INHOUD

  1. Hoofstuk 1: ’n Ekonomiese treinramp?
  2. Hoofstuk 2: ’n Wet deur God onderrig
  3. Hoofstuk 3: Word God beroof?
  4. Hoofstuk 4: Doen U deel ten volle
  5. Hoofstuk 5: Help andere soos God u help
  6. Hoofstuk 6: Waarheen behoort u God se tiende te stuur?
  7. Hoofstuk 7: Die oorvloedige lewe wat God u toewens

Hoofstuk 1: ’n Ekonomiese treinramp?

Wat beteken die woord “tiende”? Is die wet van tiendeheffing steeds vandag van krag? Het Jesus Christus  Self aangedui dat ons ’n tiende moet gee?

Dit is belangrik dat ons die antwoorde op hierdie en verwante vrae sal verstaan, veral gesien in die lig dat Suid-Afrika, soos die VSA, Kanada, Brittanje en Australië, binnekort gestraf sal word vir hul sorgelose verontagsaming van die wet van tiende­heffing, asook van vele ander wette van God. Al hierdie lande was fisies geseën bo ander nasies van die wêreld weens ’n belofte wat God eeue gelede aan Abraham gemaak het. Die Britse heerskappy bestaan egter nie meer nie. Selfs hul aansien in die Gemenebes is aan die kwyn. En, soos u oor die volgende paar jaar sal agterkom, sal Amerika se nasionale “trots” en aansien in duie stort.

Alhoewel Amerika steeds die magtigste nasie ter wêreld is, is dit ook die wêreld se grootste skulde­naar. Hulle skuld ander nasies baie meer as wat enige nasie nog ooit in die geskiedenis geskuld het. En, alhoewel Kanada se skuld minder as dié van die VSA in terme van geldwaarde is, is die Kanadese skuld in verhouding tot hul bevolking, groter!

Die tyd gaan binnekort aanbreek dat ons almal die gelag sal moet betaal. Baie gerespekteerde ekono­me waarsku nou al jare lank teen hierdie groeiende probleem. ’n Vertaling van ’n aanhaling uit die San Diego Union-Tribune van 22 November 2000lui soos volg:

“Talle privaat ekonome meld dat die agterstand moontlik ’n vlak bereik het wat ’n risiko vir die algehele ekonomie kan inhou indien buitelanders, wat gretig was om hul produkte te verkoop en vas te hou aan Dollar-gekoppelde beleggings, skielik sou besluit om hul Amerikaanse aandelebesit te laat vaar. Dit mag moontlik aandele- en verband­pryse skerp laat daal. 
‘Die onvermydelike vraag wat weens ’n reusagtige en groeiende han­dels­­tekort ontstaan, is of hierdie situ­asie ’n dreigende treinramp verteen­woordig aldan nie’, sê Ken Mayland, ekonoom by Clear View Economics in Pepper Pike, Ohio”.

’n Dreigende ekonomiese treinramp? Waarom?

Dit is omdat ons mense – individueel en ge­sa­ment­lik – God en Sy wette versaak het dat Hy begin om Sy seëninge aan ons lande te onttrek. Dit is die eintlike rede waarom Amerika die wêreld se grootste skuldenaar is. Dit is die rede waarom toe­ne­men­de getalle Suid-Afrikaners, soos Amerikaners en Kanadese, verligting van toe­nemende persoonlike skuld soek deur bankrot te speel.

God sal nogtans, selfs gedurende die traumatiese jare wat die Groot Verdrukking voorafgaan, diegene beskerm en seën wat Hom dien en werklik Sy wette, insluitende die wet van tiendeheffing, gehoorsaam.

Wat is ’n tiende? Die woord “tiende” beteken bloot “’n tiende deel van” of 10 %. Dit verwys daarna dat ’n persoon ’n “tiende” van sy inkomste aan God gee. Die Almagtige God gee opdrag dat ’n tiende aan Hom gegee word – aan Sy ware leraars om Sy Werk te doen – en nie bloot op enige plek uitgedeel te word nie.

Die wet van tiendeheffing beteken eenvoudig dat die Grote God wat ons geskape het – wat aan ons ons lewe, talente, verstand en die krag waar­mee ons ons werk doen, sowel as die land en hulp­bronne waarmee ons werk, gegee het – van ons vereis om aan Hom die eerste tiende van ons op­brengs of inkomste te betaal.

Soverre dit die direkte aangeleentheid van tiende­heffing aangaan, bedoel God dit nie dat ons enigiets “gee” nie, maar dat ons ons Skepper ’n skamele bedrag betaal wat Hy as ons Skepper, ons Onder­houer, ons Rentmeester, ons Beskermer en ons God vereis.

Die Almagtige God beloof nietemin: “Vereer die Here uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou in­komste; dan sal jou skure vol word en jou parskuipe oor­loop van mos” (Spr. 3:9-10).

Ja, indien u God getrou gehoorsaam en die eerste tiende van u inkomste aan Hom betaal, sal Hy u lewe in baie fisiese en materiële opsigte seën. Hy het dit beloof en God breek nooit Sy Woord nie!

In Maleagi 3 waar God met die hedendaagse Jakob oftewel Israel praat (vers 8), verklaar Hy: “Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof My en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offer­gawe”. God kla ons hier aan dat ons, die heden­daagse afstammelinge van Israel (wat die Suid-Afrikaners insluit), ons Skepper en Sy Werk vandag beroof! Geen wonder dat daar vandag so min ware godsdiens op aarde oor is nie! Geen wonder dat daar so baie verwarring en bedrog in die naam van Christenskap aangaan nie!

God gaan voort: “Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!” (vers 9).

Dan beloof God in Sy Woord: “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in My huis kan wees: en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie” (vers 10).

Hier is ’n aanloklike uitdaging deur die Almagtige God!

God sê dat Hy u sal seën wanneer u tiendeheffing toepas, soos Hy beveel, deur geloof in Hom en Sy Woord. Letterlik honderde gevallestudies kan opge­noem word om te wys dat God definitief die tiende­gewer seën, selfs in materiële opsigte. Hy mag dit dalk nie altyd dadelik doen nie. Dit mag moontlik wees dat u Hom eers vir ’n tyd lank moet gehoor­saam en geloof uitoefen. Namate u Hom egter dien, Hom gehoorsaam en vertrou, sal God Sy deel van die ooreenkoms nakom.

Inhoud


Hoofstuk 2: ’n Wet deur God onderrig

Ten spyte van die duidelike seëninge wat diegene geval wat God se wet van tiendeheffing gehoorsaam, het sommige mense steeds argumente en vrae hier­oor. Was die idee van tiendeheffing iets wat Moses uit­gedink het? Het Jesus “weggedoen” daarmee? Was dit slegs gemik op die fisiese volk van Israel – ’n soort belastingstelsel vir beide kerk en staat?

Lank voordat die kodifisering van die “wet van Moses” ooit plaasgevind het, het Abraham getrou sy tiende aan God betaal! Ons lees in Genesis 14:17-20 op watter wyse Abraham God se Hoëpriester Melgisédek geëer het nadat God sy vyande in sy hand gegee het: “Toe gee hy hom die tiende van alles”.

