gebalanseerd en het sy ’n vertroetelende dimensie bygevoeg.

In teenstelling met diegene wat die meeste waarde aan selfbeheersing heg, neig ouers wat selfbeeld as die hoofdoel van ouerskap beskou om die permissiewe metode te ondersteun. Dit behels dat “die ouers min eise stel aan hulle kinders en enige ongeduld wat hulle voel sal verbloem. Dissipline is laks. Ouers is vertroetelend, erkentlik en kommunikeer goed met hulle kinders. Hulle stel min eise vir volwasse optrede want hulle beskou hulleself as beskikbaar om hulle kinders te help, maar nie as verantwoordelik vir hulle vorming van hoe die kinders uitdraai nie” (ibid., bl. 287).

Weereens, hierdie kenmerke bevat ’n mengsel van goed en sleg. Die positiewe aspekte is dat die ouers vertroetelend en erkentlik is, goed met hulle kinders kommunikeer en hulleself as beskikbaar vir hulle kinders beskou. Die negatiewe aspekte is dat hierdie ouers min eise aan hulle kinders stel, enige ongeduld wegsteek wat hulle voel en min eise vir volwasse optrede stel. Sulke ouers beskou hulleself nie as verantwoordelik vir hoe hulle kinders uitdraai nie. Verbasend genoeg toon studies dat “diegene wie se ouers permissief is, minder geneig is om gelukkig te wees en ... nie selfbeheersing het nie” (ibid., bl. 288).

Wat is dan die belangrikste doelwit van ouerskap: Om selfbeeld of selfbeheersing te ontwikkel? Is die outoritêre model of die permissiewe model die beste metode vir ouerskap? Ouers se antwoord op hierdie vraag neig om hulle styl van ouerskap en die perke van die uiterste waarheen hulle neig, te bepaal. Diegene wat selfbeeld as die beslissende faktor in menslike ontwikkeling beskou, neig om meer permissief in hulle ouerskap te wees. Diegene wat oortuig is dat selfbeheersing die beslissende faktor in die lewe is, neig om baie meer outoritêr te wees.

’n Soortgelyke vraag wat gestel kan word is: Wat sal die belangrikste aspek wees as ’n betonfondament gegooi word: Die sementpoeier wat uit minerale, sand en klip bestaan, of die water wat met die poeier gemeng word?

Om die waarheid te sê, albei word benodig om ’n sterk, blywende fondament daar te stel. Die verhouding van water en poeier moet behoorlik gebalanseerd wees om enige blywende sterkte te kan hê. Te veel water en onvoldoende sement sal ’n baie swak fondament tot gevolg hê. Te veel sement en te min water sal ’n swak en krummelrige fondament voortbring. Albei is noodsaaklik vir blywende sterkte.

Soos u waarskynlik vermoed, is beide selfbeeld en selfbeheersing ewe nodig vir ’n kind se lewenslange welstand. Enigeen van die uiterstes, hetsy permissief of outoritêr, sal ernstige tekortkominge in ouerskap meebring.

Kinders wat deur outoritêre ouers grootgemaak word – wat sterk selfbeheersing en dissipline ervaar sonder dat ewe veel klem gelê word op selfbeeld sowel as vertroeteling met onvoorwaardelike liefde – word groot met ’n idee dat hulle nooit goed genoeg is nie. Hulle is geneig om nie sommer uit hulle beperkte gemaksone te beweeg nie. Op sosiale vlak is hulle selfbewus en hulle voel onseker en angstig. Hulle ontwikkel in tieners en volwassenes wat altyd probeer om hulleself te bewys.

Kinders wat deur meer permissiewe ouers grootgemaak word, is geneig om ’n beter selfbeeld, maar ’n gebrek aan selfbeheersing te hê! Hulle is vir die res van hulle lewens slawe van hulle eie onmiddellike impulse. Hulle kan nie lank genoeg stilsit in die klaskamer om aandag te gee nie. Sukses op universiteit of kollege is moeilik en om ’n werk te behou vir enige tydperk, kan ewe moeilik wees. Omdat hulle nooit die waardevolle eienskap van selfbeheersing geleer het nie, sukkel hulle om situasies te hanteer wat nie van die staanspoor af aangenaam is nie.

Dus, ’n wanbalans van hetsy selfbeeld of selfbeheersing is duidelik ’n ernstige belemmering vir die res van ’n kind se lewe.

Wat elke kind nodig het is ’n balans tussen die twee, wat ons liefdevolle gesag kan noem. Dit sal bestaan uit gelyke dele selfbeeld (ontwikkel deur onvoorwaardelike liefde) en selfbeheersing (aangekweek deur outoritêre dissipline en opleiding). Tesame sal dit ’n sterker fondament vir ’n kind bou, net soos die regte verhouding van poeier en water wat saambind om die mees stabiele beton te vorm.

Met hierdie styl van ouerskap, “stel ouers die perke en dwing reëls af, maar hulle is ook bereid om eerbiedig te luister na die kind se versoeke en vrae. Ouers stel hoë eise vir volwasse optrede aan hulle kinders, kommunikeer goed met hulle en is liefdevol” (ibid., bl. 287).

Wanneer u daaroor dink, is dit nie presies die styl van ouerskap wat ons in die Bybel vind nie? God stel vir ons die perke, maar Hy is altyd bereid om na ons te luister as ons in gebed na Hom toe kom. Hy stel hoë eise tot volwassenheid vir ons geestelike groei, maar kommunikeer voortdurend met ons deur Sy geskrewe Woord, Hy gee dus vir ons gelyke dele aanmoediging en vergifnis.

Die belangrikheid om selfbeheersing te onderrig

Wanneer kinders in ’n permissiewe omgewing, sonder werklike beheer en riglyne grootword, is die prys altyd hoog. Jacob Aranza, skrywer van Lord, Why Is My Child a Rebel?, het die volgende te sê: “Wil u weet wie was die bitterste, haatdraendste kinders wat ek nog ooit ontmoet het? Dié kinders wie se ma’s en pa’s versuim het om riglyne en dissipline te gee. Kinders wat in permissiewe huise woon, sukkel om te glo dat hulle ouers werklik vir hulle omgee” (bl. 45).

Party mense twyfel daaraan dat kinders werklik riglyne wil hê. Die werklikheid is egter dat ferm riglyne en perke ’n mate van veiligheid en sekuriteit bied.

Wanneer ek oor my gunsteling brug, die Golden Gate-brug in San Fransisco ry, is dit geen probleem om in die baan naaste aan die rand te ry nie. Alhoewel die brug meer as tagtig meter bo die water is, ondervind ek ’n gevoel van veiligheid en sekuriteit as gevolg van die versperring aan die kant van die brug. Ek het nog nooit die skermreling eers naastenby geraak nie, maar indien dit eendag dalk verwyder sou word en ek gevra word om in dieselfde regterbaan oor dié brug te ry, is ek oortuig daarvan dat ek sou weier. Met meer as tagtig meter bo die water, sal my gevoel van veiligheid en sekuriteit heeltemal weg wees.

Dieselfde beginsel geld vir ouerskap. Neem die versperring weg en die veilige, beskutte beperkings is weg; onsekerheid en ’n vrees vir die onbekende is dan voordurend teenwoordig. ’n Uiterste voorbeeld sou dié wees van ’n kind wat in ’n skare verlore raak en dan absolute totale vryheid het. ’n Kind se vrees vir gevaar kan oorweldigend wees wanneer hulle die onbekende in die gesig staar.

Wanneer kinders vaste riglyne gegee word wat hulle nie mag oortree nie (soos die Golden Gate-brug se reling), word daardie riglyne interne beperkings wat ons “selfbeheersing” noem. In die geval van kinders word selfbeheersing wat op impulse, emosies, vrese en begeertes beoefen word, die beperking (of “versperring”). Wanneer kinders oor die “versperring” tree en gedissiplineer word, leer hulle dat hulle optrede gevolge het. Goed gedissiplineerde kinders is ’n vreugde vir hulle ouers want hulle probeer nie gedurig oor die versperring klim nie.

God het dit baie duidelik gemaak toe Hy besielende instruksies aan ouers gegee het: “Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf” (Spreuke 29:17).

Het u al ’n kind gesien wat heeltemal buite beheer is, wat hardloop en skree en oor alles klouter terwyl die moeder inkopies doen? Enige ouer wat dít ervaar, verkeer onder hewige spanning.

Jare gelede, wanneer my vrou ons vier kinders saamgeneem het om inkopies te doen, het die jongste in die waentjie gery en die ouer kinders langs die waentjie geloop en daaraan vasgehou. Ons kinders was normaal en woelig. Hulle het egter geleer dat die kruidenierswaentjie soos die versperring van die Golden Gate-brug was. Klim oor daardie reling en daar sou ernstige gevolge wees.

Goed gedissiplineerde kinders, wat van jongs af geleidelik selfbeheersing geleer het, het ’n grondslag wat gelê is vir baie groter sukses in die lewe. ’n Vyfjarige met selfbeheersing kan soet in die klas of kerk sit sonder om te praat en kan baie vinniger leer. Dieselfde kind kan as hoërskoolleerder deur klasse sit wat moeilik of oninteressant is en “vasbyt”. Hulle vooruitsigte vir universiteit of kollege is soveel beter.

Wanneer selfgedissiplineerde tieners volwassenheid bereik, word hulle baie waardevolle en suksesvolle werknemers. Hulle is meer geneig om betyds vir werk op te daag. Hulle hanteer moeilike take met veel minder klagtes en raak nie betrokke in onenigheid op kantoor met mense wat hulle omkrap nie. Kortliks, hulle is meer suksesvol in hulle werk, hulle behou hulle werk langer en – wanneer die tyd aanbreek vir afdankings, is die neiging dat hulle die laaste is om hulle werk te verloor, nie die eerstes om afgedank te word nie.

Selfbeheersing wat van jongs af geleer word deur vaste riglyne wat nie oortree mag word nie, lei tot kinders en volwassenes wat meer beheer het oor hulle emosies en irrasionele gedrag. Indien ouers toelaat dat kinders reeds op ’n jong ouderdom aan rebelsheid uiting gee, lê hulle die grondslag vir lewenslange woede-uitbarstings.

Ek en my vrou het in San Fransisco gewoon terwyl ek tandheelkunde studeer het. Ons het van ’n tragiese geval te hore gekom wat die gevolg was van ’n gebrek aan selfbeheersing. Die verkeer was op ’n dag besonder druk oor die Oakland Bay-brug. ’n Haastige bestuurder het voor ’n ander motoris ingedruk, wat hom weer op sy beurt verbygesteek en opsetlik vlak voor hom remme aangeslaan het. Hulle het mekaar om die beurt herhaaldelik verbygesteek om voor te kon ry totdat een van hulle uiteindelik ’n vuurwapen uitgepluk het, tot langs die ander bestuurder gery het en hom op die plek doodgeskiet het.

Dit was ’n voorbeeld van ’n woede-uitbarsting op wiele wat “padwoede” genoem word. Dit het gelei tot ’n skietery, moord en baie jare in die tronk. Die oorsaak vir so ’n gebrek aan selfbeheersing begin sonder uitsondering in die kinderjare.

God se Woord leer ons om ons kinders te tugtig want “dan is daar hoop” (Spreuke 19:18 NV). Met ander woorde, doen dit in die kinderjare. As u wag tot ’n kind op skool is om hom die lesse van selfbeheersing te leer, is dit byna reeds te laat vir sy optimale sukses in die lewe. Dit is nooit te laat om te probeer nie, maar enige sukses sal beperk wees.

Selfbeheersing wat in vroeë kinderjare aangeleer word, is ook ’n noodsaaklike eienskap vir enige toekomstige huweliksverhouding. Die volwassene met selfbeheersing is minder geneig om sy humeur te verloor en in onbeheerste woede uit te bars. Dit is baie beter om as ’n jong kind gekorrigeer te word vir emosionele tirades en uitbarstings, as wat dit is om as volwassene die verlies van werk, ’n mislukte huwelik of selfs tronkstraf in die gesig te moet staar as gevolg van ’n gebrek aan selfbeheersing.

Bou selfbeeld

Selfbeheersing is soos gesien, slegs die helfte van wat nodig is vir die opvoeding van ’n goed aangepaste kind en volwassene. Die tweede noodsaaklike bestanddeel inliefdevolle gesag is die selfbeeld wat ontwikkel word met onvoorwaardelike liefde. Ware liefde is onvoorwaardelik. Die apostel Paulus is geïnspireer om te skryf: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik ... verdra alles ... Die liefde vergaan nimmermeer” (1 Korinthiërs 13:4, 7-8).

“Onvoorwaardelike liefde beteken om ’n tiener [of ’n kind van enige ouderdom] lief te hê, ongeag wat. Dit maak nie saak hoe die tiener lyk nie. Ongeag wat sy bates, tekorte of beperkings is, of hoe hy optree nie” (How to Really Love Your Teenager, Ross Campbell, M.D., bl. 25).

Ouers het natuurlik nie altyd ’n kind se gedrag lief nie, maar ons het die kind self lief, ongeag wat ookal. God het ons lief, selfs met al die foute wat ons maak. Christus het ons liefgehad en vir ons gesterf, selfs toe ons die verkeerde weg gevolg het, “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Romeine 5:8).

Indien ons die groot fout maak om aan ons kinders liefde te gee net wanneer hulle ons plesier verskaf, sal ons kinders grootmaak wat altyd sal voel dat hulle nie “goed genoeg” is nie. Alle kinders maak foute en wanneer liefde van “foutloosheid” afhang, sal hulle altyd soos onbekwame mislukkings voel. Eweneens, as God ons net lief het wanneer ons bid, vas, Bybelstudie doen of iemand anders tot diens is, sal ons die meeste van die tyd ongeliefd wees.

Dieselfde geld vir ons as volwassenes. As ons lewensmaat ons net lief het wanneer ons iets aangenaams doen soos om ’n geskenk te gee, lekker kos te kook of sy of haar rug te vryf, sal ons meer ongeliefd as geliefd voel en sou ons verhouding daaronder ly. Liefde moet onvoorwaardelik wees!

