INHOUD

  1. Kan u die toekoms te wete kom
  2. Sewe sleutels tot begrip
  3. ’n Laaste visioen vir die einde van ’n era
  4. Die agtergrond word geskets
  5. Verdrukking en basuine
  6. Getuies en grimmigheid
  7. Ná die chaos

Kan u die toekoms te wete kom?

Kan u werklik weet wat die toekoms inhou? Baie mense is bevrees vir die onsekerhede van die jare wat voorlê. Is u ook? Ons wêreld is vol uiteenlopende voorspellings van wat in die 21ste eeu voorlê. Wie se voorspellings is reg? Hoe kan u enigsins seker wees?

Het u geweet dat Iemand wat daarop aanspraak maak dat Hy die Almagtige Skepper is, die toekoms durf voorspel? God sê dat Hy die einde van die begin af aankondig (Jesaja 46:10) en dat Sy doel bly staan. Die Bybel verklaar dat menselewe nie ’n doellose bestaan is, veroorsaak deur blote toeval of evolusie nie. Ons is deel van ’n beplande skepping en daar is ’n grote doel wat in ons wêreld uitgewerk word. U kan daardie doel verstaan!

Vandag hou terroriste bedreigings die wêreld gevange en oorheers baie mense se gedagtes. Baie is bekommerd oor “skelmstate” wat moontlik oor kern­bomme en ander wapens van grootskaalse uitdelging kan beskik. Sal ons die vernietigende ekologiese rampe in die gesig staar wat deur baie omgewings­kenners voorspel word, of sal briljante toekoms­tegnologie uiteindelik die mensdom se eeue oue probleme oplos?

Politici beskryf gereeld dít wat hulle dink in die toekoms voorlê. Dinkskrums en analiste poog om die toekomspad aan te dui, alhoewel hulle hemelsbreed verskil in hul afleidings. Voeg daarby die topverkoper godsdienstige boeke wat daarop aanspraak maak dat hulle weet wat die Bybel voorspel. Hoe kan ’n mens enigsins weet wat die toekoms inhou?

Die boek Openbaring is ongetwyfeld die mees geheimsinnige boek in die Bybel. Dit is omhul in simbole en vir die meeste mense absoluut ’n geslote boek. Tog het lesers oor die jare beweer dat hulle bykans enigiets wat tans om hulle gebeur iewers in die blaaie daarvan kon vind.

Is dit waar, soos sommige beweer, dat bykans enigiets uit die Bybel bewys kan word? Die onomwonde antwoord is “Nee”! – indien dit in konteks gesien word en die Bybel toegelaat word om homself te vertolk.

Die profeet Daniël van ouds is ’n oorsig gegee van wat die toekoms vanaf sy tyd (die sesde eeu voor Christus) inhou tot en met die tyd wanneer Christus uiteindelik die Koninkryk van God op aarde sal vestig (verg. Daniël 2, 7). Daarby is aan Daniël verskeie spesifieke profesieë gegee wat betrekking het op die “tyd van die einde”. Daniël wou bitter graag weet wat daardie interessante profesieë beteken, tog kon hy nie. Dit was verseël tot die “tyd van die einde” (Daniël 12:4, 9).

God se tyd vir ons om hierdie profesieë te verstaan, het aangebreek! Ons is nou in die tyd van die einde – wat beskryf is as die tyd wanneer “baie dit [die wêreld] sal deursoek, en die kennis sal vermeerder”. In die laaste eeu en veral sedert die Tweede Wêreldoorlog het ons ’n vervoer omwenteling en grootskaalse toename in kennis gesien. In net 66 jaar het die mensdom van die Wright-broers se eerste vlug na Neil Armstrong se eerste treë op die maan gevorder.

Die Ou Testamentiese boek Daniël onthul profesieë oor die eindtyd, wat opgeteken – maar verseël is. Die Nuwe Testamentiese boek Openbaring beeld Jesus Christus uit wat die seëls oopmaak om die toekoms aan Sy ware diensknegte te onthul (Openbaring 1:1; 5:5). Met ander woorde, dit is nou moontlik om die toekoms duidelik te verstaan.

Miljoene mense het al gewonder of hulle in ’n verskriklike wêreldoorlog sal sterf. Andere het gewonder of Christus te enige tyd sal opdaag en hulle dan “agtergelaat” sal word. Weet u wat die antwoorde op hierdie vrae is? U kan weet! Die antwoorde op hierdie en ander vrae is in die laaste boek van u Bybel – Openbaring – opgeteken. Hierdie geheimsinnige boek wat deur baie min mense verstaan word, kan vir u duidelik gemaak word. Daar is noodsaaklike sleutels wat dit vir u moontlik sal maak om te verstaan wat selfs die profete van ouds begeer het om te verstaan, maar wat hulle nie beskore was nie.

Klink dit vir u ongelooflik? Wel, dit is waar! Indien u werklik wil weet wat in die 21ste eeu voorlê, lees dan verder.

Inhoud


Sewe sleutels tot begrip

Verbasend genoeg verstaan die meeste geleerdes nie die Bybel nie. Dit is slegs nodig om party artikels in teologiese joernale te lees, of party van die baie boeke oor godsdiens en teologiese onderwerpe, om te sien watter uiterste verwarring daar heers. Met wyd uiteen­lopende sienswyses weerspreek godsdiens­skrywers mekaar op ’n wyse en tot so ’n mate soos wat met geen ander onder­werp die geval is nie. Weet u waar­om?

Die belangrikste sleutel tot begrip van die Bybel is die gesindheid waarmee dit benader word. Die Bybel is God se boek en slegs diegene wat dit as God se boek benader, het enige werklike hoop om die Boodskap daarvan te verstaan. “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm [nederig] is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2). Die Skepper maak daarop aanspraak dat Sy woord oor die algemeen verberg is vir die “wyse en verstandige mense”, maar openbaar word aan “kindertjies” (Mattheus 11:25). God praat nie van kindertjies in die sin van ouderdom of begripsvermoë nie, maar eerder van diegene met ’n eenvoudige, nederige, leerbare gesindheid wat as “kinderlik” gesien kan word.

Tesame met hierdie nederige, leerbare sienswyse moet ook ’n gewilligheid wees om God werklik te gehoorsaam. “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid ...” verklaar die psalmskrywer (Psalm 111:10). Die natuurlike of vleeslike verstand is in “vyandskap teen God” (Romeine 8:7). Dit is in opstand teen God se wette en wil sy eie sin hê. Baie godsdienstige mense praat van “ken die Here”, maar soos Paulus aan Timotheus skryf het hulle net ’n “gedaante” van godsdiens, terwyl hulle die Bybel se gesag om hul lewens te reël en regeer ontken (2 Timotheus 3:5).

Indien u die Bybel met ’n nederige, leerbare gesindheid benader en werklik gewillig is om God te gehoorsaam en Sy gebooie te onderhou, sal die volgende sleutels die boek Openbaring voor u eie oë laat lewe kry. U kan hierdie klaarblyklik geheimsinnige boek se boodskap vir u sien oopgaan op ’n wyse wat u nooit gedink het moontlik is nie.

Sleutel #1: Christus die Openbaarder

In die Afrikaanse Ou Vertaling is die boek Openbaring getiteld “Die Openbaring van Johannes”. Dit is belangrik om te besef dat hierdie titel deur mense ingevoeg is en nie in die oorspronklike teks vervat is nie. Trouens, die heel eerste vers is in absolute teenstelling met hierdie mensgemaakte titel en verduidelik dat hierdie boek die regstreekse onthulling van Jesus Self is, soos ontvang van die Vader.

Toe Jesus op aarde was, het Hy gereeld van die toekoms gepraat. Hy het dit egter nooit in ’n spekula­tiewe of wensdenkende sin gedoen nie. Hy kon praat met gesag omdat Hy direk van die Vader gekom het en die woorde gespreek het wat die Vader Hom gegee het, nie gedagtes deur mense uitgedink nie (Johannes 14:24).

Jesus Christus het met ’n boodskap gekom: die goeie nuus van God se komende Koninkryk en hoe ons deel van daardie Koninkryk kan word (Markus 1:14-15). Tog, toe Hy bykans 2,000 jaar gelede hier op aarde was, het Hy nie daardie Koninkryk gevestig nie. Net dae voor Sy kruisiging, toe Hy een laaste maal Jerusalem toe gereis het, vertel Hy ’n gelykenis aan Sy dissipels, wat verkeerdelik gedink het dat die Koninkryk dadelik sou verskyn. Jesus vertel die verhaal van ’n jong edelman wat eers na ’n veraf land moes reis om met sy koningskap beklee te word, voordat hy terugkeer om sy koninkryk in ontvangs te neem (Lukas 19:11-12).

Hoe opgewonde sou u wees om Jesus Christus persoonlik uit te vra na die gebeure wat Sy wederkoms en die vestiging van Sy Koninkryk vooraf sal gaan? Sommige van die 12 apostels het presies daardie geleentheid gehad! Jesus se antwoord is opgeteken in die ooreenstemmende vertellings van Mattheus 24, Markus 13 en Lukas 21 in wat dikwels die Olyfberg­predikasie genoem word. Toe Hy privaat by Sy dissipels op die Olyfberg net oos van Jerusalem sit, beskryf Jesus die tekens van Sy toekomstige weder­koms en die voleinding van hierdie huidige wêreld. In hierdie Olyfbergpredikasie gebruik Jesus eenvoudige taal om baie gebeure te beskryf wat later in die apostel Johannes se simboliese visioene sou verskyn wanneer Hy die sewe seëls van Openbaring oopmaak. In Openbaring, soos in die Evangelies, is dit belangrik om te onthou dat Christus die Openbaarder is.

Sleutel # 2: Begin met die teks

Baie van diegene wat Bybelprofesieë bestudeer, sal eerste na die wêreld om hulle kyk, dan na sekere Bybelsimbole of beskrywings ten einde iets te vind wat “pas”. Sodoende het hulle bloot hul wêreld se huidige gebeure in die Bybel ingelees. Dit is ’n agterstevoorom benadering.

Indien ons God se openbaring aan die mensdom wil verstaan, moet ons met die Skrif begin en die trant van die verhaal verstaan wat God uitwys. Ons kan nie Johannes se beskrywing van ’n geheimsinnige “dier” in Openbaring 13 verstaan, tensy ons kyk na wat die Bybel nog oor hierdie onderwerp te sê het nie. Ons moet kyk na die vroeëre geïnspireerde inligting oor hierdie onderwerp, soos gegee in die boek Daniël. Daniël het trouens die goddelik geïnspireerde voor­spelling gemaak van die opkoms en val van groot magte tussen sy tyd (sesde eeu v.C.) en die uiteindelike daarstelling van die Koninkryk van God op aarde.

Ons moet die Bybel toelaat om homself te vertolk, eerder as om ons eie vooraf uitgedinkte idees of huidige wêreldgebeure in die teks in te lees. Slegs op hierdie wyse kan ons Bybelprofesieë in hul behoorlike konteks sien.

Sleutel # 3: Die doel van Openbaring

Hedendaagse kenners verskil in wat hulle as die doel van die boek Openbaring beskou. Sorgvuldige Bybelstudente sal egter sien dat die Boek se eerste woorde die doel daarvan beskryf. Jesus Christus gee Openbaring aan Johannes sodat hy aan die diensknegte van God kan onthul watter dinge binnekort sou gebeur (Openbaring 1:1). Dit was bedoel as ’n onthulling of ontsluiering van die toekoms. Dit is gegee sodat God se ware diensknegte kon verstaan waarheen wêreldgebeure op pad was en kon weet wat die toekoms inhou. Dit is ’n boodskap wat bemoediging aan God se mense kan bied en aandui dat hulle nie oor die toekoms angstig hoef te voel nie – selfs te midde van onrus en vervolging. God die Vader laat toe dat Christus deur Johannes die uiteindelike hoogtepunt van toekomstige wêreldgebeure onthul.

Daarom is dit verkeerd om te dink dat Openbaring ’n vae sinnebeeld van goed teenoor kwaad is of dat dit bloot die geskiedkundige omstandighede en moeilik­hede van die Christene van die eerste eeu beskryf. Daar moet verstaan word dat die hele Boek die toekoms vooraf uitlê.