Hierdie is ’n ontsettende belangrike voorbeeld wat gewoonlik deur baie oorgesien of gering geag word. Dit is ’n noodsaaklike voorbeeld aangesien Abraham, in ’n sekere lig gesien, ’n voorstelling van God Self was. Hy is die een mens wat deur God self gekies is om die opoffering wat God later Self sou maak, naamlik om Sy eie Seun uit vrye wil op te offer, vooraf  uit te beeld (Gen. 22). God het die apostel Paulus geïnspireer om Abraham te beskryf as die vader van die getroues (vgl. Rom. 4:1, 11, 16).  Hier­die “vader” van die getroues was ongetwyfeld ’n mens­like voorstelling van God en die voorbeeld deur hom gestel, vorm die basis van alle ware godsdiens!

Watter “sleutel”-voorbeeld het Abraham gestel in die opsig dat ons “getrou”  moet wees met ons finansiële geldmiddele? Abraham het ’n “tiende” aan die einste Persoonlikheid wat later Jesus Christus  geword het, betaal. Nie alleenlik het Abraham tiende­heffing toegepas op die vrugte van sy arbeid nie, maar ook op die buit wat God feitlik aan hom gegee het. Tiendeheffing is nie net gebaseer op ’n vermeer­dering in ’n mens se oes of diere (soos sekere kritici be­weer) nie, maar ook op enige finansiële toevoeg­ing in dit wat God ons as Sy geskape kinders gun.

Jakob beloof later om die God van Abraham te dien en verklaar: “… en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan” (Gen. 28:22).

Later nog, toe God tydelik die Levitiese priester­skap ingestel het, het Hy beveel dat die tiendes aan hulle as Sy menslike verteenwoordigers betaal word: “Ook al die tiendes van die land, van die graan van die land, van die vrugte van die bome, behoort aan die Here; dit is heilig aan die Here … Wat betref al die tiendes van beeste en kleinvee – alles wat onder die herderstaf deurgaan – die tiende moet aan die Here heilig wees” (Lev. 27:30, 32).

Let nou op Numeri 18:21: “En kyk, Ek gee aan die kinders van Levi al die tiendes in Israel as erfdeel vir hulle dienswerk wat hulle verrig, die dienswerk van die tent van samekoms”.

Aangesien God se bediening gedurende daardie tyd ’n fisiese bediening was – die offer van slag- en spys­offers – en aangesien die Leviete die bediening as hul werk uitgevoer het, het God se tiende aan hulle as Sy verteenwoordigers en dienaars gegaan.

Nuwe Testamentiese instruksies rakende tiendeheffing

In die Nuwe Testament is die apostel Paulus deur God geïnspireer om aan te dui dat die wet van tiende­heffing nou aangepas of verander is sodat die tiendes weer eensbetaal word aan God se gees­telike priesterdom, soos dié van Melgisédek aan wie Abraham tiendes betaal het. Hierdie uittreksel vind ons in die sewende hoofstuk van Hebreërs.

 Paulus beskryf hoe Abraham tiendes aan Melgisédek betaal het (vers 2). Volgende, beskryf hy hoe groot Melgisédek se priesterdom moes gewees het (verse 3-4). Dan wys Paulus daarop dat die Leviete self, deur hul voorvader Abraham, tiendes aan Melgisédek betaal het, wat gesien in die lig hier­van, dus vanselfsprekend ’n groterpriester was (verse 9-10).

In verse 11-12 dui Paulus aan dat die Levitiese priester­dom slegs tydelik was en dat dit nooit enig­een na volmaaktheid gelei het nie. Dus, deur Christus is die geestelike priesterdom van Melgisédekweer ingestel en die wet op tiendeheffing weer eens verander sodat God se tiendes, soos tevore, sou terugkeer na die geestelike priesters – na die ware leraars van Jesus Christus.

Die apostel Paulus het aan Joodse Christene, wat ten minste die letter van God se Wet verstaan het en geen “argument” teen die feitlikheid van die wet op tiende­heffing gehad het nie, geskryf. Hoewel sy hoof­klem die grootsheid van Christus se geestelike be­diening is, is dit nogtans belangrik om te besef dat Paulus deurgaans in die bogenoemde Nuwe-Testa­mentiese skrifgedeelte beslis van tiendeheffing as ’n wet praat! Hy wys voorts daarop dat dit ’n wet is wat bestaan het sedert vergange se dae, van die tyd van Melgisédek af, en dat dit steeds bestaan, alhoewel nou in veranderde vorm sodat die tiendes weer eens terugkeer na die geestelike leraars van God wat Sy werk vandag doen!

Enigeen wat dus in gebreke bly om tiendeheffing toe te pas, verbreek ’n belangrike wet van die Skepper­god! Dit is een rede vir so baie persoonlike en finansiële vloekeop ons land vandag!

Jesus Christus Self onderrig tiendeheffing

Jesus Christus het, as God van die Ou Testament, tiendeheffing onderrig. Onthou dat Jesus Christus die God van die Ou Testament isSoos die apostel Paulusaan die gemeentelede in Korinte verduidelik: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal die­­selfde geestelike spys geëet het, en almal die­selfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit die geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Kor.10:1-4). Later, in die­selfde hoofstuk, met verwysing na dieselfde tydperk, skryf Paulus: “En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom” (vers 9). Dit was dus Christus met wie hulle gehandel het in die Ou-Testa­mentiese tye! Die meeste teoloë besef dit, omdat daar so baie verwysings daarna is. Dit word egter deur die meeste van hulle “verklein” weens die implikasie dat dit dus Christus was wat die Tien Gebooie en ander wette daargestel het wat die “mo­der­ne kerkdom” verkies om nie te gehoorsaam nie!

Ja, Christus was die “Woord”, die goddelike “Segsman” vir die Vader, van die begin af (Johannes 1:1-10). Die “Woord”, wat later Christus geword het, is dus die Een wat Abraham gelei en geseën het in sy tiendeheffingaan God. “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Daarom moet ons niehierdie fun­da­mentele voorbeeld van tiendeheffing wat deur die “vader” van God se getroues daargestel is, ontken of gering ag nie!

Het Jesus Christus  hierdie gebruik in die Nuwe Testa­ment afgeskaf? Nee! Hy het dit nagevolg, so ook Sy Apostels! Hoewel sommige van die boeke in die Nuwe Testament selfs eers ná die vernietiging van die tempel in 70 n.C. geskryf is, vind ons egter geen skriftuurlike bevel om op te hou met tiende­heffing nie, en ook geen aanduiding dat die Apostels en die Kerk van die Apostels daarmee opgehou het nie!

Soos ons gesien het, is Jesus Christus  die “Woord” van God, die Een wat die Ou Testament geïnspireer het. As die Woord van God het Hy die wette, soos opgeteken in die Ou Testament, gegee en dit toe geestelik in die Nuwe Testament uitgebrei en verduidelik.

Sommiges sal steeds aandring: “Ons wil hê dat u vir ons enige direkte verklarings deur Christus aandui wat bewys dat Hy die wet op tiendeheffing goed­gekeur het”. Nou goed, u sal dit kry! Maar sal u dit dan glo? Sal u Hom dan gehoorsaam?

In gesprek met die skrifgeleerdes en Fariseërs, wat gereeld ’n vertoon daarvan gemaak het dat hulle met eiegeregtigheid streng by die fynere punte in God se Wet gehou het, sê Jesus: “Wee julle skrif­geleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barm­hartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen [hierdie swaarste van die wet] sonder om die ander [sorgvuldige tiendeheffing] na te laat” (Matt. 23:23).