Die Bybel leer ons: “Vaders, moenie julle kinders terg [aanhits tot woede] nie, sodat hulle nie moedeloos word nie” (Kolossense 3:21). Kinders het ’n behoefte daaraan om geliefd te voel en nie te voel dat hulle slegs tereggewys word nie. As ons enigste kommunikasie met ons kinders korreksie is, sal dit hulle nie lank neem om ontmoedig te word en soos ’n “onbekwame, ongeliefde mislukking” te voel nie as gevolg van die outoritêre styl van ouerskap.

Baie van ons ouers het werklik ons kinders lief, maar het dit nie na behore aan hulle oorgedra nie. Ons optrede teenoor ons kinders beteken vir hulle meer as dit wat ons sê of in ons binneste voel. Op watter maniere kan ons dus liefde aan hulle betoon wat hulle maklik sal verstaan en waardeer?

Een belangrike manier is oogkontak. Om met liefde in die oë na ’n kind te kyk, gee die duidelike boodskap: “Ek heg waarde aan jou; jy is vir my belangrik”. Het u al ooit werklik na aan iemand gevoel wat nie met u oogkontak behou het nie? Natuurlik nie! ’n Onvermoë om oogkontak te behou word ervaar as afsydigheid en ’n gebrek aan empatie. Kinders het oogkontak met hulle ouers nodig vir hulle emosionele welstand. Dit blyk dat kinders diep in mense se oë kyk om die vlak van opregtheid en egtheid vas te stel.

Fisiese kontak is nog ’n belangrike manier om liefde aan kinders te betoon. Let op hoe Jesus Christus Self teenoor jong kinders opgetree het: “En hulle het kindertjies na Hom gebring, dat Hy hulle kon aanraak; en die dissipels het die wat hulle gebring het, bestraf. Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom ... En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën” (Markus 10:13-14, 16).

Byna almal weet dat babas fisiese kontak nodig het om behoorlik te kan ontwikkel. Namate kinders egter hulle tienerjare betree, is fisiese kontak geneig om al hoe minder te word. Uiteindelik vind fisiese kontak in baie gesinne net plaas wanneer dit absoluut noodsaaklik is. Op enige ouderdom is ’n hand op die skouer, ’n klop op die rug en ’n drukkie van tyd tot tyd altyd moontlik. Gepaste fisiese kontak is lewenslank belangrik tussen ouers en kinders. Hoewel kinders nie altyd openbare betonings van toegeneentheid waardeer nie, sal opregte betuigings van goedkeuring en aanmoediging waarmee reeds in die vroeë kinderjare begin is, steeds in die tienerjare waardeer word.

Onverdeelde aandag is ook noodsaaklik. Onverdeelde “gefokusde aandag beteken om vir jou tiener [of kind van enige ouderdom] volle, onverdeelde aandag te gee op so ’n wyse dat hy werklik geliefd voel, dat hy weet hy is so waardevol in sy eie reg dat hy u waaksaamheid, waardering en onversetlike aandag regverdig” (Campbell, bl. 31).

Dus, terug na die vraag: Wat is belangriker in ouerskap: Selfbeeld of selfbeheersing? Albei is absoluut noodsaaklik! ’n Kind wat ongeliefd voel, sal nie voorspoedig wees nie en ’n kind wat nooit selfbeheersing geleer word nie, sal baie ingeperk wees in die lewe; op skool, op universiteit, in die werksplek, in die huwelik – asook geestelik, met God.

Kinders wat onvoorwaardelike liefde ontvang en gehoorsaamheid geleer word deur liefdevolle gesag,sal waarskynlik meer sukses in die lewe bereik. Gesag sonder onvoorwaardelike liefde bring sonder uitsondering altyd woede en rebelsheid mee. Wanneer die behoorlike balans gehandhaaf word, kan God se opsomming van gehoorsaamheid en selfdissipline verwesenlik word: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg ... En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug [vertroeteling] en vermaning van die Here” (Efesiërs 6:1, 4).

Inhoud


Hoofstuk 3: Konsekwentheid: Die weg na sekuriteit

Ons Geestelike Vader is heeltemal konsekwent in hoe Hy met ons, Sy kinders, handel. Sy riglyne is altyd geldig en Sy Woord is heeltemal betroubaar. Hy oortree nie Sy eie geestelike wet nie. Hy het nie ’n gesindheid van: “Doen wat Ek sê, nie wat Ek doen nie”.

God sê vir ons: “Want Ek, die Here, het nie verander nie” (Maleagi 3:6). Dit beteken dat God konsekwent is in Sy wette, Sy geestelike beginsels en Sy lewenswyse. Wat sou gebeur het as God nie konsekwent was nie?

Ons sien dikwels die vrugte van nie-konsekwente optrede in die daaglikse lewens van mense om ons. Jare gelede het ek en my vrou ’n duidelike voorbeeld hiervan in ’n supermark sien afspeel. ’n Moeder met ’n hele paar kinders was besig om inkopies te doen en die kinders het wild te kere gegaan. Hulle het op en af in die gange gehardloop en goed van die rakke afgetrek. Elke nou en dan het die moeder in uiterste frustrasie geskree: “Kom hier of ek gaan julle pak gee!” Hulle was vir ’n klein rukkie kalmer maar hulle het daarna gou weer begin lawaai. Na ’n paar minute het die moeder weer geskree: “Wil julle hê ek moet julle slaan?”

Hierdie gillende, skreeuende, nie-konsekwente moeder het haar lewe self miserabel gemaak! Haar kinders het heeltyd geweet dat, indien hulle vir ’n paar oomblikke rustig raak, hulle moeder se wilde en onverantwoordelike dreigemente sou afkoel en hulle dan kon voortgaan waarmee hulle besig was.

Anders as hierdie gefrustreerde moeder, is Jesus Christus en God die Vader heeltemal konsekwent, tot ons voordeel. Hulle wil net die beste vir ons hê en sal ons nie verwar met nie-konsekwentheid nie.

Die woordeboek omskryf “konsekwent” as: “Wat logies voortvloei uit die voorafgaande; wat vasklou aan ’n beginsel, logies redeneer: Die konsekwente toepassing van beginsels”. (Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, Perskor). Dit beskryf die soort ouer wat enige iemand graag sou wou hê; veral wanneer dit gepaardgaan met ’n gesonde dosis onvoorwaardelike liefde en gevolglike vergifnis. Dit is vrugbare grond vir ’n kind se gesonde opvoeding, tesame met die wete dat hulle na waarde geag word en die sekerheid dat ferm riglyne nie sal verander nie.

Selfs rebelse tieners sal erken dat hulle konsekwente ouers nodig het. Konsekwentheid is die grondslag van vertroue! Dit is iets waarop kinders kan staatmaak. Kinders met konsekwente ouers hou dalk nie altyd van elke ouerlike riglyn nie, maar ten minste is hulle omgewing konstant en nie gedurig aan die verander nie. Hulle weet wat om te verwag.

Konsekwentheid in dissipline en ouerlike voorbeeld is noodsaaklik! Mense dink meestal aan dissipline as “straf”, maar straf is slegs ’n enkele aspek van dissipline. Dissipline is “tug, orde, stelselmatige oefening, selfbeheersing, ordelike gedrag” (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, Pharos).

Christus se vroegste volgelinge wat opgelei is in ’n Goddelike lewenswyse, is “dissipels” genoem. Die woord “dissipel” is afgelei van die woord “dissipline”. Christus het die dissipels geleer; Hy het hulle bemoedig en soms gekorrigeer. Sy doel was om dissipels op te lei wat Christelike dissipline (die Weg van God) kon uitleef en onderrig.

Ouers onderrig of dissiplineer hulle kinders deur te bemoedig, te prys en te beloon, asook deur berisping en straf. Dit is dieselfde beginsel wat God op ons toepas. Hy belowe aan ons seëninge vir gehoorsaamheid (Deuteronomium 28:1-14) asook tug en straf (vloeke) vir ongehoorsaamheid (Deuteronomium 28:15-46).

Ongelukkig probeer baie ouers om die Skepper se beginsels vir ouerskap (kinder- opvoeding) te verwerk tot wat ookal vir hulle die beste lyk. Onwetend tree hulle op asof hulle meer van ouerskap weet as God!

In vorige dekades het baie ouers hoofsaaklik staatgemaak op beperkende outoriteit en straf vir ongehoorsaamheid. Min aanmoediging of onvoorwaardelike liefde is betoon en ouers met hierdie benadering het liefdelose gesagsfigure geword. Gedurende die afgelope paar jaar het die pendulum egter na die teenoorgestelde kant geswaai, met ouers wat genoeg prys en aanmoedig, maar min of geen berisping gee of dissipline uitoefen vir ongehoorsaamheid nie. Met dié permissiewe wyse van ouerskap leer kinders nooit selfbeheersing nie.

Om dus konsekwent outoritêr te wees, is nie die antwoord nie! Om konsekwent permissief te wees, is ook nie die antwoord nie! Ware konsekwentheid verg die balans wat ons in God se Woord vind – wat ware seëninge vir gehoorsaamheid en straf vir ongehoorsaamheid insluit.

Konsekwente straf vir ongehoorsaamheid leer kinders ’n les wat hulle lewenslank sal bybly – die les van “oorsaak en gevolg”. Dit is hoe dit in die wêreld en lewe werk. Indien jy by ’n venster op die tweede verdieping uitspring, sal swaartekrag altyd werk en gevolglik tot ernstige beserings lei. As mens op ’n reënerige aand te vinnig met ’n motor om ’n draai ry, is daar altyd ’n prys te betaal en so ook met oortreding van landswette. Oortree God se geestelike wette en daar sal altyd ’n prys te betaal wees. Kinders behoort in ’n gesinsomgewing te leef waar hulle weet dat wanneer hulle hulle ouers se reëls, standaarde of gedragsreëls oortree daar altyd ’n prys te betaal is.

Ouers wat hulle kinders nie die les van “oorsaak en gevolg” leer nie, doen hulle ’n groot onreg aan. Hoe kan ’n kind van “oorsaak en gevolg” leer as hy nooit die gevolge van sy gedrag ervaar nie? Hoe kan ’n kleuter leer van “oorsaak en gevolg”, wanneer daar vir hom gesê word “kom hier” en hy ignoreer sy pa sonder gevolglike verdere dissipline? Hoe kan ’n jong kind van “oorsaak en gevolg” leer as hy ’n woede-uitbarsting voor sy moeder het en sy bloot haar skouers in ergernis optrek? Hoe kan ’n tiener leer van “oorsaak en gevolg” as hy ’n boetekaartjie vir roekelose bestuur kry en sy ouers die boete uiteindelik betaal?

Bestendigheid met ’n kleuter, met reëls en riglyne en straf vir ongehoorsaamheid, lei tot bestendigheid as tiener. Dit lei weer tot bestendigheid as ’n volwassene, wat kan lei tot bestendigheid as ’n toekomstige kind van God. Die proses waar “oorsaak en gevolg” geleer word – met konsekwente beloning vir gehoorsaamheid en straf vir ongehoorsaamheid – is die grondslag vir toekomstige karakterontwikkeling en vir ’n suksesvolle lewe. Ouers kan God óf bystaan in hierdie proses óf hulle kan die uiteindelike proses van bekering vir hulle kinders bemoeilik.

“Omdat die oordeel oor ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen” (Prediker 8:11). Die patroon wat in die kinderjare vasgelê word, loop normaalweg regdeur ’n mens se lewe. ’n Ouer wat nie konsekwent dissipline toepas vir ongehoorsaamheid nie, vestig nie die beginsel van “oorsaak en gevolg” in ’n kind se vroeë jare nie. Gevolglik beskou die kind, tiener en volwassene dan reëls en riglyne (hetsy in die huis, op skool of in die werksplek) as beperkings wat bloot af en toe negatiewe gevolge meebring.

Baie ouers het nooit konsekwente dissipline van hulle eie ouers ontvang nie, maar ons almal het al die patroon van ons geestelike Vader ervaar, omdat Hy altyd konsekwent is wanneer Hy met ons omgaan. In die Skrif sien ons dat God diegene seën wat gehoorsaam is en diegene bestraf wat ongehoorsaam is. Die lewe sal baie gelukkiger wees indien ons hierdie beginsel in ons ouerskap toepas. Sodra ’n kind verstaanbare riglyne ontvang, sal enige oortreding tot dissiplinering lei. Die werklikheid van “oorsaak en gevolg” vestig die patroon vir die res van sy lewe. Party mense wat dink hulle doen goed, glo nie aan lyfstraf nie en dink dat hulle die kinders se welstand op die hart dra. Hulle verstaan egter nie die menslike natuur en wat waarlik die beste vir kinders is nie. Dit is onvoorwaardelike liefde en aangeleerde gehoorsaamheid tesame met dissiplinering.

God se Woord sê vir ons: “Nou lyk elke tugtiging [dissipline] of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (Hebreërs 12:11). Dit bring soveel vrede wanneer kinders van die begin af geleer is om gehoorsaam te wees. Selfs jong kinders kan ’n ware vreugde vir ’n gesin wees as hulle die gewoonte van gehoorsaamheid geleer is.

Wanneer ’n kind byvoorbeeld oud genoeg is om te leer om te “reageer” wanneer hy geroep word, is daar nooit enige alternatief vir gehoorsaamheid nie. Ek het al party ouers gesien tel: “Een, twee, drie” en as die kind nie reageer nie, staan die ouer op en trek hom aan die hand nader. Dit word gou vir die kind ’n les van hoe hy sy ouers kan manipuleer.

Nog ’n gewilde dreigement is: “Ek sê jou nou vir die laaste keer”. Dan word dit selfs opgevolg met dié dreigement: “Hierdie is jou laaste heel laaste kans”. Ek het ’n verstommende voorbeeld hiervan gesien by ’n jong pa en sy klein seuntjie. Die “drie nee’s”-reël – wat beteken het dat die pa se eerste twee nee’s geïgnoreer kon word en slegs die derde een veronderstel was om te tel. Selfs na die derde “nee” was daar geen opvolging van dissipline nie. Uiteindelik het die pa bloot nader gestap en die seuntjie weggeruk van wat hy veronderstel was om nié te doen nie.

