Hierdie boekie bevat waarlik skokkende inligting vir diegene wat oë het om mee te sien en ore om mee te hoor. Dit het diepliggende implikasies vir die toekoms van ons samelewing. Tog is die feite wat hierin vervat is telkens deur gerespekteerde geskiedkundiges en selfs deur baie teoloë aangeteken. Dit is nie gegrond op die een of ander teorie of konsep vol leë beloftes nie.

Die gevolg van vals godsdiens wat nou vinnig ontwikkel, sal u eie lewe binne die volgende dekade dramaties raak – veel meer as wat u u moontlik kan indink! Dit is omdat hierdie plofbare onthulling nie net vir “godsdienstige mense” is nie – dit is vir almal. Ons almal se lewens sal binnekort hierdeur geraak word.

Ons almal moet onsself afvra: “Hoe het dit gekom dat ek glo wat ek nou glo oor godsdiens, moraliteit en die ganse doel vir die mens se bestaan? As ek en my vriende net blindelings met algemeen aanvaarde idees saamgegaan het, is dit nie moontlik dat die meeste ander mense dit ook gedoen het nie? Is dit moontlik dat ons vals godsdiensidees blindelings aanvaar het wat trouens die wyse waarop ons ganse samelewings ontwikkel het, grootliks beïnvloed het – die soort regstelsels, onderwysstelsels en godsdiensstelsels wat ons bedink en as vanselfsprekend aanvaar het?

Het u al ooit vir uself hierdie basiese vrae gevra?

As daar ’n ware God is en as die Bybel Sy geïnspireerde openbaring aan die mensdom is, dan moet ons noukeurig nadink oor wat die Bybel duidelik oor hierdie vrae sê! Want die Bybel sê spesifiek: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21).

Die Bybel toon herhaaldelik en duidelik dat die meeste mense mislei is. Ter beskrywing van die eindtye, beskryf die apostel Johannes die duiwel soos volg: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei], hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9). Die meer as twee miljard “Christene” in die groot kerklike organisasies, is deel van die “hele wêreld” wat Johannes beskryf – en baie van hulle is mislei! Hierdie mense en hul predikante bedoel nie om boos te wees nie, want ’n misleide persoon weet nie dat hy mislei is nie! Dit is belangrik dat ons daardie onderskeid verstaan.

Ek is dus nie “gemeen” deur bogenoemde te skryf nie, want die God van die hemel beveel my om die Waarheid te preek. Ek kan u ook nie help as ek bloot soetsappige lippediens lewer en voorgee dat “alles goed gaan” terwyl alles nie goed gaan nie! Want ons nader nou die heel einde van 6 000 jaar van menslike geskiedenis onder die invloed van Satan die duiwel, hóm wat Jesus Christus die “owerste van hierdie wêreld” noem (Johannes 14:30).

“Opregtheid” is nie genoeg nie

Ek is deeglik daarvan bewus dat duisende van u wat hierdie boekie lees baie opreg is in u begeerte om ’n Christen te wees. U dink waarlik dat die soort godsdiens waarmee u grootgeword het, dít beoefen wat Jesus Christus en die Apostels onderrig het. Baie leraars en priesters glo ook opreg dieselfde dinge. U bedoel goed.

Wat u moet besef, is dat miljarde ander mense geleef en gesterf het sonder om ooit enige soort belydende Christenskap te verstaan of te beoefen. Die meerderheid van die wêreld se bevolking het nooit – op enige tydstip – Christenskap bely nie! Die meeste van hierdie mense was ook baie “opreg” – net soos u mag wees. Dit is dus nie ’n kwessie van “opregtheid” of om die meerderheid na te doen nie. Dit is ’n kwessie van die werklike Waarheid vind aangaande die doel vir die mens se bestaan en om die ware weg te vind om daardie manjifieke doel te verwesenlik.

Is “opregte” godsdiensdwepery genoeg? Nee! Alle godsdienste is nie “gelyk” nie! Indien u bereid is om vir uself te bewys dat die Een groot Skepper die ware God is en dat die Bybel Sy geïnspireerde openbaring aan die mensdom is, dan moet u verstaan dat daar net een weg na die ewige lewe is en daardie “weg” is deur die ware Jesus Christus van die Bybel! Soos die apostel Petrus dit stel: “Laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ’n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:10-12).

Tog begryp baie min belydende Christene die enorme omvang van die misleiding wat deur Satan die duiwel bewerkstellig word. Hulle vind dit moeilik om die feit te begryp dat Satan nie net diegene in die heidense, nie-Christenwêreld mislei het nie, maar dat hy ’n vervalste Christendom uitgedink het en dit op miljoene mense afgesmeer het wat opreg dink dat hulle die Christus van die Bybel navolg! Soos die apostel Paulus die Korintiërs waarsku: “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korintiërs 11:3-4).

Inderdaad, ’n ander “Jesus” – ’n totaal ander Jesus Christus – is aan ’n houtgeruste mensdom afgesmeer! Onthou, ’n vervalste R100-noot is ontwerp om baie soos die egte noot te lyk. Deur na die oënskynlike ooreenkomste te kyk, word mense dikwels mislei om die vervalsing te aanvaar. So is dit met Satan, die Meestermisleier! Om u eie ontwil, wees asseblief bereid om te oorweeg dat u mislei is om te aanvaar dat u waarlik die Christus van die Bybel en dít wat Hy werklik onderrig, volg. U Bybel toon duidelik dat slegs ware Christene beskerm gaan word gedurende die komende slagting – die Groot Verdrukking wat deur Jesus Christus beskryf is!

In die nabye toekoms – binne die volgende paar jaar – gaan die groot God van die ganse skepping begin om regstreeks in te gryp, kragtiger as ooit tevore. Die onlangse orkane wat deur Florida, New Orleans en die Golfkus van die Verenigde State verwoesting gesaai het, is bloot ’n klein voorsmakie van wat God in hierdie laaste dae sal begin doen. Jesus Christus het spesifiek voorspel: “En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar salverskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom ... En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Lukas 21:11, 25-26).

Die groot God sal die mensdom se aandag trek! Hy sal diegene help wat bereid is om te verstaan, om “uit” hierdie moderne Babilon te kom (Openbaring 18:4) en om hulself uit Satan se samelewing te bevry.

Die apostel Paulus is ook geïnspireer om ons te vertel dat Satan die duiwel die letterlike “god” van hierdie wêreld se samelewing is! Paulus skryf: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korintiërs 4:3-4).

Die basiese standpunt

Die basiese standpunt van hierdie boekie is dat ons Skepper ’n baie werklike duiwel toegelaat het om die meeste van die mensdom vir die afgelope 6 000 jaar te mislei. Trouens, Satan het ’n vervalste godsdiens tot stand gebring ten einde die ganse wêreld te mislei, maar die grote Skepper sal binnekort ingryp om Jesus Christus na die aarde terug te stuur as “Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:16). Wanneer Hy terugkeer, sal Christus Satan in ’n bodemlose afgrond gooi, “sodat hy die nasies nie meer sou verlei [mislei] totdat die duisend jaar voleindig is nie” (Openbaring 20:3).

Een van die primêre wyses waarop Satan die meeste mense mislei, is om hulle te laat dink dat hy nie eens bestaan nie! So maak mense grappies oor hoe “die duiwel dit gedoen het”, terwyl hulle voel dat daar op stuk van sake nie ’n regte duiwel is nie. Soos ons egter gesien het, noem Jesus Christus Satan “die owerste van hierdie wêreld”.

Hoe het Satan tot stand gekom? Wat is sy metodes van misleiding? En, die belangrikste vraag, hoe het Satan die hele wêreld mislei? Toe Jesus Christus uit “die profeet Daniël” aangehaal het (Markus 13:14), het Hy daardie geskrifte as Heilige Skrif beskou. In Daniël sien ons dat geesteswesens – beide engele en duiwels – by verskillende geleenthede beskryf word.

Nadat Daniël in sy soeke na dieper begrip gevas het, stuur God ’n engel om hom te bemoedig (Daniël 10:10-12). Die engel gee vir Daniël ’n merkwaardige verduideliking oor waarom dit hom so lank geneem het om Daniël se gebede te verhoor; “maar die vors van die koninkryk van die Perse het een-en-twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië. Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms” (verse 13-14).

Later gee dieselfde engel meer besonderhede oor die onsigbare geesteswêreld. “Toe sê hy: Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors van Griekeland. Nogtans sal ek jou te kenne gee wat geskrywe is in die boek van die waarheid; en daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle vors Mígael” (verse 20-21).