Is dit duidelik genoeg? Jesus sê dat geestelike eien­skappe soos barmhartigheid en trou voorkeur be­hoort te geniet bo die sorgvuldige en getroue tiende­heffing op elke klein plantjie wat moontlik in u tuin mag groei – veral wanneer sodanige nou­keurigheid tot eiegeregtigheid lei. Christus sê egter “sonder om die ander na te laat” – om dus nie na te laat om u volle tiende te betaal soos God beveel het nie!

In Lukas 11:42 word dieselfde bevel op soort­gelyke wyse herhaal – deur God se Heilige Gees geïnspireer om ook hier geskryf te word!

Die mens sou daarvan hou om God se wet op tiende­heffing as die onbelangrikste te beskou. Waar Christus egter selfs van die fynere punte van God se Wet praat, sê Hy: “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Matt. 5:19).

Hoe duidelik! Wanneer ons egter na ’n argument soek, sal ons altyd een kry. As ons egter gewillig is om te “honger en te dors” vir geregtigheid en om selfs die fynere punte van God se Wet te gehoor­saam, sal ons geseënd wees deur dit te doen.

Inhoud


Hoofstuk 3: Word God beroof?

Wanneer ons die Ou Testament bestudeer, sal ons vind dat dit in der waarheid vir mense móóntlik is om “God te beroof”. Tog vind ons ook ’n fantastiese belofte wat God aan diegene wat Hom gehoorsaam, maak.

Rondom 586 v.C., is die Jode na Babilonië weg­ge­voer in ballingskap weens hul totale versuim om God te gehoorsaam. Onder hul grootste sondes was die ont­heiliging van die Sabbat, afgodediens en hul versuim om onderskeid te tref tussen rein en onrein (Eseg. 22:26), wat die versuim om tiendes te betaal, in­sluit. Die Jode het baie jare van swaarkry in die land van hul vyand deurgemaak vir hul onge­hoor­saam­heid, tot Babilonië uiteindelik rondom 539 v.C. deur die Persiese Ryk onder Kores die Grote omver­ge­werp is, en God dit in die hart van die oor­winnen­de koning geplaas het om ’n uitvaardiging uit te reik wat die Jode sou toelaat om na die Beloofde Land terug te keer. 
Kores het Serubbábel, die hervestigde volk se goe­wer­neur, sowat twee jaar later toegelaat om ’n groep Jode uit Babilonië na die Beloofde Land terug te lei. Hier­die verhuising het meer as 42,000 mans, asook talle meer vrouens en kinders (verwys Esra 2) inge­sluit, wat toe begin het om ’n nuwe tempel vir God te bou. Maar selfs nog vóór hulle die fondament gelê het, is hul werksaamhede gestaak weens teen­kanting van naburige leërs.

Die profeet Haggai het, sowat 15 jaar later, die finan­siële verknorsing waarin die Joodse volk hul be­vind het, verduidelik. Hul probleme, het hy ver­dui­delik, was ’n direkte gevolg van hul versuim om, deur tiendes en offergawes, ondersteuning te bied in die her­bouing van God se tempel – Sy Werk vir daardie tyd. Werk aan die tempel is rondom 520 v.C., op aan­drang van Haggai en die profeet Sagaria, hervat en in 516 v.C. voltooi – presies 70 jaar nadat die Jode in ballingskap weggevoer is.

Ná die Jode se terugkeer uit Babiloniese balling­skap, was een van hul grootste sondes dat hulle na­ge­laat het om tiendes aan God te betaal. Nehemia het egter, ten tye van sy goewerneurskap in die 440’s v.C., die mense begin vermaan om hul Skepper met ywer te gehoorsaam. Die gevolg was dat hulle “... by hulle broers, die vername manne onder hulle, aangesluit [het], en hulle het onder eed en met beswering hulleself verplig om te wandel in die wet van God, … en om te hou en te doen al die gebooie wat die Hereonse Here, en sy verordeninge en sy insettinge” (Neh. 10:29).

Onthou dat God se “insettinge”, tiendeheffing in­sluit. God se Woord leer ons voorts dat sy mense in die wêreld van môre in Sy “insettinge” sal wandel (Eseg. 36:27). God se wet op tiendeheffing is dus deur Abraham nagekom, deur Jesus Christus geldig ver­klaar en sal deur God se mense nagekom word selfs tydens die toekomstige duisendjarige heer­skappy van Christus!

Nehemia en die Jode het ooreengekom om: “… die tiendes van ons grond vir die Leviete [te bring], terwyl hulle, die Leviete, die tiendes sou invorder in al ons landboustede … want ons wou die huis van onse God nie laat verwaarloos nie” (Neh. 10:37, 39). Dit het voorgekom asof hulle ten volle vasberade was om nie die behoeftes van God se Werk en dié wat daarin gedien het, oor die hoof te sien nie. Die volk het ingestem dat hulle sou seker maak dat die priesters en Leviete die tiende ontvang wat aan hulle ver­skuldig was vir die diens gelewer aan mede-Israeliete.

Dit is egter betreurenswaardig dat meeste van die Jode, kort na Nehemia se hervormings, weer eens baie nalatig geword het in die onderhouding van God se wette en insettinge. Die verbreking van God se wet op tiendeheffing was in die besonder pro­blematies, soos duidelik in die boek van Maleagi wat in die laat 400’s v.C. geskryf is, onthul word.

Die Almagtige God vra hier by monde van die profeet: “Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!” (Mal. 3:8-9). Dit is vir dieselfde rede dat ons mense van vandag, net soos die Jode van ouds, onder ’n god­delike vloek is!

Baie mense versuim om te besef dat al die mens se ellendes – sy kopsere en sy hartseer, sy pro­bleme van misdaad en geweld, dwelmmisbruik en siektes – die direkte gevolg van die verbreking van die Almagtige God se wette is. Een van die wette wat die gereeldste verbreek word, is God se bevel om getrou tiendeheffing toe te pas. Wanneer mense on­ge­hoor­saam is aan hul Skepper deur Sy wet te ver­ont­agsaam, bring hulle ’n goddelike vloek op hulself!

Kyk na dít wat vandag in Suid-Afrika en onder ander volke van Britse afkoms gebeur. Daar is talle redes vir ons stygende nasionale en persoonlike skuld, waarvan die grootste die totale finansiële wan­bestuur en versuim is om “aan God [te betaal] wat God toekom” (Mark. 12:17)!

Soos ons vroeër gesien het, het Amerika byvoor­beeld die afgelope paar jaar van die grootste uitleen-nasie verander in die nasie met die grootste skuld. Ook dáár word aansoeke om bankrotskap by die miljoene ingedien. Onthou: volgens God se Woord is nasies wat nie hul tiendes betaal nie, onder ’n vloek. Is dit dus moontlik dat die reeds genoemde eko­nomiese probleme die direkte gevolg is van hierdie vloek wat ons oor onsself gebring het weens die ver­suim om die Almagtige God te gehoorsaam?

Maleagi 3 sê nie dat die priesters beroof word deur die versuim om tiendes te betaal nie. Dit word eerder duidelik gestel dat sulke optrede in der waar­heid daarop neerkom dat God beroof word! Dít is ’n baie ernstige saak in God se oë!

’n Belofte van seëninge

Die Skeppergod praat met almal wat Sy wet op tiende­heffing leer ken: “Bring die hele tiende na die skat­huis, sodat daar spys in my huis kan wees; en be­proef My tog hierin, sê die  Here van die leër­skare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uit­stort nie” (vers 10)!