Sleutel # 4: Die Dag van die Here

Die meeste kommentators misverstaan Openbaring 1:10 heeltemal. Gevolglik verstaan hulle nie die perspektief waaruit die ganse boek geskryf is nie. Toe Johannes verklaar dat hy op die dag van die Here in die gees was (let daarop dat op ander plekke in die Nuwe Testament, die Griekse woord “en” bykans altyd vertaal word as “in”, hoewel baie dit verkeerdelik as “op” vertaal), hy nie van die dag van die week gepraat het waarop hy die profesie ontvang het nie. Hy het eerder die toekomstige profetiese tyd beskryf wat hy in ’n visioen gesien het – ’n tyd wanneer God kragtig in eindtydse wêreldgebeure sal ingryp. Johannes se perspektief in die skryf van Openbaring, was hierdie visioen van die toekoms.

Die Bybel omskryf nêrens ’n dag van die week as “die dag van die Here” nie. Daardie gebruik het sy oorsprong by die vroeë Roomse “kerkvaders” gehad, dekades nadat Openbaring geskryf is. Die toekomstige tyd van God se oordeel word egter meer as 30 keer in die Ou Testament die “Dag van die Here” genoem. Wanneer ’n mens die inhoud van Openbaring beskou, is dit duidelik dat die tyd van Christus se koms die fokus is van die visioene wat Johannes gesien het.

Die tyd van God se toekomstige ingryping en oor­deel is die tema wat dwarsdeur Openbaring loop. Johannes skryf vanuit daardie toekomsperspektief. Let daarop dat in Openbaring 1:12, toe Johannes die kandelare sien wat God se Kerk deur die eeue voor­stel, hy terug gekyk het om dit te sien. Van die perspek­tief van Johannes se visioen, was kerkgeskiedenis bykans heeltemal iets van die verlede.

Sleutel # 5: Wat Johannes aangeteken het

Openbaring 1:2 maak dit duidelik dat Johannes drie dele noodsaaklike inligting saamgevoeg het – “die woord van God ... die getuienis van Jesus Christus [en] alles wat Hy gesien het”.

Die Ou Testament skrywers gebruik as stan­daard­aanhaling “die woord van God het gekom en gesê” of “die Here het bevel gegee deur Sy woord en gesê” (1 Konings 12:22; 13:9). Toe Openbaring geskryf is, verwys “die Woord van God” hoofsaaklik na wat ons nou na as die “Ou Testament” verwys.

Meer as 100 keer deur Openbaring – veel meer as in enige ander Nuwe Testamentiese boek – haal Johannes óf aan uit die Ou Testament óf omskryf dele daarvan. Die meeste Ou Testamentiese profete het bloot God se boodskappe opgeteken in die volgorde waarin hulle dit ontvang het. Indien ’n mens slegs oor die Ou Testament beskik het, sou jy nie met sukses baie van die Ou Testamentiese profesieë in ’n duidelike tydsraamwerk kon inpas nie. Deur egter verwysings in te weef, stel Johannes ons in staat om te sien waar hierdie onderskeie boodskappe wat voorheen deur die profete aangeteken is, in God se plan vir die toekoms inpas.

Die “getuienis van Jesus Christus” beskryf die goeie nuus wat Jesus uit die hemel gebring het. Sy “getuienis” is bloot dít wat hy gesien het. In die boek Openbaring word Christus se regstreekse getuienis hoofsaaklik gevind in die boodskappe aan die sewe gemeentes.

Openbaring 19:10 vertel ons dat “die getuienis van Jesus ... die gees [is] van die profesie”. Dit beteken dat die evangelieboodskap lewe aan profesie gee. Indien ’n mens nie die evangelieboodskap verstaan wat Jesus gebring het nie, kan jy sekerlik nie profesie verstaan nie. Namate ons deur Openbaring lees, vind ons dat Johannes verwys na Jesus se woorde in die Evangelies en hy teken ook aan wat hy Jesus hoor sê in sy visioene.

Bykomend daartoe dat hy dele uit beide die Ou en Nuwe Testament saamweef, teken Johannes ’n reeks visioene van die toekoms aan. Sommige visioene is vol geheimsinnige simbole, terwyl ander gebeure en wapens uitbeeld wat so ver van sy tyd verwyderd is, dat Johannes dit moeilik gevind het om woorde te vind om dit wat hy gesien het, te beskryf. Hy kon byvoorbeeld net toekomstige wapens vergelyk met eerste-eeuse voorwerpe waarmee hy en sy lesers bekend was.

Sleutel # 6: Die Bybel vertolk sy eie simbole

Ten einde die Bybel behoorlik te verstaan, moet ons die Bybel toelaat om homself te vertolk. Die grootste deel van die Bybel is geskryf as doodeenvoudige vertellings, hoewel sommige dele – soos Psalms en Spreuke – op poëtiese beelde staatmaak. Openbaring en sommige van die Ou Testamentiese profete, veral Daniël en Sagaria, beskryf simboliese visioene. Dit is egter noodsaaklik om daarop te let dat die Bybel sy eie simbole vertolk. Toe Johannes byvoorbeeld die sewe kandelare en sewe sterre sien wat in Openbaring 1 opgeteken is, is hy vertel dat die sewe kandelare sewe gemeentes voorstel en dat die sterre sewe engele voorstel (vers 20).

Daniël teken nie net simboliese visioene van ’n groot beeld (Daniël 2) en diere wat uit die see opkom aan nie (Daniël 7), maar hy gee ook die vertolking van die simbole. Hy verduidelik aan koning Nebukadnésar dat die groot beeld met die goue kop, silwer bors, koper lendene en bene van yster vier opeenvolgende wêreldoorheersende ryke verteenwoordig wat van die tyd van Nebukadnésar se Babel tot in die toekoms strek wanneer die God van die hemele ’n koninkryk gaan opstel wat vir ewig sal duur (Daniël 2:31-44). Die nagmerrie diere wat Daniël in hoofstuk 7 sien, word ook vertolk om dieselfde opeenvolgende wêreldregerings te verteenwoordig wat tot ’n einde sal kom met die toekomstige daarstelling van die Koninkryk van God (Daniël 7:17, 23-27).

Elders in Openbaring lees ons van simbole soos ’n draak, ’n lam, vroue, berge en horings. Die Bybel vertolk weereens sy eie simbole. Openbaring 12:9 identifiseer die draak as simbolies van Satan, die duiwel. Dit verwys terug na Genesis 3, wat Satan se verskyning in die vorm van ’n slang aanteken. In Johannes 1:29, identifiseer Johannes die “lam” as simbolies van Jesus Christus. Die Bybel beeld die ware Kerk as ’n vrou uit – Christus se maagdelike bruid (2 Korintiërs 11:2, Openbaring 19:7-8) – daarom sal ’n hoer of gevalle vrou ’n vals kerk voorstel wat nie getrou aan Christus is nie. Berge verteenwoordig koninkryke of regerings (17:9-10), terwyl horings konings of regeerders voorstel (verse 12-13). Ons sal Openbaring nooit behoorlik verstaan nie, tensy ons gewillig is om die Bybel sy eie simbole te laat verduidelik, eerder as om staat te maak op die menslike verbeelding.

Sleutel # 7: Die boek Openbaring se gebeure is hoof­saaklik opvolgend van aard

In Openbaring 5 sien Johannes ’n visioen van Iemand (duidelik God die Vader) wat op die hemeltroon sit met ’n boekrol verseël met sewe seëls in Sy hand. Die enigste Een met die gesag om die seëls oop te maak en daardeur die inhoud bekend te maak, was Jesus Christus. Die boekrol moet in volgorde oopgerol word en die seëls een vir een gebreek word om te onthul wat volgende gaan gebeur. Hierdie nood­saaklike sleutel, wanneer dit behoorlik verstaan word, maak dit duidelik dat die boek Openbaring in kronologiese volgorde geskryf is. Hoewel daar ’n paar “invoegsels” is wat terug gaan en die leser op hoogte bring met sekere gebeure, vloei Openbaring se vertellings kronologies.

Die oopmaak van die sewe seëls begin in Open­baring 6. Wanneer die sewende seël in Openbaring 8 oopgemaak word, begin die sewe basuine se geskal. Na die sewende basuin geblaas word, word daar aan sewe engele sewe skale gegee wat God se toorn bevat.

Begrip van hierdie sleutelpunt, klaar verskeie kwessies op. Dit werp ook lig op gebeure soos die geheimsinnige verseëling van die 144,000 wat in Openbaring 7 aangeteken is. In konteks kan ons verstaan dat hiérdie ’n gebeurtenis is wat steeds in die toekoms voorlê – nie iets wat in die verlede gebeur het nie. Die boek Openbaring laat ons toe om al die profesieë van die Bybel in hul behoorlike tydsverloop te aanskou en om ’n oorsig te kry van God se plan van die begin tot die einde.

Met hierdie sleutels in gedagte, kan ons voortgaan om die inhoud van Openbaring self te bestudeer.

Inhoud


’n Laaste visioen vir die einde van ’n era

Die einde van die eerste eeu was ’n verwarrende en ontmoedigende tyd vir baie van God se mense. Jare tevore, na die kruisiging, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus, het die Kerk van God op baie dramatiese wyse op Pinksterdag 31 n.C. begin. Drie duisend mense is op daardie dag gedoop. In die maande wat gevolg het, het die getal dissipels grootliks vermeerder. God se wonderbaarlike ingryping op gereelde basis was duidelik.

Drie dekades later blyk dit dat die situasie egter verander het. God se mense was ontmoedig en verwar deur gebeure beide in die Kerk en op die wêreldtoneel. In 62 n.C. is Jesus se broer, Jakobus, wat as leier van die Jerusalem Kerk gedien het, deur ’n menigte in Jerusalem doodgemaak. ’n Paar jaar later arresteer die Romeinse regering Paulus en neem hom ’n tweede maal na Rome, hierdie keer om tereggestel te word. Kort daarna moes die Jerusalem Kerk uit die stad vlug om te ontkom aan naderende Romeine leërs. Teen 70 n.C. is beide Jerusalem en die merkwaardige tempel daarin ruïnes, vernietig deur generaal Titus en sy leërmagte. Bykans al die oorspronklike leiers van die Kerk is dood. Die enigste oorspronklike apostel wat nog leef, was die bejaarde Johannes. Na 70 n.C. maak hy Efese, geleë in Klein-Asië (hedendaagse Turkye) naby die Meditereense Kus, sy primêre bedryfsbasis.

Rondom 96 n.C. arresteer die Romeinse regering hierdie bejaarde apostel en verban hom na die eiland Patmos, net langs die kus van Klein-Asië (Openbaring 1:9). Patmos was die plek waarheen politieke gevangenes verban is en waarvandaan min ooit terug­gekeer het. Vir iemand van Johannes se gevorderde ouderdom moes verbanning na hierdie gevangenes eiland geblyk het soos sekerlike doodstraf. Dit was egter in hierdie konteks wat Johannes die visioene gegee is wat in die laaste boek van die Bybel aan­geteken is.

God gebruik Johannes, bykans 30 jaar na die dood van die ander oorspronklike leiers van die Kerk, om die Nuwe Testament te voltooi. Johannes voer hierdie opdrag uit deur ’n vierde Evangelie en drie sendbriewe te skryf, wat almal moontlik voltooi is voor sy verbanning na die eiland Patmos, en hy skryf ook laastens die boek Openbaring. Sodanig was Johannes verantwoordelik daarvoor om die Nuwe Testament in sy finale vorm te plaas.

Die laaste boodskap

God die Vader het gesag oor die tye en seisoene van die mens se geskiedenis voorbehou (Handelinge 1:7). Die kom en gaan van die gety van wêreldgebeure is nie net blote toeval nie. Die opkoms en val van groot magte word nie net bepaal deur menslike besluite nie. God het eerder die beperkings daargestel vir die rolle van onderskeie volke. Hierdie beperkings sluit beide die tydsduur op die wêreldtoneel en die omvang van hul geografiese oorheersing in (17:26).

Hoewel God die Vader die rolle van nasies vooraf vasgestel het, hoe kan ons enigsins verstaan tensy Hy besluit om dit te onthul? Dit was juis teen die einde van die eerste eeu wat die Vader presies dít gedoen het. Hy het aan Jesus Christus ’n onthulling gegee van wat tevore verborge was, wat Christus op Sy beurt aan die Kerk onthul het. Christus het dit gedoen deur ’n engel na die bejaarde apostel op Patmos te stuur (Openbaring 1:1). Deur ’n reeks visioene aan die einde van ’n era, is Johannes toegelaat om die toekoms te aanskou – en dit vooraf aan te teken.