Hierdie Skrifgedeelte praat duidelik van geestesoorloë! Dit beskryf die stryd wat in die geesteswêreld agter wêreldgebeure aan die gang is, want Satan die duiwel word beskryf as “die god van hierdie wêreld” wat “die sinne verblind het” van die ongelowiges (2 Korintiërs 4:4).

Satan word ook die “owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” genoem (Efesiërs 2:2). Die engel wat met Daniël gepraat het, het ’n stryd tussen geesteswesens beskryf waarin selfs die groot aartsengel Migael (sien Daniël 12:1) vir bystand ingeroep moes word!

Hierdie wêreld, hierdie “tyd” – hierdie bykans 6 000 jaar tydperk van Adam af tot nou – was en is steeds ’n samelewing wat oorheers word deur Satan die duiwel en miljoene gevalle engele of “demone” wat hom in opstand teen die Skeppergod gevolg het.

“Satan” is nie net ’n algemene term vir boosheid nie. Satan is nie ’n blinde mag nie. Satan die duiwel is ’n kragtige geestespersoon – oorspronklik deur God as gerub geskep – wat teen God in opstand gekom het. Sy oorspronklike naam “Lucifer” beteken “ligbringer”, maar sedert sy opstand is hy Satan genoem, wat “teenstander” beteken.

Let op Jesaja 14:12-15: “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil!”

Hier sien ons dat die magtige Lucifer beplan om God te onttroon! Sy baie talente en ydelheid het hom laat besluit om met sy Skepper mee te ding!

In Esegiël 28:1-16 beskryf God eers die menslike vors van Tirus. Dit is duidelik dat hy ’n man was met baie bekwaamhede en die ganse heerser – op menslike vlak – van hierdie “New York” van die antieke wêreld. Dan begin Esegiël die ware “mag agter die troon” beskryf – die “koning” van hierdie heidense stadstaat. Neem kennis: “Mensekind, hef ’n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei” (verse 12-13). Hier lees ons van ’n persoonlikheid wat millennia voor Tirus bestaan het – in die “tuin van Eden”! Tog was hy ’n geskape wese (vers 15), nie ’n lid van die Godgesin nie.

Satan het ’n KONINKRYK

Na sy politieke bedinging en slinkse bewerkstelliging om volgelinge te bekom, is Satan uit die “berg” of Koninkryk van God gegooi. Soos Openbaring 12:3-4 aandui, het Satan daarin geslaag om ’n derde van die engeleskaar by hom te skaar in hierdie opstand teen God! Hierdie gevalle engele word nou “demone” genoem. Satan het nou letterlik miljoene gevalle engele wat sy volgelinge is en in daardie opsig het hy ’n “koninkryk” waaroor hy in die geesteswêreld heers.

Mattheus vertel die verhaal van Jesus se versoeking deur Satan, ’n baie slinkse persoonlikheid. “Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel” (Mattheus 4:1).

Hierdie evangelieverhaal waarsku ons vooraf dat Satan nie daarteen gekant is om uit die Skrif aan te haal nie. Trouens, Satan het selfs die vermetelheid gehad om die Bybel aan te haal vir die Skrywer daarvan, Jesus Christus! “Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ’n klip stamp nie” (Mattheus 4:5-6).

Toe maak Satan vir Jesus die aanbod van, “al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid” (verse 8-9).

Jesus het natuurlik die geestelike beginsels geken wat hier betrokke was en het die gepaste teksvers korrek in antwoord aangehaal deur te sê: “Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (vers 10). Jesus het gekies om God te gehoorsaam en om Sy koninkryk in God se tyd en op God se wyse te ontvang.

Later, toe Jesus beskuldig is daarvan dat Hy Beëlsebul gebruik om duiwels uit te dryf, sê Hy: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie. En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy [Satan se] koninkryk dan bly staan?” (Mattheus 12:25-26).

Satan het ’n koninkryk! Hy is die onsigbare “god” van hierdie wêreld (2 Korintiërs 4:4). Hy is die oppermisleier van mense en nasies. “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9).

Satan is die geesteswese wat groot invloed sal uitoefen oor ’n eerskomende charismatiese, politieke diktator – moontlik selfs uiteindelik in hom vaar – wat ’n magtige wêreld supermoondheid sal verlei wat uit ’n herleefde, militante, verenigde Europa – die eindtydse “Babilon” – sal verrys! Satan sal die “god” wees wat die vals godsdiensstelsel sal aanwakker en bemagtig wat hierdie wêreldoorheersende, ekonomiese en militêre mag sal onderskraag! Moet my nie net glo of my woord daarvoor vat nie. Kyk self in u Bybel!

God se Woord voorspel dat hierdie komende onderdrukkende stelsel letterlik deur demone besiel sal word: “En ná hierdie dinge het ek ’n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid. En hy het met ’n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid. En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:1-4).

Satan sal hierdie komende wêreldheersers motiveer om te veg teen Christus met Sy Wederkoms as die Koning van konings en die Here van here, maar Christus sal Satan onttroon en sy bose heerskappy tot ’n besliste einde bring.

Satan, die “vervalser”

Jesus verdoem die godsdiensleiers van Sy tyd vir hul geveinsdheid. Daardie kerklike leiersfigure het voorgegee om goddelik te wees, tog het hulle geweier om die geestelike bedoeling van God se Wet te volg. Jesus skryf aan hulle Satan se eie karakter toe en gebruik die vergelyking dat aangesien hul vader Satan was, hulle net “aartjie na sy vaartjie” kon optree. Die duiwel lieg en moor, wie sou dus verbaas wees as die duiwel se kinders dieselfde doen, deur ’n verdraaide evangelie van misleiding en valsheid te verkondig?

Dit is belangrik om te besef dat Satan letterlik die “vader van leuens” is. Hy is voortdurend besig om slinks te lieg en die mensdom te mislei en sy dienaars doen dieselfde. Trouens, leuens raak so algemeen vir mense onder Satan se invloed dat hulle dit dikwels makliker vind om leuens te vertel as die waarheid!

As deel van sy sameswering om God te dwarsboom en Sy groot plan vir die mensdom omver te werp, het Satan sy eie leraars! Die apostel Paulus waarsku Christene teen die groot misleiding wat deur Satan en sy leraars veroorsaak word: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korintiërs 11:13-15).

Satan se leraars lyk en klink dikwels soos misleide mense dink Christus se leraars behoort te klink! Hulle preek egter “’n ander Jesus” en verkondig ’n “ander evangelie”. Die onus rus op elke individu – u inkluis! – om waarlik die Bybel te bestudeer en te bewys wat Jesus en die vroeë Apostels onderrig en beoefen het.

Die twee Babilons

Die Bybel beskryf spesifiek nie net een nie, maar twee “Babilons”. Nie lank na die groot vloed nie, is een “Babilon” gestig – die antieke stadstaat gestig deur ’n man met die naam “Nimrod” (Genesis 10:8-10). Die tweede Babilon is ’n moderne kerkstaatstelsel wat in Openbaring 17 en 18 beskryf word. Sy leiers sal letterlik teen Christus veg met Sy Wederkoms (Openbaring 17:12-14)!

Dink daaraan! Honderde miljoene mense in hierdie eindtydse “Babilon” is so mislei dat hulle die vermetelheid sal hê om letterlik ’n stryd te voer met die terugkerende Seun van God en die leërskare van die hemel!

Ten einde te verstaan hoe hierdie stelsel wat as “Babilon” bekend staan, ontstaan het, laat ons teruggaan na die vroegste dae van die mens se geskiedenis. In Genesis 10 – kort na die vloed – het die mensdom weer begin vermeerder. Wilde diere het ook vermeerder en mense het beskerming nodig gehad. Op hierdie tydstip is ’n seun van “Kus” gebore. Die Bybel vertel ons: “Kus was ook die vader van Nimrod. Hý het begin om ’n geweldenaar op aarde te wees. Hy was ’n geweldige jagter voor die aangesig van die HERE. Daarom sê hulle: Soos Nimrod, ’n geweldige jagter voor die aangesig van die HERE. En die begin van sy ryk was Babel en Ereg en Akkad en Kalne in die land Sínear” (Genesis 10:8-10).

So het hierdie “geweldige jagter” – wat volgens oorlewering ’n stewig geboude man was – begin om mense in stede byeen te bring vir beskerming en ook om hulle onder sy persoonlike beheer te plaas. Die begin van Nimrod se koninkryk was “Babel” – Babilon. Van daar het hy verder ander stede gestig en mense byeengebring in ’n verhouding wat hulle “onafhanklik” van God laat voel het – dat hulle nie God se beskerming nodig gehad het nie. Uiteindelik het die mensdom – met “dieselfde taal ... en een en dieselfde woorde” (Genesis 11:1) – begin om ’n yslike wolkekrabber of “toring” te bou wat die “toring van Babel” genoem is (verse 4-9).