Dit is nogal ’n groot uitdaging wat die Almagtige God aan almal rig wat van Sy wet van tiendeheffing te wete kom. Hy sê “beproef” Hom, d.w.s., toets Hom, probeer dit en u sal sien! Hierdie verse is niks minder nie as ’n plegtige belofte deur ons Skepper om diegene te seën watgetrou tiendeheffingtoepas; dié wat God hul finansiële Vennoot maak! Dit sê egter nie dat God tiendebetalers ryk sal maak nie!

God het Abraham wél met aardse rykdom geseën (Gen. 13:2). Ons weet dat Abraham tiendes be­taal het. God het Jakob ook geseën kort nadat hy plegtig onderneem het om aan Hom ’n tiende te be­taal (Gen. 30:43). God wil beslis hê dat dit met Sy mense “goed mag gaan en dat [hulle] gesond” sal wees (3 Joh. 2). Hy besef egter dat dit nie vir almal goed is om ryk te wees nie! (1 Tim. 6:9-10, 17-19). Par­ty mense kan rykdom eenvoudig nie hanteer nie. Nou, in die Nuwe-Testamentiese tydvak wat God mense roep tot geestelike bekering, sal Sy seëninge oor­wegend geestelik van aard wees – meer van Sy gees­telike krag, wysheid en liefde, asook die ewige lewe in Sy Koninkryk (sien 2 Pet. 1:5-11).

Indien ons egter getrou ons tiendes betaal, beloof God: “Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrug­baar wees nie … en al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees ...” (Mal. 3:11-12).

God versterk hierdie belofte in Spreuke: “Vereer die Here uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos” (Spr. 3:9-10).

Die Almagtige God beskik oor alle mag. Hy kan en sal enige persoon en alle nasies wat Hom gehoor­saam, seën en daardeur Sy plegtige belofte nakom dat Hy diegene wat getrou aan Hom die tiende gee wat Hom toekom, sal seën. Onthou, “God … kan [nie] lieg nie” (Tit. 1:2) en dat “die Skrif nie gebreek kan word nie” (Joh. 10:35)!

Wanneer ’n nasie getrou hul tiendes aan die Almagtige God betaal, beloof Hy om daardie hele nasie te seën. Selfs al sal die nasie in geheel nie tiende­heffing toepas nie, sal God uit beginsel deur Sy Woord verplig wees om elke individu wat getrou tiendes betaal, te seën!

Vir die meeste mense klink dit onlogies dat, deur van ’n gedeelte van “ons” geld afstand te doen, ons finansieel baie beter daaraan toe sal wees as wan­neer ons daaraan sou vashou. Tog is dit wat God sê! Bowen­dien vertel Hy ons: “Daar is een wat ruim uit­deel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sygebrek” (Spr. 11:24). Hier­die is ’n lewende wet. Glo u Bybel! Die weg van God is eg. Dit werk! Wat meer is, dit is vir u gemaak!

Inhoud


Hoofstuk 4: Doen U deel ten volle

Ja, Jesus Christus het tiendeheffing onderrig! Soos ons reeds gesien het, beveel Hy Sy Apostels om die nasies te “leer … om alles te onderhou wat Ek julle beveel het”. Hy beloof dan: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:19-20).

Indien ons dus God se seëninge en ’n lewe van oor­vloed wat Jesus Christus beloof het wil hê, moet ons God se tiende getrou betaal en ook al die ander dinge wat Hy ons geleer het, doen.

Onder hierdie ander leringe, wat verband hou met ons werk en sukses, sê Jesus: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Matt. 5:16). Ware Christene moet dus ’n voorbeeld vir andere wees in alles wat hulle doen.

Die Lewende Christus het die apostel Paulus geïnspireer om te skryf: “Diensknegte [of werkers], julle moet jul here [base of toesighouers] na die vlees in alles gehoorsaam wees, nie met oëdiens soos mense­behaers nie, maar in eenvoud van hart, omdat julle God vrees. En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” (Kol. 3:22-23).

Christus se Woord gee aan u hier die opdrag om u hele hart ten alle tyd in u werk te sit, of die baas in die omtrek is aldan nie! Dit word vir u gesê om dit in op­regt­heiden in alle erns te doen, asof dit vir God self gedoen word. Want, in der waarheid, doen u dit wel vir God! Die ware Christenlewe is een van “roeping” of beroep in die volste sin van die woord.

Wees YWERIG in u werk

God meld in Sy Woord: “Hy word arm wat met ’n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk” (Spr. 10:4). Is u werklik ywerig in u werk?

God sê weer: “Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer” (Spr. 13:11). Talle mense maak dees­dae hul bestaan uit waarna as ’n “grens”-beroep verwys kan word – soos om te dobbel, aan mense goed te verkoop wat hulle nie regtig nodig het nie of deur ’n onnodige wins as middelman te maak. God sê egter dat die fondament van blywende rykdom en Sy seën gegee sal word aan die een wat werk – die een wat werklik produktief is en iets bereik wat die moeite werd is!

Let nou op Spreuke 13:18: “Armoede en skande is vir hom wat die tug verwerp; maar hy wat die tereg­wysing in ag neem, word geëer”. Met hierdie spreek­woord gee God aan u die raad om ag te slaan op die op­dragte van dié wat oor u aangestel is by u werk asook in enige ander lewensituasie. Leer om die werk te doen soos u baas dit gedoen wil hê! Leer om aan­dagtig te luister, om te dink, om aan te hou groei in kennis en vaardighede by die werk!

’n Uiters belangrike beginsel vir die daaglikse lewe kom na vore in Spreuke 15:22: “Planne misluk sonder beraadslaging, maar deur die veelheid van raad­gewers kom dit tot stand”. Wanneer ’n groot vraag rakende u besigheid of plaas, of die verkoop van u huis of verandering van werk opduik, leer om raad te soek by verskeie bronne!Leer om die advies sorg­vuldig en objektief op te weeg en vra God vir Sy leiding en wysheid.

God beveel ten slotte: “Moenie die slaap liefhê, sodat jy arm word nie; maak jou oë oop, dat jy jou met brood kan versadig” (Spr. 20:13). Leer om vroeg op te staan, om ywerig te werk en produktief te wees in u werk of besigheid!

Gehoorsaam dan God se finansiële wet op tiende­heffing, erken dat alle krag en vermoëns waarmee u in u tipe werkproduktief is, alle hulpbronne waarvan u gebruik maak, alle voedsel wat u eet en suurstof wat u inasem om kragte te herwin – al hierdie dinge van God af kom. Hy vra slegs dat u Hom een tiende van u opbrengs in ruil daarvoor sal gee!

Wees FLUKS in diens aan die Lewende God!

Wanneer u eers u keuse om tiendeheffing toe te pas, gemaak het, moet u daarvan seker maak om u tiende aan God se verteenwoordigers wat Sy Werk doen en Sy boodskap preek, te gee! Net soos God u beveel om ywerig te wees in diens aan u menslike base, hoeveel te meer moet u ywerig wees in ge­hoor­saamheid aan u Skepper in hierdie finansiële wet?

Moenie begin dink dat u dit nie kan bekostig om tiendes te betaal nie. U kan nie bekostig om dit nie te doen nie!

God werk gereeld deur menslike instrumente. Hy sal deur u werk indien u uself aan Hom oplewer en Sy Koninkryk eerste in u lewe stel. Soos ons gesien het, was die wet op tiendeheffing deel van Christus se Evangelie. Dit moet sodanig aan die wêreld, en aan u, as ’n getuienis verkondig word.