Die boek Openbaring is ’n onthulling. Die Afrikaanse woord “openbaring” kom van die Griekse woord wat letterlik ’n “onthulling” of “ontsluiering” beteken. Terwyl die toekoms vir mensewesens versluierd en geheimsinnig is, is dit vir God dood­eenvoudig. Die mens probeer tevergeefs om deur die mis van tyd te staar om te sien wat die toekoms mag inhou. Terwyl mense egter net kan raai, kan die grote God wat die ewigheid bewoon, van die heel begin af verklaar wat die einde sal wees.

As bejaarde man in ballingskap op Patmos, het Johannes die mees merkwaardigste ondervinding van sy lang lewe gehad. In ’n visioen sien hy homself weggevoer na die toekoms, na die tyd van God se naderende ingryping en oordeel, waarna die Ou Testament verwys as die “Dag van die Here”. Toe hy ’n magtige stem agter hom hoor, het Johannes omgedraai om na sewe goue kandelare te staar en sien toe Iemand, Wie se gesig soos die son teen vol sterkte geskyn het, wat tussen daardie kandelare staan. Absoluut oorweldig deur dit wat hy gesien het val Johannes flou. Die Een wat hy daar sien staan het, was dieselfde Een saam met Wie hy as jong man omgegaan het; die Een langs wie hy gesit het en op Wie se bors hy geval het met hul laaste Pasgamaal. Johannes het Hom omtrent 65 jaar tevore laas gesien, toe hy saam met die ander dissipels op die Olyfberg opgekyk het en Hom in die wolke sien wegraak het. Waar Johannes flou gelê het, het die Een afgereik en sagkens met Sy hand aan hom geraak. “Moenie bang wees nie, Johannes”, het Hy verklaar, “Dit is Ek”. Christus onthul Homself dan aan Johannes as die Een wat eerste is en laaste, wat dood was, maar wat nou vir ewig leef. Johannes word dan vertel om neer te skryf wat hy gesien het en wat nog verder aan hom geopenbaar sou word.

Hierdie laaste boek in u Nuwe Testament, is dan Jesus Christus se onthulling van die toekoms – u toekoms! Dit is ’n boek wat geskryf is as Christus se laaste boodskap aan Sy Kerk; wat aandui wat alles gaan gebeur. Hoewel die meeste mense dit as ’n geheimsinnige en geslote boek beskou, kan dit nou vir u verstand geopen word. As u werklik wil weet wat voorlê, lees verder!

Inhoud


Die agtergrond word geskets

Openbaring se eerste hoofstuk gee agtergrond en dien as ’n inleiding vir die boek. Soos ons reeds gesien het, is die Dag van die Here (Openbaring 1:10) die tyd waartydens die gebeure in die boek afspeel. Vanuit hierdie standpunt sien Johannes agter hom die kandelare wat die sewe gemeentes verteenwoordig en God se Kerk deur die eeue simboliseer.

Onthou dat Openbaring as profesie gegee is om aan God se mense te wys wat gaan gebeur. Daarom is die boodskappe aan die sewe gemeentes (Openbaring 2-3) veel meer as ’n blote geskiedkundige weergawe van omstandighede wat in die laaste dekade van die eerste eeu geheers het. Hierdie sewe gemeentes in Klein-Asië verteenwoordig die sewe stadiums (of eras) waardeur die ware Kerk sou gaan voor Christus se wederkoms.

Na ontvangs van die boodskappe aan die sewe gemeentes, ontvang Johannes in Openbaring 4 – in ’n visioen – ’n uitnodiging om na die hemel te gaan. Hy beskryf God se troon in die hemel en neem kennis dat die Een wat daarop sit ’n verseëlde boekrol in Sy hand hou. Daar was niemand waardig om die seëls te breek en die boek oop te maak nie – behalwe Jesus Christus, die Lam van God en die Leeu van Juda. Wanneer Christus, die Openbaarder, die seëls een vir een oopmaak, is Johannes genooi om te gaan kyk. Vanaf Openbaring 6 beskryf hy wat hy sien wanneer elke seël geopen word.

Die eerste ses van die sewe seëls word in Openbaring 6 oopgemaak. Openbaring 7 vertel van ’n verposing voor die opening van die sewende seël. Gedurende daardie verposing in die bedrywighede, word 144,000 diensknegte van God verseël om hul beskerming van die plae van die Dag van die Here wat gaan volg, te verseker.

Die verhaal gaan voort in Openbaring 8 met die oopmaak van die sewende seël. Wanneer daardie seël oopgemaak word, kyk Johannes toe wanneer daar aan sewe engele sewe basuine gegee word, wat hulle die een na die ander blaas. Die eerste vier basuine word onthul as ekologiese rampe. Openbaring 9 beskryf die blaas van die vyfde en sesde basuine en die dramatiese militêre gebeure wat in die nasleep daarvan ontvou.

Openbaring 10 vertel van ’n verposing in die bedrywig­hede voor die sewende en laaste basuin se geskal. Op hierdie tydstip word daar aan Johannes ’n klein boekie gegee, wat hy simbolies moet eet en hy word vertel dat meer profesieë aangaande die volke en heersers gegee moet word. Openbaring 11 begin met ’n be­skrywing van wat die Twee Getuies – spesiale diens­knegte van God, wat met die tyd van die Groot Ver­drukking in Jerusalem sal wees – sal doen gedurende die drie-en-’n-half jaar wat lei tot Christus se wederkoms.

Die sewende basuin wat in Openbaring 11:15 beskryf word staan sentraal tot Openbaring, beide in die lengte van die boek en die belangrikheid daarvan. Dit is die laaste “trompetgeskal” – die tyd van die heiliges se opstanding tot onsterflikheid. Hierdie vers is noodsaaklik vir begrip van die res van Openbaring, omdat dit die tydstip aandui wanneer die heiliges uit hul grafte kom om in die heerlikheid in te gaan. Die gebeure van hierdie punt af tot by die begin van Openbaring 20, vind alles binne ’n baie kort tydjie plaas. Behalwe vir inlasvertellings, is die ganse tydperk wat deur hierdie hoofstukke gedek word na die eerste opstanding en voor die begin van die Millennium.

Openbaring 12 en 13 is ’n invoeging tot die verloop van die verhaal. Hierdie hoofstukke neem die verhaal van ’n vroeër tyd en bring dit op datum, met vertellings van die verhale van die Kerk (Openbaring 12) en die dier (Openbaring 13). Hierdie teenstellende verhale van die vervolgdes en die vervolgers moet verstaan word as die agtergrond tot die gebeure rondom Jesus Christus se terugkeer as Koning van konings.

Openbaring 14 en 15 stel die nuut opgewekte heiliges wat hul verheug in heerlikheid in téénstelling met die laaste voorbereidings vir God se grimmigheid om op die rebelse mensdom losgelaat te word. God moet die “kinders van ongehoorsaamheid” (verg. Kolossense 3:6) en die stelsel wat Sy getroue diensknegte deur die eeue vervolg het, ernstig straf, omdat hulle geweier het om op vorige oproepe tot bekering ag te slaan. Dan, in Openbaring 16, kom ons die besonderhede te wete van die uitgieting van die sewe skale wat die volheid van die grimmigheid van God bevat.

Openbaring 17 en 18 gee nog ’n invoeging tot die verloop van die verhaal, met ’n oorsig van die eindtyd stelsel genaamd die groot Babilon. Dit is ’n alliansie van vals godsdiens, militêr-politiese mag en kommersiële oorheersing wat voor Christus se weder­koms aan bewind sal wees. Openbaring 18 beskryf hierdie hele stelsel se algehele vernietiging.

Die eerste verse van Openbaring 19 onthul ’n viering by God se troon. Dit vorm die inleiding tot beide die bruilofsfees van Christus en die Kerk asook die werklike aankoms op aarde van die oorwinnende Jesus Christus om die leiers en leërs van die Satan­geïnspireerde menslike opstand teen God te vernietig.

Satan die duiwel word dan vir ’n duisend jaar gebind (Openbaring 20:2) en die res van Openbaring 20 lei Christus en die heiliges se millenniale regering op aarde in. Teen die einde van die Millennium sal die res van die mensdom opgewek word (verse 11-15).

Nadat ons aan die einde van Openbaring 20 van die vernietiging van die onbekeerbare goddeloses in die vuurpoel lees, kom ons in Openbaring 21 en 22 te wete van die nuwe hemel en nuwe aarde wat God beloof om te skep. Die nuwe Jerusalem sal na die aarde neerdaal en sal die woonplek van God die Vader, Jesus Christus en die Kerk wees. Die boek Openbaring sluit af met ’n blik na wat God in gedagte het vir diegene wat Hom liefhet. Dit laat ons op die drumpel van die ewigheid staan, met die versekering van die sekerheid van Christus se wederkoms en die vervulling van God se beloftes.

Met voltooiing van hierdie kort oorsig van die boek, kan ons nou die verhaal in meer besonderhede ondersoek om te verstaan wat vir ons en die ganse mensdom voorlê.

Die sewe gemeentes

Jesus Christus, die groot Openbaarder, inspireer Johannes om ’n boodskap aan Sy Kerk aan te teken. Hoewel daar teen die einde van die eerste eeu ander Christengemeentes in Klein-Asië was, is sewe spesifieke gemeentes uitgesonder. Die Bybel wend dikwels getalle op betekenisvolle wyse aan en dit is sekerlik waar in die boek Openbaring.

In die Tora – die eerste vyf boeke van die Bybel – sien ons spesifieke klem op twee getalle – sewe en 12. Die getal sewe dui voltooiing en volmaakt­heid aan, soos in die Genesisverhaal van die Skepping, waar die sewende dag van die week geheilig is en uitgesonder is as die Sabbat (Genesis 2:2-3, Eksodus 20:11). Later, in Levitikus 23, gee God aan Israel sewe jaarlikse feeste wat Sy plan van verlossing aandui. Selfs die ekonomiese lewe van antieke Israel is deur sewejaar siklusse gereël. Die sabbatsjaar was elke sewende jaar, waartydens die grond onbewerk moes lê en persoonlike skulde vergewe moes word (Levitikus 25:1-4). Die 50-jaar jubileumsiklus het aan die einde van sewe sewejaar siklusse gevolg, waartydens slawe vrygelaat is en die grond aan oorspronklike eienaars teruggegee moes word (verse 9-10). Dwarsdeur die boek Openbaring word die getal sewe herhaaldelik gebruik. Om slegs ’n paar voor­beelde te noem, daar is sewe kandelare, sewe gemeentes, sewe engele, sewe seëls, sewe basuine, sewe skale van grimmigheid asook sewe koppe op die dier.

Genesis lei die getal 12 in met Jakob se 12 seuns waaruit die 12 stamme van Israel gevolg het. Dwarsdeur die Tora word 12 gebruik as die getal wat “organisatoriese beginne” aandui. Wanneer ons in Openbaring kyk, sien ons presies dieselfde patroon. Openbaring 7 vertel van die verseëling van die 144,000 met 12,000 uitverkies uit elk van die 12 stamme. Dit onthul ook dat die nuwe Jerusalem 12 fondamente sal hê, elk vernoem na Jesus se 12 apostels en 12 poorte, vernoem na die 12 stamme. Selfs die afmetings van die stad is op die getal 12 gegrond.

Ons moet spesiaal daarop let wanneer Openbaring getalle soos sewe en 12 gebruik. Die beskrywings van sewe gemeentes is nie toevallig nie, maar word duidelik op simboliese wyse gebruik om die Kerk in haar geheel te verteenwoordig. Jesus Christus word uitgebeeld te midde van die sewe kandelare, wat veel meer as net ’n handvol van die eerste-eeuse gemeentes verteenwoordig. Die stede waarin daardie gemeentes geleë was, is deur Romeinse paaie verbind en was opeenvolgende stopplekke op ’n antieke Romeinse posroete. Elk van daardie sewe gemeentes is gebruik om een van die sewe opeenvolgende stadiums of eras te verteenwoordig of uit te beeld waardeur die ware Kerk van God sou gaan, van die eerste eeu af tot en met die tyd net voor Christus se wederkoms. Die gemeente te Efese verteenwoordig byvoorbeeld die vroeë Kerk van die Apostels, van die begin op 31 n.C. tot kort na Johannes se dood. Deur middel van hierdie profesie kan die ware Kerk se geskiedenis deur die eeue, stap vir stap, opgespoor word.