Baie ouers sê keer op keer vir hulle kinders om iets te doen of om op te hou met iets. Uiteindelik kook hulle woede oor wanneer hulle nie meer die kinders se ongehoorsaamheid kan verduur nie. Dit leer ’n kind dat “oorsaak en gevolg” net van toepassing is wanneer die ouers kwaad is en dan is die “truuk” vir die kind om te leer om die tekens te lees wanneer die ouers breekpunt bereik.

Ouers maak dit soveel makliker vir hulleself as hulle vir hulle kinders leer dat hulle “nee” is “nee” en hulle “ja” is “ja”. Die lewe is baie moeiliker vir ouers wat ’n gekerm en gepleit toelaat. “Maar Ma ... hoekom kan ek nie? Asseblieeeeeef, ek wil rêrig!” Wanneer ouers toegee aan sulke pleidooie, leer die kinders ’n belangrike tog verkeerde les. Indien hulle lank genoeg kerm en pleit, sal die ouers uiteindelik toegee en sal hulle hulle sin kry.

Elke ouer wat al ’n kind gedissiplineer het, het heel waarskynlik gevind dat so ’n kind nie net huil uit berou of spyt nie, maar vanselfsprekend ook uit woede. Woede is soos ’n spier – hoe meer dit gebruik word, hoe meer ontwikkel dit. Indien ’n kind se woede nie aangespreek word nie, leer die kind nie die nodige les nie – dus word niks bereik nie, behalwe om die kind se gesindheid te verstewig. In hierdie geval is dit nodig om die kind te herinner waarom hy in die eerste plek gestraf is, en dan te verduidelik dat hy ook gestraf sal word vir sy gesindheid van woede. In die meeste gevalle sal die kind se gesindheid vinnig verander en sy gehuil sal eerder uit berou wees as rebelsheid of woede.

Vir die meeste jong kinders is daar ander gepaste vorms van straf behalwe ’n pak slae. Natuurlik moet die straf altyd by die oortreding pas. In ons huishouding het ons af en toe kinders in die hoek laat staan vir klein oortredingtjies. Dit blyk doeltreffend te wees, want kinders hou werklik nie daarvan om verveeld in ’n kamerhoek te staan en nie te mag rondkyk nie.

Een keer het een van ons seuns buitentoe gehardloop en die deur agter hom toegeslaan met ’n slag wat die vensters laat tril het. My vrou het al vantevore uitgewys waarom dit onaanvaarbaar was om ons huis se deure toe te slaan, dus het hy van beter geweet, maar hy het bloot “vergeet”. Wanneer kinders vinnig gedissiplineer word ten spyte van die verskoning, “maar ek het vergeet” is dit verbasend hoe gou hulle geheue opgeskerp word. Op hierdie spesifieke geleentheid het my vrou bloot ons seun die deur vyf-en-twintig keer saggies oop en toe laat maak. Dit het regtig die kwessie goed ingeprent en sy geheue was nie meer ’n probleem nie.

’n Vorm van straf wat ons wel ondoeltreffend gevind het, was om ’n kind na sy kamer te stuur. Deesdae het die meeste kinders baie om te doen in hulle kamers en hierdie “straf” laat hulle net ekstra tyd toe om kwaad en nukkerig te wees. In die meeste gevalle kan liefdevolle straf gou uitgedeel word en die ouer kan dan die kind troos en hom herinner aan hoe geliefd hy is. Dit is ook goed om die kind van tyd tot tyd daaraan te herinner dat God die ouers verantwoordelik hou vir hoe hulle hulle kinders opvoed en leer.

Soos kinders die beginsel van “oorsaak en gevolg” leer – “beloning vir gehoorsaamheid en straf vir ongehoorsaamheid” – is dit belangrik dat ons nie die gedeelte van “beloning vir gehoorsaamheid” vergeet nie. Mondelinge goedkeuring vir ’n taak welgedaan, met goeie oogkontak en ’n glimlag, kan baie vermag. Net soos volwassenes, hou kinders daarvan dat hulle waardeer word. Ons moet ons geestelike Vader se voorbeeld volg. Hy beloof onteenseglik om diegene te beloon wat Hom soek. “... hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is [bestaan] en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). God se belofte van beloning vir gehoorsaamheid kan ’n sterk motivering wees.

Jare gelede, toe twee of drie van ons kinders nog voorskools was en nog nie kon lees nie, het my vrou ’n kaart vir al vier van hulle gemaak. Sy het prentjies gebruik om hulle te herinner aan hulle daaglikse en weeklikse takies. Hulle is met ’n sekere bedraggie geld beloon vir elke taak wat hulle voltooi het. Daar was ’n tekening van ’n opgemaakte bed om hulle aan daardie daaglikse taak te herinner. Daar was ’n prentjie van ’n tandeborsel, ’n hond met sy kosbak, ’n stel pajamas wat aan ’n haak hang en van kinders wat aan tafel sit (met glimlagte op hulle gesigte). Daar was ook ’n horlosie naby om hulle te herinner om betyds aan die ontbyttafel te wees. Aan die einde van die maand is die belonings opgetel en geld is vir die kinders gegee. Dit was hulle s’n om te bestee of te spaar, nadat hulle hulle tiende vir God opsygesit het.

’n Mens hoor soms van mense wat glo dat kinders nooit betaal moet word wanneer hulle takies verrig nie. Hulle dink dit sal kinders se karakter benadeel deur beloon te word vir hulle werkies. Dit is waar dat kinders nie vergoed moet word vir roetine-gehoorsaamheid nie soos om te reageer wanneer hulle geroep word of mooi te speel met hulle broers of susters. Om kinders egter die waarde van werksetiek te leer deur middel van klein beloninkies is beslis ’n goeie beginsel. Om kinders sakgeld te gee sonder om iets in ruil te verwag, is ’n verkeerde beginsel. Selfs God beloof om ons te beloon vir ons pogings: “Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld (vergoed) volgens sy dade” (Mattheus 16:27). Weet ons meer van ouerskap as God die Vader?

Hoe gouer ons begin om in ons jong kinders die algemene beginsel van konsekwente beloning vir gehoorsaamheid vas te lê asook straf vir ongehoorsaamheid, hoe meer beoefen die kind gehoorsaamheid – en hoe meer neem die vrede toe in ’n huishouding! Konsekwentheid is ’n wonderlike sleutel!

Ons moet onthou dat kinders, omdat hulle ’n menslike natuur het, soos ’n magneet aangetrek sal word na ongehoorsaamheid en ongehoorsaamheid moet konsekwenthanteer word. Aan die ander kant moet gehoorsaamheid en om reg te doen, aangeleer word. Behoorlike ouerskap is ’n groot dosis kinderopleiding. Spreuke 22:6 leer ons: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie”.

Elke reël of riglyn moet logies en verstaanbaar wees. “Omdat ek so sê” bied nie die regte motivering vir langtermyn gehoorsaamheid nie. Pleks om net vir ’n kleuter te sê, “moenie straat toe hardloop nie”, voeg daarby, “want ek wil nie hê ’n motor moet jou omry en seermaak of doodry nie”.

“Moenie op die bank spring nie”, kan verduidelik word met, “dit sal die bank breek”, of “jy kan afval en seerkry” of “dit pla die grootmense wat probeer gesels”. Na die verduideliking moet elke oortreding opgevolg word met verdere liefdevolle dissipline.

Die grondliggende doel van enige dissipline moet die kind se welstand wees! Die rede vir dissipline moet nooit woede of ’n begeerte wees om ’n kind in eie munt terug te betaal nie. Meeste ouers het seker al op een of ander tyd in woede opgetree wanneer hulle  kwaad of gefrustreerd was. Dit is iets wat ons almal moet oorwin. Onthou God se opdrag: “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” (Efesiërs 6:4). Kinders moet leer en weet dat ons hulle dissiplineer omdat ons hulle liefhet. Ons wil regtig net vir hulle die beste hê en dat hulle gelukkige en suksesvolle volwassenes sou word, asook vervulde lede van die Gesin van God.

Dit is uiters belangrik dat ons vandag reeds begin om vir ons kinders, ongeag hulle ouderdom, die noodsaaklike les van “oorsaak en gevolg” te leer – beloning vir gehoorsaamheid en straf vir ongehoorsaamheid. Dit is die grondslag vir hulle uiteindelike ewige lewe. My vrou het ’n “temateksvers” vir ouerskap. Sy het dit dalk al holrug gery met ons kinders, maar ek is baie dankbaar daarvoor: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deuteronomium 30:19). Dít is God se beginsel van Sy ouerskap met ons. Ter wille van ons kinders se lewenslange geluk, behoort dít ook die beginsel van ons ouerskap met ons eie kinders te wees.

Inhoud


Hoofstuk 4: Oordrag van verantwoordelikheid

Alle Christen-ouers se begeerte is dat hulle kinders in hulle grootword-proses, sal leer om God en Sy lewenswyse waarlik lief te hê. Ons weet wat die wonderlike voordele is wat God se wet aan ons kinders sal bring – nou asook in die toekoms – ’n stabiele en vervulde lewe nou en dan uiteindelik, ’n ewige lewe in die gesin van God met Jesus Christus se wederkoms. Alle ouers begeer hierdie dinge vir hulle kinders, maar wonder dalk oor hoe ons as ouers daarin kan slaag om aan ons kinders die verantwoordelikheid oor te dra en by hulle die begeerte aan te kweek om self daarna te smag.

Christen-ouers het ’n hoë en baie uitdagende “tweeledige roeping”. Soos ons Hemelse Vader ouers (wat Sy kinders is) oplei tot ouerskap na Sy beeld, is dit Christen-ouers se primêre plig om hulle kinders se harte en denke na God se beeld te brei en te vorm.

Om die verantwoordelikheid aan die volgende geslag oor te dra bly egter ’n baie moeilike taak in ’n wêreld waar Satan heers. Die verderflike invloed van die mensdom se perverse samelewing, gesteun deur Satan se uitsaaiing as “die owerste van die mag van die lug” (Efesiërs 2:2), word ’n gedugte vyand in ons poging om ons kinders se harte en denke na God se beeld te brei en te vorm!

Die Bybel wys daarop dat selfs die heel beste ouer wat bestaan, nie outomaties ’n volmaakte resultaat sal verkry nie. Adam was werklik ’n “seun van God” (Lukas 3:38), maar tog het God selfs vir Adam en Eva nie gedwing om die regte besluite te neem nie! God het aan Adam en Eva Sy lewenswyse geleer, maar nogtans het die Volmaakte Ouer Sy kinders toegelaat om Sy voorbeeld en onderrig te aanvaar of te verwerp.

Dieselfde geld vir menslike ouers. Ouers kan nie hulle kinders dwing om God as hulle Vader te aanvaar nie. Ouers kan wel die grondslag help lê vir hulle kinders om nou ’n beter lewe te hê en uiteindelik onderdanig te wees aan die ware God. Ons weet uit die Skrif dat God die denke en begrip van alle mense sal open, hetsy in hierdie leeftyd of in ’n toekomstige opstanding. Die oorgrote meerderheid mense wie se denke geopen word, sal verkies om die ontsaglike seëninge en voordele te ontvang deur gehoorsaamheid aan die ware God.

Hoe kan ouers dan begin om aan hulle kinders die begeerte oor te dra om God as hulle Vader te soek en aan te neem? Elke verkoopsman weet dat hy eers ’n begeerte moet skep ten einde sy produk te kan verkoop. Ouers moet op een of ander manier hulle kinders help om ’n Goddelike lewenswyse te begeer. Kinders moet tot die besef gebring word dat ’n Goddelike lewenswyse tot hulle voordeel sal strek. Dit sal waarlik vir hulle persoonlik baie seëninge en belonings meebring. Mense word altyd gemotiveer deur dít wat hulle begeer– nie dít wat hulle behoort te begeer nie.

Die wêreld probeer ons kinders oortuig van ’n reuse sataniese leuen naamlik dat ’n Goddelike lewenswyse ’n geweldige opoffering en ’n regte “remskoen” is. Wanneer kinders egter verstaan dat ’n Goddelike lewenswyse vir hulle seëninge en voordele sal inhou – vir hulleself en hulle geliefdes – sal hulle deur die wêreld se sataniese propaganda begin sien en sal hulle begeerte toeneem om ’n Goddelike lewenswyse na te volg.

God motiveer ouers op ’n soortgelyke wyse. Hy gee aan diegene wat verkies om Hom te volg, die gewisse kennis van die oorweldigende voordele wat hulle besluit inhou. Die Bybel sê: “... hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Iemand wat nie glo dat daar ’n wesenlike beloning – ’n voordeel – daarin is om na God te soek nie, sal nooit gemotiveerd wees om Hom te volg nie. Dit is van toepassing op ouers en is beslis ook van toepassing op kinders.

Die Bybel is van Genesis tot Openbaring gevul met inligting oor seëninge vir gehoorsaamheid. “En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die Here jou God” (Deuteronomium 28:2). Die voordele van ’n Goddelike lewenswyse kan elke dag ons lewens vervul: “Geloofd sy die Here! Dag ná dag dra Hy ons” (Psalm 68:20).

Uiteindelik het ouers net twee maniere om hulle kinders te oortuig dat ’n Goddelike lewenswyse grootliks tot hulle voordeel sal strek. Dit is pligsgetroue onderrig en die daarstelling van ’n positiewe voorbeeld. Nie onderrig of voorbeeld alleen sal ’n kind beïndruk nie. Sommige ouers is uitstekende voorbeelde, maar offer nie die tyd op om goddelike beginsels te onderrig op ’n kind se begripsvlak nie. Ouers moetduidelike voorbeelde gebruik wat kinders kan begryp en goed verstaan. Gevolglik mag kinders hulle ouers liefhê en respekteer, maar nie in staat wees om God se beginsels te verstaan en in hulle eie lewens toe te pas nie. In teenstelling hiermee onderrig sommige ouers hulle kinders wel pligsgetrou in God se beginsels, maar is self swak voorbeelde van die einste beginsels wat hulle onderrig. Gevolglik kom kinders dan dikwels in opstand teen die skynheiligheid wat hulle in hulle ouers sien en draai hulle hulle rug op godsdiens – selfs teen gesag in die algemeen. Die benadering van “doen wat ek sê en nie wat ek doen nie” is selde oortuigend.