Vra God vir wysheid, geloof en doelgerigtheid om Hom en Sy finansiële wet te gehoorsaam. Dit sal u noop om God eerste  te plaas. Dit sal u dwing om te begroot, om tebeplan, om u sake moontlik meer as van tevore te organiseer. Dit sal u daartoe lei om geloof te hê in u Skepper om Sy wette en beloftes gestand te doen.

God kan egter nie lieg nie. U sal dus vind dat dit “meer as moontlik” vir u is om tiendes te betaal! Wat meer is, wanneer u in liefde en geloof handel, sal die fisiese sowel as geestelike seëninge wat na u kant toe kom, so eg soos God self wees.

God se dienaar, Herbert W. Armstrong, het oor ’n ware lewensvoorbeeld geskryf van hoe God beslis ingryp en diegene wat tiendes betaal, seën:

“Dit was laat in 1933, in die hartjie van die de­pressie. Ed Smith was ’n boorman van be­roep, maar dit wou blyk dat niemand dit kon be­kos­tig om ’n boorgat te laat sink nie.

Ed en sy vrou Emma het dienste bygewoon wat ek op daardie stadium in ’n plattelandse enkel­vertrek-skoolgebou gelei het, sowat negen­tien kilometer wes van Eugene, Oregon. Ed het geen belydenis as Christen gedoen tot eers later nie. Hy het nogtans dienste byge­woon en heen en weer oor die platteland ge­wan­del en Bybelleerstellings met sy belydende Christen­bure bespreek.

‘Jy moet tiendes aan God betaal en Hom ge­hoor­saam’ het hy aangedring. ‘Die Bybel sê so. Dit is duidelik!’

Een van sy bure het geïrriteerd geraak met hom. ‘Kyk hier, Ed’, het die buurman ontplof. ‘Waar­om kom jy hier na my toe en praat oor al hierdie dinge as jyself nie die Bybel gehoor­saam en tiendes betaal nie?’

‘Omdat’, antwoord Ed vinnig, ‘ek nie ver­kon­dig dat ek ’n Christen is nie, maar jý wel. En wat meer is’, gaan hy voort, ‘ek kan dit in elk geval nie bekostig om ’n tiende te betaal nie’.

Daar is duisende mense wat, net soos Ed, met hul verstand redeneer dat hulle dit nie kan be­kostig om tiendeheffing toe te pas nie, selfs al besef hulle ook soos Ed dat die Bybel dit be­veel.

Ek het van bogenoemde gesprek te hore ge­kom en ’n preek gelewer oor die vraag of onbe­keer­des die Tien Gebooie behoort te onderhou en tiendeheffing toe te pas, of, soos Ed gere­de­neer het, hierdie dinge slegs vir Christene was. Ek het daarop gewys dat God se wette in aksie ge­stel is vir die mens se beswil – dit is die lewens­wegwat vrede, geluk, voorspoed, ’n vol lewe van oorvloed en interessanthede, sukses en geluk bied, nou en hier, sowel as tydens die ewige lewe wat deur Christus gebied word aan dié wat gered is.

Ek het daarop gewys dat dit lonend is en dat dit die enigste verstandige lewensweg is, totaal af­sonderlik beskou van die kwessie van redding, en dat, selfs al gaan ’n persoon uit­eindelik verlore, hy wat min gesondig het, ge­straf sal word met min houe. Ek het God se be­lofte dat Hy die tiendebetaler sal seën, uitge­wys; dat dit ’n besliste wet is wat God ingestel het wat onvermydelik en outomaties op die reg­ver­dige sowel as die onregverdige inwerk.

Ed het begin om die Bybel te gehoorsaam. Met die daaropvolgende diens – ons het op daar­die stadium drie keer per week dienste by die klein skoolhuisie gehou, en drie ander aande per week in ’n saal in die onderste deel van Eugene – het mev. Smith glimlaggend aan my ’n eendollarnoot oorhandig.

‘Dit is Ed se eerste tiende’, sê sy triomfantlik. ‘Ons het nou net $10 oor en Ed het besluit om ’n tiende te betaal op dit wat ons beskikbaar het’.

Met die volgende diens kom sy weer na my toe met nog ’n gelukkige glimlag.

‘Hier is ’n vyfdollarnoot’, sê sy. ‘Net die dag na­dat Ed ’n tiende van wat hy gehad het aan God se Werk gegee het, het ’n kliënt wat hom reeds ’n jaar lank $50 skuld, dit kom vereffen. So, hierdie is die tiende van daardie $50. Nadat ons in totaal $6 in tiendes betaal het, het ons nou $54 oor teenoor die $10 wat ons die ander dag gehad het’.

Dit het begin vrugte afwerp! Maar dit was net die begin! Soos ek kan onthou, het Ed met die daaropvolgende diens sy eerste bestelling in ’n jaar of twee gekry om ’n boorgat te sink waar­voor hy in kontant betaal is. Voordat die werk afgehandel is, het hy ’n volgende kontrak beding. Nie lank nie, of daar kom drie tot vier werks­geleenthede gelyktydig na sy kant toe. Dit het aanleiding daartoe gegee dat hy werkers in diens moes neem om vir hom te werk.

Ed Smith is egter een van talle wat ek geken het wat uit ondervinding geleer het dat ’n mens nie kan bekostig om nié die tiende wat aan God behoort, aan Hom te betaal nie! Ek ont­hou dat Ed Smith wel later probleme van ’n ander aard ondervind het; dat sy vrou en seun na die staat se teringhospitaal gestuur is en dat hy uiteindelik tot ware bekering gekom en Jesus Christus  as sy Verlosser aanvaar het. Hy het na my gekom, volgens die bevel in Jakobus 5:14. Beide sy vrou en seun het heel­temal gesond geword en teruggekeer huis toe.

Hierdie is ’n ware verhaal en die name is nie fiktief nie. Ed Smith is jare gelede dood, maar ek onthou met blydskap hierdie gebeure in sy lewe en hoop dat dit talle ander mense op die regte en lonende, sowel as op die Christelike lewens­weg, sal plaas”.

Ons moet almal uit die boonste vertelling leer. Soos ons gesien het, sal u ook die direkte Nuwe Testamentiese leringe van Jesus Christus volg waar Hy sê dat ons “hierdie dinge behoort te doen sonder om die ander [tiendeheffing] na te laat” (Matt. 23:23)! Ons Hemelse Vader wil hê dat almal van ons vrygewig en opreg met ons tiendeheffing en met ons offerandes sal wees. Hy inspireer die apostel Paulus om te skryf: “Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. Laat elk­een gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of met dwang nie, want God het ’n bly­moedige gewer lief. En God het mag om alle genade oorvloedig op julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk” (2 Kor. 9:6-8).

Onthou dat die Grote God wat ons dien, “by magte” is om u die “kanse” te gee; om u te seën sodat u “oorvloed” tot elke goeie werk kan hê (vers 8). Ja, tiendeheffing behels geloof dat God daar is; dat Hy Sy geïnspireerde Woord gestand sal doen en dat Hy sal doen wat Hy gesê het Hy sal.

Namate die wolke donkerder saampak op die wêreld­horison en volke al meer fisiese en finan­siële probleme van elke denkbare aard ondervind, is dit van groot belang dat u die Skeppergod aan u kant het. Hy beloof altyd om u op te pas indien u Hom dien en gehoorsaam. Hy sal seker maak daar­van dat u altyd genoeg sal hê om van te leef. Wan­neer ander hongersnood ervaar of geweldige swaar­kry ondervind, beloof die God van die Bybel aan Sy getroue dienaars: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Heb. 13:5).