Dit val buite die omvang van hierdie boekie om ’n gedetailleerde geskiedenis van die sewe eras van die Kerk te gee, maar ons raai u aan om te skryf vir ons gratis boekie, God se Kerk deur die eeue, om u te help om hierdie belangrike onderwerp te verstaan. Dit is ten volle gedokumenteer met geskiedkundige bronne om u te help om te verstaan hoe hierdie merkwaardige profesie vervul is. Die meeste kommentators kan profesie nie behoorlik verstaan nie, want hulle kyk na die verkeerde kerk! Hulle besef nie dat die Kerk wat Jesus gestig het nooit bestem was om tot ’n groot wêreldorganisasie te groei en in politieke intriges en alliansies betrokke te raak nie – maar om ’n “klein kuddetjie” te bly, afgesonderd van die wêreld – en daarom herken meestal van hulle nie die verstom­mende vervulling van hierdie profesieë nie.

Ons moet veral let op Christus se laaste twee gemeentes: Filadelfia en Laodicéa. Dit verteenwoordig Christus se ware Kerk in die eindtyd en begrip van Sy boodskap aan hulle sal help om sin te maak van ’n sleutelprofesie wat in Openbaring 12 aangeteken is. In Openbaring 3:8 vertel die lewende Christus die Gemeente te Filadelfia dat Hy voor hulle “’n geopende deur” gee. Die Bybel gebruik die term “geopende deur” om ’n geleentheid te beskryf om die Evangelie te verkondig (verg. Kolossense 4:3). As gevolg van hul getroue lydsaamheid, word aan Filadelfiërs beskerming beloof tydens die tydperk van erge beproewing wat in die eindtyd op die ganse wêreld sal kom (Openbaring 3:10). In kontras daarmee bestraf Christus die Gemeente te Laodicéa, wat die laaste era voorstel, vir hul louwarm gees. Terwyl hulle kortkom in ywer, is Laodicéa omring deur toegeeflikheid tot die wêreld, onbewus daarvan dat dit hulle geestelik verarm en naak laat. As gevolg van daardie gesindheid, sal die lewende Christus die Laodiceërs uit Sy mond moet uitspuug reg in die Groot Verdrukking in, ten einde hulle wakker te skud en tot uiteindelike bekering en algehele oorgawe na Hom te bring. Begrip van hierdie onderskeid tussen die laaste twee tydperke laat ons profesieë in Openbaring 12 verstaan wat Satan se pogings beskryf om oorlog te maak met die “vrou” – die ware Kerk van God.

By die Troon van God

Vanaf Openbaring 4 word aan Johannes ’n verbysterende voorreg gebied. In ’n visioen word hy waarlik uitgenooi na die hemel waar God woon en word hy toegelaat om sommige van dit wat hy sien, aan te teken. Pen en papier kan natuurlik nie die heerlikheid en grootsheid van God se hemelhof na behore oordra nie, maar verskeie eienskappe van Johannes se beskrywing staan wél uit. Johannes probeer nie om die voorkoms van die groot Wese op die troon te beskryf nie, maar noem wel die pragtige kleure en lig wat die troon omring. Die weerlig en donderweer wat uit die troon uitgaan, herinner aan Eksodus 19, toe die heerlikheid van God op die Berg Sinaï neergedaal het voordat die Wet gegee is.

Ons vind dan ’n beskrywing van die uitgestrektheid van die hemelhof, insluitend die teenwoordigheid van miljoene engele (Openbaring 5:11). Daar is ’n groot uitgestrektheid vol kosbare edelgesteentes waarop die troon rus. In Openbaring 15:2 leer ons dat die uitgestrektheid, wat ’n see van glas genoem word, lyk asof dit met vuur gemeng is. Daar is ook vier vreemde wesens met ses vlerke en die gesigte van ’n mens, ’n kalf, ’n leeu en ’n arend (4:6-8). Johannes se lesers, bekend met die Ou Testament, sal die ooreenkoms hiervan met die beskrywing van die serafs in Jesaja se visioen herken (Jesaja 6:1-2).

Daar is 24 ouderlinge wat op 24 kleiner trone sit wat God se troon omring. Baie mense het al probeer om te dink wie hierdie ouderlinge is en sommige het hulle probeer identifiseer met sekere mense wat in die Ou en Nuwe Testamente aangeteken is. Dit is egter ’n feit dat hierdie ouderlinge deel is van die engeleryk. Hulle speel ’n belangrike rol in God se regering (die getal 24 – 12 verdubbel – maak dit duidelik), moontlik in beheer van die miljoene engele. God is nie ’n God van wan­orde nie en het in die hemel ’n hoogs georganiseerde ryk wat reageer op Sy wil.

Openbaring 4:5 noem “sewe vuurfakkels” voor die troon wat gedefinieer word as die sewe Geeste van God, van wie ons in Openbaring 5:6 vertel word dat hulle oor die ganse aarde uitgestuur word. Die antieke profeet Sagaria verwys ook daarna in Sagaria 4:10 en verwys na die sewe “oë” wat God stuur om die ganse aarde te deurloop. Hebreërs 1:7 verwys na hierdie geskape engeleryk en vertel ons dat God “van sy boodskappers winde maak en van sy dienaars vuurvlamme”. Op ’n manier wat ons verstand te bowe gaan, gebruik God hierdie geesteswesens, wat vir Johannes soos vuurvlamme gelyk het, om inligting van oor die aarde in te samel.

Vervolgens beskryf Johannes Jesus Christus wat voor die troon staan in die midde van hierdie groot samekoms (Openbaring 5:5-6). Hier word Christus deur twee simbole beskryf: ’n Lam asof Hy geslag is asook die Leeu uit die stam van Juda. Die Lam van God beskryf Jesus Christus in Sy rol as offer, wat ons plek ingeneem en namens ons gesterf het. Die Leeu van Juda beskryf Hom in Sy koningsrol, as die Een wat die rebelse mensdom sal oorwin en op die troon van Dawid sal sit, as heerser oor die aarde.

Openbaring 4 en 5 verwys ook na ’n aspek van Johannes se visioen wat in latere hoofstukke meer ontwikkel word: die hemelse verbintenis met die aardse tempel. Onthou, die aardse heiligdom is gevorm na die hemelse werklikheid (Hebreërs 9:24). Soos ons dus deur die boek Openbaring gaan en lees van die altaar van offerande, die reukaltaar en die hemelse Verbondsark, moet ons besef dat hierdie die hemelse prototipes was waarvolgens die meubels van die tabernakel – en later die tempel – gevorm is.

Openbaring se vier perde en hul ruiters

Een van die bekendste beelde van die boek Openbaring is die “vier perde en hul ruiters”. Hoewel die meeste mense bekend is met die term, weet bykans niemand wié of wát dit beskryf nie. Tog is Christus die Openbaarder en ten einde hierdie simbole te verstaan, moet ons uitvind waar in die Bybel Hy in eenvoudige taal die gebeure verduidelik wat hier plaasvind. Is daar so ’n plek? Verseker! Dít is Christus se bekende antwoord toe Hy gevra is wat die teken van Sy koms en die voleinding van die wêreld sou wees (Mattheus 24:3-31).

In Mattheus 24, beskrywend van ’n scenario wat voorafgegaan word met vals profete en gevolg word deur oorlog, hongersnood, pessiektes, verdrukking en dramatiese hemeltekens, beskryf Christus die gebeure wat sal lei tot Sy wederkoms uit die hemel. Die ooreenstemming met Openbaring 6 is merkwaardig duidelik. Let op wat Johannes aanteken. Eerstens sien hy hoe Jesus Christus die boekrol by die Vader neem en die eerste seël oopmaak. Wanneer dit gebeur sê ’n engel vir Johannes om te kom kyk. Johannes sien dan ’n ruiter op ’n wit perd wat ’n kroon dra en ’n boog vashou (Openbaring 6:1-2). Baie mense neem roekeloos aan dat die ruiter Christus is, omdat Openbaring 19 die terugkerende Christus op ’n wit perd beskryf. Hierdie aanname is heeltemal verkeerd! In Mattheus 24, en die ooreenstemmende vertellings in Markus 13 en Lukas 21, praat Jesus van vals “Christusse”. Hy sê dat sommige “onder My naam kom” en sal sê dat Jesus die Christus is, tog sal hulle baie mense mislei. Hoe kan iemand Christus se naam gebruik en tog mense mislei? Deur ’n ander boodskap te verkondig in die plek van die een wat Hy eintlik onderrig het (Markus 7:7)!

Die geskiedenis toon dat daar baie vals leraars, oorloë, pessiektes, hongersnode en godsdienstige ver­volgings deur die bykans 2,000 jaar was sedert Jesus Christus hierdie woorde op die Olyfberg gespreek het. Hoe verskil hierdie gebeure wat plaasvind nadat die seëls oopgemaak is? Openbaring 6 onthul dat die mensdom in die eindtyd hierdie eeue-oue teisterings in veel groter omvang sal ervaar as ooit tevore.

Let op wat Paulus onderrig aangaande die Dag van die Here en die gebeure rondom die tyd van Christus se wederkoms. In 2 Thessalonicense 2:3 verduidelik hy “want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf”, voordat die Dag van die Here sal aanbreek. Wie is daardie “seun van die verderf”? Deur die eeue heen was daar baie seuns van die verderf en baie antichriste (1 Johannes 2:18; 2 Johannes 7). Die een waarvan Paulus egter in 2 Thessalonicense praat, is die spesifieke een wat Christus met Sy koms sal vernietig (vers 8). Dit verbind hom met die een wat die Vals Profeet genoem word, wat Christus met Sy wederkoms sal vernietig (Openbaring 19:20).

2 Thessalonicense 2 vertel ons meer aangaande hierdie eindtydse vals profeet. Hy sal godslasterlike aansprake maak, sy goddelikheid verkondig, aan­bidding vereis (vers 4) en wondertekens doen deur duiwelse mag (vers 9), (verg. Mattheus 24:24; Open­baring 13:13-14). Hierdie laaste vals godsdiensleier, ongetwyfeld ’n baie vleierige en charismatiese individu, sal ’n dramatiese indruk op die wêreldtoneel maak. Hy sal homself nie as “antichris” etiketteer nie, maar sal homself eerder voordoen as die leier van die ganse Christenkerk.

Onthou, Jesus sê dat individue onder Sy naam sal kom en sê dat Jesus die Christus was, nie in die naam van die een of ander vals gode of bloot in hul eie name nie (Mattheus 24:5). Paulus verduidelik ook dat Satan hom voordoen as ’n “engel van die lig” en dat sy dienaars hul voordoen as “dienaars van geregtigheid” (2 Korintiërs 11:14-15). Die godsdiensstelsel wat hierdie eindtydse seun van die verderf moet voortbring, was reeds aan die werk in Paulus se tyd. Paulus noem hierdie stelsel die “verborgenheid van ongeregtigheid” – ’n uitvloeisel van die ou Babiloniese verborgenheids-godsdiens wat die vals idee voorgestaan het dat daar met God se wet “weggedoen” is en dat dit nie meer onderhou hoef te word nie. Hoewel hierdie vals Christenstelsel reeds in die eerste eeu sy oorsprong gehad het, sal die laaste seun van verderf nie op die toneel toegelaat word tot die tyd daarvoor aangebreek het nie (2 Thessalonicense 2:6-7).

Wanneer hierdie laaste Vals Profeet op die wêreldtoneel verskyn, sal ware Christene kan vasstel presies waar in die plan van profesie ons ons bevind. Die eerste seël sal geopen wees en die eindtydse vervulling daarvan sal hom manifesteer. Die opening van die ander seëls sal kort daarna volg.

Inhoud


Verdrukking en basuine

Openbaring 6:3 teken die verhaal aan van die tweede seël en onthul ’n ruiter op ’n rooi perd. Daar word aan hierdie ruiter ’n groot swaard gegee, sim­bolies van die kragtige vermoë om oorlog te voer. Jesus se lering in Mattheus 24 toon aan ons dat hierdie seël streeks- en wêreldoorloë voorspel. Namate ons die voleinding van die wêreld nader, sal ’n groot militêre mag te voorskyn kom.