Let op God se opdrag aan ouers: “Lê dan hierdie woorde van my weg in julle hart en in julle siel, en bind dit as ’n teken op julle hand en laat dit as ’n voorhoofsband tussen julle oë wees, en leer dit aan julle kinders ...” (Deuteronomium 11:18-19). God se beginsels moet in ons denke gevestig wees (wat ons dink) en in ons hand (wat ons as voorbeeld doenen ons moet dit doeltreffend aan ons kinders leer.

Doeltreffende onderrig

Kinders moet besef dat deur middel van ouers se onderrig en voorbeeld, God se lewenswyse vir hulle persoonlik gelaai is met seëninge en voordele. Lank voordat die vraag, “Waarom moet ek God volg? Wat kry ek daaruit?” gevra word moet ouers reeds hulle kinders met die antwoord daarop kan help. Tensy ouers hierdie vraag met eerlikheid en opregtheid kan antwoord, sal hulle nooit doeltreffend tot hulle kinders kan deurdring nie. Koning Dawid het dié vraag goed verstaan en gesê: “Loof die Here, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie” (Psalm 103:2).

Natuurlik wil ouers nie egosentriese kinders grootmaak wat net aan hulle eie gewin dink nie. Die idee is om kinders te help verstaan dat al God se wette vir hulle eie beswil daargestel is. As ’n uitvloeisel hiervan kan kinders namate hulle ouer word, verstaan dat God se wette ook goed is vir hulle familie en vriende – en dat elke mensinderdaad baat sal vind by God se wette en Sy lewenswyse.

Die Skrif maak dit duidelik dat dit meer doeltreffend is om God se lewenswyse informeel en voortdurend in hulle eie huis aan kinders te leer. “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:6-7).

Ouers behoort dikwels die voordele van God se lewenswyse aan hulle kinders uit te wys – terwyl hulle op die rusbank sit en televisie kyk, in die motor ry of koerant lees.Elke geleentheid waar God se lewenswyse gekontrasteer kan word met die swaarkry wat ’n wêreldse lewenswyse tot gevolg het behoort bespreek te word. Daar is geen tekort aan voorbeelde in hierdie siek wêreld nie. Die vraag is: Sal ouers die moeite doen? Dit moet toegegee word dat dit aansienlik baie tyd neem en deurlopende fokus op hierdie betekenisvolle doel plaas – maar dit het reuse voordele. Deur slegs op kerkdienste staat te maak vir kinderonderrig, is eenvoudig nie genoeg nie. Ouers moet die lesse wat in die kerk geleer word versterk met beide die koesterende liefde en sagmoedige onderrig van ’n moeder asook die deurlopende leiding en ondersteuning van ’n vader.

Ouers sal dit nuttig vind om God se wette in terme van die begrip “oorsaak en gevolg” te verduidelik. Kinders kan maklik “oorsaak en gevolg” verstaan wanneer fisiese wette soos swaartekrag bespreek word. Wanneer ’n kind uit ’n boom spring, sal swaartekrag hom aftrek aarde toe. Dit kan ’n gebreekte been of ’n baie seer verstuite enkel tot gevolg hê. Die gevolg (die pynlike besering) is veroorsaak deur die oortreding van die wet van swaartekrag (deur uit die boom te spring). God se geestelike wette werk op dieselfde wyse. Indien ons God se wette oortree, beseer ons onsself (of andere) outomaties op die een of ander wyse. Indien ons God se wette gehoorsaam, volg daar ’n outomatiese voordeel of seën.

 My vrou het gedurig die keuses in ons kinders se lewens beklemtoon deur duidelike reëls in die huishouding te handhaaf. Wanneer ons kinders daardie reëls verontagsaam het, kon ons hulle daaraan herinner dat hulle self besluithet om ongehoorsaam te wees, so hulle het dus self besluitom die een of ander vorm van straf te ontvang. Dit is toepaslik op sowel die fisiese as die geestelike vlak, soos wanneer my vrou die kinders daaraan herinner het om baie versigtig te wees met messe en dat hulle dit net mag gebruik met ons toestemming. Ons jong seuns was gefassineerd deur die messe se blink, skerp lemme en het soms probeer om iets op hulle eie te sny. Wanneer hulle dit gedoen het het hulle hulleself dan gewoonlik raakgesny. Ná een so ’n ongeluk, hoor ek een van die kinders aan my vrou vertel wat sy broer gedoen het en sê “Mamma, hy was nie veronderstel om dit te doen nie, toe straf hy homself!” Ten minste het die begrip sin gemaak!

Deur kinders te laat verstaan wat die oorsaak en gevolg is van al God se wette, is dit noodsaaklik om’n begeerte by hulle te wek om werklik baat te vind by die weg van God, in plaas daarvan om skade aan hulleself aan te rig wanneer hulle ongehoorsaam aan God se wette is. Let op na God se opdrag aan ons: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën [voordele] en die vloek [strawwe] het ek jou voorgehou. Kies dan [God se wyse van] die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die Here jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae” (Deuteronomium 30:19-20).

Elke gesin stel reëls vas vir hulle kinders. Die meeste ouers sal hulle kinders nooit toelaat om in die straat agter ’n bal aan te hardloop nie. Die kans om deur ’n motor raakgery te word is te groot. Hierdie reël strek duidelik tot die kind se voordeel en is maklik om te verduidelik. Net so kan ouers aan hulle kinders verduidelik dat God ook sekere Gesinsreëls het – Sy wette – wat daar is vir ons beskerming. Selfs deur net ’n beroep te doen op ’n kind se eie belang, kan ouers verduidelik dat God se wet teen byvoorbeeld diefstal hulle teen moontlike tronkstraf kan beskerm – of selfs verhoed dat hulle geskiet word deur die een van wie gesteel is!

Ouers se doel in ouerskap is om te verduidelik, op ’n wyse wat hulle kinders kan verstaan, hoe al God se beginsels daar is vir hulle eie beswil – in werklikheid is dit die “bloudruk vir menslike geluk”. Om God se beginsels op die grondslag van gehoorsaamheid te onderrig – “net omdat God so sê” – is wel ’n beginpunt, maar ’n kind se motivering en begrip moet baie dieper strek. Wanneer ouers al hoe meer van God se wette in die raamwerk plaas van oorsaak en gevolg – voordele vir gehoorsaamheid en strawwe vir ongehoorsaamheid – des te groter is die kans dat kinders dié beginsel sal inskerp in hulle eie lewens. Op stuk van sake wil niemand homself skade berokken nie. Almalvan ons wil graag die voordeel geniet van ’n goeie lewe, vol geluk en vreugde, eerder as hartseer en leegheid. Selfs “goddelike” ouerskap kan uiteindelik ontoereikend wees indien dit nie daarin slaag om kinders regtig te laat verstaan en insien hoe die lewenswyse deur God voorgeskryf, vir hulle ware voordele kan inhou nie.

Wanneer kinders tieners word, het ouers steeds dieselfde doelwit – om die voordele van God se weg aan hulle te leer, maar behoort dan hulle kinders te help om meer komplekse redenasies te verstaan as toe hulle jonger was. Hoewel dit aansienlike energie van ouers verg is dit deur en deur die moeite werd. Baie tienerseuns kan geredelik verstaan dat dit verkeerd is om ’n vrou fisies aan te rand, maar hoe verduidelik ’n ouer aan ’n tienerseun dat ’n wellustige begeerte na halfnaakte vroue op foto’s ook verkeerd is? Dit kan hom skade berokken en indien hy sodanige wellus vermy kan dit hom grootliks tot voordeel strek. Hoe kan mens ’n tiener oortuig wat nie werklik Jesus se opdrag kan begryp nie: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Mattheüs 5:28)? Hoe sou u ’n tiener se argument weerlê: “Wat maak dit saak? Vir wie kan dit seermaak? Ek is mos nie getroud nie, ek kyk maar net”.

Tieners behoort geleer te word dat jare van wellus net sal lei tot groot skade aan ’n mens se toekomstige huwelik en geluk! Diegene wat diep betrokke geraak het in “visuele onsedelikheid” (tydskrifte, flieks, Internet, “volwasse vermaaklikheidsklubs”, ens.) ervaar daardeur letterlik ’n chemiese reaksie in die brein wat die chemiese breinreaksie op werklike menslike kontak naboots! Die brein kan beelde van digitaal of chirurgies verbeterde liggame wat mens gesien het stoor en ’n toekomstige maat dan met daardie vals beelde vergelyk. So sien ons dus dat gedurige wellus, aangevuur deur visuele onsedelikheid, waardering vir jou eie maat sal verminder en die potensiaal vir geluk in die huwelik sal beperk. Die spreekwoord wat lui, “die gras is altyd groener aan die ander kant van die draad” word veral waar wanneer iemand in ’n fantasiewêreld van visuele onsedelikheid leef. Kinders moet geleer word dat God se wet aangaande seksualiteit ’n seën is wat hulle lewe en huwelik sal verbeter in die jare wat vir hulle voorlê.

Familie-getuienisse

Familiegetuienisse of familieverhale van God se dramatiese ingrypings, genesings en ander seëninge, kan kinders help om die werklikheid van God se bestaan te waardeer, asook Sy liefdevolle aard as lewende en lewenskragtige Here wat persoonlik in ons lewens belangstel. Ons familie vertel gedurig sulke stories van hoe ons deur dramatiese genesings en beskerming teen ongelukke, baie wonderlike voorbeelde van God se liefde, krag, genade en besorgdheid oor ons, ervaar het. Ons het nooit beweer dat ons God se ingryping verdien het nie, maar daardie ingryping was ’n konstante herinnering aan ons kinders van presies hoe liefdevol en genadig ons God werklik is.

So ’n voorbeeld het jare gelede, op ’n koue, reënerige dag in die Ozarks in Arkansas, plaasgevind toe ons op pad was kerk toe. Skielik wou die ruitveërs nie meer die voorruit skoonvee nie. Ons het onmiddellik besef dat ons ons in ysreën bevind. My vrou het onmiddellik voorgestel: “Ons moet almal bid dat God ons sal beskerm”. Sy en ons vier kinders het hulle oë toegemaak en stilweg gebid vir God se beskerming. Terwyl ek bestuur het ek ’n stille gebed gedoen na die beste van my vermoë. Ongeveer agt kilometer verder, aan die noordelike skadukant van die berg, kom ons skielik “swart ys” teë en begin onbeheerbaar sywaarts met die pad afgly! Met dié kom ’n ander motor van voor af, tref ook die ys en verloor beheer. Ons het op mekaar afgepyl teen ongeveer 65 kilometer per uur – gesamentlik sowat 130 kilometer per uur as ons mekaar sou tref! Dit was ’n onvermydelike botsing. Die gedagte het deur my geflits: “Hier kom dit!” Op die nippertjie voel ons hoe ’n geweldige onsigbare mag ons sywaarts van die pad af druk. Ons motor het in die sagte modder beland sonder dat dit iets getref het. Drie meter verder aan die linkerkant, was ’n groot sement stormwatersloot en aan die regterkant van die pad was ’n 12-meter hoë wal wat na ’n rivier daar vêr onder gelei het. Ons harte het geruk toe ons besef dat ons ongedeerd is. Ons het verstom daar gesit, uiters dankbaar vir God se ingryping.

Deur die jare heen het ek en my vrou oor baie soortgelyke dramatiese ingrypings met ons kinders gesels – wat ook baie gevalle van genesings ingesluit het. Hierdie verhale het ons persoonlike “familie-getuienisse”van God se ingryping geword – verhale wat ons waardering vir die liefde,die werklikheid en die mag van ons God versterk het. Alle ouers behoort gereeld persoonlike getuienisse in hulle eie lewens met hulle kinders te deel om sodoende hulle kinders te help om ’n band met die ware God te vorm.

Ouers het ’n verpligting teenoor God om hulle bes te doen om hulle kinders se denke na Sy beeld te vorm en te brei. Ouers moet gedurig elke beskikbare goddelike hulpmiddel aanwend met die wete dat hulle kinders nie net geaffekteer word deur wat hulle geleer word nie, maar ook deur die persoonlike familieverhale van God se liefde en genade. Wanneer kinders die voorbeeld wat gestel word in hulle ouers se lewens waarneem, kan hulle self vasstel dat God se lewenswyse ook vir hulle grootliks tot voordeel sal strek en dat Sy wette ook daar is vir hulle eie beswil.

Inhoud


Hoofstuk 5: Die nalatenskap van voorbeeld

Wanneer ouers die geboorte van ’n kindjie afwag, besef hulle selde ten volle dat hulle eie lewensvoorbeeld die belangrikste invloed sal wees op die kindjie se toekomstige morele karakter en geestelike ontwikkeling.

Die persoonlike voorbeeld wat ouers stel is beslissend vir kinders om God se lewenswyse te sien as ’n lewe met seëninge en voordele. Ouers se voorbeeld is ’n vorm van onderrig waar lesse geleer word deur dade, eerder as woorde. Daar is ’n ou gesegde: “Jou dade praat so hard dat ek nie kan hoor wat jy sê nie”. Kinders vergeet mondelinge onderrig baie gouer as die duidelike, praktiese voorbeeld van hulle ouers se daaglikse optrede en gesindhede. Ouers se voorbeelde en gesindhede word diep in ’n kind se onderbewussyn ingeprent en word later weerspieël in die kind se gedrag.

Ouers behoort dit beslis hulle agenda te maak om al God se beginsels mondelings aan hulle kinders te leer. Indien ouers se dade egter nie hulle woorde gestand doen nie, sal dit enige onderrig gewis ondermyn. Namate kinders groter word raak hulle baie bedrewe daarin om dít wat hulle geleer word, te vergelyk met die voorbeeld wat hulle in die lewe sien. Ons moet nooit vergeet dat Jesus Christus ’n lewenswyse onderrig het en nie ’n “ivoortoring”-filosofie nie. Die morele waardes wat ouers deur hulle dade en gesindhede in die alledaagse lewe openbaar, sal die grondslag lê vir hulle kinders se gesindhede, waardes en gedrag.