Kom sluit dus vir u eie beswil aan by die duisende wat daarop vertrou dat God Sy beloftes gestand sal doen! Betaal aan die Skepper van hemel en aarde die “tiendes” wat u Hom skuld, tesame met ruimskootse offerandes, en ervaar hoe Hy toenemend “eg” word in u lewe namate u Hom werklik dien en gehoorsaam.

Inhoud


Hoofstuk 5: Help andere soos God u help

Wanneer ons die tiendes en offergawes betaal wat God beveel, bring ons nie slegs seëninge vir ons­self mee nie; ons stel God ook in staat om ons te gebruik om ander mense te seën. God gebruik ons tiendes om aan ander mense te voorsien en om aan hulle Sy broodnodige Waarheid te gee. Deur dus ywerig tien persent van ons opbrengs aan God terug te gee, word ons verplig om aan andere te dink, eer­der as om alles selfsugtig vir onsself terug te hou (Fil. 2:4-5). Christus sê: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35).

Wanneer ons dryfveer die begeerte is om ander te dien, ontwikkel ons ’n vrygewige, mededeelsame, besorgde en gulhartige gees. “Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf” (Spr. 11:25). Dit beteken dat ons nie “met droef­heid of uit dwang [moet gee] nie, want God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Kor. 9:7)! Tiendeheffing is natuurlik “gedwonge”, maar ons dryfveer moet bo dit uitstyg – dit moet wees om blymoedig en uit vrye wil vir God te wil behaag en andere te help.

Christus het die volmaakte voorbeeld gestel deur ge­willig te wees om alles, insluitende Sy lewe, vir ons te gee: “Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was [Hy en die Vader besit alles!], ter wille van julle arm ge­word het [deur ’n mens te word], sodat julle deur Sy armoede ryk kan word” (2 Kor. 8:9). Die Almagtige God is die Groot Gewer van elke goeie en vol­maakte gawe (Jak. 1:17). Wat beloof die Ewige God aan elke persoon wat sy selfsugtige menslike natuur oorwin? “Hy wat oorwin, sal alles beërwe [die ganse heelal met al sy rykdom]” (Op. 21:7). Ons moet die hoofsaaklik selfsugtige gedagtegang wat so natuurlik voorkom, te bowe kom en leer om werklik om te gee vir die geluk en welstand van ander mense (Mark. 12:31). Ja, ons kan ’n seën vir ander mense wees!

Een belangrike wyse waarop God andere seën, is deur u voorbeeld. Ander mense mag moontlik weet dat u ’n tiendebetaler is en hulle kan sien dat u leer om liefde en ontsag te hê vir u Skepper en dat u Hom wil gehoorsaam en dien. Hulle sal ook sien dat u geseën word, moontlik selfs met aardse dinge, maar beslis geestelik; dat u nader aan God beweeg deur geloof en gehoorsaamheid. Dit is dikwels deur u positiewe voorbeeld dat andere geïnspireer word om op dieselfde pad te loop sodat hulle dieselfde seëninge kan ervaar.

Nog ’n noodsaaklike les wat tiendeheffing ’n mens leer, is ware nederigheid en opregte gehoor­saamheid aan ons Skepper. Deur tiende­heffing erken ons dat God ons Regeerder en daarom die ware Eienaar van alles is (Deut. 10:14). Per slot van rekening besit ons sterflinge nie eintlik enigiets nie! Ons is slegs opsigters of bewaarders van ’n bietjie van God se eiendom.

Deur getroue tiendeheffing leer ons nog ’n be­lang­rike les, naamlik geloof. Dit verg ware geloof om te glo dat God bestaan en dat Hy “’n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6). Dit verg geloof om God te gehoorsaam, veral wanneer dit voorkom asof ons “nie kan bekostig om tiende te betaal nie”. Soos ons reeds gesien het, beloof God om ’n “oorvloedige seën” op ons uit te stort (Mal. 3:10), wanneer ons Hom op die regte wyse “beproef”!

Deur geloof in God uit te oefen, word ons toe­nemend sterker – in staat gestel om ons sondes daag­liks te bemeester – en om sodoende ons kanse te vergroot om pilare in Sy ewigdurende Konin­kryk te word (vgl. Op. 3:12). Dit beteken natuur­lik nie dat ons ons saligmaking kan verdien of deur ons­self enigiets kan doen wat werklik “goed” is nie (vgl. Matt. 19:17; Rom. 3:10-12). Wanneer ons goeie werke egter gedoen word deur die inwonende krag van die Heilige Gees – die wyse waarop God ín ons woon – dan volg ons waarlik in Jesus se voetspore! Christus sê dat selfs Hy uit Homself niks kán doen nie (Joh. 5:19, 30; 8:28).

Verder sal ’n geloofvolle lewe nog meer geloof in ons tot gevolg hê! Ons sal God meer vertrou. Ons sal ophou om ons te bekommer en te verknies oor ons persoonlike finansies omdat ons die woorde van Jesus Christus absoluut sal glo: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, ... of wat sal ons aantrek nie? … want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het [basiese lewens­behoeftes]. Maar soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle byge­voeg word.  Kwel julle dus nie oor môre nie ...” (Matt. 6:31-34). Watter wonderlike gemoedsrus sal ons nie beleef as ons ten volle op God vertrou nie (Fil. 4:6-7).

As ons gereeld die tiende van ons inkomste vir gebruik in God se Werk opsy gesit het, sal ons gou besef dat ons kan leef op die oorblywende deel. Dit vereis natuurlik om sorgvuldig te begroot en finan­siële dissipline aan die dag te lê! God sal ons ook op ander maniere help. Baie Christene is al ver­stom deur die rare geleenthede, onverwagse afslag of ander “seëninge” wat hul paadjie kruis nadat hulle getrou begin het om hul tiende te betaal.

Jesus Christus, ons Heer en Redder, sê: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Matt. 6:19-21).

Jesus leer ons om mildelik van ons “skat” te gee. Onthou dat dit ook Hy was wat gesê het: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang”. Hy het die arm weduwee wat ruimhartig gegee het by God se skatkis in die tempel in Jerusalem, hoog aangeprys. “En toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hul gawes in die skatkis gooi. En Hy het ook ’n arm weduwee daar twee geldstukkies [van min waarde] sien ingooi. En Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm wedu­wee meer as almal ingegooi het. Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe” (Luk. 21:1-4).

By ’n ander geleentheid sê Jesus: “Gee, en aan julle sal gegee word. ’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word” (Luk. 6:38)! Christus beveel ons duidelik dat ons moet gee. Daardie bevel kom ook met ’n belofte dat, indien ons wél gee, ons veel meer terug sal ontvang. God beloof om diegene te seën wat met die regte gesindheid van liefde en spon­tane besorgdheid getrou hul tiendes en vry­willige offergawes aan Hom en Sy Werk gee.

Ons motief vir vrygewigheid moet nooit self­verheffing wees nie. Ons moet nie “gee” met die uit­sluit­like doel om ’n goeie rente op ons “belegging” te ont­vang nie, soos die valse “evangelie van rykdom en voorspoed” lui wat deur sommige predikante ver­kondig word nie. As ons egter met ’n rein en vryge­wige hart gee, dan sê God dat Hy ons sekerlik sal seën.