Net soos die ruiter op die wit perd ons herinner aan die rol wat die eindtydse Vals Profeet gaan speel, sal die ruiter op die rooi perd ons kan herinner aan die slinkse militêr-politiese leier wat in Europa op die toneel gaan verskyn – ongetwyfeld met aansprake dat hy ’n man van vrede is. In die naam van “vrede” sal hy aanvalsvoorkomende aanvalle en oorloë in die Midde-Ooste en selfs teen Amerika en hul bondgenote Brittanje, Kanada, Australië en Nieu-Seeland voer. Hierdie groot militêr-politiese leier (in Openbaring 13 en elders “die Dier” genoem), sal in geslote alliansie met die Vals Profeet wees en poog om alle volke te oorheers en te beheer. Hy sal verantwoordelik wees vir die finale rondte oorlog wat eers voltooi sal wees in die nadraai van die samekoms van die wêreldleërs by Armageddon.

Kort na hierdie dramatiese oplewing in wêreldwye onmin en oorlogvoering, sal hierdie gebeure tesame met verskriklike weerskommelings, lei tot grootskaalse voedseltekorte en hongersnood. Dit word uitgebeeld deur die oopmaak van die derde seël en ’n ruiter op ’n swart perd wat ’n skaal vashou. Terwyl stapelvoedsel (gesimboliseer deur koring en gars) slegs in klein hoeveelhede verkoop sal word teen hemelhoë pryse, sal luukse artikels (gesimboliseer deur die olie en wyn) steeds vir die rykes beskore wees. Die denarius of “penning” was ’n dagloon vir die arbeiders in die eerste eeu, wat aandui dat baie gewone mense al hulle inkomste sal bestee in ’n poging om net hulself en hul gesinne te voed.

Siekte en dood deur peste sal volg in die nadraai van hierdie voedseltekorte, gesimboliseer deur die ruiter op die vaal perd, wat met die opening van die vierde seël onthul word. Hierdie onverbiddelike ruiter word uitgebeeld met mag oor ’n kwart van die aarde wanneer hy op die toneel verskyn vir sy eindtydrit. Die gebeure wat deur die seëls gesimboliseer word, is toenemend van aard en as die seëls eers oopgemaak is, bly hulle oop.

Die Groot Verdrukking

Jesus waarsku ons teen die Groot Verdrukking – ’n tyd wat uniek is in die geskiedenis (Mattheus 24:21-22). Die Groot Verdrukking begin kort na die “gruwel van verwoesting” (vers 15) en is die gevolg van die vinnige op­eenvolging van die laaste eindtydse vervulling van die eerste vyf seëls. Na die eerste vier seëls oop­gemaak is en Johannes die “vier perde” met hul ruiters sien ry het vir hul eindtyd vervulling, word die vyfde seël geopen en word hy weereens geroep om te kyk. Hy sien ’n vreemde visioen wat, wanneer dit behoorlik verstaan word, die voorbode is van verskriklike gods­diens­vervolging van ondenkbare omvang vir ons heden­daagse Westerse wêreld. Johannes beskryf dat hy “onder die altaar die siele” sien staan en hulle hoor uit­roep om God te vra “hoe lank” dit sal wees voor hulle gewreek sou word. Die antwoord is dat die tyd van God se oordeel oor hul vervolgers nie sal wees tot die martelaars voltallig is nie. Daar gaan ’n eindtydse martelary wees wat nog moet plaasvind.

Let op die simbole wat Johannes beskryf. Soos dik­wels die geval in Openbaring, is dit belangrik dat die sim­boliek van die Jerusalem tempel verstaan word. Wat word bedoel met “siele onder die altaar”? Die Bybel gebruik die term siel (nephesh in Hebreeus en psuche in Grieks), om te verwys na skepsels met lewe – beide mens en dier. Levitikus 17:11 (NV) dui aan dat die lewe in die bloed is. Die bloed van offerdiere is aan die voet van die offeraltaar uitgegiet, een van die twee altare in die tempel. Die offeraltaar was buite en die reukaltaar was binne die heiligdom, reg voor die versoendeksel. (In die tempel in Jerusalem, voor die aardbewing as gevolg van Christus se dood, het ’n gordyn die reukaltaar van die versoendeksel geskei). Die offeraltaar is die grondslag vir die simboliek wat in Openbaring 6 gebruik word.

In Genesis 4:10 word ons vertel dat die bloed van die regverdige Abel figuurlik “uitgeroep” het van die grond om vergelding van ’n regverdige God te eis. Indien die bloed van een martelaar uitroep, hoeveel harder sal die gesamentlike bloed van al die regverdige martelaars deur die eeue heen uitroep? In die visioen hoor Johannes hoe hulle vertel word dat hulle moet verder rus in hul grafte. Meer martelaars moet sterf voordat die tyd sal kom vir God se oordeel om uitgegiet te word.

Hierdie toekomstige tyd van swaarkry sal duidelik ’n tyd van erge godsdiensvervolging wees, wanneer almal gedwing sal word om aan te pas by vals godsdiens­gebruike wat as “Christelik” uitgemaak sal word. Daar sal van almal vereis word om hulle toe­wyding tot die groot vals kerk en sy hiërargie te gee, in Openbaring 13:15 die “beeld van die dier” genoem. ’n Uiterlike teken van eenvormigheid, genoem die “merk van die dier” sal diegene identifiseer wat die Bybel die kinders van ongehoorsaamheid noem.

Daar is nog ’n aspek van hierdie komende Groot Verdrukking wat dikwels misgekyk word. Dit is nie net ’n tyd van godsdiensvervolging nie, maar word ook in Jeremia 30:7 geïdentifiseer as ’n “tyd van benoudheid vir Jakob”. Ons weet dat hierdie dieselfde tyd is waarvan Jesus in Mattheus 24:21 gepraat het, want in beide plekke word ons vertel dat dit ’n unieke tyd is, ’n tyd soos daar nog nooit was of ooit weer sal wees nie. Daar kan nie twee afsonderlike tye soos dié wees nie!

Indien u nie bekend is met die identiteit van Jakob se eindtydse afstammelinge nie, nooi ons u graag uit om te skryf vir ’n gratis eksemplaar van ons boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? Dit gee besondere verduidelikings en bewyse wat buite die bestek van hierdie boekie val. Die komende Groot Verdrukking sal ’n uiters spanningsvolle tyd van ver­volging wees teen beide geestelike Israel (die ware Kerk van God) en fisiese Israel, wat nie net die Jode nie, maar ook die hedendaagse afstammelinge van die sogenaamde “verlore tien stamme” is. Dit verteen­woordig Satan se toorn en begin in alle erns wanneer hy vir die laaste keer na die aarde neergewerp word (Openbaring 12:12-13).

Inleiding tot die Dag van die Here

Wanneer die sesde seël oopgemaak word, sien Johannes dramatiese tekens in die hemelruim. Hy beskryf groot sterrereën – so intens dat dit lyk asof die sterre self uit die hemel val! Hy beskryf ook gebeure wat lyk soos verduisterings, wat beide die son en die maan insluit. Die son verdonker, net soos met ’n sons­verduistering en die maan word rooikleurig, soos met ’n maansverduistering. Hierdie dramatiese en vreesaan­jaende gebeure, tesame met grootskaalse vulkaniese en aardbewingsbedrywighede (verg. Joël 2:30-31) is die inleiding tot die tyd van die Skepper se ingryping, wat dwarsdeur die Bybel die “Dag van die Here” ge­noem word.

Op hierdie stadium is daar ’n verposing in die bedrywighede voordat Johannes sien hoe die sewende seël geopen word. Openbaring 7:1-4 maak dit duidelik dat hierdie verposing vir ’n spesifieke doel is. Voor die uitstorting van God se grimmigheid, word 144,000 heiliges uit die stamme van Israel verseël sodat hulle gespaar kan word van dít wat God gereed maak om op die rebelse mensdom uit te stort.

’n Soortgelyke vertelling word in Esegiël 9 gevind, waar Esegiël ’n visioen sien van God se straf op die rebelse mense van Jerusalem. In die visioen sien hy ’n engel geklee in linne met ’n skrywer se inkpot aan sy heupe wat langs die altaar voor die tempel staan. Die engel word vertel om dwarsdeur die stad te gaan en ’n teken te maak op die voorhoofde van diegene wat “sug en steun” oor al die gruwels van Jerusalem. In die nasleep van die engel met die inkpot, moet ander engele uitgaan as wraaksengele om die rebelse en goddelose mense te vernietig. Net so beskryf Open­baring 7 dat ’n groep oorgeblewenes van Israel op God se genade sal reageer deur hulle te bekeer. Hulle is diensknegte van God en word uitgesonder sodat hulle gespaar sal word van God se toorn wat op die kinders van ongehoorsaamheid uitgestort gaan word in die komende Dag van die Here.

In die slotverse van Openbaring 13 en die openings­verse van Openbaring 14 sien ons hoe ’n vergelyking getref word tussen diegene wat die merk van die Dier op hul voorhoofde ontvang en die 144,000 wat die Naam van die Vader op hul voorhoofde het. Die voorhoof is die setel van intellek en dit dui op ons keuse vir gehoorsaamheid – hetsy aan God of aan Satan.

Min mense neem kennis dat Openbaring 7 twee groepe aandui. Beide word ingelei deur die frase “na hierdie dinge het ek gesien” in verse 1 en 9. Die beskrywing van die groot menigte wat uit alle nasies en volke kom word voorafgegaan deur die 144,000 wat uit die 12 stamme kom. Hierdie groot menigte word be­skryf in ’n oorwinningsviering voor die troon van God, ’n gebeurtenis wat in die toekoms lê van dit wat Johannes besig was om te beskryf. Terwyl hy die oorgeblewenes van Israel verseël gesien het, is hy ook toegelaat om selfs verder in die toekoms te kyk. Wie is hierdie “groot menigte”? Openbaring 7:14 omskryf hulle as diegene wat “uit die verdrukking kom”. Hoewel hulle kon gesterf het as martelaars gedurende daardie helse tyd, en daardeur verteenwoordigend is van die voltooiing van die martelary voorspel in Openbaring 6:11, is hulle eintlik oorwinnaars. Hulle sal in heerlikheid opgewek word en sal vertroosting en seën van die Vader en Christus ontvang.

Nog ’n waarneming moet omtrent die 144,000 gemaak word. Ons moet verstaan dat die Dag van die Here hoofsaaklik die tyd van die sewende seël en die jaarlange tydperk is (Jesaja 34:8, 61:2) wat lei tot Christus se wederkoms. In ’n ander sin strek dit egter verder die toekoms in om nie net die jaar van God se grimmigheid nie, maar ook die duisendjaar heerskappy van die Messias, die Laaste Oordeelstydperk en die bekendstelling van die nuwe hemel en nuwe aarde in te sluit (2 Petrus 3:10-13). Daar sal uiteindelik ’n groot oes wees, met getalle in die biljoene, wat gedurende hierdie uitgebreide Dag van die Here ingebring sal word, maar hierdie 144,000 van Israel verteenwoordig ’n eersteling van diegene wat vir hul Skepper losge­koop is gedurende daardie tyd. 144,000 is die getal van organisatoriese beginne gekwadreer en vermenigvuldig met ’n duisend. Dit verteenwoordig die beginpunt van die Skepper se oes van die nasies nadat Hy begin het met Sy regstreekse ingryping in oordeel.

Die geskal van die eerste vier basuine

Openbaring 8 vertel voorts die gebeure wat volg op die oopmaak van die eerste seël. In vers 1 sien Johannes die sewende seël word oopgemaak, en daar word aan sewe engele wat voor God staan, sewe basuine gegee om een vir een te blaas, aanduidend van God se oordele. Die sewende seël bestaan uit hierdie sewe basuine.

Let op die simboliek van Openbaring 8:3-5. Seremonies wat sedert Moses se dae in die aardse heiligdom uitgevoer is, is gevorm na hierdie hemelse werklikheid en voorsien ons van die sleutel tot begrip van wat hier beskryf word. In die aardse heiligdom, na die daaglikse offer elke oggend en aand geoffer is, het die priester vuur van die offeraltaar geneem en die heiligdom betree om wierook op die goue altaar in die heilige plek voor die versoendeksel te brand – wat deur ’n gordyn geskei is (Eksodus 30:6). Soos hierdie weergawe en ander skrifture aandui, verteenwoordig die wierook die gebede van die heiliges wat voor God opgaan. Die versoendeksel (genadestoel), wat in die Allerheiligste en oor die Verbondsark geleë is, was simbolies van God se troon.