God het geweet dat die mensdom, onder hierdie Babiloniese stelsel, vinnig besig was om van Hom te onttrek en binnekort wapens en middele sou uitvind om hulself te vernietig. God het gesê: “Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie” (vers 6). Die skeppende mag van die menslike verstand was sodanig dat God geweet het dat die mensdom verskriklike wapens sou uitdink wat die aarde kon vernietig en dat Sy plan om die mensdom 6 000 jaar te gee om die lesse van menslike swaarkry te skryf, kortgeknip sou word voor Sy bedoelde tyd! Daarom het God toe neergedaal om “hulle taal te verwar” en hulle oor die hele aarde te verstrooi.

Die geskiedenis en volgehoue, deurtrekkende verhale en antieke legendes van bykans alle nasies, toon dat die filosofieë en godsdienste wat deur Nimrod en sy bose vrou, Semiramis, begin is, tot vandag toe bly voortbestaan het. Na Nimrod se dood, het sy vrou Semiramis daarop aanspraak gemaak dat hy toe die “songod” was. Soos skrywer Alexander Hislop skryf:

“Die Chaldeeuse Verborgenhede kan nagespoor word na die dae van Semiramis, wat net ’n paar eeue na die vloed geleef het en bekend is daarvoor dat sy op hulle die beeld van haar eie verdorwe en besoedelde gedagtes afgedruk het. Daardie pragtige, maar losbandige koningin van Babilon was nie net self ’n toonbeeld van onbeteuelde wellus en losbandigheid nie, maar in die Verborgenhede, waarin sy ’n groot rol in die vorming gespeel het, is sy aanbid as Rhea, die groot ‘Moeder’ van die gode, met sulke afgryslike seremonies wat haar met Venus, die Moeder van alle onreinheid, geïdentifiseer het en die einste stad waar sy regeer het tot ’n slegte hoogwaardigheid verhef het onder die nasies, as die terselfdertydse hoofsetel van afgodediens en geheiligde prostitusie. Gevolglik was hierdie Chaldeeuse koningin ’n gepaste en merkwaardige prototipe van die ‘Vrou’ in Openbaring, met die goue beker in haar hand en die naam op haar voorhoof, ‘Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde’. Die Openbaringsembleem van die Hoervrou met die beker in haar hand, is selfs beliggaam in die simbole van afgodediens wat uit antieke Babilon voortgespruit het, soos ten toon gestel in Griekeland; want sodoende was die Griekse Venus oorspronklik uitgebeeld” (The Two Babilons, bl. 5-6).

Vervalste godsdiens versprei

Hierdie Babiloniese stelsel van afgodaanbidding het regoor die wêreld versprei namate die inwoners van die stad self verstrooi is (Genesis 11:9). Namate hulle Babilon verlaat het, het hierdie mense hul aanbidding van moeder en kind sowel as die verskeie “verborgenheidsimbole”, saam met hulle geneem. Herodotus, die wêreldreisiger en geskiedkundige van ouds, het die verborgenheidsgodsdiens en sy seremonies in baie lande waargeneem en geskryf oor hoe Babilon die oorspronklike bose bron is waaruitalle stelsels van afgodery voortgevloei het. In sy bekroonde werk, Nineveh and Its Remains, skryf Layard dat ons die verenigde getuienis het van heilige en onheilige geskiedenis dat afgodery sy oorsprong in die gebied van Babilonië gehad het. Alexander Hislop haal in sy merkwaardige verhandeling wat hierbo genoem is, hierdie geskiedkundiges en ander aan wat hierdie punt bevestig.

Later het die Romeinse Ryk die gode en godsdienste van die lande waaroor hulle regeer het, aangeneem. Omdat Babilon die bron van hierdie heidendom was, kan ons maklik sien hoe Rome se vroeë godsdiens ’n vorm van Babiloniese aanbidding was wat onder verskillende vorms en verskillende name ontwikkel het in die lande waarheen dit versprei het. In sy deeglik gedokumenteerde boek, Pagan and Christian Creeds, skryf Edward Carpenter: “Die ooreenkoms tussen antieke heidense legendes en oortuigings en Christentradisies, is so groot dat dit die aandag en onverbloemde wrewel van vroeë Christene ontketen het ... in hul onvermoë om dit te verduidelik, het hulle teruggeval op die teorie dat die duiwel die heidene eeue tevore sekere oortuigings en gebruike laat aanneem het” (bl. 25).

Carpenter haal ook Tertullianus, ’n vroeë “kerkvader” aan wat tussen 160 en 220 n.C. geleef het, dat hy sê: “Die duiwel, deur die verborgenhede van sy afgode, maak selfs die hoofdele van die goddelike verborgenhede na” (ibid.).

Carpenter merk ook op: “Cortez het ook gekla dat die duiwel moontlik vir die Mexikane dieselfde ding geleer het wat God vir die Christendom geleer het” (ibid.). Die bekende Spaanse ontdekkingsreisiger het gevind dat die oorspronklik heidense inwoners van Mexiko reeds dieselfde heidense seremonies beoefen en baie van dieselfde heidense oortuigings gehad het as wat die Rooms-Katolieke Kerk aangeneem het!

Omdat die gebruike in vandag se kerke nie dieselfde is as wat die vroeë ware kerk in die Nuwe Testament aangeteken het nie, is dit noodsaaklik om te weet of daar ’n doelgerigte vermenging van vals heidense gebruike met die ware leringe van Christus, die Apostels en die Bybel was. Baie geskiedkundiges, soos Edward Gibbon, het die verandering opgemerk wat meegebring is deur groot getalle heidene wat na die vroeë Kerk gestroom het en hul heidense gewoontes en gebruike met dié van die kerk vermeng het (sien Decline and Fall of the Roman Empire, Vol. 1, hoofstuk 15).

Let daarop hoe vandag se kerke dieselfde oorsprong het as die heidendom! Satan het ’n hele stelsel van “vervalste Christendom” geskep. Hy het op ’n slinkse wyse ydele godsdiensleiers gelei om algeheel heidense idees, konsepte en gebruike aan die “Christendom” bekend te stel. Omdat die woord “Christelik” buite op die pakkie gestempel is, neem die meeste mense aan dat die godsdiens van Jesus Christus aangebied word. Min besef hulle dat geheel en al vals konsepte van God, Jesus Christus en Sy boodskap, van die doel van die ewige lewe en die weg na die ewige lewe, in ’n pakket toegedraai is wat “Christelik” genoem word, maar hul Christelikheid is ’n “vervalste” Christendom wat die meeste van die mensdom van die ware God afgesny het en grootskaalse verwarring, lyding en dood veroorsaak het!

Let op hierdie uittreksels uit Pagan and Christian Creeds: “Die Christenkerk het homself erg afgesonder van bespreking van heidendom en die standpunt gehuldig dat die kerk ’n unieke en goddelike openbaring verteenwoordig en het die mensdom tot so ’n mate hiervan oortuig dat min mense deesdae besef dat dit uit dieselfde wortel as heidendom voortgespruit het en dat dit die grootste deel van sy leerstellings en seremonies met laasgenoemde deel” (Carpenter, bl. 11-12).

“Die algemene idee is dat die heidengode met Christus se koms weggevlug het, tog is dit goed bekend aan elke student dat dit teenstrydig met die feite is. Ten tye van Jesus se aangetekende verskyning, en vir ’n aantal eeue tevore, was daar ongewyde tempels sowel as tempels wat toegewy is aan Apollo en Dionesius onder die Grieke, of Herkules onder die Romeine, Mitra onder die Perse, Baal en Astarte onder die Babiloniërs asook tempels toegewy aan vele ander gode. ’n Uitstaande verskynsel is duidelik: Nieteenstaande groot geografiese afstande, rasseverskille tussen kultusse en in die uiteensetting van die dienste, was die algemene hooftrekke van geloofsbelydenis en seremonies merkbaar soortgelyk – indien nie identies nie” (ibid., bl. 19-21).