Die apostel Paulus het vir Timotheus gesê: “Be­veel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoog­moedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te ge­niet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ’n skat weglê, ’n goeie fondament vir die toekoms, so­dat hulle die ewige lewe kan verwerf” (1 Tim. 6:17-19).

Indien ons die ware Werk van God in hierdie tyd getrou ondersteun met tiendes en offergawes, en as ons gewillig finansiële en ander ondersteuning (dit is aalmoese) bied aan die behoeftiges wat ons teëkom, sal die Almagtige God daardie goeie werke as ewige skatte reken wat opgehoop word in die “Bank van die Hemel”. Deur ons getroue gehoorsaamheid aan God, sal Sy Werk gedoen word, en Sy Evangelie sal deur die hele wêreld verkondig word!

As ons getrou “aan God wat God toekom” (Matt. 22:21) betaal, beloof Hy om ons in hierdie lewe te seën! Tiendes wat met ’n goeie gesindheid betaal word, sal u lewe nou op baie wyses positief kan beïnvloed, maar soveel te meer tot in alle ewigheid in die wêreld van môre! Dan sal diegene wat almal getrou tiendes van hul “rykdom” betaal het, dít waarna Paulus verwys het as die “onnaspeurlike rykdom van Christus” (Ef. 3:8), ten volle verstaan. Verseker sal niemand graag oorgeslaan wil word nie!

Inhoud


Hoofstuk 6: Waarheen moet u God se tiendes stuur?

Dit is noodsaaklik dat u God se tiendes aan Sy ware verteenwoordigers sal stuur! Namate die einde van hierdie tyd aanbreek, sal hulle Christus se op­drag met toenemende krag uitvoer. Hulle sal die Goeie Nuus van die komende Koninkryk of Regering van God verduidelik.

Sonder vrees of aansien sal hulle die wette van daar­die Koninkryk verduidelik. Hulle sal die honderde profesieë wat na hierdie eindtyd verwys, duidelik ver­staan­­baar maak. Deur God se Gees sal slegs hulle definitief en spesifiek wees oor die geweldige ge­beure wat binnekort op hierdie aarde sal plaasvind!

Jesus het profeties gepraat van hierdie wêreld­wye Werk wat Sy leraars in hierdie eindtyd sal uit­voer: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal ver­kon­­dig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14).

Dit is nodig dat u dit naspeur en aan uself bewys dat die Wêreld van Môre-radioprogram en die Wêreld van Môre-tydskrif, Christus se opdrag uit­voer! In­dien dit nog nie vir u duidelik is nie, wees dan net son­­der vooroordeel en laat die vrugte aan u bewys waar die Almagtige God nou eintlik werk!

God se ware leraars is vandag êrens op aarde. Trouens, hulle sal deel wees van die ware Kerk (ge­meen­te) van God, wat 12 keer in die Nuwe Testa­ment die “gemeente of Kerk van God” genoem word (sien Hand. 20:28; 1 Kor. 1:2; 15:9; 1 Tim. 3:15, ens). Hierdie getroue leraars sal God se opdrag aan sy ware dienaars gehoor­saam: “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ’n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes” (Jes. 58:1).

Hulle sal veral die Amerikaanse en Britse afstam­melinge – die direkte afstammelinge van die “Verlore Tien Stamme van Israel (wat Suid-Afrikaners insluit) – waarskudat die komende Groot Verdrukking hoof­saaklik tot hulle gerig sal word, tensy hulle hul be­keer (Eseg. 33:1-7). In wat essensieel ’n opdrag so­wel as ’n tweeledige profesie is – gedeeltelik maar nie ten volle vervul tot die eindtyd nie – het Jesus Sy dienaars meegedeel: “En julle sal deur al­mal gehaat word ter wille van My Naam. Maar wie vol­hard tot die einde toe, hy sal gered word. En wan­neer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe. Want voorwaar Ek sê vir julle, julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaarkry voordat die Seun van die mens kom nie” (Matt. 10:22-23).

Daarom, hoewel hulle klein in getalle sal wees (die “klein kuddetjie” van Lukas 12:32), sal God se Kerk in die eindtyd ’n kragtige boodskap verkondig wat erge vervolging sal meebring. God se mense sal min in getalle wees, maar hulle sal toenemend herken word as gevolg van die kragtige boodskap wat hulle verkondig. Hulle sal definitiefnie in die mid­de van die “hoofstroom” kerke wees wat versigtig in die samelewing wegsmelt nie. Hulle sal deur “die stede van Israel” (Matt. 10: 23) gaan met God se waar­skuwingsboodskap en die nabye koms van Sy Konin­kryk verkondig deur middel van die radio, televisie, die Internet en publikasies aan die mense van Suid-Afrika, Amerika, Kanada, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland en regdeur die ganse wêreld!

Waar word daardie kragtige boodskap vandag met toenemende krag verkondig? Wie het beide die begrip en die moed om ons moderne samelewing en sy georganiseerde “kerksheid “ uit te daag met die volle en onafgewaterde boodskap van die Bybel?

Soek en kyk waar die Bybelse Waarheid duidelik en eenvoudig gemaak word. Bepaal positief vir uself (Hand. 17:11) waar die ware Goeie Nuus oor die Wêreld van Môre (die Koninkryk van God) verkondig word! (Matt. 24:14). Vind uit wie dit is wat die wêreld waarsku teen die spesifieke, belangrike profetiese gebeure wat nou begin om lewe te raak! Die belangrikste vir uself is egter om daardie Werk te vind wat aan u sal wys hoe om die vernietiging tydens daardie selfde geprofeteerde gebeure, vry te spring. Wees op die uitkyk vir die Werk wat God vandag gebruik om die antwoorde op u toekoms te bring!

Hierdie is tog u lewe, u enigste lewe! Indien u die moeite sal doen om dit met ’n oop gemoed aan uself te bewys, kan u weet waar God werk!

Baie van u het, nes ek, in ’n “hoofstroom” kerk groot­geword. Daar is, uit die aard van die saak, “goeie” mense in daardie kerke. Hul hoogs opgeleide leraars is gewoonlik goeie sprekers met ryk, soet­vloeiende stemme. Daar is mooi musiek en die glans­rykheid is indrukwekkend.

Word die ware begrip van God se uiteindelike doel vir ons lewens egter duidelik gemaak in hierdie kerke? Word die spesifieke wette van God en die lewens­wyse wat Jesus Christus en die Apostels ver­kondig het, onderrig en toegepas? Word daardie nood­saaklike kwart van God se Woord – Bybel­profesie – duidelik gemaak en verkondig as ’n “ge­tuienis”?

God se ware leraars laat Sy Werk voortgaan. Hulle verteenwoordig Hom en dit is aan hulle, as Sy ver­teenwoordigers, wat u tiendes moet betaal en met bly­moedigheid offerandes moet gee. God gee dan aan hulle leiding om Sy geld vir Sy Werk aan te wend. Kom help die mensdom! Hierdie kwynende wêreld het dit dringend nodig om met God se volle Waarheid bereik te word! Dit benodig die begrip oor die doel van ’n mens se bestaan, van die groot lewende wette van die lewe, die besliste gepro­feteerde gebeure wat binnekort in ons leeftyd sal plaasvind asook die betekenis van al hierdie dinge! Dit is presies waaroor hierdie Werk van God gaan!