In Openbaring 6 sien ons dat die bloed van diegene wat deur die tye gemartel is, tot God uitroep vir wraak. God het nie vroeër daardie uitroep beantwoord nie, omdat die tyd nie reg was nie. In Openbaring 8 word die vuur van die altaar egter simbolies op die aarde gewerp en God beveel die sewe basuinengele om Sy vergelding aan te kondig.

Die res van Openbaring 8 beskryf die basuinklanke van die eerste vier engele. Onthou, Jesaja 34:8 en 61:2 stel die Dag van die Here gelyk met die jaar van God se vergelding. Hierdie tydperk begin met die eerste basuin en sluit af met die sewende of laaste basuin. Toe God aan Israel van ouds Sy Heilige Dae gegee het, het Hy die lentefeestye (herfsfeeste in die Noordelike Halfrond) aangekondig deur die eerste dag van die sewende maand as ’n “gedenkdag deur basuingeklank” aan te dui. Omdat die ander feesdae van God hul vervulling op die betrokke dag ontvang het (let daarop dat Christus as Lam van God op Pasga geoffer is en die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag plaasgevind het), blyk dit waarskynlik te wees dat die jaar van God se vergelding op die Fees van Trompetgeskal sal begin en eindig.

Namate elkeen van die eerste vier engele hul basuine laat weerklink, vind verskriklike ekologiese rampe op die aarde plaas. Wanneer die eerste engel blaas, breek vreeslike vure uit wat uiteindelik een derde van die plantegroei verbrand. Dan land ’n groot meteooragtige voorwerp in die oseaan en veroorsaak dat een derde van die seë rooi soos bloed raak. Dit laat een derde van die seelewe sterf en ontwrig skeeps­vaart en handel in ’n groot mate. Na die derde basuin sien Johannes nog ’n meteooragtige voorwerp wat op een derde van die varswater riviere en mere val, dit vergiftig en omvangryke waterskaarste veroorsaak. Wanneer die vierde engel blaas, volg daar ontwrigting in die lug hierbo. Klaarblyklik sal rookkolomme en oorblyfsels die lig vir een derde van die dag blokkeer. Moontlik sal dit veroorsaak word deur groot hoeveel­hede rook van die groot vure wat bykans een derde van die aarde insluk, asook puin wat die lug ingeskiet word deur toenemende vulkaniese uit­barstings.

Die eerste twee weë

As hierdie ekologiese rampe in die beginmaande van die jaar van God se vergelding vernietigend klink, dink na oor die groter vernietiging wat plaasvind wanneer die laaste drie engele gereedmaak om te blaas. Hierdie laaste van die sewe engele kondig die “drie weë” aan. Dit behels die mensdom se ontketening van wapens van grootskaalse vernietiging wat die wêreld so in gevaar sal stel dat, sou Christus nie terugkeer nie, geen vlees sou oorleef nie (Mattheus 24:22).

Wanneer die vyfde engel sy basuin in Openbaring 9:1-2 blaas, vind ons dat die put van die afgrond oopgemaak en duiwelsgeïnspireerde magte losgelaat word. Openbaring 17:8 toon dat die Diermag simbolies uit hierdie afgrond kom. Die magte wat losgelaat word, word eers vergelyk met sprinkane, omdat Johannes nie die woorde gehad het om moderne wapens van grootskaalse vernietiging te beskryf nie. Let daarop dat hierdie “sprinkane” nie natuurlike plantegroei skade aandoen nie (wat fisiese sprinkane wel sou verslind), maar instede daarvan veroorsaak hulle vir vyf maande lank knellende, maar nie dodelike pyn – soos dié van skerpioene. Dit beskryf ’n aanval deur die Diermag onder Europese leiding, op die nasies van die ooste, soos genoem in Daniël 11:44.

Hierdie verrassingsaanval sal grootskaalse ver­gelding deur Asië teen Europa ontketen. Hierdie ver­gelding, aangetoon deur die sesde engel wat sy basuin blaas, word uitgebeeld as die uitblaas van vuur, rook en swawel wat een derde van die mensdom vernietig (Openbaring 9:17-18). Hierdie beskrywing pas goed by moderne kernwapens en die vernietiging wat daarmee gepaard gaan.

Met die vyfde en sesde basuine, sien ons dat God die kettings wat Satan en sy duiwels tevore weerhou het, verwyder. Abáddon of Apollion, ’n naam vir die duiwel wat “vernietiger” beteken, is die een wat die Dier se aanval met toekomstige wapens bespoedig. Ons word ook vertel dat duiwelse geeste vereenselwig word met die Oosterse magte wat tevore by die Eufraatrivier weerhou is. Klaarblyklik sal die Eufraat die skeidslyn tussen die Oosterse en Westerse invloedsfere wees.

Wanneer die sesde engel blaas, gebeur twee dinge. Eerstens die loslaat van ’n kernaanval op Europa en moontlik ook op sy Latyns-Amerikaanse bondgenote. Tweedens die samekoms van die grootste leër ooit wat op die oostelike oewer van die Eufraat bymekaarkom – naamlik 200 miljoen mense (verse 15-16). Op hierdie stadium sal dit bykans ’n jaar wees sedert die basuine begin weerklink het. Die aarde en sy bewoners sal steier onder wat blyk die laaste stuiptrekkings van die planeet self te wees. Dit is egter nie die einde van die verhaal nie!

Inhoud


Getuies en grimmigheid

Openbaring 10 begin met nog ’n kort onderbreking in die vloei van gebeure. Na die sesde basuin, maar voor die blaas van die laaste, sewende basuin, sien Johannes ’n engel wat uit die hemel kom en aan hom ’n klein boekie gee om te eet. Dit is baie soortgelyk as die Ou Testamentiese Skrifgedeelte waar Esegiël vertel word om die inhoud van ’n boek te eet sodat hy die boodskap daarvan kan verkondig (Esegiël 2:8-10; 3:1-3). Die engel vertel Johannes om die inhoud van hier­die klein boekie te eet en nog ’n profetiese boodskap aan die nasies en leiers van hierdie wêreld te lewer. Wat is daardie boodskap? Voor die gruwel van verwoesting en die begin van die Groot Verdrukking, sal die Filadelfia era van God se Kerk al vir dekades deur die “geopende deur” gegaan het wat deur Christus voorsien is, om die evangelie en eindtyd waarskuwingsboodskap te verkondig. Nadat die Kerk se georganiseerde verkondiging van die evangelie gestaak word, sal die Twee Getuies God se boodskap onbeskroomd vanaf Jerusalem verkondig. Ja, daar sal steeds ’n boodskap wees om aan die wêreld te ver­kondig in die sluitingsdae van Satan se heerskappy! Dit is waarom daar aan Johannes gesê word, nadat die sesde basuin geblaas en net voor die sewende basuin weerklink (Openbaring 10:7), dat daar steeds ’n boodskap is om aan die volke en leiers te lewer. Die Twee Getuies wat “profeteer” (Openbaring 11:3) en “hul getuienis voleindig” (vers 7), tesame met die drie engele wat God na die blaas van die sewende basuin stuur (14:6-9), sal almal “weer profeteer” nadat Johannes die “klein boekie” van die magtige engel ontvang het.

Mattheus 24:15-21 en Lukas 21:20-24 maak dit duidelik dat die veelnasie leër wat in Sagaria 14:1-2 beskryf word, Jerusalem met die begin van die Groot Verdrukking sal beset. Deur Lukas 21:24 met Openbaring 11:2 te vergelyk, sien ons dat die Diermag Jerusalem vir 42 maande of drie-en-’n-half jaar sal beset en beheer. Dit is net nadat die Vals Profeet die heilige plek ontheilig en sy afgodsimbole en gods­lasterlike aansprake openbaar maak, dat God twee van Sy diensknegte, bekend as die Twee Getuies, sal bemagtig om Sy boodskap te verkondig aan ’n wêreld oorheers deur die mag van die Dier en meegesleur deur die illusies van die Vals Profeet.

God sal hierdie twee manne gebruik om wonder­werke te doen soortgelyk aan dié van Moses en Elia. Hulle sal God se oordeel aan ’n wêreld aankondig wat in rebellie teen Hom is en sal gekonfronteer word met die mag van die Dier en die Vals Profeet. Dwarsdeur die drie-en-’n-half jaar van hul profetiese loopbaan, sal hulle God se bonatuurlike beskerming geniet, net soos Elia baie eeue vantevore (verg. 2 Konings 1:9-14). Uiteindelik sal God toelaat dat hulle doodgemaak word. Baie mense sal juig met hul dood, omdat die Vals Profeet hulle sal beskuldig as verantwoordelik vir die hele wêreld se probleme. Hul liggame, wat nie begrawe sal word nie, sal vir drie-en-’n-half dae in Jerusalem se strate lê, dan sal hulle opgewek word, in die lug opstyg en in die wolke verdwyn, terwyl hul vyande in geskokte verbasing sal toekyk (Openbaring 11:11-12).

Die laaste basuingeskal

Nou bereik ons die middel van die boek Openbaring en die bepalende oomblik van eindtyd gebeure. Wat presies gebeur wanneer die sewende en laaste basuin geblaas word? Openbaring 11:15 sê: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid”! Volgens vers 18, dui hierdie laaste basuinklank die tyd aan wanneer die finale grimmigheid van God uitgestort sal word en wanneer God sal begin om die dooies te oordeel en die beloning aan Sy ware diensknegte te gee.

In 1 Korintiërs 15:52 beskryf Paulus dat hierdie gebeurtenis sal plaasvind “in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word”. Dit is die tyd wanneer die dooies in Christus, tesame met daardie Christene wat steeds lewend op aarde is, ’n oombliklike verandering sal ondergaan van sterflik na onsterflik en die dood in oorwinning verswelg sal word. Dit word in Openbaring 20:6 die “eerste opstanding” genoem en diegene wat daarvan deel is word “salig en heilig” genoem. Hulle hoef hulle nooit weer oor die dood te bekommer nie, maar sal onder Christus Self op die aarde regeer en heers wanneer Hy Sy duisendjaar regering vestig.

Op hierdie tydstip moet ons kennis neem dat diegene wat die sogenaamde “wegraping” teorie voorhou, nie die Bybel korrek verstaan nie. Die Here sal uit die hemel neerdaal en die herrese heiliges sal saam met Hom weggevoer word die lug in, met die weerklink van die sewende en laaste basuin. Soos ons uit die verloop van die verhaal van Openbaring agter kon kom, kan dit slegs gebeur nadat al die gebeure wat vooraf beskryf is, plaasgevind het en dit is nie iets wat “te enige tyd” kan gebeur soos sommige mense verkeerdelik glo nie.

Die vrou en die draak

Na die beskrywing van Christus wat al sewe die seëls oopmaak, gee Johannes daaropvolgend in Open­baring 12, ’n insetsel wat die konflik tussen die vrou en die draak beskryf.

Johannes beskryf ’n visioen van ’n vrou geklee met die son, maan en 12 sterre. Hierdie beskrywing herin­ner aan Genesis 37:9, waar Josef in ’n droom die familie van Israel uitgebeeld sien deur die son, maan en sterre. Soos ons vroeër gesien het, gebruik die Bybel ’n vrou om ’n kerk uit te beeld. In ’n paar kort verse word die ganse geskiedenis van die Kerk van die tyd van die Vergadering van Israel – die Gemeente in die woestyn – tot by die einde van die Groot Verdrukking nagespeur. Daar word gesê dat die vrou ’n manlike kind sal baar wat oor al die volke sal heers – ’n duidelike verwysing na Christus wat uit Israel voortgebring is. Die draak, in vers 9 omskryf as Satan die duiwel, probeer om Jesus Christus – wat na Sy opstanding teruggeneem is hemel toe, te vernietig.