Selfs al kon ouers volmaak wees in hulle onderrig en voorbeeld, is daar geen waarborg dat die kinders uiteindelik hulle ouers se keuse om God te gehoorsaam sal navolg nie. Dit kan egter byna gewaarborg word dat kinders wat ouerlike skynheiligheid ervaar, hulle ouers se waardestelsel sal verwerp. Die belangrikheid van ouers se voorbeeld kan nié genoeg beklemtoon word nie.

Kenners in kinderontwikkeling erken dat klein kindertjies hulle ouers byna as gode beskou aangesien ouers van babatyd af hulle voorsieners, versorgers en leermeesters was. Jong kinders glo enigiets wat hulle ouers aan hulle sê en verwag dat hulle ouers enigiets kan regmaak – van ’n seerplek, ’n gebreekte speelding tot ’n maatjie se onregverdigheid. God het hierdie vroeë afhanklikheid en vertroue geskep sodat ouers die jong, ontvanklike kindergemoed op ’n heilsame en goddelike wyse kan lei en opvoed. Jong kinders vorm hulle persepsie van God hoofsaaklik deur hulle ouers se voorbeeld. Ouers het min hoop om goddelike kinders groot te maak as hulle nie self werklik goddelike voorbeelde is nie! Wanneer kinders by ouers onverdraagsaamheid, selfbeheptheid, leuens, gierigheid, onvriendelikheid en gereelde woede sien, is dit onwaarskynlik dat hulle aangetrokke sal voel tot hulle ouers se geloofstelsel, ondanks enige uitgerekte lesings wat so ’n ouer mag gee.

Ouers moes ten volle bewys het dat God se lewenswyse van groot waarde is en vir hulle werk – en daardie lewenswyse daagliks openbaar. Kinders wat nie kan sien dat God se lewenswyse vir hulle ouers werk nie, sal waarskynlik ook nie glo dat God se lewenswyse vir húlle sal werk nie.

Weerspieëling van God se karakter

Dit is noodsaaklik dat ouers God se karakter sal uitstraal in die wyse waarop hulle omgaan met hulle kinders. Kinders behoort in hulle ouers se daaglikse roetine die voorbeeld van ware liefde vir God, Sy Kerk en Sy lewenswyse te sien. Kinders wat skynheiligheid in hulle ouers se lewe sien, sal uiteindelik ouerlike leiding verwerp. Kinders wat egter opregtheid en ongeveinsdheid waarneem, sal baie meer geredelik die goddelike beginsels aanvaar wat deur hulle ouers en die Kerk onderrig word.

Ouers het ’n groot verantwoordelikheid om as ambassadeurs vir God en Jesus Christus op te tree in hulle kinders se lewens. Hulle behoort die regte voorbeeld te stel, sodat hulle kinders die aanvanklike respek en vertroue wat hulle vir hulle ouers het, uiteindelik verplaas na God self. Namate kinders volwasse raak dra hulle onbewustelik die ervarings wat hulle met hulle ouers gehad het oor na God. Indien ouers krities en onvergewensgesind was, sal kinders geneig wees om God ook so te sien. Indien ouers agterdogtig en veroordelend was, sal kinders sukkel om Christus se genade en vergifnis te aanvaar. Indien ouers nie konsekwent gehoorsaamheid aan reëls en respek vir gesagsfigure onderrig het nie, sal kinders God nie respekteer nie en dit sal hulle ook nie pla om Sy wette te verbreek nie.

Kortom, kinders moet iets van God se karakter in hulle ouers se lewens sien. Die Bybel noem dit die “vrug van God se Gees”. Hierdie “vrug” of “bewys” van God se Gees, verwys bloot na hoe God dink en handel. Dit is die sleutel tot ’n wonderlike lewe vir beide ouers en kinders. Soos Paulus skryf: “... die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galasiërs 5:22-23). Hoe meer ouers se gedagtes, woorde en optrede die vrugte van die Gees weerspieël, hoe meer aangetrokke sal kinders raak tot hulle ouers se lewenswyse. Vanselfsprekend is geen ouer die volmaakte voorbeeld nie, maar ouers wat regtig wil hê dat hulle kinders God se lewenswyse moet nastreef, sal self met hulle hele wese na God soek.

Eerbied vir God

Dikwels vorm ouers op dramatiese wyse hulle kinders se eerbied vir die Kerk van God en vir die beginsels wat die Kerk onderrig. Indien ouers voortdurend sou kla dat dit moeilik is vir hulle om God se lewenswyse uit te leef, sal dit dan enigsins vir hulle ’n verrassing wees indien hulle kinders as volwassenes hierdie “moeilike lewenswyse” dan verwerp? Oor die jare heen het ek ouers dikwels hoor sê: “Dit is so moeilik vir ons tieners dat dit nie vir hulle moontlik is om sportbyeenkomste op die Sabbat by te woon nie”. Wanneer ouers God se lewenswyse as ’n las uitbeeld, sal kinders voel hulle word benadeel. Aan die ander kant, indien ouers God se lewenswyse uitbeeld as een wat gepaardgaan met ontsaglike voordele en seëninge, sal kinders dit wel na waarde skat.

Kinders wat voortdurend hoor hoe hulle ouers, ongeag hulle huidige situasie, hulle dankbaarheid uitspreek vir dít wat God in hulle lewens doen, sal geweldig daarby baat vind soos wat hulle begin om die “geheelbeeld” by hulle ouers aan te leer. Hierdie lewe is ’n leerskool vir die toekomstige gesin van God en ons sal uiteindelik “gradueer” vir ons werklike loopbaan met die wederkoms van Christus! Namate kinders begin besef vir watter ontsagwekkende en baie werklike toekoms hulle opgelei word, raak hulle meer bedrewe om op die langtermyn te dink en kan hulle begin uitsien na God se Koninkryk en hulle daarvoor begin voorberei.

Ouers wat saamwerk – mekaar as ’n span ondersteun en saamwerk as ’n “verenigde front” – versterk die mag van voorbeeld. Indien kinders sien hoe ouers liefde en waardering vir mekaar uitbeeld met “Ek is lief vir jou” en ’n drukkie by geleentheid, sal hulle ’n groter gevoel van sekuriteit ontwikkel. Die kinders weet dat hulle geliefd is en hulle weet dat die twee belangrikste mense in hulle lewens mekaar liefhet. Hulle voel geborge in hulle wêreldjie en dit motiveer hulle om ook die patroon van liefde en sekuriteit wat hulle ouers demonstreer, as uitvloeisels van God se lewenswyse na te volg.

Aan die ander kant sal kinders wat hulle ouers gedurig sien stry en baklei en wat oneerbiedig teenoor mekaar is, mettertyd agterkom dat hulle ouers se “lewenswyse” nie vir hulle werk nie, ongeag wat die ouers verkondig. Die huwelik is ’n “lewende laboratorium” wat óf die geweldige voordele van God se lewenswyse, óf die vernietigende gevolge wat ’n wêreldse lewenswyse inhou, kan openbaar. Dit sou wonderlik wees as alle kinders net soveel kon leer uit hulle ouers se swak voorbeeld – deur te leer wat om nié te doen nie. Die werklikheid is egter dat kinders kan agterkom waar daar ongelukkigheid heers en gevolglik sal hulle die ouers se lewenswyse wat klaarblyklik soveel ongelukkigheid gebring het, verwerp.

Volkome eerlikheid

Dit is absoluut noodsaaklik dat kinders in hulle ouers ’n voorbeeld van volkome eerlikheid sien! Waarheid is die grondslag van God se lewenswyse: “Die hele inhoud van u woord is waarheid” (Psalm 119:160). Indien kinders hulle ouers sien lieg of bedrieg (soos die standaard deesdae in so baie van die gewilde vermaak is) het hulle geen rede om die geestelike beginsels te aanvaar waarin hulle ouers sê hulle glo nie! Wanneer kinders volkome eerlikheid in hulle ouers sien, bied dit geweldige geloofwaardigheid aan die begrip dat daar geestelike wette is wat nie oortree mag word nie. Wanneer ouers vinnig is met ’n “noodleuentjie” om uit ’n benarde situasie te kom, leer kinders gou hierdie voorbeeld en begin hulle kort voor lank ook volgens dieselfde reëls optree. Dit is nog erger wanneer ouers hulle kinders vra om te lieg – byvoorbeeld deur te sê dat die ouer “nie tuis is nie” wanneer iemand bel. Hoe sal kinders ooit weet dat dit belangrik is om altyd die waarheid te praat wanneer God se beginsels nie toegepas word in sulke situasies nie? Vir kinders wat ervaar dat ouers lieg, raak die hele konsep van waarheid relatief tot dít wat op daardie oomblik die beste blyk te wees.

Indien leuens deel is van ouers se karakter, sal hulle kinders hulle nie vertrou nie. Net so sal God ook nie ouers wat lieg kan vertrou nie. Hy sê duidelik dat geen leuenaars Sy Koninkryk sal binnegaan nie (Openbaring 21:8). Indien ouers volgens die beginsel van eerlikheid leef en dit van ’n vroeë ouderdom af getrou aan hulle kinders leer, sal leuens omtrent heeltemal uitsterf. Eerlikheid word dan die grondslag vir sterk vertroue tussen ouers en kinders, waardeur ’n baie hegte ouer-kind verhouding gebou word.

Egte waardes

Kinders leer ook baie deur waar te neem watter standaarde hulle ouers gebruik om ander mense te beoordeel. In vandag se samelewing blyk dit dat die drie grootste vals waardes mag, geld en voorkoms is. Ouers doen hulle kinders ’n groot onreg aan wanneer hulle ekstra aandag en guns betoon aan mense met meer mag, rykdom of skoonheid. Hulle sê in der waarheid aan hulle kinders dat hulle baie meer beïndruk is deur die wêreld se waardes as deur goddelike waardes en karakter.

God se standaard vir ’n mens se waarde is duidelik: “Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie ... Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan” (1 Samuel 16:7). Ouers behoort hierdie beginsel op hulle kinders toe te pas. Goedkeuring en aanvaarding van kinders moet gegrond wees op onvoorwaardelike liefde en karakter. Indien jong kinders dikwels hoor: “Jy is so ’n pragtige meisietjie”, of “wat ’n aantreklike jong man is jy tog nie”, ontvang hulle die verkeerde boodskap aangaande hulle waarde. Ouers se komplimente moet hoofsaaklik toegespits wees op hulle kinders se karakter en goeie dade. Kinders moet geprys en aangemoedig word wanneer hulle eerlik, sorgsaam en mededeelsaam is, wanneer hulle integriteit openbaar en wanneer hulle God gereeld in gebed en Bybelstudie nader.

Ouers wat oormatig op hulle eie aantreklikheid konsentreer, kan ook die verkeerde boodskap uitstuur. Kinders leer gou hulle ouers se waardes aan. Ma’s wat onbetaamlik aantrek – wat graag uitlokkende klere soos stywe langbroeke, kort rompies of stywe toppies met ’n lae hals verkies – sê vir hulle kinders dat sodanige voorkoms in ’n vrou en moeder hoog aangeslaan word en dat haar grootste waarde haar vermoë is om aandag en selfs wellus uit te lok. Met so ’n voorbeeld sal dogters neig om selfs op ’n meer oordrewe en uitlokkende wyse as hulle ma’s aan te trek en seuns sal vir dieselfde in ’n vrou soek. God stel egter die standaard vir goddelike vroue toe Hy Paulus geïnspireer het om te skryf: “So ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie, maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke” (1 Timotheüs 2:9-10).

Hierdie beginsel geld natuurlik eweneens vir vaders. Wanneer ’n ouer se vernaamste waarde en eiewaarde gebaseer is op voorkoms en kleredrag, kom kinders dit agter. Wanneer kinders merk dat die vader hoofsaaklik aandag gee aan ’n vrou se klere en liggaam, stuur dit die verkeerde boodskap uit. Ja, vroue behoort te weet dat hulle mans hulle aantreklik vind, maar wat kinders regtig behoort te hoor, is dat hulle vader diepe waardering het en groot waarde heg aan hulle moeder se goddelike eienskappe en karakter.

Tyd met God

Kinders behoort hulle ouers te sien in persoonlike gebed en wanneer hulle Bybelstudie doen. Dit is in orde en behoort nie vermy te word as kinders af en toe hulle ouers se slaapkamer instap en een of albei ouers op hulle knieë sien bid nie. So ’n voorbeeld sal vir die res van hulle lewens in die kinders se denke ingeprent bly wanneer hulle besef dat hulle ouers se gebedsroetine ’n wesenlike prioriteit in hulle lewens is.

Wanneer ouers gereeld voor elke maaltyd bid, leer kinders om God meer as hulle honger te eerbiedig. Ouers kan kleuters selfs leer om stil te wees tydens die maaltydgebed deur hulle hande heeltyd vas te hou en hulle te leer om hulle koppe in eerbied te buig. So sien hulle nie net die belangrikheid wat hulle ouers plaas op kommunikasie met God wat so belangrik in hulle lewens is nie – hulle leer ook hoe om self daardie eerbied te betoon.

Kinders leer ook uit die voorbeeld wat hulle ouers stel in hulle daaglikse studie van God se Woord. Hoewel dit gewoonlik makliker is om Bybelstudie te doen wanneer die kinders slaap, kan ouers dit nuttig vind om hulle skedule van tyd tot tyd aan te pas sodat kinders die voorbeeld sien van ouers wat God se Woord bestudeer. Dit is ’n gesonde deel van ’n kind se ontwikkeling om te leer dat ouers ’n behoefte het om tyd met hulle Hemelse Vader deur te bring. Kinders baat ook daarby om te leer om hulleself stilweg besig te hou terwyl hulle ouers Bybelstudie doen, wel onder toesig van ’n ouer, maar gedagtig aan die feit dat hulle die ouer nie moet steur nie.