“Nie net was hierdie heidense geloofsbelydenisse en seremonies wat eeue voor Christus se koms bestaan het, merkbaar soortgelyk aan mekaar nie, dit was ook soortgelyk aan die ware Christendom – ’n feit wat nie as toevallig beskou kan word nie. As voorbeeld hiervan is daar van elf hoofgode van sewe lande geglo dat almal of bykans almal van ‘hierdie gode’ se geboortes naby of op Kersfees was, van ’n maagd as moeder, in ’n ondergrondse grot en dat hulle ’n lewe van swaarkry namens die mens geleef het. Hulle is ligbringers, genesers, tussengangers en verlossers genoem. Daar is geglo dat hulle deur die magte van duisternis oorwin is, ter helle of na die onderwêreld neergedaal het om op te staan en vir die mensdom pioniers te word na die hemelse wêreld ... Krishna, die god van Indië, is ’n uitsonderlike parallel met die lewe van Christus” (ibid., bl. 21-23).

Carpenter skryf voorts: “Die idee van God wat Sy Seun opoffer vir die saligmaking van die wêreld was so vêr verwyderd en merkwaardig – tog strek dit deur al die antieke godsdienste en terug tot die vroegste tye en is dit in hul rituele beliggaam” (ibid., bl. 133). Hierdie ongewone gebruike was so na aan die waarheid dat dit sterk daarop dui dat die een of ander leidende mag daaragter moes steek. ’n Vervalste Christendom is geskep deur die onsigbare “god” van hierdie tyd na wie Jesus Christus as die “vader” van leuens verwys (Johannes 8:44).

Die Da Vinci kode

Dit is duidelik met sulke kenmerkende ooreenkomste met ware Christendom, soos deur die elf godhede van sewe lande getoon word, ’n mens hierdie onderwerp met ’n oop gemoed moet benader om te sien of ’n versmelting van heidendom en vaste Christendom vandag teenwoordig is.

Dan Brown se The Da Vinci Code het baie maande boaan of naby die top van die topverkoperslyste gebly. Miljoene mense is geboei deur hierdie fassinerende roman. Wat is so ongewoon daaraan?

Hoewel die rolverdeling die vorm van ’n roman aanneem – en fiksie sowel as foute bevat – kan dit ’n leser aanspoor om te besef dat daar baie meer onder die oppervlak van ons godsdiensidees en gebruike skuil as wat gewoonlik raakgesien word. Daar is drie hoofspelers in The Da Vinci Code: Sophie Neveu – ’n begaafde Franse kriptoloog; Robert Langdon – ’n Harvard simboloog; en Leigh Teabing – ’n voormalige Britse Koninklike Geskiedkundige.

Kom ons “luister hul gesprek af” oor die oorsprong van wat die wêreld vandag “Christendom” noem:

‘‘‘Geskiedkundiges staan steeds verstom oor die briljantheid waarmee Konstantyn die heidense sonaanbidders tot die Christendom bekeer het. Deur heidense simbole, datums en rituele te laat saamsmelt met die groeiende Christentradisies, het hy ’n soort bastergodsdiens geskep wat vir beide partye aanvaarbaar was.’

‘Metamorfosering,’ sê Langdon. ‘Die spore van heidengodsdiens in Christensimbologie is onbetwisbaar. Egiptiese sonskywe het die stralekranse van Katolieke heiliges geword. Beeldskrif van Isis wat haar wonderbaarlik verwekte seun, Horus, voed, het die model geword vir ons hedendaagse beelde van die maagd Maria wat die Baba Jesus voed. Bykans al die elemente van die Katolieke rituele, naamlik die biskopsmus, die altaar, die lofsang en die Avondmaal, die handeling van ‘God-eet’, is regstreeks uit vroeëre heidense misteriegodsdienste geneem.’

Teabing kreun. ‘Moenie ’n simboloog laat begin oor Christen-ikone nie. Niks in Christendom is oorspronklik nie. Die voor-Christelike god Mitras, wat die Seun van God en die Lig van die Wêreld genoem word, is op 25 Desember gebore, het gesterf, is in ’n klipgraf begrawe en is binne drie dae opgewek. Terloops, 25 Desember is ook die verjaardag van Osiris, Adonis en Dionisus. Aan die pasgebore Krishna is goud, wierook en mirre gegee. Selfs die Christendom se weeklikse heilige dag is van die heidene gesteel.’

‘Wat bedoel jy?’
‘Oorspronklik,’ sê Langdon, ‘het Christendom die Joodse Sabbat wat Saterdag is, geëer, maar Konstantyn het dit verskuif om saam te val met die heidense verering van die dag van die son.’ Hy bly stil en glimlag. ‘Tot vandag toe woon die meeste kerkgangers Sondagoggend dienste by sonder dat hulle ’n idee het dat hulle daar is danksy die heidense songod se weeklikse eerbetoon – Sondag’” (The Da Vinci Code, bl. 232-233).

Die geskiedkundige WAARHEID

“Maar dit is alles fiksie!” mag u dalk sê. “Waar het hierdie van lotjie getikte skrywer aan al hierdie vreemde idees gekom? Ek is seker dat my godsdiens volkome op die Bybel gegrond is!”

Asseblief vriende, moenie so seker wees nie!
Die Bybel self sê: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Die eintlike waarheid is – en ek daag u uit om dit wel te bewys – dat hierdie deel van Dan Brown se boek gegrond is op vaste feite. Die een geskiedkundige na die ander erken ook dat die oorspronklike Christendom van Jesus en die Apostels binne ’n paar eeue na Jesus se dood dramaties verander is! Soos die bekende geskiedkundige, Will Durant, geskryf het:

“Christendom het nie die heidendom vernietig nie; maar dit aangeneem. Die Griekse verstand, wat sterwend was, het oorgegaan tot lewe in die teologie en liturgie van die Kerk; die Griekse taal, wat vir eeue oor filosofie geheers het, het die werktuig van Christenliteratuur en rituele geword; die Griekse misterieë is oorgedra in die indrukwekkende misterie van die Mis. Ander heidense kulture het bygedra tot die sinkretistiese gevolg. Van Egipte het die idees gekom van ’n goddelike drie-eenheid ... en ’n persoonlike onsterflikheid van beloning en straf; van Egipte die verering van die Moeder en Kind en die mistiese teosofie wat Neoplatisme en Gnostisisme meegebring en die Christelike credo verskuil het; daar sou die Christelike kloosterwese ook sy voorbeelde en oorsprong vind. Van Frigië het die aanbidding van die Groot Moeder gekom; van Sirië die opstandingsdrama van Adonis; van Thrasië, moontlik, die kultus van Dionisus, die sterwende en verlossende god ... Die Mitriese rituele het soveel met die eucharistiese offerande van die Mis ooreengestem, dat Christenvaders die duiwel aangekla het dat hy hierdie ooreenkomste uitgedink het om verswakte verstande te mislei. Christendom was die laaste groot skepping van die antieke heidense wêreld ... [Die Nagmaal] was ’n gedagte wat lankal deur tyd geheilig is; die heidense verstand het geen skoling nodig gehad om dit te aanvaar nie; deur die insluiting van die ‘misterie van die Mis’ het Christendom die laaste en grootste van die misteriegodsdienste geword” (The Story of Civilisation, Vol. 5, Durant, bl. 595, 599).

Paul Johnson is een van vele hoogsgerespekteerde geskiedkundiges wat openlik erken dat die Bybelse sewendedag Sabbat wat deur Christus en die oorspronklike Apostels onderhou is, verander is: “Baie Christene het nie ’n duidelike onderskeid getref tussen hierdie sonkultus en hul eie nie. Hulle het na Christus verwys waar Hy ‘Sy strydwa deur die lug ry’, hul dienste op Sondag gehou, na die Ooste gekniel en hul Kersfees op 25 Desember, die verjaardag van die son met die wintersonstilstand [in die Noordelike Halfrond] gevier. Gedurende die latere heidense herlewing onder keiser Julianus, het baie Christene dit maklik gevind om afvallig te raak as gevolg van hierdie verwarring; die Biskop van Troje het aan Julianus gesê dat hy altyd in die geheim tot die son gebid het. Konstantyn het nooit afstand gedoen van sonaanbidding nie en die son op sy munte behou. Hy het Sondag ’n dag van rus gemaak” (A History of Christianity, bl. 67-69).