In vers 6 lees ons van die vrou se vlug na die woestyn om daar vir 1,260 profetiese “dae” – 1,260 letterlike jare, beskerm te word. Omdat dit plaasvind na Christus se hemelvaart, verwys dit duidelik na die Nuwe Testamentiese Kerk. Dit was inderdaad vroeg in die vierde eeu na Christus dat die keiser Konstantyn met die Biskop van Rome saamgesnoer het en die ware Kerk na afgeleë gebiede moes vlug. Geskied­kundig kan ’n 1,260 jaar tydperk nagespeur word van ná die Raad van Nicea in 325 n.C. tot ongeveer 1585, toe die ware Kerk eers weer openlik te voorskyn gekom het. U kan hierdie volle merkwaardige verhaal in ons gratis boekie, God se Kerk deur die eeue, lees.

Daar moet ook op gelet word dat Openbaring 12 twee verskillende rebellies van Satan beskryf. Vers 4 herinner aan die aartsengel Lucifer se oorspronklike rebellie (verg. Jesaja 14; Esegiël 28), waarin hy een derde van die engele met hom saamgetrek het voor Adam geskep is. Hy is op die aarde neergewerp en sy naam is verander van “Lucifer” (wat “ligbringer” beteken) na “Satan” (wat “teenstander” beteken). In konteks verwys verse 7-12 – wanneer dit in die vloei van die verhaal geplaas word na die tyd van die Kerk in die woestyn (geskiedkundig die Middeleeue) – na nog ’n toekomstige poging van Satan om die mag in die hemel oor te neem, net voor die uiteindelike Groot Verdrukking.

Na hierdie toekomstige en laaste neerwerping van Satan, sal God die “vrou” – Sy ware Kerk – na ’n spesiale plek in die woestyn neem om daar versorg en beskerm te word gedurende hierdie uiteindelike drie-en-’n-half jaar tydperk. ’n Groep agtergeblewenes sal dan deur die duiwel aangeval word. Die Bybel toon dat die Gemeente in Filadelfia van hier­die tyd van geweldige beproewing beskerm sal word, maar Christus sal die Gemeente in Laodicea uitspuug, weens hul onwilligheid om hulle te bekeer van hul louwarm selftevredenheid, materialisme, eiegeregtig­heid en geestelike blindheid en naaktheid – of dit selfs te erken!

Die Dier

Nadat Johannes ’n oorsig gegee is van die geskiedenis van die ware Kerk in Openbaring 12, word Johannes in Openbaring 13 ’n ander visioen gegee wat hom ’n oorsig bied van die Dierstelsel. Daar word vir die eerste keer in Openbaring 11:7 na die Dier verwys, wat poog om die Twee Getuies te vernietig. Daar word nie verder uitgebrei tot ons in Openbaring 13 kom nie. In hierdie hoofstuk sien Johannes ’n visioen wat terugverwys na wat Daniël in Daniël 7 aangeteken het.

Daniël het gesien hoedat vier diere een na die ander uit die see opkom: ’n leeu, ’n beer, ’n luiperd met vier koppe en ’n skrikwekkende dier met ystertande en tien horings. Hierdie word in Daniël 7:23 as vier koninkryke omskryf. Wanneer die visioen in Daniël 2 met die een in Daniël 7 vergelyk word, is dit duidelik dat hierdie reeks van vier wêreldheersende koninkryke in Daniël se tyd begin het met Nebukadnésar se Babiloniese ryk en deur die opeenvolgende koninkryke van Persië, Griekeland en Rome voortgeduur het. Teen die tyd van Johannes se visioen in die boek Openbaring, was die ryke van antieke Babilonië, Persië en Griekeland reeds geskiedenis en die vierde koninkryk – die Romeinse Ryk – het die wêreldtoneel oorheers.

In Openbaring 13 beskryf Johannes die Romeinse Ryk met die eienskappe van die vroeëre ryke wie se agtergeblewenes daardeur geabsorbeer is. ’n Gedetail­leerde studie van al die teksverse wat hierop betrekking het, sowel as die geskiedkundige verwysings wat bewys dat hulle vervul is, word in ons boekie, Die Dier van Openbaring, gegee. Dit sal u baie besonderhede gee wat buite die bestek van hierdie boekie val.

Johannes sien dat die dier ’n dodelike wond toe­gedien word. Geskiedkundig was dit die val van die Romeinse Ryk in 476. Dan sien Johannes dat die dodelike wond genees word, nes gebeur het met die Keiserlike Herstel deur Justinianus in 554. Die Dier gaan dan voort vir 1,260 profetiese “dae”, die tydsduur vanaf Justinianus tot en met die val van Napoleon in 1814. Dit was die tydperk van die sogenaamde Heilige Romeinse Ryk en sy alliansie met die Roomse pous. Johannes sien ook ’n tweede dier wat soos ’n lam lyk maar eintlik dien as die mondstuk van Satan, die draak (Openbaring 13:11). Dit is duidelik die simbool vir ’n godsdiensstelsel wat daarop aanspraak maak dat dit Christelik is, maar wat eintlik die duiwel se boodskap eerder as Christus se evangelie verkondig. Hierdie vals godsdiensstelsel word uitgebeeld asof dit ’n beeld of model, gebaseer op die instansies van die ou Romeinse Ryk, oprig. Antieke heidense Rome was die model waarop pouslike Rome en sy politieke strukture gebou is. Daar was ’n alliansie van kerk en staat wat voortgeduur het deur die Middeleeue. Die kerk het die staat gebruik om gelykvormigheid met godsdiensedikte af te dwing en het op sy beurt van sy aanhangers vereis om lojaal teenoor die staat te wees.

Die merk van die dier, ’n teken wat ongehoor­saamheid aan die wet van God adverteer, is iets wat uit die antieke tye dateer. Daar is daarop aangedring sedert hierdie onheilige alliansie van kerk en staat in die dae van keiser Konstantyn plaasgevind het.

Die getal van die dier, 666, is afgelei van die numeriese waardes wat van ouds aan die letters van die alfabet gekoppel is, pleks van aparte syfers soos ons dit vandag ken. Hebreeus, Grieks en Latyn het almal so ’n stelsel gebruik, daarom het alle name in daardie tale waardes gehad. Verwys na ons boekie, Die Dier van Openbaring, vir verdere inligting oor die merk van die Dier en die gedetailleerde bewys dat die Roomse stelsel deur die getal 666 gekenmerk word – die getal van ’n naam.

Dit is dus absoluut noodsaaklik om te verstaan dat hierdie Middeleeuse alliansie van kerk en staat weer­eens kop gaan uitsteek. In die afsienbare toekoms gaan die finale verskyning van die Dierstelsel weereens uit die bodemlose put te voorskyn kom. Gaan u toegee onder die druk om in te pas by hierdie kragtige stelsel wat vir ’n kort rukkie in die toekoms beheer oor die hele aarde sal neem? U moet hierdie onderwerp verstaan, om u eie ontwil en dié van u gesin.

Triomf en toorn

Na hierdie kort insetsels om die verhaal van die vervolgdes en die vervolgers van die tye van ouds, na die tyd wanneer die sewende basuin geblaas gaan word te bring, verander die verhaal se fokus na die nasleep van die laaste basuin. Dit sal ’n tyd van wonderlike triomf vir God se heiliges wees. Hoewel hulle deur die eeue heen vervolg en bespot is, word God se heiliges beskryf in heerlikheid waar hulle voor God die Vader en Jesus Christus juig. In teenstelling gaan die res van die rebelse mensdom die onverdunde toorn van die Almagtige God smaak.

Die 144,000 wat ons vroeër gesien het verseël is om hulle van die grimmigheid van die Dag van die Here te beskerm, word nou uitgebeeld in heerlikheid en hulle sing ’n nuwe lied waar hulle voor die troon van God staan en Hom loof vir hul verlossing (Openbaring 14:1-5). Terwyl hierdie viering plaasvind, gaan drie engele die aarde deurkruis om God se laaste boodskap aan die mensdom te verkondig soos Hy gereed maak om Sy laaste grimmigheid uit te stort (verse 6-11).

Terwyl die verheerlikte heiliges juig en die drie engele God se laaste waarskuwing aankondig, word gereed gemaak vir die rebelse mensdom om in die groot parskuip van die grimmigheid van God gegooi te word (vers 19).

Hier moet ons daarop let dat die Bybel die ware heiliges identifiseer as diegene wat God werklik gehoorsaam en Sy gebooie onderhou. Openbaring 14:12 beklemtoon hierdie punt deur die heiliges te beskryf in vergelyking met diegene wat God se straf sal ontvang. Daar moet ook op gelet word dat beide die lied van Moses en dié van Christus (die Lam) voor die troon gesing word (15:3). Die boodskap van die Ou en Nuwe Testamente is nie teenstrydig of disharmonies nie; dit is inteendeel in harmonie, soos aangedui deur die sang van die verheerlikte heiliges.

In Openbaring 15 teken Johannes ’n visioen aan van sewe engele met sewe goue skale wat sewe laaste plae die een na die ander uitstort. Hierdie uitstorting gebeur redelik vinnig, soos ons sal sien wanneer ons die aard van die plae ondersoek. Indien die tweede en derde plae byvoorbeeld langer as ’n paar dae sou duur, sal alle lewe op die planeet uitgewis wees.

Wanneer die eerste skaal uitgestort word, kom kwaai en bose swere aan almal wat die derde engel se boodskap versmaai en steeds aan die Dierstelsel lojaal is. Dan, wanneer die tweede engel sy skaal uitkeer, word al die seë soos “bloed ... van ’n dooie” (16:3). Alle seelewe kom om. Met die uitkeer van die derde skaal verander alle vars water in bloed en bronne van drinkwater word vernietig. Dan keer die vierde engel sy skaal uit en versengende hitte van die son straf die rebelse mensdom. Daarna kom ’n groot donkerte oor Europa (die “troon van die dier”) en sy mense verkeer in folterende pyn en hitte, verswelg in absolute donkerte en sonder bruikbare water, alles op dieselfde tyd. Die donkerte is as gevolg van die skaal wat deur die vyfde engel uitgestort word.

Hierna sien Johannes die sesde engel sy skaal op die Eufraat uitkeer. Duiwelse geeste gaan uit en bring al die leërmagte noord van Jerusalem saam. Die reuse Asiatiese leërmag wat vantevore op die oostelike oewer van die Eufraat saamgekom het, dring die land van Israel binne en versamel in die Armageddon area (Hebreeus vir “berg Megiddo”). Megiddo is die heuwel wat uitkyk op die Jisreëlvallei, omtrent 90 km noord van Jerusalem. Wanneer die sewende en laaste skaal uit­gegooi word, sal daar ’n verskriklike aardbewing wees, so massief dat selfs die topografie van die aarde verander sal word (verse 18-20). Waarskynlik is dit dieselfde aardbewing wat in Sagaria 14:4 beskryf word, wanneer die voete van Jesus Christus uiteindelik weer op die Olyfberg staan, net oos van Jerusalem.

Die groot Babilon het geval

Na sy visioen van die sewe laaste plae wat uitgestort word, word aan Johannes nog twee visioene getoon wat ’n insetsel vorm tot die verhaal van Openbaring. Hierdie visioene beskryf die groot Babilon en die uiteindelike vernietiging wat op daardie verskriklike stelsel gaan neerkom. In Openbaring 17 is die fokus op die godsdiens en politieke alliansie wat weereens – in die nie te verre toekoms van almal wat hierdie boekie lees – sal kom en die wêreld sal oorheers. Daar word beskryf hoe ’n vrou die politieke stelsel ry, maar ’n vrou wat baie anders is as die rein, maagdelike bruid van Christus. Dit is ’n kerk wat beskryf word as ’n groot hoer, een wat ongeoorloofde betrekkinge met verskeie nasionale leiers het. Hierdie betrekkinge het, wat die Bybel “gevalle dogters” noem, voortgebring. Hierdie hele godsdiens­stelsel is omskryf as ’n uitvloeisel van die antieke heidense Babiloniese verborgenheidsgods­diens.

In Openbaring 18 word Johannes in ’n visioen die aankondiging van die val en algehele vernietiging van moderne Babilonië getoon. Hierdie hoofstuk onthul dat bykomend tot ’n godsdiens en politieke stelsel, soos in hoofstuk 17 beklemtoon, Babilonië ook ’n kommersiële stelsel is wat poog om die wêreld ekonomiesgewys te domineer. Baie besonderhede oor die profesieë wat in hierdie twee hoofstukke vervat is, word in ons gratis boekie, Die Dier van Openbaring, gedek.