Wanneer kinders sien hulle ouers bestudeer God se Woord net een keer per week by die Kerk, sal hulle waarskynlik ook dieselfde patroon navolg. Deur hulle ouers se voorbeeld sal hulle aanneem dat Bybelstudie ’n plig en taak is wat een keer per week “ingepas” behoort te word. Daarteenoor sal kinders wat sien hoe hulle ouers God se Woord graag daagliks bestudeer, mettertyd hulle ouers se patroon naboots deur Bybelstudie en gebed ’n waardevolle daaglikse skakel met die Grote God te maak.

Kinders behoort ook die gewoonte om af en toe te vas as ’n normale deel van hulle ouers se lewens te sien. Dit behoort deel te wees van die wyse waarop God se leiding versoek word in dit wat die beste vir die familie sal wees asook met betrekking tot persoonlike geestelike groei. Soos wat kinders ouer word en self voor groot besluite te staan kom, sou dié voorbeeld wat hulle ouers gestel het deur te vas, ook vir hulle toenemend voordelig wees. Hulle sal leer om God se belofte te waardeer dat, indien hulle gereeld vir die regte rede vas “die Here ... jou gedurigdeur [sal] lei” (Jesaja 58:11). Kinders wat hierdie les geleer het deur hulle ouers se voorbeeld, sal ’n wonderlike, lewenslange nalatenskap vir sukses hê deurdat hulle geleer is om hulle na God te wend in tye van nood, besluitneming en selfs bekering.

Ouers se voorbeeld van Kerkbywoning sal ook ’n bepalende uitwerking op hulle kinders hê. Jongmense wat sien hoe hulle ouers hulleself gereeld teësinnig na die Kerk sleep, of hulle dikwels sien wegbly, sal Kerkbywoning as opsioneel begin beskou. Dit kan ook as ’n “verpligting” beskou word wat nou en dan nagekom moet word om God of die leraar tevrede te stel. Wat ’n verskriklike fout! In teenstelling daarmee sal kinders wat hulle ouers blymoedig dienste sien bywoon – met die rare uitsondering van siekte – waardering kry vir hulle ouers se opregte begeerte om meer oor God en Sy lewenswyse te leer.

Soos wat die jare aanstap en kinders hulle ouers se voorbeeld waarneem in die waarde wat hulle heg aan tyd vir gebed, Bybelstudie, vas en Kerkbywoning, sou hulle mettertyd begin besef hoe belangrik hulle ouers se verhouding met God is. Terwyl selfs die uitsonderlikste ouerlike voorbeeld nie volkome sukses kan waarborg om die waarde van God se lewenswyse aan hulle kinders oor te dra nie, sal ’n swak voorbeeld verseker die kinders se vermoë om hulle ouers se lewenswyse te waardeer, in die wiele ry. Christen-ouers behoort vir hulle kinders duidelik te maak, deur die voorbeeld van woord en daad, dat om Jesus se voorbeeld en Sy lewenswyse na te volg, die ware weg na vreugde en geluk is.

Inhoud


Hoofstuk 6: Skep ’n Godgesentreerde gesinskultuur

Dikwels is daar ’n geneigdheid by ouers om God in kompartemente te plaas in hulle gesinslewe. Ons beskou die Christelike lewenswandel asof dit bestaan uit sekere Christelike gedragspatrone soos kerkdienste en miskien so nou en dan Bybelstudiesessies as gesin. Dit is inderdaad ’n goeie wegspringplek, maar dit hou veel meer in om ’n Goddelike kultuur binne-in ons huis en gesin te skep. Indien die totaliteit van ’n gesinslewe in die vorm van ’n sirkel gesien sou word, sou die meeste mense die geestelike aspek van ouerskap bloot as ’n klein gedeelte van die geheel beskou. In teenstelling daarmee is die waarheid dat – indien ons ons kinders werklik na God se beeld wil grootmaak – die geestelike fokus die hele sirkel moet beslaan.

Wat sou dit beteken? Dit sal bloot beteken dat elke besluit wat ons as ouers neem, geneem sal word na aanleiding van die volgende vraag: “Sal dit die moontlikheidverhoog of verlaag dat my kind na God se beeld sou grootword?” ’n Pa oorweeg miskien ’n deeltydse werk wat daartoe kan bydra dat die gesin ’n vakansiehuis kan bekostig. Die gesin sou beslis die huis waardeer, maar die tweede werk sou beteken dat hy veel minder tyd saam met sy kinders kan deurbring. Dus, wat sal die waarskynlikheid wees dat kinders wanneer hulle ouer is, hulle tot God sal wend: Sal dit die plesier van ’n vakansiehuis by die see wees, of die teenwoordigheid van ’ntoegewyde vader wat daagliks meer tyd saam met sy kinders deurbring?

Wanneer ’n gesin se ouerskap deur hierdie soort voorkeur gelei word, word ’n bestendige grondslag gelê wat die moontlikheid dramaties sou verhoog dat kinders in hulle ouers se geestelike voetspore sal volg. Jare gelede het ons ’n muurplaat in ons huis opgehang waarop ’n Bybelvers gegraveer was wat hierdie beginsel goed opsom: “... ek en my huis, ons sal die Here dien” (Josua 24:15).

Wat is dan sommige van hierdie belangrike en betekenisvolle beginsels wat vir ons as riglyne kan dien waarvolgens ons ons gesinsbesluite moet neem om sodoende ’n gesinskultuur met God as middelpunt daar te stel? Kom ons ondersoek vyf noodsaaklike beginsels.

Beginsel 1: Gaan na die bron van ware goddelike kultuur – God Self

In en deur hulleself beskik ouers nie noodwendig oor genoeg wysheid en begrip oor hoe om hulle kinders se jong verstandjies in ’n goddelike rigting te stuur nie. Volwassenes se vernaamste model vir ouerskap het hulle natuurik by hulle eie ouers gekry. Alle ouers betree die jare van ouerskap onder invloed van die foute en gebreke wat in hulle eie opvoeding teenwoordig was. Dit maak nie saak hoeveel ons ons ouers waardeer nie. Die feit bly staan dat geeneen van ons met foutlose voorbeelde grootgeword het waarvolgens ons ons eie patroon van ouerskap kan vorm nie, al het ons ouers ons opgevoed na hulle beste wete. Dit is ’n patroon wat teruggevoer kan word na die eerste mensekinders, Kain en Abel.

Indien ons egter nie ’n goddelike fondament vir ons kinders lê wanneer hulle klein is nie, sal dit al hoe moeiliker word om daardie grondslag te lê wanneer hulle hulle tienerjare bereik. Gelukkig kan ons ons tot die volmaakte ouer, God Self, wend en Sy hulp vra wanneer ons tekort skiet. God sê in Sy Woord aan ’n ouer dat “iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige” (1 Timotheüs 5:8). God as ons Ouer, leef volgens dieselfde beginsel en is altyd bereid om aan ons al die hulp wat ons nodig het te gee, mits ons bereid is om na die Bron self te gaan.

Ouers besef maar al te dikwels dat hulle die nodige wysheid kortkom om so baie van die moeilike en frustrerende omstandighede te hanteer wat hulle in die opvoeding van hulle kinders teëkom. In my eie gesin se geskiedenis was daar talle situasies waar ek of my vrou besef het “dit is bokant ons vuurmaakplek”. God belowe egter aan ons – Sy geestelike kinders: “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt” (Jakobus 1:5).

Wanneer ’n situasie in ’n gesin besonder moeilik is om te hanteer, is dit tyd om met selfs meer ywer daarop te fokus om God se hulp, wysheid en leiding te bekom. Eenmaal, toe Jesus se dissipels gefrustreerd was deur hulle onvermoë om ’n duiwel uit ’n jong man te dryf, sê Jesus vir hulle: “Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie” (Markus 9:29). Dit is ook die geval met so baie moeilike probleme in die lewe, met inbegrip van ouerskap – sommige probleme word slegs oorwin deur “gebed en vas”. Wanneer ons vas, kom ons nader aan God, erken ons ons swakhede en ons algehele behoefte aan Sy leiding, wysheid en insig. Indien ons hierdie benadering volg om ernstig na Hom te soek deur te vas, belowe God: “En die Here sal jou gedurigdeur lei” (Jesaja 58:11). Ons moet bereid wees om te vra ten einde te kan ontvang!

Beginsel 2: Wees gewillig om u kinders se belange bo u eie te stel

Ons menslike aard – en die wêreld om ons – dikteer ’n baie teenstrydige beginsel: “Vind jouself, ontdek jouself en sorg vir ‘nommer een’, want niemand anders sal nie”.Wat sal egter gebeur wanneer ons die wêreld se raad volg en onsself “nommer een” maak? Indien ons dit doen en ons verantwoordelikhede as ouers verwaarloos, veroorsaak ons ’n leemte in ons kinders se lewens – ’n leemte wat gevul sal word deur die samelewing en deur Satan se denkwyse! Onthou, ons mag dalk ons kinders se opvoeding agterweë laat, maar Satan sal nooit nalaat om te doen wat hy kan om hulle te beïnvloed nie!

Paulus se vermaning aan die Filippense is veral op ouers van toepassing. “Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was” (Filippense 2:4-5). Die meeste ouers – veral moeders – kan die talle kere onthou wat hulle in die middel van die nag wakkergemaak is deur die gehuil van ’n pasgebore baba. Dit sou waarlik ’n uitsonderlike ouer wees wat die pasgebore baba se gehuil kon ignoreer met die gedagte: “Ek het my slaap nodig; ek moet na myself omsien”. Die meeste ouers vind dat dit heel natuurlik is om die fisiese behoeftes van hulle kinders bo hulle eie te plaas – maar dit is inderdaad seldsaam vir ’n ouer om sy kind se langtermyn geestelike behoeftes bo-aan die lys van hulle gesin se prioriteite te plaas. Ouers behoort hulleself van tyd tot tyd af te vra: “Plaas ek die behoeftes van die ‘eie-ek’ hoër as die noodsaaklikheid om my kinders ‘na God se beeld’ groot te maak?” Dit verg ’n belegging van tyd om ons kinders se geestelike behoeftes eerste te plaas, maar dit is God se wil dat ouers elke moontlike geleentheid sal benut om aan hulle kinders goddelike beginsels te leer. “En jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:7).

Beginsel 3: Die belangrikste invloed op u kinders se lewe behoort ’n goddelike denkwyse te wees

Die mens het ’n hoë roeping deurdat aan hom dié verantwoordelikheid gegee is om ’n jong verstand na God se beeld te vorm. Ons kan dit nie deur wensdenkery of blote begeerte regkry nie. Dit vereis dat ’n reuse belegging gemaak word wat tyd en moeite behels asook om noukeurig aandag te skenk aan die rolle wat God aan ouers gegee het. God verwag van mans om hulle vroue as “tuisteskeppers” heelhartig te ondersteun (Titus 2:5 NV). Wanneer ’n vrou en moeder in staat is om elke dag ’n voltydse “tuisteskepper” te wees, kan sy ’n warm en koesterende omgewing skep terwyl sy as die belangrikste invloed dien in die vorming van haar jong kinders se karakter. Deur jong voorskoolse kinders in hulle vormingsjare in dagsorg te plaas, verander die dinamika om kinders “na God se beeld” groot te maak, dramaties. Kinders wat dag na dag in so ’n situasie is, se lewensuitkyk word gou gevorm deur ander kinders en volwassenes om hulle. Die wesenlike vraag vir elke ouer is dan: “Wil ek hê my jong kind se denkwyse moet gevorm word deur ons gesin, of deur die wêreld?”

Baie ouers sal sê: “Ja, ons weet dat dit die ideaal is om ’n voltydse moeder by die huis te hê, maar ons kan dit eenvoudig nie bekostig nie”. Ongelukkig is dit dikwels waar dat die moeder moet werk omdat die gesin dit finansieel nie breed het nie. Ons moet egter nie ’n ander belangrike omvang van hulp en ondersteuning miskyk nie. God is nie beperk in Sy hulpbronne nie. Hy is ook nie beperk in Sy vermoë om vir Sy eie kinders te sorg nie. Indien ons ons behoeftes in gereelde gebed aan God oorgee, Hom herinner dat ons regtig wil hê dat ons kinders moet grootword om Hom lief te hê en Sy lewenswyse na te volg, sal God ons gebede verhoor! Vra vir God dat Hy aan u moet wys hoe om te bespaar en wat u kan doen om u uitgawes te verminder of u inkomste te verhoog. Dikwels is die skynbaar onmoontlike wel moontlik deur God, mits ons Hom ten volle vertrou en vra volgens Sy wil: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik” (Mattheüs 19:26).

God se Woord sê ook: “... maar die wat die Here soek, het geen gebrek aan enigiets nie” (Psalm 34:11). Aangesien God weet hoe waardevol ’n moeder se rol by die huis is, moet ons Hom vertrou om dit te verwesenlik. Ja, dit mag dalk vereis dat ’n gesin hulle fisiese lewenstandaard verlaag, maar as dit die gesin se hoofdoel is om kinders na God se beeld op te voed, verseker God ons dat dit met Sy hulp wel moontlik is!

Baie ouers ontdek dat as ’n moeder ophou werk, die gesin nie naastenby finansieel so “sukkel” as wat hulle gevrees het nie. Wanneer ’n werkende moeder haar salaristjek prysgee, raak sy ook ontslae van baie ekstra uitgawes wat hand aan hand gaan met ’n werkende moeder soos byvoorbeeld die uitgawes van ’n noodsaaklike tweede motor, ekstra versekering, brandstof, vervoerkoste, werksdrag, droogskoonmaker-uitgawes, meer restaurant-etes en kits-etes vir die gesin, en so aan. Dikwels is die verlies aan inkomste nie naastenby so groot as wat dit aanvanklik gelyk het nie.