Wat het gebeur ná Konstantyn? Die algemene godsdiensskrywer, Jesse Lyman Hurlbut, wie se werke wyd gelees word, verduidelik:

“Die vorms en seremonies van heidendom het geleidelik in die aanbiddingsdienste ingesluip. Sommige van die ou heidense feeste het kerkfeeste geword met veranderings in naam en aanbidding. Rondom 405 n.C. het beelde van heiliges en martelare in kerke begin verskyn, eers as gedenktekens en toe in volgorde eerbiedig, vereer en aanbid. Die aanbidding van die maagd Maria vervang aanbidding van Venus en Diana; die Nagmaal raak ’n offer pleks van ’n herdenking; en die ouderling (opsiener) ontwikkel van prediker na priester ... Die kerk en die staat het een geword toe Christendom aangeneem is as die godsdiens van die ryk en dié onnatuurlike eenwording het twee euwels voortgebring, een in die oostelike provinsies en een in die westelike provinsies. In die Ooste het die staat die kerk oorheers totdat dit alle energie en opbouende lewe verloor het. In die Weste [“Rome”, Red.], soos ons sal sien, het die kerk geleidelik wederregtelik mag oor die staat toegeëien en die gevolg was nie Christendom nie, maar ’n min of meer korrupte hiërargie wat die nasies van Europa beheer het, deur die kerk hoofsaaklik ’n politieke masjien te maak” (The Story of the Christian Church, bl. 79-80).

’n Hedendaagse “Babilon” geskep

Waarheen lei dit alles dan? Ons het pas Hurlbut se stelling gelees dat die belydende Christenkerk van die Middeleeue “hoofsaaklik ’n politieke masjien” was. Dit was deurdrenk met heidense konsepte, leerstellings en gebruike. Het die leiers van die Protestante Hervorming werklik die belydende Christenkerk “terug op die spoor gebring” na die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3) – terug na die ware Christenskap van Jesus en die oorspronklike Apostels? Hoewel hulle opreg was, het die Protestantse hervormers die meeste van die anti-wet, anti-gehoorsaamheid gesindhede oorgedra wat hulle in hul opstand teen “Moeder Rome” aangeneem het. Tog, soos Rome, was hulle steeds betrokke by ’n verheidense stelsel van vals leerstellings, heidense heilige dae en vals konsepte van God, wat God Self in Openbaring 17:4-5 beskryf: “En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ’n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.”

Met hierdie vorm van “Christendom” as staatsgodsdiens, het hordes voormalige heidene “tot bekering gekom”. Baie mense het dit gereiflikheidshalwe gedoen eerder as uit oortuiging en het hul ou geloof in die geheim onderhou. Ander het tot die nuwe sinkretistiese geloof gekom sonder om kennis te dra van sy oortuigings en kon slegs die mees basiese onderrig ontvang.

“Babilon” is ’n simbool van verwarring. Die ontstaan van die Rooms-Katolieke Kerk en dan die latere verskyning van talle “dogterkerke” het beslis ’n geestelike malaise van teenstrydige kerklike organisasies, leerstellings, geloofsbelydenisse en praktyke meegebring – alles kwansuis “Christelik”. Tog stem nie een van hulle naastenby ooreen met die Christenskap wat die oorspronklike Apostels en die vroeë Kerk van God gevolg het vir dekades na die dood van Jesus van Nasaret nie. Hulle het almal talle heidense idees en praktyke behou wat vir die vroeë Kerk heeltemal vreemd sou wees! Satan het inderdaad ’n meesterlike werk daarvan gemaak om ’n vervalste Christendom daar te stel.

Hoewel dit voorkom asof Alexander Hislop tot en met sy dood ’n Protestant gebly het, het hy noukeurig uitgewys – met baie geskiedkundige boekstawing – dat die hedendaagse Rooms-Katolieke Kerk ’n voortsetting is van die antieke Babiloniese geheimsinnige stelsel en dat haar godsdienstige feeste en die meeste van haar praktyke direk van die Babiloniese godsdiens en priesterskap afkomstig is. Hislop tref gedeeltelik die verband met die “dogterkerke” wat uit Rome gekom het, maar hy was blykbaar verblind vir die volle betekenis van wat met hedendaagse “Christendom” gebeur het.

Net na die begin van The Two Babylons lê Hislop die basiese tesis uit wat hy dan ten volle dokumenteer:

“Dit was nog altyd bekend dat die Pousdom gedoopte Heidendom was; maar God maak dit nou duidelik dat die Heidendom wat deur Rome gedoop is, in al sy wesenlike elemente, die einste Heidendom is wat oorheers het in die antieke letterlike Babilon, toe Jehovah voor Cirrus die dubbelhekke van koper oopgemaak en die ysterstawe uitmekaar gesny het ... Haar oordeel kom nou duidelik vinnig nader en namate dit nader kom, maak die Voorsienigheid van God, wat saamsnoer met die Woord van God, dit al hoe duideliker deur die lig wat van alle kante instroom, dat Rome inderdaad die Babilon van Openbaring is; dat die wesenlike karakter van haar stelsel, die grootse voorwerpe van haar aanbidding, haar feeste, haar leerstelling en tug, haar gebruike en seremonies, haar priesterdom en hul ordes, alles afgelei is van antieke Babilon; en laastens, dat die pous self waarlik en eintlik die regstreekse verteenwoordiger van Belsasar is. In die oorloë wat gevoer is teen die oorheersende aansprake van Rome, is dit alte dikwels as genoegsaam beskou om bloot haar aanmatigende grootpratery gestand te doen en oor die hoof te sien, dat sy die moeder en minnares van alle kerke is – die een Katolieke Kerk, buite wie se grense daar geen verlossing is nie. Indien daar ooit ’n verskoning was om sodanig met haar te handel, sal daardie verskoning nie meer geldig wees nie. Indien die posisie wat ek uitgelê het volgehou kan word, moet sy heeltemal van haar naam as Christenkerk gestroop word; indien dit ’n Kerk van Christus was wat daardie nag byeengekom het toe die pouslike koning van Babilon te midde van sy duisend maghebbers ‘die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys [het]’ (Daniël 5:4), dan is die Kerk van Rome geregtig op die naam van ’n Christenkerk, maar nie andersins nie. Dit sal vir sommige mense ongetwyfeld ’n baie verrassende standpunt blyk te wees, maar dit is ’n standpunt wat hierdie werk ten doel stel om te staaf; en laat die leser vir homself oordeel of ek nie voldoende bewyse gebring het om my standpunt te bevestig nie” (Hislop, bl. 2-3).

Later beskryf Hislop hoe die Katolieke “biegstoel” van die heidendom geleen is om die priesters groter gesag oor die lekelidmate van die kerk te gee. Hy verduidelik dat die heidense feeste van Kersfees en Paasfees eeue nadat Christus die volle Waarheid aan Sy Apostels onthul het, in die “Christendom” ingebring is. Hislop skryf: “Dit word inderdaad deur die meeste geleerde en openhartige skrywers van alle partye erken dat die dag van ons Heer se geboorte nie vasgestel kan word nie en dat ’n fees soos Kersfees nooit van gehoor was binne die Christenkerk tot die derde eeu asook dat dit eers laat in die vierde eeu veel eerbiediging verwerf het. Hoe het die Roomse Kerk dan 25 Desember as Kersdag vasgestel? Waarom is daar lank voor die vierde eeu en lank voor die Christen-era self, ’n fees onder die heidene gevier, presies op daardie tyd van die jaar, ter ere van die geboorte van die seun van die Babiloniese hemelkoningin? Dit mag met billikheid aangeneem word dat, ten einde met die heidene te versoen en die aantal aanhangers van Christendom in naam te laat toeneem, dieselfde fees deur die Roomse Kerk aangeneem is deur net die naam van Christus daaraan te koppel. Hierdie neiging van Christene om heidendom halfpad tegemoet te kom, is baie vroeg reeds ontwikkel” (ibid., bl. 92-93).

Inderdaad.
Om heidendom halfpad tegemoet te kom “is baie vroeg ontwikkel” skryf Hislop! Tog sê God duidelik vir ons voorvaders: “Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ’n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ’n ambagsman met ’n byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie” (Jeremia 10:2-4). Tog gaan hedendaagse kerkgangers voort om presies dit te doen – dan het hulle nog die vermetelheid om die naam “Christen” buite op hierdie pakkie vanheidense oortuigings en gebruike te stempel! Diegene wat waarlik belangstel in die basiese geskiedenis van hierdie verhouding tussen antieke Babilon en moderne belydende Christendom moet, indien moontlik, boeke soos The Two Babylons, Pagan and Christian Creeds, The Golden Bough deur Sir James Fraser en baie soortgelyke geskiedkundige en teologiese werke opspoor en lees. Indien u verstand ontvanklik is, is dit redelik maklik om vir uself te bewys dat hedendaagse “kerkedom” bloot ’n voortsetting is van die ou Babiloniese godsdiens, met die naam “Christen” buite op gestempel!

Het Protestante “uit BABILON gekom”?