Dit is belangrik dat ons nou en in die beslissende jare wat voorlê, besef dat God se oorwinning seker is. Hierdie geskiedenis is reeds vooruit geskryf! Daarom is dit baie belangrik dat ons ons van hierdie wêreld se Babiloniese stelsel (18:4) distansieer en ons algehele en ware onderdanigheid aan Jesus Christus en die boodskap wat Hy verkondig het, gee.

Inhoud


Ná die chaos

Groot dele van Openbaring beskryf die chaos wat voortspruit uit die mensdom wat Satan navolg asook poog om sy eie samelewing sonder die Almagtige God te bou. Nog daardie chaos, nog God se oorwinning oor Satan, is egter die hoogtepunt van die boek. Open­baring eindig eerder met die lewende Christus wat Johannes wys wat sal plaasvind na die chaos.

Nadat Johannes ’n visioen gesien het van die rampspoedige vernietiging van Babilonië, sien hy ’n ander visioen van die hemel en ’n viering voor God se eie troon. Babilonië se val word in Openbaring 19:2 aangeteken en vers 6 toon die juigkrete van diegene voor God se troon: “Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar!”

Johannes hoor dan dat die tyd aangebreek het vir die bruilof van die Lam. Die Kerk, wat met die opstanding van vlees en bloed in onsterflike gees ver­ander is, is nou gereed om met Christus in die huwelik te tree. Die bruid – die Kerk gesamentlik – word uitgebeeld as geklee in bruilofsklere van skoon wit linne, wat die regverdigheid van die heiliges uitbeeld.

Om antieke Joodse huweliksgebruike te verstaan, sal ons meer insig gee in wat hier beskryf word. Die bruilofseremonie het drie hoofkomponente wat elk op ’n ander tyd plaasvind, soos ons weet uit wêreldse geskiedenis en die Bybel. Hierdie drie komponente deel sommige van die simboliek van die drie feestye wat God aan antieke Israel gegee het waardeur Hy Sy groot verlossingsplan onthul. (Indien u nog nie ons gratis boekie rakende die Heilige Dae het nie, versoek dan gerus u eie gratis eksemplaar van, Die Heilige Dae – God se Meesterplan).

Die eerste deel van die huwelikseremonie was die bruidsprys, wat normaalweg deur die vader van die bruidegom betaal is. Ons sien dit in Genesis 24 waar Abraham geskenke aangebied het toe hy om ’n vrou vir sy seun, Isak, onderhandel het. Dit stem ooreen met die Pasgatyd. Die bruidsprys wat God die Vader aangebied het was die lewe van Sy eniggebore Seun (Johannes 3:16).

Die tweede fase van die huwelikseremonie was die verlowing of ondertekening van die huweliksverbond. Wanneer hierdie formele ooreenkoms afgehandel is, is die paartjie as getroud beskou, selfs voor hulle huwelik gevier of voltrek is. Josef en Maria was in hierdie verlowingstadium toe daar uitgevind is dat Jesus Christus bonatuurlik verwek is. Hierdie tweede stadium van die huwelikseremonie stem ooreen met die tweede feestyd: Pinkster, die tyd van die verbonde (sien Jeremia 2:2, waar Israel se tyd in die woestyn gelyk­gestel word aan die verlowingstydperk).

Die derde fase van die huwelikseremonie is die viering van die bruilofsfees. Dit was normaalweg ’n week lank (verg. Genesis 29:27), en is gekenmerk deur feesviering en verheerliking (Johannes 2:1-10). Hierdie fase begin gewoonlik met ’n optog. Die bruidegom sou gaan om op sy bruid aanspraak te maak en die bruids­groep sou hom tegemoet gaan (verg. Mattheus 25:6). Gewoonlik sou die bruid saam met die bruidegom van haar vader se huis na die huis loop wat haar man gereedgemaak het. Dit is gevolg deur sewe dae se feesviering met vriende en familie. Hierdie laaste deel van die huwelikseremonie stem ooreen met die Loof­huttefees – sewe dae van feesviering wat die millen­niale regering van die Messias voorstel, wanneer Hy ’n “maaltyd van vetspyse” aan die hele wêreld gaan bied (Jesaja 25:6).

Die Koninkryk gevestig

Wanneer Openbaring 19 afsluit, sien Johannes die hemel geopen en die seëvierende Jesus Christus wat na die aarde terugkeer in krag en heerlikheid, op ’n wit perd, gevolg deur die hemelse leërmagte. Die mensdom se leërs wat tevore by Armageddon bymekaargekom het, word aan die buitewyke van Jerusalem vernietig. Die Dier en die Vals Profeet word geneem en in die vuurpoel gewerp waar hulle opgebrand word. Die godslasterlike aansprake van goddelikheid wat hulle gemaak het, word dus bewys as leeg en vals.

Wanneer Christus se voete weereens op die einste Olyfberg staan waarvan Hy bykans 2,000 jaar tevore opgevaar het, sal die berg in twee verdeel. Op daardie tydstip sal ’n waterstroom van onder die Tempelberg in Jerusalem sy oorsprong hê. Dit sal oos vloei deur die pasverdeelde Olyfberg en wes na die Middellandse See. Hierdie “lewende water” versprei vinnig en sal al die dooie waters wat dae tevore, toe die tweede en derde skale uitgegiet is, soos bloed geraak het (Openbaring 16:3-4), wonderbaarlik genees. Volop seelewe sal herstel word (Esegiël 47:1, 8-9).

Die terugkerende Koning van konings sal onmid­dellik ’n magtige engel stuur om Satan die duiwel te gryp en hom vir ’n duisend jaar weg te sluit. Dit skep die agtergrond vir die regering van die Koninkryk van God op aarde. Die simboliek van die Heilige Dae wat God aan Israel gegee het, help ons om die betekenis van die volgorde van gebeure te verstaan. Net soos die Fees van Trompetgeskal die tyd van God se ingryping en oordeel verteenwoordig, so verteenwoordig die Versoendag – nege dae later – die tyd wanneer Satan verban sal word om Sy verantwoordelikheid vir sonde te dra. Die vervulling van wat hierdie dag simboliseer, word in Openbaring 20:1-3 beskryf. Dit is heel waarskynlik dat die optrede wat in die boek Openbaring beskryf word tussen die blaas van die sewende basuin in Openbaring 11:15 en die wegsluit van Satan in Openbaring 20:2, sal plaasvind in ’n negedae periode tussen die Dag van Trompetgeskal en die Versoendag. Satan se wegsluiting verteenwoordig die vrymaking van die mensdom. Dit is die vervulling van die simboliek van die antieke Jubileumjaar, wanneer vryheid verklaar is (Levitikus 25:9 -10). Let daarop dat die Jubileum begin met die Versoendag, die dag wat Satan se verbanning simboliseer. Op hierdie tydstip sal die oorlewendes van die 12 stamme van Israel begin om uit hul gevangenskap terug te keer na die land Israel (Jesaja 27:1, 13).

In sy visioen van die toekoms, beskryf Johannes die herrese en verheerlikte heiliges wat regerings­verant­woordelik­hede uitvoer (Openbaring 2:26-27; 5:10). Hulle sal op aarde regeer en hul funksies as konings en priesters verrig onder Jesus Christus. Ander teksverse, soos Jesaja 2 en 11, beskryf hoe God se regering vanuit ’n herboude Jerusalem sal uitgaan om alle nasies in te sluit. Daar sal ’n duisend jaar van genesing en herbouing wees en die ganse mensdom sal die geleentheid kry om God se weë te leer. Dit sal ’n tyd van oorvloed en voorspoed wees wanneer “hulle sal sit elkeen onder sy wingerd­stok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik” (Miga 4:4).

Gedurende die laaste geslag wat aan die einde van die Millennium leef, sal Satan vir ’n kort tydjie vrygelaat word en hy sal onmiddellik uitgaan om die volke weereens te verlei (Openbaring 20:7-10). Waarom sal God hom vrylaat, wetend wat hy sal doen? God het die mensdom nog altyd ’n keuse gegee en begeer dat ons reg moet kies en wat verkeerd is moet verwerp. Sommige, selfs nadat hulle die voordele en seëninge van God se regering ondervind het, sal steeds toelaat dat hulle onder Satan se invloed kom. Satan sal leërs saamroep van baie volke rondom die aarde wat die­selfde rebelse gesindheid as die Gog en Magog het, twee volke wat in die begin van die Millennium teen God ’n stryd gevoer het (verg. Esegiël 38). Hierdie leërs sal by Jerusalem saamkom, maar sal gou vernietig word en Satan sal vir altyd weggesluit word.

Daarmee is die agtergrond geskets vir dit wat Johannes as die Laaste Oordeel beskryf. Hy ver­duide­lik dat daar na die voltooiing van die duisend jaar ’n tweede opstanding sal wees (Openbaring 20:11-15). Die boeke van die Bybel sal geopen word en die Boek van die Lewe word ook weer oopgemaak. Op hierdie stadium sal biljoene mense wat geleef en gesterf het sonder om werklik ’n geleentheid te hê om God te ken, uiteindelik daardie geleentheid ontvang. Dit is die tyd waarvan Jesus gepraat het wanneer die mense van Ninevé in oordeel sal opstaan tesame met die geslag van Jesus se eie tyd (Mattheus 12:41). Dit is die tyd wat Esegiël in Esegiël 37 beskryf het; ’n tyd wanneer mense wat gedink het daar is geen hoop nie (vers 11), tot fisiese lewe herstel sal word (vers 6) en uiteindelik die geleentheid gebied gaan word om God te leer ken en Sy Gees te ontvang (verse 13-14). Vir ’n deeglike verduideliking van hierdie noodsaaklike onderwerp, versoek asseblief ons gratis boekie, Is Hierdie die Enigste Dag van Redding?

’n Nuwe hemel en nuwe Aarde

Met die einde van hierdie oordeelstydperk, wanneer elke mens wat nog ooit geleef het ’n ware geleentheid gaan hê om God se verlossing te bekom, sal daar ’n tyd van afrekening wees vir diegene wat daardie vrye gawe verwerp het. Soos die aarde en heelal self in ’n vurige kosmiese ontbranding blyk te disintegreer (verg. 2 Petrus 3:10-13), sal al die goddeloses vir alle ewig­heid heeltemal opgebrand word. Na die verbygaan van hierdie sonde-geteisterde ryk kom ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde.

Daardie nuwe aarde sal die woonplek wees van God die Vader en die familie wat Hy voortgebring het. Johannes sien die nuwe Jerusalem, wat in die hemel gereedgemaak is, na die nuwe aarde neerdaal. Daar sal God die Vader saam met Sy kinders woon, vir ewig.

Naby die einde van die boek Openbaring beskryf Johannes die heerlikheid van hierdie grootse stad met sy 12 fondamente en 12 poorte. Die strate is van goud en die poorte elk gevorm uit ’n enkele pêrel. Daar is briljante kleur en lig deurdring alles weens die teenwoordigheid van God die Vader en Christus. Diegene wat deel is van Christus se bruid sal werklik in die nuwe Jerusalem woon (Openbaring 21:1-3), terwyl diegene wat later kom – gedurende die Millennium en Laaste Oordeel – die res van die nuwe aarde sal bewoon. Die res van God se verheerlikte familie – “die nasies van die wat gered word” – sal ongehinderde toegang tot die Vader en Christus hê, omdat die poorte van die stad bedags sal oop wees en daar geen nag sal wees nie (verse 23-26). Hulle sal vrye toegang hê tot die boom van die lewe wat in die stad groei en ook tot die rivier van die water van die lewe (22:1-2).

Dood, pyn en trane sal uiteindelik vir ewig verban wees. Die vloek wat weens die sondes van Adam en Eva op die mensdom, en selfs die aarde, gekom het, sal verwyder wees. Sonde en die gevolge daarvan sal uiteindelik heeltemal weg wees. Enigiemand met die begeerte sal vrylik van die water van die lewe kan geniet.

“En kyk, Ek kom gou” verklaar Jesus aan Johannes “en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees ... Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad” (verse 12, 14).

Die boek Openbaring vertel ons van die einde van geskiedenis en die begin van die ewigheid. Dit laat ons staan op die randjie van die ewigheid, met die versekering dat Jesus Christus werklik binnekort sal terugkeer. Die beloftes wat Johannes geïnspireer was om aan te teken, is absoluut seker – en op u en u gesin van toepassing! “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (1:3).