Wanneer ’n moeder in staat is om voltyds tuis te wees, sal jong kinders se ontvanklike breine hoofsaaklik gelei en gevorm word deur ’n toegewyde moeder en vader, eerder as deur die wêreld. Hoewel omstandighede van gesin tot gesin verskil, is dit oor die algemeen ’n feit dat hoe langer ’n moeder voltyds tuis kan wees, hoe groter is die voordeel vir die kinders. ’n Toenemende aantal ouers wat oor die hulpbronne en vermoë beskik, verkies om hulle kinders tuis te onderrig weens kommer oor die gehalte onderrig en omstandighede by skole in vandag se samelewing. Ja, daar is gevalle waar die moeder móét werk en nie ’n “ideale” omgewing vir haar kinders kan bied nie. Ons leef nie in ’n ideale wêreld nie en ons moet die beste maak van omstandighede wat buite ons beheer is. Enkelouers het ’n unieke las wat slegs verlig kan word deur ’nbaie noue band met God die Vader en met Jesus Christus te hê. Suksesvolle enkelouers doen alles in hulle vermoë om God se leiding te vra en versoek Hom om aan hulle bykomende hulp te bied om in die geestelike behoeftes van hulle jong kinders te voldoen. God stel baie belang in weduwees of enkelouers wat sukkel om hulle kinders “na God se beeld” op te voed. God sê Hy is ’n “Vader van die wese en ’n regter van die weduwees” (Psalm 68:6).

Beginsel 4: Kweek die begrip dat “ons anders as die wêreld is”

Om anders as die wêreld te wees beteken nie dat Christene op ’n eiegeregtige wyse “beter” of “meerderwaardig” is nie. Dit beteken wel dat Christene erken dat hulle ’n ander stel waardes en ’n ander roeping het. Dit is iets waaraan hulle behoort te werk ten einde dit aan hulle kinders oor te dra. Om anders as die wêreld te wees, is nie iets waaroor Christene skaam hoef te wees nie; dit is iets waarvoor hulle dankbaar moet wees en wat hulle behoort na te streef! God se mense is beslis op baie wyses uniek en staan selfs bekend as “’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God” (1 Petrus 2:9 NV).

Om anders te wees – uniek – beteken nie dat Christene vreemd, snaaks of eienaardig is nie! Dit beteken wel dat hulle ’n ander stel waardes het – God se wette – asook ander prioriteite in die lewe: Om “eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” te soek (Mattheüs 6:33). As kinders aanvoel dat hulle ouers bang of verleë is om anders as die wêreld te wees, sal hulle die verkeerde standaard aanhang. Hulle sal voel dat dit belangriker is wat die mense van hierdie wêreld van ons dink, as wat God van ons dink.

Ons kan ons kinders daarmee help om “andersheid” te waardeer – hulle help om God se weë te waardeer – deur gedurig die voordele van God se lewenswyse vir hulle te benadruk in teenstelling met die besliste strawwe wat volg op ’n wêreldse lewenswyse! Ja, dit is voorwaar ’n groot belegging van tyd en energie, maar die beloning is onmeetbaar!

Beginsel 5: Beskerm kinders se denke teen die invloed van die goddelose

Dit is so noodsaaklik dat ons ons kinders teen Satan se invloed en propaganda- aanslae moet beskerm, maar ons wil hulle ook nie naïef en onkundig oor die wêreld grootmaak sodat hulle vatbaar sal wees vir Satan se streke nie. Jesus Christus huldig dieselfde sentiment in Sy gebed wanneer Hy tot God bid om Sy volgelinge te beskerm: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar” (Johannes 17:15).

Sommige ouers sal, wanneer hulle op soek is na ’n buurt waar hulle ’n huis wil koop of woonplek wil huur, ’n punt daarvan maak om ’n buurt te soek waar daar baie ander kinders is met wie hulle kinders kan speel. Dit is ’n uitstekende keuse indien u kinders wil grootmaak wat die meeste van hulle vrye tyd sal bestee daar waar hulle die wêreldse denkwyse sal absorbeer. Terwyl ons gesin na ’n woonplek gesoek het was ons verheug om uiteindelik ’n ouer buurt te vind waar daar min kinders was. Beteken dit ons wou ons kinders afsonder? Glad nie! Ons doelwit was om ons kinders met ander te laat meng in gereguleerde aktiwiteite en onder toesig – nie in ongereguleerde “vrye tyd” en sonder toesig nie.

Terwyl ons kinders grootgeword het, het ons hulle aktief laat deelneem aan die gemeenskap se sportbedrywighede. Ons twee seuns en twee dogters was betrokke in aktiwiteite soos bofbal, sagtebal, sokker, gimnastiek, ballet, klopdans en swem waar daar gekontroleerde toesig was. Hulle het aktief met kinders van alle agtergronde gemeng, maar daardie samesyn het ’n sekere doel voor oë gehad. Ons kinders het deelgeneem aan aktiwiteite waar onderrig en spanwerk die kern was.

Wat ons probeer vermy het, was aktiwiteite saam met die buurt se kinders sonder dat daar toesig was – hetsy in die systraat, buite in die veld, by die plaaslike uithangplek, by die fliek, of selfs by maats wanneer hulle ouers nie tuis was nie. Ons wou ons kinders nie toelaat om vrylik te meng met die wêreld se denkwyse wat gekenmerk word as die weg waarin ons “tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Dit beteken nie dat ons ons kinders heeltemal van die wêreld wou afsonder nie; ons wou hulle bloot op gestruktureerde engekontroleerde wyse aan die wêreld blootstel.

Ofskoon ons wel vriendskappe het met mense wat nie Christene is nie, behoort God se mense ons ware vriende te wees. Ons moet God se kernopdrag aan ons kinders beklemtoon en hulle leer: “... moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie” (2 Korinthiërs 6:14). Dit beteken glad nie dat ons dink dat ons beter is as ander mense nie, maar dit beteken wel dat ons God se Woord en Sy beginsels ernstig opneem! Indien ons ons denke en lewens vul met hegte vriendskappe in die wêreld, sal dit mettertyd neig om ons fokus weg van die Koninkryk van God te verskuif, nader aan die dinge van Satan se wêreld.

Indien ons ons kinders en tieners aanmoedig om ten volle met die wêreld om te gaan – deur oor te slaap by vriende, skooldanse by te woon en uit te gaan met ’n meisie of vriend – is ons stadig maar seker besig om hulle bloot te stel aan die wêreld se invloed en denke. Om tyd saam te bestee is beslis ’n faktor van vriendskap met die wêreld en God waarsku ons almal: “... weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God” (Jakobus 4:4). Hegte vriendskappe in die wêreld word onvermydelik ’n sterker skakel met hierdie wêreld se samelewing en met ’n waardestelsel wat vreemd is vir God se mense.

Dit beteken hoegenaamd nie dat ons almal “van die wêreld” ten alle koste moet vermy en ignoreer nie. Daar is baie “goeie” mense in die samelewing wat na die beste van hulle kennis en vermoë probeer om ’n sedelike lewe te lei. Indien ons as ouers ons dit ten doel stel om die volgende geslag “na God se beeld” op te voed, sal ons ons kans tot sukses vergroot deur ons kinders aan te moedig om noue en hegte vriendskappe te sluit met diegene wat dieselfde pad na God se Koninkryk verkies. Onthou, elke aspek van ons ouerskap moet draai om die vraag: “Sal dit die kans vergroot of verminder dat my kind ‘na God se beeld’ grootword?”

Inhoud


Hoofstuk 7: Pas God se lewenswyse toe

Aangesien dit die sentrale fokus van ouerskap is om kinders “na God se beeld” op te voed – met Jesus Christus se waardestelsel, denke en lewenswyse – is dit ’n noodsaaklike aspek van ouerskap om kinders se karakter te bou deur middel van gesins-aktiwiteite en interaksie in die familie.

Die meeste kinders word groot onder invloed van die samelewing deur die oorweldigende stempel wat afgedruk word in die skool, die verwronge vermaaklikheidslesse soos uitgebeeld in rolprente en televisie en natuurlik die oorheersende invloed van groepsdruk. Ouers kan probeer om die aftakelende gevolge van die samelewing se goddelose weë hok te slaan, maar ’n addisionele komponent is nodig. Dit is hoe God goddelike ouerskap opsom:

“Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as ’n teken bind op jou hand, en dit moet as ’n voorhoofsband tussen jou oë wees” (Deuteronomium 6:5-8).

Let op wat aan ouers gesê word rakende die leer van God se beginsels aan hulle kinders – om dit “as ’n teken [te] bind op jou hand”. Wat beteken dit? Om God se beginsels “as ’n teken op jou hand” te bind, behels die daaglikse aktiwiteite van gesinslewe! Al die mondelinge onderrig in die wêreld sal nie genoeg wees as ’n gesonde dosis “karakterbou in aksie” nie daar is nie! Gesins-aktiwiteite kan ’n gedugte hulpmiddel wees om God se beginsels aan u kinders te leer. Ja, kinders leer baie deur te “hoor” (ouerlike onderrig) en te “sien” (ouerlike voorbeeld), maar kan nog meer leer deur te “doen” (om goddelike beginsels prakties uit te leef).

Presies hoe pas gesins-aktiwiteite en -interaksie hierby in? Gesins-aktiwiteite het ten doel om sterk, gesonde gesinsverhoudings te bou. Al God se geestelike wette draai rondom die bou van ’n gesonde verhouding met God (om Hom bo alles lief te hê) en om gesonde verhoudings met mense te bou (om hulle liewer te hê as jouself). Soos wat ouers warm, liefdevolle en aktiewe verhoudings met hulle kinders ontwikkel, lê hulle die grondslag vir ’n toekomstige warm, liefdevolle en aktiewe verhouding met God die Vader en met Jesus Christus!

In teenstelling hiermee ontwikkel kinders wat in ’n geestelik-arm omgewing grootword met baie min ouer/kind-interaksie, nie geredelik die vermoë om met God, hulle geestelike Ouer, te identifiseer en om Hom lief te hê nie. Heelparty kinders het grootgeword met onbetrokke ouers en as volwassenes sukkel hulle dan baie om te identifiseer met die groter gesag van God, die Ouer van ons almal. Kinders wat hulle ouers as onbetrokke, hardvogtig of veroordelend ervaar, sal God ook waarskynlik later in hulle lewens as onbetrokke, kwaai of veroordelend beskou.

Dit is waar dat vriendskap ontwikkel weens tyd wat saam spandeer word. Daar kan ook gesê word dat goddelike karakter wat van jongs af ontwikkel grootliks kan afhang van die gehalte tyd wat ouer en kind saam beleef. Ek het al met baie volwassenes gepraat wat erken dat een van die grootste leemtes in hulle lewens die gebrek was aan ’n vader of moeder se aktiewe betrokkenheid en belangstelling in hulle kinderdae. Moontlik het die vader lang ure gewerk en gereeld doodmoeg tuis gekom, net om voor die televisie aan die slaap te raak of met iets anders doenig te raak. Of, miskien was die moeder hoofsaaklik toegespits op haar loopbaan of haar eie persoonlike belange en het sy nooit die tyd gemaak om gehalte tyd op kritieke tye aan haar kinders te gee nie. Wat ook al die omstandighede, sonder die betrokkenheid van ouers in die belangrike vormingsjare van ’n kind se lewe, gaan baie waardevolle geleenthede verlore. Kinders wat hoofsaaklik aan hulleself oorgelaat word, wat die meeste van hulle tyd voor die televisie, met skoolmaats, video- en rekenaarspeletjies, of op die Internet spandeer, sal al hoe meer begin om met die samelewing rondom hulle te identifiseer in plaas van met hulle ouers se waardes.

Ouers wat die waarde besef van gesins-aktiwiteite met gesellige interaksies, sal baie geleenthede vind om God se lewenswyse met hulle kinders te deel. Kinders kan die vreugde van uitgaande besorgdheid en meegevoel met ander, spanwerk, liefde vir God se skepping, die waarde van hegte gesinsverhoudings en baie ander boustene van ’n Christelike lewe, wat bewys dat God se lewenswyse werklik werk, leer en ervaar!

Watter spesifieke maniere is daar om die gesin se samesyn en aktiwiteite te gebruik om goddelike beginsels te versterk?

Ontspannings-aktiwiteite

Sommige ouers dink dat alle ontspannings-aktiwiteite ewe veel gewig dra, maar volwasse kinders wat terugkyk op hulle kinderdae, stem nie saam nie. Ek het onlangs aan my vier kinders gevra watter gesins-aktiwiteite hulle onthou en die meeste van waarde skat. Hulle het nie die uitstappies na Disneyland of ander temaparke genoem nie, ook nie die eksotiese reis na ’n eiland nie. Wat hulle wel onthou en die meeste waardeer, was die tye wat ons as gesin saam deurgebring het in verskeie aktiwiteite waar heelwat gesels en gedeelde interaksie plaasgevind het. Volgens ons een dogter het dit “meer te doen gehad met die gesinsatmosfeer as met die aktiwiteit self!”

Interessant genoeg het die hoeveelheid geld wat bestee is, min te doen met die waarde van die tyd wat saam deurgebring word. Eenvoudige aktiwiteite, soos die gesin se staptogte al langs die rivier waar ons kinders grootgeword het, is met nostalgie onthou. Daar was genoeg tyd om die een of ander gogga te bekyk, na ’n eend se gekwaak te luister terwyl hy in die rivier af swem, of om hulle te verwonder aan die geweldige uiteenlopende verskeidenheid plantlewe in die ruigte van die rivieroewer. Hierdie geleenthede om op ’n luilekker agtermiddag verwonderd te staan voor God se handewerk, was vir ons ’n klaskamer in die werklike lewe waar ons die ontsagwekkende denke van die Skepper kon uitwys. Hier kon die onlogiese teorie en “godsdiens” van evolusie ook verduidelik word. Die tyd wat ons so saam spandeer het deur te gesels, klippies oor die water te laat wip en om kinders oor ’n boomstomp in die pad te help, was ’n ander manier om te sê: “Ek het jou lief, ek stel belang in jou en ek gee om wat jy dink”. Natuurlik kan besige ouers altyd iets “belangriker” hê om te doen by die huis, maar deur tyd saam met kinders te spandeer, word sterk familiebande een vir een gebou.