Baie konserwatiewe Protestante en Ortodokse leiers asook teoloë sal heelhartig saamstem dat die Rooms-Katolieke Kerk inderdaad ’n voortsetting van “Babilon” is. Hulle is baie vertroud met die feit dat die meeste van die vroeë Protestante leiers Rome duidelik met die “Babilon” en die “Groot Hoer” wat in Openbaring 17-18 beskryf word, geïdentifiseer het.

Wat is egter die ware grondslag vir die Protestante kerke self regdeur die wêreld vandag? Waarom het die vroeë leiers teen die gesag van die Rooms-Katolieke Kerk in opstand gekom? Tot watter mate is hulle verantwoordelik vir vandag se “verdeelde Christendom”?

Het die Protestantse hervormers daarin geslaag om hul bepaalde doelwitte te bereik? Belangriker nog, die eintlike vraag is of die Protestantse hervormers en hul opvolgers daarin geslaag het om terug te keer na die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3).

Elkeen van ons moet die bekende gesegde van Chillingworth, die Protestantse teoloog, ondersoek: “Die Bybel, die hele Bybel, en niks anders as die Bybel nie, is die godsdiens van die Protestante” (Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge, artikel “Chillingworth, W”). In hul gedurige bevestiging van die Skrif as “die geïnspireerde reël vir geloof en praktyk” (ibid., artikel “Bible”), het die Protestante leiers hulself daartoe verbind om die godsdiens van Jesus Christus en Sy Apostels in alle aspekte na te volg.

Bykans alle geleerdes erken dat die hoof- en oorspronklike stigter van Protestantisme dr. Martin Luther was. Tog het Luther gedurig die gesag van die Skrif verwerp wanneer dit sy eie giere gepas het – hoewel hy dikwels anders gesê het!

Dit is merkwaardig dat in die verwerping van die leerstelling van gedaanteverandering, Luther die absolute gesag van die Skrif in sake van geloof en praktyk verklaar. Hy sê: “Want dit wat aangeneem word sonder die gesag van die Skrif of sake van bewese openbaring, kan as mening gehuldig word, maar daar is geen verpligting om dit te glo nie ... Gedaanteverandering ... moet beskou word as ’n uitvinding van menslike redenasie, omdat dit nóg op die Skrif nóg op gesonde redenasie gegrond is” (Documents of the Christian Church, ed. Bettenson, bl. 280).

As Luther tog maar hierdie soort Bybelse toets op al sy leerstellinge toegepas het, was die wêreld vandag dalk ’n heel ander plek! Want, toe hy aangekla is daarvan dat hy die woord “sola” (alleen) by Romeine 3:28 ingevoeg het, antwoord hy hooghartig, soos aangehaal deur die geskiedkundige Johannes Alzog: “Sou u Pous hom enigsins onnodig kwel oor die woord sola, kan u vinnig antwoord: Dit is die wil van dr. Martin Luther dat dit so moet wees” (Manual of Universal Church History, bl. 199). Dit is ook die moeite werd om daarop te let dat geen ander rede vir sodanige onskriftuurlike veranderinge soos hierdie ooit gegee is nie. Wanneer dit by sy persoonlike leerstellingoortuigings gekom het, was Martin Luther waarlik ’n eiewillige man.

In die oordeel van enige mens of beweging, sê Jesus: “So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken” (Mattheus 7:20). Geskiedkundige Henry C. Vedder vertel van die opdrag wat Martin Luther aan die Duitse vorste gegee het toe duisende kleinboere, wat opreg sy opstand teen Rome nagevolg het, self teen hierdie verwaande vorste in opstand gekom het:

“Opstand is nie ’n laaghartige moord nie, maar dit is soos ’n groot vuur wat ’n land aanstook en vernietig; daarom dra oproer met dit saam ’n land vol moord en bloedvergieting, maak weduwees en wese en vernietig alles, soos die grootste ramp. Daarom moet almal wat kan, slaan, verwurg en doodsteek, in die geheim en in die openbaar, en hulle moet onthou dat daar niks giftiger, verderfliker en meer duiwels is as ’n oproerige mens nie. Net soos ’n mens ’n dol hond moet doodmaak; veg jy nie teen hom nie, veg hy teen jou, teen jou en ’n hele land.

“Laat die burgerlike magte vol vertroue voortbeur en aanval solank as wat dit ’n spier kan verroer, want hierin lê die voordeel: Die kleinboere het slegte gewetes en onregmatige besittings en waar ’n kleinboer ook al doodgemaak word het hy daarom liggaam en siel verloor en gaan vir ewig na die duiwel. Burgerlike gesag het egter ’n rein gewete en regmatige besittings en kan vir God met sekerheid in die hart sê: ‘Kyk, my God, U het my aangestel as vors of heer, daaraan twyfel ek nie, en het my toevertrou met die swaard teen kwaaddoeners’ (Romeine 13:4) ... Daarom sal ek straf en slaan solank ek ’n spier kan verroer; u sal oordeel en goedkeur.” ... Hierdie is so ’n wonderlike tyd waarin ’n vors makliker die hemel kan bereik deur bloed te vergiet as wat ander mense kan deur te bid’” (A Short History of the Baptists, bl. 173-174).

Ons kan onsself met reg afvra: “As hierdie die woorde van ’n hervormer is wat deur God gestuur is, wat is dan die maatstaf van ware godsdiens?” Is hierdie die woorde van ’n man wat deur die Heilige Gees van God gelei word? Het die herrese Christus hierdie man gebruik om Sy “klein kuddetjie” te reinig?

Dit is waar dat Luther en Calvyn persoonlike godsdiensmotiverings gehad het. Luther se gedagtes is gemartel deur ’n ewige skuldgevoel. In sy uiterse klem op saligmaking deur geloof alleen, het hy desperaat probeer om die een of ander stelsel uit te werk waar die Wet van God en die geregtigheid van God geen plek sou hê nie.

Luther se persoonlike geestelike opstand sou egter ’n klein uitwerking op Duitsland of die wêreld gehad het as hy hom nie beroep het op die politieke en finansiële instinkte van die Duitse vorste nie. En, “dit is waar om te sê dat die motiewe wat gelei het tot die Lutherse opstand tot ’n groot mate sekulêr eerder as geestelik was” (Alfred Plummer, The Continental Reformation, bl. 9).
Veral met betrekking tot sy aandrang op geloof alleen en sy verwerping van tallose teksverse wat die behoefte vir gehoorsaamheid onderrig het, was Luther ’n hardkoppige, eiewillige man.

Die Bybel onderrig: “Sonde is immers oortreding van die wet van God” (1 Johannes 3:4, NV). Dit verwys duidelik na die Tien Gebooie – die geestelike Wet geskryf deur God se eie vinger. Die geïnspireerde Jakobus verduidelik: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ’n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word” (Jakobus 2:10-12).

Watter wet verbied owerspel en moord? Natuurlik verwys Jakobus na die Tien Gebooie en hy sluit af deur ons te vertel om te praat en te handel volgens hierdie Wet. Die woorde van Jesus Christus stem ook saam, want toe die jongman Hom die weg na die ewige lewe vra, antwoord Hy: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” en noem toe sommige van die Tien Gebooie op (Mattheus 19:16-19).

Luther het hierdie direkte parallel van die boek Jakobus met die leringe van Jesus Christus heeltemal geïgnoreer en hooghartig verklaar: “Vergeleke met die sendbriewe van St. Paulus, is dit in der waarheid ’n sendbrief van strooi: Dit bevat absoluut niks wat ’n mens herinner aan die styl van die Evangelie nie” (Alzog, Vol. III, bl. 208). Luther het botweg die ganse boek van Jakobus verwerp omdat dit nie met sy leerstellings saamgestem het nie!

Ter verwerping van die eerste vyf boeke van die Bybel, verklaar Luther: “Ons het geen wens om Moses óf te sien óf te hoor nie. Kom ons laat Moses aan die Jode oor, aan wie hy gegee is om te dien as ’n Spieël van Sakse; hy het niks gemeen met Nie-Jode of Christene nie en ons moet van hom geen notisie neem nie” (Alzog, Vol. III, bl. 207).

Omdat Luther Moses beskou het as te doene met God se Wet – wat Luther gehaat het – wou hy “niks te doen hê” met Moses se geïnspireerde geskrifte nie!

Omdat die apostel Paulus egter Luther se gunstelingskrywer was, wonder ons hoe Luther gereageer het op Paulus se geïnspireerde woorde aan Timotheus: “En dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee” (2 Timotheus 3:15-16). Onthou dat slegs die Ou Testament Skrif geskryf was toe Timotheus ’n kind was.

Aangesien Luther botweg besluit het om “geen notisie” van Moses te neem nie, kan ons hom herinner aan die apostel Johannes se beskrywing van die seëvierende heiliges van God wat “die lied ... van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam” gesing het (Openbaring 15:3). Luther se eie geskrifte antwoord egter geredelik: “Ek sien die openbarings van Johannes as nóg apostolies nóg profeties” (Jules Michelet, The Life of Luther, bl. 273). Hy kan dan byvoeg: “Elkeen mag sy eie oordeel van hierdie boek vorm; sover dit my betref, ek voel ’n weersin daarin en vir my is dit genoegsame rede om dit te verwerp” (Alzog, Vol. III, bl. 208).

Dit is ook ’n feit dat Martin Luther opsetlik die gesag van enige boek in die Bybel verwerp het waarvoor hy ’n “weersin” gevoel het.

Nou kan ons moontlik die ware betekenis verstaan van die godsdiensverwarring van ons tyd. Vandag se Protestante het van Luther – erken as die grootste leier van die Hervorming – ’n gees van eiewilligheid geërf en ’n geneigdheid om die allesinsluitende gesag van God se Woord te verwerp!

Soos geskiedkundige George P. Fisher oor Luther skryf: “In die behoud van seremonies en gewoontes, het hy nie ’n uitdruklike magtiging uit die Skrif nodig gehad nie. Dit was genoeg dat hulle nie verbied is nie en hulle was raadsaam en nuttig. Sy weersin om weg te breek van die noodsaaklikhede van Latynse Christenskap in sake van leerstellings is ewe bekend” (History of Christian Doctrine, bl. 283).

In Luther se eie woorde: “Niemand kan ontken dat ons al die dinge behou, glo, besing en bely in ooreenstemming met die ou kerk nie, dat ons niks nuuts daarin maak of enigiets daarby voeg nie en op hierdie wyse behoort ons aan die ou Kerk en is ons een daarmee” (Thomas M. Lindsay, A History of the Reformation, Vol. 1, bl. 468).

Deur hul eie stellings word dit dan bewys dat die Protestante hulself beskou het as ’n blote voortsetting van die geskiedkundige Katolieke Kerk, maar in ’n ander en “gesuiwerde” vorm. Luther self bevestig vurig hul wesenlike eenheid met die Katolieke Kerk!

Betreffende Calvyn, skryf Fisher: “Hy het nie ontken dat die Christensamelewings wat die Pous erken ‘kerke van Christus’ is nie ... Hy ontken verontwaardig dat hy hom van die Kerk onttrek het” (History of Christian Doctrine, bl. 304). Philip Schaff het Calvyn se beskrywing van die geskiedkundige Romeinse kerk aangeteken: “Omdat ons huidige ontwerp veroorloof is van die sigbare Kerk, kan ons selfs van haar die titel moeder leer, hoe nuttig en selfs nodig dit vir ons is om haar te ken” (History of the Christian Church, Vol. VIII, bl. 450).

Protestantse leiers se aandrang op hul basiese eenheid met die Katolieke Kerk en hul identifisering met haar as hul “moederkerk”, is uiters veelseggend!

God identifiseer die Rooms-Katolieke Kerk

Martin Luther se vroegste vertalings van die Nuwe Testament sluit baie illustrasies in wat die “Hoer van Babilon” uitbeeld as die Rooms-Katolieke Kerk. Ter beskrywing van hierdie algemeen bekende vertolking, vertel Roland Bainton ons: “Gevalle Babilon is duidelik Rome” (Here I Stand, bl. 258).

Tallose Protestantse boeke, pamflette en traktate maak vandag dieselfde identifikasie. Hulle brandmerk die Rooms-Katolieke Kerk as die “groot Hoer” van Openbaring 17.

Daar moet egter erken word dat die meeste Protestantse sekteskrywers opgehou het om hierdie identifikasie te maak. Nadat daardie uitgawes van die Bybel, pamflette en traktate gepubliseer is, het hulle skielik tot die pynlike besef gekom dat hulle op hulself klik!

Die korrupte Roomse “moederkerk” het egter geboorte geskenk aan hoerdogters! Indien die duidelike, konsekwente beginsels van skriftuurlike identifikasie eerlik aangewend word, is die Protestantse kerke die “hoerdogters” van ’n verheidense, afvallige Rome!

Hulle het in protes uit haar gekom, maar, soos ons duidelik gesien het, het hulle die meeste van haar heidense leerstellings en konsepte behou. Hulle volg steeds Rome se voorbeeld om in te meng in die politiekery en oorloë van hierdie wêreld en ons het volop Protestante bewyse gesien dat hulle haar as hul “moederkerk” erken!

Protestantse geskiedkundige Rufus Jones skryf dat Luther “begin het om ’n Kerk in te wy wat bestaan het uit diegene wat geloof en geestelike visie gehad het en wat ’n vermoë en krag getoon het om die Woord van God te verkondig. In werklikheid het hy egter ’n groot oorblyfsel van die antieke geloofsbelydenisse, ’n uitgebreide ‘oorskot’ van bygelowe, tradisies en towery en ’n swaar erfenis van uiterlike gesag in volle werking gelaat” (The Church’s Debt to Heretics, bl. 228).

Met ander woorde, die Protestante behou steeds baie heidense leerstellings en tradisies wat van Rome oorgeërf is. Ons het gesien dat party van hierdie vals tradisies die heidense vakansiedae behels wat die vroeë Katolieke aangeneem en name gegee het wat Christelik klink. Ons moet hierdie dinge ondersoek!

Die Protestante kerke staan duidelik geïdentifiseer deur die Almagtige God as die “hoerdogters” van ’n afvallige Rome!

Waar God praat van hierdie algehele Babiloniese stelsel, beveel Hy: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4).

Die vraag is of ons ons Skepper sal gehoorsaam al dan nie!

Wat binnekort voorlê

Al hierdie inligting is nie bloot ’n filosofiese argument teen werklik heidense praktyke nie, hoewel dit ook belangrik is. Die begrip van hierdie aangeleentheid kan ook help om opregte en ywerige Christene te beskerm teen die komende “Groot Slagting” wat in die Bybel as die Groot Verdrukking beskryf word, mits hulle sal optree! Die briljante skrywer Adrian Hilton beskryf die agtergrond van wat tans aan die gang is:

“Jesus het gesê dat sy koninkryk nie van hierdie wêreldorde was nie en het baie gepraat oor die wêreld en die Kerk wat koppe stamp tot sy wederkoms. Dit was nie totdat Konstantyn ’n proses van sinkretisme begin het, wat Christene die aard van die dier begin verstaan het wat aan die ontwikkel was nie. Die Joodse Sabbat van Saterdag is vervang met Konstantyn se edik wat werk verbied het op die ‘eerwaardige dag van die son’ [Sondag] en die viering van Pasga is onwettig verklaar – dit was strafbaar met die dood. Dit is vervang met ‘Paasfees’ [Easter], wat op ’n Sondag gevier en oorgeërf is van ’n Babiloniese kultus van die godin Ishtar. Die Romeinse vals Christendom het veroorsaak dat baie getroue gelowiges die berge van Europa en Klein-Asië ingevlug het om vervolging en dood vry te spring en het daar voortgegaan, uit die oog van die wêreld, as die ware Kerk van Christus. Die meerderheid van Christene het egter in ontsag gestaan van die universele invloed van die nuwe eenheid. Daar was een Ryk onder een Keiser wat een Kerk onder een God gelei het. Baie gelowiges het begin wonder of hulle nie die konsep van die koninkryk van God misverstaan het nie – dit kon dalk die Kerk self of selfs die gekerstende Ryk gewees het. Sodoende is die noodlottige eenheid van Kerk en Staat bekragtig – ’n eenwording wat die ontwikkeling van Europa vir eeue in die toekoms sou vorm” (The Principality and Power of Europe, bl. 23-24).

Later gaan Hilton voort:

“Ewe belangrik vir die verenigingsproses is die agteruitgang van die prestasies van die Hervorming. Selfs sommige prominente Evangeliesgesinde Christenleiers het hierdie gewigtige stap van God as een van die grootste tragedies voorgehou wat ooit met die Kerk gebeur het en voer aan dat Protestante ‘die eenheid van Christendom vernietig het’. Hulle versuim om die ware aard van die Pouslike godsdiensstelsel, die dieptes van geestelike duisterheid waarin sy haar volgelinge hou, te noem asook dat dit lynreg in teenstelling met ware Bybelse Christendom is. Dit blyk dat eenheid belangriker is as die waarheid. Die konsep van Christendom, hoe onbybels die gebruike ook al, belangriker blyk te wees as die nasionale grense wat gestel is tussen een vorstedom en ’n ander, ongeag die vryhede wat daardie grense sou beskerm.