Teen my studeerkamermuur hang ’n foto waaraan ek groot waarde heg. Ek en my seuns dra rugsakke en in die agtergrond is sneeubedekte berge. Terwyl die seuns nog tieners was, het ons besluit dat ons drie ’n gedeelte van die asemrowende John Muir-wandelpad in die Sierragebergtes van Kalifornië, sou stap. Ter voorbereiding het ons op ’n fiksheidsroetine besluit deur met gewigte te oefen en te draf. Ons drie het mekaar gemotiveer en ek moes die harde werklikheid aanvaar dat my tienerseuns swaarder gewigte as ek kon optel en vir my kon weghardloop! Dit het ’n jaarlange program geword met ’n aansteeklike doelwit wat uiteindelik ons jongste dogter ook betrek het! Die respek en kameraadskap wat ons gedeel het, het ’n band gevorm waaraan daar steeds spesiale herinneringe is. Ons het saam hard gewerk en beplan aan daardie staptog wat ons uiteindelik afgelê het en wat vir altyd in ons herinneringe sal uitstaan!

Onlangs het twee van ons kinders my en my vrou vergesel op ’n daglange sneeuskoen-staptog tot op die rand van ’n 1,000-meter hoë krans wat uitkyk oor die Yosemite Vallei in die bekende Yosemite Nasionale Park. As ’n eerste sneeuskoen-ondervinding het dit baie inspanning geverg, met steune en kreune, deur kilometers van sneeubedekte landskap. Teen die einde van die dag toe ons uiteindelik weer die motor bereik, sê ons seun: “Aktiwiteite soos hierdie, waarin ons hard werk en saam moeg word, bring ons op ’n spesiale manier nader aan mekaar”. Hoe waar is dit tog! Dit is nie die ure saam uitgestrek op die rusbank om ’n televisierolprent te kyk sonder om ’n spier te verrek wat gesinsbande en goddelike gesinswaardes smee en ontwikkel nie. Nee, dit behels tyd saam in interaksie. Die mikpunt vir ouers moet dan wees om gedurig die een of ander karakterbouende beginsel “in te werk” of uit te lig terwyl die gesin ’n genoeglike tyd saam deurbring.

Daar is soveel ander geleenthede waar ouers aktiwiteite kan aanpak om te help om die regte karakter by hulle kinders te bou en terselfdertyd ook hulle belangstelling, opvoeding en sosiale ondervinding te verbreed. Besoeke aan geskiedkundige plekke en museums waar die klem gelê word op mense se bydrae tot ons nasionale geskiedenis, help ons om ander mense se aandeel en opofferings te waardeer. Boonop kan ’n kulturele ervaring, soos nou en dan ’n opbouende en inspirerende musiekkonsert, kinders help om balans en harmonie in musiek te waardeer. Ouers kan kinders daarop wys dat God ook balans en harmonie in musiek waardeer, net soos in Sy skepping en in alle aspekte van ’n goddelike lewe.

Gebalanseerde werksetiek

Kinders van vandag word dikwels groot met een van twee uiteenlopende opvattings rakende die waarde van werk. Sommige kinders kry by hulle ouers die veronderstelling dat werk ’n euwel is wat sover moontlik moet vermy word. Ontelbare miljoene mense bestee elke ekstra geldjie wat hulle het op staatsloterye, dobbelary in casino’s of sportweddenskappe, op soek na die “gelukskoot” wat hulle sal bevry van die eentonigheid van werk. Ander kinders sien weer hoe hulle ouers vir jare op welsyntoelaes leef sonder om enigsins ’n poging aan te wend om hulle moeilike omstandighede en lewenswyse te verander.

Daar is ook die teenoorgestelde uiterste waar baie ouers wat uiters hard werk om voor te kom in die lewe, kinders opoffer daarvoor. Hulle dink dat, indien hulle net lank en hard genoeg werk om uiteindelik baie geld te verdien, hulle kinders ’n “goeie lewe” sal kan geniet. Baie kinders ontvang in der waarheid ’n oorvloed van elektroniese “speelgoed” wat hardwerkende, afwesige ouers uit skuldgevoel vir hulle koop. Hierdie kinders sou soveel meer voordeel kon trek uit die voorbeeld van ouers wat nie net in hulle kinders se basiese fisiese behoeftes voorsien nie, maar ook in hulle emosionele en geestelike behoeftes deur tyd te belê in hulle kinders se denkprosesse, persoonlikhede en geestelike ontwikkeling en terselfdertyd ook tyd sou inruim om bietjie te lag.

Groepwerk-projekte wat ouers sowel as kinders betrek, kan grootliks bydra om ’n gebalanseerde werksetiek by kinders te help kweek. Wanneer ’n gesin saamwerk, help dit om die waarde van werk, sowel as ’n besef van spanwerk en “om jou kant te bring”, by kinders tuis te bring. Die proses van samewerking dra by tot ’n gesindheid van “ons” eerder as “ek” en dit versterk by kinders die gevoel van sekuriteit binne die gesinseenheid. In ons gesin was die mees algemene werkprojekte dié in en om die tuin waar almal, ongeag die ouderdom, kon hand bysit. Daar was altyd werk om blare te hark, plante te snoei, onkruid uit te trek, gras te sny en stoepe en vloere te vee.

Ons kinders onthou dikwels laggend dat Ma se gunsteling Moedersdag-aktiwiteit ’n gesinswerksdag in die tuin was. Na ’n gesonde ontbyt waar die handgemaakte kaartjies gelees is, was haar versoek vir die dag dat ons almal ’n paar uur saam met haar in die kleurvolle blombeddings moes deurbring om die struike en rose as gesin saam te snoei. Ja, die kinders sou moontlik eerder wou gaan swem of ’n ander aktiwiteit geniet, maar hulle het beslis geleer dat hulle moeder die saamwerkery baie waardeer het – tesame met ’n pragtige tuin waartoe almal bygedra het en wat almal saam kon geniet. Hulle moeder het saam met die res van ons geswoeg en gesweet, selfs op Moedersdag.

Elke gesin se omstandighede is anders en nie almal het ’n tuin wat kan dien as fokuspunt waar kinders kan leer om saam te werk nie, maar in elke huis of woonstel is daar altyd ’n werkie wat net wag om gedoen te word. Daar is altyd kamers om te stofsuig, badkamers om skoon te maak, vensters en spieëls om te was en vullisdromme om leeg te maak. ’n Belangrike aspek is dat die take by die kinders se ouderdom moet pas en dat almal met een of albei ouers moet saamwerk.

Terwyl ons graag wou hê ons kinders moes weet dat daar van hulle verwag word om hulle bydrae te lewer as ’n lid van die gesin, het ons ook besef dat gesinstakies ’n manier kon wees om vir kinders die lesse van geldbestuur te leer. Ons het besluit om verskillende geldwaardes aan verskillende take te koppel. Sekere take moes daagliks gedoen word, ander weekliks en ander weer het afgehang van elke individuele kind se fluksheid en wat hy graag wou verdien. Dit was interessant om die verskillende geaardhede van die vier kinders waar te neem: Sommige het hulle verdienste gou op kleinighede uitgegee terwyl ander die geldjies gespaar en nooit uitgegee het nie. Met verloop van tyd het hulle almal geleer dat bykans alle materiële dinge in die lewe verdien moet word en dat swaarverdiende geld gou bestee en vermors kan word op goed wat geen blywende of terugkoopwaarde het nie.

Wanneer ouers toesien dat kinders gesinstake verrig en oor ’n behoorlike werksetiek beskik, ontwikkel die belangrike konsep van verantwoordelikheid by kinders. Dit dra by tot ’n gevoel van behoort in die gesinseenheid en kan bydra dat ’n gevoel van persoonlike genoegdoening ontwikkel wanneer take of verpligtings suksesvol afgehandel is. Verantwoordelikheid help ook om hulle voor te berei vir die werklikheid van die volwasse lewe waar die afhandeling van take op universiteit of kollege en later in hulle werk, ’n beslissende bydrae tot sukses is. Uiteindelik sal daardie behoorlike begrip vir persoonlike verantwoordelikheid hulle beter voorberei vir hulle verbintenis met God, Sy geestelike wette en Sy lewenswyse.

Uitgaande besorgdheid in aksie

Jesus Christus en die Apostels beklemtoon herhaaldelik dat die werklike grondslag van ’n Goddelike lewenswyse die goddelike karaktertrek van liefde is. Die Verlosser sê: “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het” (Johannes 15:12). Paulus som dit goed op met: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Romeine 13:10). Hierdie wesenlike karaktertrek van Jesus Christus en van die Vader kan moontlik die beste beskryf word as “uitgaande besorgdheid”.

Indien ons wil hê ons kinders moet grootword met ’n begeerte om werklik hulle ouers se voorbeeld te volg van ’n ware soeke na God en ’n strewe om “na Sy beeld” te leef, is dit absoluut noodsaaklik dat kinders hierdie kern-eienskap van God leer deur die handelinge van hulle ouers! Uiteraard moet kinders voortdurend, dag na dag, uitgaande besorgdheid ervaar. Dit behoort getoon te word tussen ouer en kind en ook tussen man en vrou. Indien dit nie die geval is nie, sal geen prekery of onderrig deur die ouers ooit die gewenste doel bereik nie. Kinders is baie oplettende kritici en noem dikwels skynheiligheid as die rede waarom hulle hulle ouers se geloofstelsel verwerp. Hierdie volgehoue uitgaande besorgdheid teenoor ander is die grondslag van die Tien Gebooie, waarvan die eerste vier gebooie uitgaande liefde teenoor God en die laaste ses gebooie uitgaande liefde teenoor alle ander mense vereis.

Iets wat minder algemeen is, is dat kinders die uitgaande besorgdheid teenoor ander mense buite die onmiddellike huisgesin ook beleef. Indien hierdie goddelike karaktertrek slegs binne die gesin bedryf word, kan kinders maklik selfgesentreerd en ongevoelig jeens ander mense grootword. ’n Kind of ouer wat uitgaande besorgdheid slegs binne die huisgesin as belangrik ag, sal nooit die nodigheid insien vir die ware Werk van God nie, waar die Kerk beveel word: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Markus 16:15). Christus stel dit duidelik: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee” (Mattheüs 10:8).

Tiendes en offergawes wat vryelik vir God se Werk gegee word, help kinders besef dat die wêreld ’n baie groter plek is as net hulle onmiddellike huisgesin. Hulle kan emosioneel betrokke en opgewonde raak wanneer hulle sien waarvoor hulle tiendes en offerandes aangewend word en sodoende besef dat dit tot voordeel van andere is. ’n Voorbeeld hiervan is dat, toe ons jong dogter besef dat haar bydrae die koste dek vir die druk en versending van een Kerkboekie aan iemand wat ons televisieprogram gesien het, het sy besluit om haar offergawe te vermeerder. Sy was opgewonde dat sy as ’n enkeling, ’n deel vorm van die groter “Werk” van God. Gesinsbesprekings en gebed help om jong denke te fokus op die groter prentjie van die betekenis en doel van die lewe. Dit gee ’n positiewe beeld van ’n plan wat soveel groter as ons fisiese bestaan is. Ouers se nie-veroordelende en positiewe benadering kan kinders help om ’n sterk begeerte te ontwikkel om te kies om deel te wees van die geestelike liggaam van Christus wanneer hulle volwassenheid bereik.

’n Verdere sleutelelement in die ontwikkeling van kinders se besorgdheid jeens ander mense, is om van hulle tyd op te offer vir ander. Enkele jare gelede het ons gesin deelgeneem aan ’n program genaamd “Neem ’n bejaarde aan” – gemik op die ouer lede van ons gemeente. Ons het aanvanklik betrokke geraak deur eensame bejaardes te ondersteun. Min het ons besef dat daar baie belonings en voordele aan verbonde sou wees – nie net vir ons nie, maar ook vir ons kinders! Tydens voorbereiding vir elke besoek het ons ons kinders daaraan herinner dat hoewel hulle “regte” ouma en oupa nie naby gebly het nie, die bejaardes in die Kerk nogtans “familie” was deur dieselfde “geestelike Vader” en gesien kon word as ’n soort van “ouma” of “oupa”. Ons kinders het begin uitsien na daardie besoeke en het begin om kaartjies, koekies of tekeninge vir dié nuwe “grootouers” te neem. Die kinders het geleer om stil te luister na die stories wat vertel word en mooi te kyk na interessante voorwerpe wat aan hulle gewys is. Hulle het ’n belangstelling begin ontwikkel in ’n vervloë era waaraan hulle tevore nie veel gedink het nie. Hulle het die individuele liefde en warmte wat hulle terug ontvang het terdeë geniet!

God se lewenswyse werk!

Om ouerskap te ervaar, kan een van die uitdagendste en moeilikste take in ’n ouer se lewe wees en tog het dit die potensiaal om een van die vervullendste en rykste ervarings in die lewe te wees! Daar mag baie frustrasies, kommer en besorgdheid wees, nogtans is niks vir ouers meer bevredigend as om te sien dat hulle kinders werklik die lewende God se lewenswyse geniet nie. Ons besef dat nie elke kind wat in die Kerk grootgemaak word die “visie sal ontvang” en “na God se beeld” sal ontwikkel nie, maar dit is ’n feit dat ons pogings nooit tevergeefs sal wees nie. Selfs al wyk hulle af van die rigting wat in die ouerhuis geleer is, het daardie kinders wat grootgemaak is volgens God se lewenswyse en dit as kinders ervaar het, ’n grondslag waarop hulle kan staatmaak, hetsy in hierdie lewe of in God se Koninkryk.

Daar is geen ryker erfenis wat ouers aan hulle kinders kan nalaat as die feit dat hulle, as gevolg van hulle gehoorsaamheid aan God, die volheid van Sy seëninge kan sien, hoor en ervaar nie. Ouers wat hulle tyd en toewyding gee – wat ware liefde en belangstelling in hulle kinders toon – sal ’n beloning ontvang wat vir hulle en hulle kinders ’n seën sal wees tot aan die einde van hulle dae! “Kyk, seuns is ’n erfdeel van die Here; die vrug van die moederskoot is ’n beloning. Soos pyle in die hand van ’n held, so is die seuns van die jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het!” (Psalm 127:3-5).