Terwyl hy in 1983 in Oostenryk besoek afgelê het, het die pous hom uitgespreek teen die ‘nasionale en kunsmatige grense’ regdeur Europa. Hy voeg by: 
‘Europeërs moet die dreigende internasionale konfrontasies van state en bondgenootskappe oorwin en ’n nuwe, verenigde Europa skep, van die Atlantiese Oseaan tot aan die Oeralgebergte.’

In 1988 sit hy hierdie tema voort wanneer hy die Europese Parlement in Straatsburg toespreek; ’n geleentheid waar baie mense gevra het waarom iemand wat as ’n geestelike leier beskou word, die vraagstukke van politieke eenwording aangespreek het. In 1991 som die Sunday Telegraph die pous se planne vir die ‘evangelisering’ van Europa op. Dit lees: 
‘Hy is kalm besig om voor te berei om die mantel te neem wat hy plegtig glo sy Goddelike Reg is – dié van nuwe Heilige Romeinse Keiser, wat heers van die Oeralgebergte tot aan die Atlantiese Oseaan’” (ibid., bl. 36-37).

Herleefde “Babilon”!

Soos die Britse Sunday Telegraph berig het, het Pous Johannes Paulus II sy begeerte uitgespreek om oor ’n nuwe Heilige Romeinse Ryk te “regeer”. Die belangrike vraag is egter: Sal dit werklik “heilig” wees? Of sal dit eintlik ’n herlewing wees van ’n antieke, heidense, Babiloniese kerk-staatstelsel wat God verdoem?

In ’n profesie vir ons tyd beskryf die profeet Jesaja ’n hedendaagse maagdelike “dogter” van antieke Babilon, wat haar eie mense sou ontheilig (Jesaja 47:1-9). God beskryf hierdie hedendaagse Babilon duidelik as “gebiedster van die koninkryke” (vers 5). Dan sê God: “En [sy sê]: Ek sal in ewigheid wees, gebiedster vir altyd; jy het hierdie dinge nie ter harte geneem nie, aan die einde daarvan nie gedink nie. Hoor dan nou dit, wellustige wat so veilig sit, wat in jou hart sê: Dit is ek en niemand anders nie! Ek sal nie as weduwee sit of kinderloosheid ken nie. Hierdie twee dinge sal dan in ’n oomblik, op een dag, oor jou kom: kinderloosheid en weduweeskap; in volle maat sal hulle jou oorval, ondanks die veelheid van jou towerye, ondanks die groot menigte van jou besweringe” (verse 7-9).

Let nou op hoe van hierdie presiese stellings teen die hedendaagse Babilon gebruik word wat Christus met Sy Wederkoms sal beveg! “Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het, na dié mate moet julle haar pyniging en droefheid aandoen. Omdat sy in haar hart sê: Ek sit as koningin en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie – daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel” (Openbaring 18:7-8).

Dit is die eerskomende kerk-staatstelsel in Europa wat uiteindelik teen die Amerikaanse en Britse afstammelinge sal draai en die Groot Verdrukking sal meebring! Dit sal ’n herlewing wees van antieke Babilon, met sy priesterlike stande, sy heidense rituele en leerstellings asook sy algehele minagting van die Gebooie van God. Dit sal ’n slim vervalsing van ware Christendom wees. Vir miljoene mense sal dit egter soos die ware Jakob lyk!

Waarom?
Omdat die oorgrote meerderheid van belydende Christene oor die algemeen nie die Bybel bestudeer nie. Hulle delf nie werklik diep en probeer om alle dinge te “bewys” soos God beveel nie. Daarom sal selfs baie evangeliesgesinde Christene – en hul leraars – uiteindelik vasgevang word in die behaaglikheid van hierdie kragtige Babiloniese stelsel! Dit sal deel wees van die “ekumeniese beweging”. Dit sal voorkom asof dit “die ding is om te doen”.

Onthou asseblief Jesus se eie woorde: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mattheus 7:13-14).

Die Jesus Christus van u Bybel gee ook hierdie kragtige waarskuwing: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheus 7:21-23).

Die pragtige skynvertoon, die musiek, die prag en praal en intimiderende mag van hierdie komende Babiloniese stelsel sal baie indrukwekkend wees, maar slegs diegene wat werklik die wil van God doen en Sy gebooie onderhou – al tien daarvan – sal in Christus se eerskomende Koninkryk wees. “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12).

Heel aan die einde van Sy geïnspireerde Woord, vertel ons Skepper ons eenvoudig: “Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad. Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen” (Openbaring 22:14-15). Die godsdienstowery en afgodediens van die Babiloniese stelsel sal vir baie miljoene mense aanloklik wees. Die oorgrote meerderheid sal daardie weg volg. Die bostaande skrifdeel waarsku egter enigeen wat “leuens liefhet en doen”. Die leringe van hedendaagse “Babilon” is deurspek met leuens, misverstande en heidense gebruike. Satan was uiters slinks deur ’n vervalste Christendom te skep wat so baie soos die oorspronklike lyk dat tallose miljoene mense mislei is. Diegene wat hierdie heidense vervalste godsdiens volg, sal die volle woede van hul Skepper verduur wanneer die Basuinplae en die Sewe Laaste Skale op ’n rebelse wêreld uitgestort word (Openbaring 8, 9, 16).

Tog beskryf God se Woord die tydelike rykdom en mag van hierdie stelsel: “Want jou handelaars was die grotes van die aarde; want deur jou towery is al die nasiesverlei [mislei]. En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is” (Openbaring 18:23-24). En hoe sal dit eindig? “En een sterk engel het ’n klip opgetel soos ’n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So, met ’n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie” (vers 21).

Dit is nodig dat u REAGEER!

God waarsku: “Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls” (Openbaring 18:2). Dan beveel God: “En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (vers 4).

In hierdie boekie het ons kortliks getoon dat bykans alle godsdienste hul oorsprong in “Babilon” het. Die Oosterse- en Afrikagodsdienste het baie van dieselfde heidense en vals konsepte van God en saligmaking, wat ontwikkel is uit die oorspronklike aanbidding van Nimrod en sy hoervrou, Semiramis. Belydende “Christendom” is grootliks beïnvloed en verwater deur hierdie heidense konsepte.

Waar u ook al is, wie u ook al is, ons moedig u aan om waarlik die Bybel te bestudeer wat die geïnspireerde openbaring is wat God aan die mens gegee het. Om u eie ontwil, moet asseblief nie net die Bybel vir sentimentele redes lees of om te versterk wat u reeds glo nie. Leer om die Bybel waarlik te bestudeer en te sien wat dit duidelik en herhaaldelik sê oor die ware aard van die Skeppergod, van die ewige lewe en van die ware weg na die ewige lewe. Indien u waarlik belangstel en bereid is om hierdie dinge te bewys, skryf of skakel ons asseblief en versoek een van ons nuttigste en grondliggende boekies, naamlik Hervestig die Christenskap van die Apostels. Indien u bereid is om die tyd te neem om te studeer, versoek ook inskrywing tot die Wêreld van Môre-Bybelstudiekursus. U inskrywing is absoluut gratis en al ons boekies en literatuur is gratis! Ons vra net dat u die tyd en verstandelike energie opsy sit om hierdie materiaal te bestudeer, dit ywerig met die Bybel self te vergelyk en opreg vir uself te bewys waar die Waarheid werklik onderrig word.

Ons sal voortgaan om die profetiese gebeure te verduidelik wat nou ontvou oor die herlewing van Babilon – en van die komende Koninkryk van God. Hierdie boodskap salnie gewild wees nie! Ons sal geteister, belaster en vervolg word omdat ons aan u die eenvoudige waarheid bekend maak oor wat werklik in wêreldsake aan die gang is, maar ons moenie bang wees om die volle Waarheid te verkondig aangaande ware Christenskap en die afvalligheid wat daarteen gemik word deur Satan die duiwel nie, want die lewende God is nie ingenome met dwase en lafaards nie!

“Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees. Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” (Openbaring 21:7-8). Satan se Vervalste Christendom moet ontbloot, verstaan en van bekeer word!

Mag God u help om te reageer op hierdie boodskap terwyl u die geleentheid het. Mag God u help om vir uself te bewys wat die Bybel werklik sê en om te wete te kom van die ware doel vir u lewe – én dit te vervul.