Inhoud


Hoofstuk 7: Die oorvloedige lewe wat God u toewens

Belydende Christene en andere wat hoop op ’n lewe na die dood, mag hulself troos met die belofte vir ewigdurende geluk en vreugde in die hier­namaals. In hierdie lewe laat die vrees vir finansiële ondergang of bloot die daaglikse frustrasies om die wolf van die deur te hou, vele mense egter ge­frustreerd, onvervuld en sonder hoop! Tog sê Jesus Christus self: “Ek het gekom, dat hulle lewe en oor­vloed kan hê” (Joh. 10:10). Die apostel skryf aan die Christene van sy tyd en sê: “Ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is” (3 Joh. 2).

Maak geen fout nie! Ons verkondig nie ’n evan­gelie van “voorspoed” of “gesondheid en welstand” nie. Die presiese fokus van God se lewenswyse is nie hoe om te “kry” nie, maar eerder hoe om te “gee” en daardeur te leer hoe om in ware vrede en rustig­heid, gevul met entoesiasme en vreugde te leef! Nietemin seën God en gee Hy materialistiese voorspoed aan diegene wat Sy wette van finansiële sukses behoorlik nakom.

Indien ons getrou ons tiende betaal en ons deel doen, sal die grote God vir wie ons dien, ons nooit in die steek laat nie! Ons hemelse Vader sal altyd in ons ware behoeftes voorsien. Hy sal nooit toelaat dat ons finansieel ten gronde gaan en haweloos of ver­hongerd sal wees nie. Dit mag nie eens ’n moont­likheid blyk te wees nie, maar namate die gebeure wat Jesus spesifiek voorspel het, begin plaasvind – in­sluitende droogte, hongersnood en siekte­epidemies (Matt. 24:7; Op. 6:5-8), sal die belofte van God se seën en beskerming baie aanloklik begin lyk!

Koning Dawid van Israel is geïnspireer om te skryf: “Deur die Here word die gange van ’n man bevestig, en Hy het ’n welbehae in sy weg. As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die Here ondersteun sy hand. Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie” (Ps. 37:23-25). Omdat ons God en Verlosser “gister en vandag dieselfde [is] en tot in ewigheid” (Heb. 13:8), het God Homself daartoe verbind om Sy getroues te versorg ge­durende swaar tye wat voorlê. Hoe noodsaaklik is dit nie dat ons ons Skepper ten volle gehoorsaam nie!

Daar is ook belangrike geestelike voordele aan verbonde. Vir ’n regte verhouding met God, is dit belangrik dat ’n mens jou gedagtes vrymaak van vrees, twyfel en kommer. ’n Eindelose geknies oor hoe om die volgende huis- of voertuigpaaiement by te bring, veroorsaak dat ons selfgesentreerd raak en nie in staat is om waarlik op God en dít wat Hy ons wil leer, te fokus nie. Die bekommernis en angs oor geldsake is ’n vyand van geloof in God (vgl. Matt. 6:24-34; Luk. 12:13-34). Geloof in God, in­sluitende geloof in Sy bewese en egte beginsels, is ’n integrale deel van die ware oplossing vir ons finansiële beproewinge.

Ongelukkig is die meeste mense onbewus daar­van dat God enigiets belangrik te sê het oor ons per­soon­like finansies. Daardie algemene onkunde, te­same met onverstandige spandeergewoontes, is hoof­saaklik die rede waarom baie mense skaars die tering na die nering sit. Hul fondse blyk onvoldoende te wees vir meer as net om aan die lewe te bly. Dit is ook deel van die rede waarom so baie mense vasge­vang is in groot persoonlike skuld en nie in staat blyk te wees om hul van daardie beklemmende nagmerrie te bevry nie! Sulke mense gaan dikwels gebuk onder depressie en selfbejammering.

Maar soos u reeds in hierdie boekie gesien het, is daar wel ’n uitkoms! Daardie uitkoms verg egter geloof in God en onderworpenheid aan Sy gebooie (Ps. 19:8-12). Ongelukkig dink baie mense dat onder­werping aan God gelyk is aan ’n lewe onder tirannie, terwyl die teenoorgestelde egter waar is! “Sy gebooie is nie swaar nie” (1 Joh. 5:3)! God se weg is altyd bevrydend; dit bevry ons van verdrukking en swaarkry. “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Matt. 11:28-30).

Ons finansiële laste is geen uitsondering nie. In­dien u in ’n diep finansiële groef beland het, of dit in die toekoms wil vermy, moet u ag slaan op God se op­dragte. U lewe sal sodoende merkwaardig geseën wees en God sal u gevolglik help om enige finansiële probleme wat u in die gesig staar, op te los!

Ter opsomming, is ons nou definitief in die geprofeteerde “laaste dae” van hierdie wêreld se samelewing soos ons dit ken (2 Tim. 3:1). Die lewende Christus gaan binnekort kom om die regerings van hierdie wêreld oor te neem (Op. 11:15). God roep nou ’n paar duisend individue wat gewillig is om onder Christus te dien in Sy komende wêreldregering. Hy “toets” Sy mense om te sien op wie Hy werklik kan staatmaak – diegene wie se harte werklik vandag in Sy diens en Werk is. God onthul dat Hy ons gebede hoor “omdat ons Sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Joh. 3:22).

In die gedagtes van ’n eerlike Bybelstudent moet daar geen twyfel wees of die betaling van tiendes aan God en Sy Werk enigsins “welgevallig” voor God is, aldan nie! Nog lank voor die “wet van Moses” het Abraham tiendes betaal en dit was definitief vir ons ’n belangrike voorbeeld, omdat Abraham bekend staan as die “vader van die getroues”, die einste tipe persoon wie se voorbeeld ons almal moet navolg.

As deel van ’n profesie wat die gaping tussen die Ou- en Nuwe Testament “oorbrug”, geplaas in die heel laaste boek van die Ou Testament en wat die aandag fokus op die Nuwe Testament, inspireer God die profeet Maleagi om ons te vertel: “Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In dietiendes en die offergawe” (Mal. 3:8). Diegene wat probeer om by tiendeheffing verby te kom en hierdie eenvoudig duidelike vermaning ignoreer, gaan geskud word tydens die dag van God se wraak!

Ten slotte, toe een van die persoonlikhede van God Homself “ontledig” het (Fil. 2:7) en afgekom het aarde toe, het Hy gesê dat ons moet leer om “die reg, die barmhartigheid en die trou” te beoefen, “sonder om die ander [tiendeheffing] na te laat” (Matt. 23:23). Kan u dit waag om ongehoorsaam te wees aan hierdie direkte opdrag van die Seun van God? Kan u dit waag om God se wet aangaande tiendeheffing “na te laat”?

Namate hierdie huidige wêreld tot ’n einde kom en die God van die hemel op die aarde neerkyk om te onderskei watter manne en vroue Hom waarlik vrees en ’n diepgaande respek vir Hom en Sy wette het, is dit te betwyfel of Hy baie geïnteresseerd is in die slinkse redenasies van vleeslike mense wat Sy opdrag om tiendes te betaal, probeer omseil. Ons Skepper leer ons eerder: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir My woord” (Jes. 66:2).

Mag God gee dat elkeen van ons ’n waarlik gewillige hart en verstand sal hê, sodat ons voortdurend daarna sal streef om te sien hoe naby ons aan God kan wees en nie hoe naby ons aan die rand van die afgrond kan kom sonder om af te val nie. Laat elkeen van ons in gebed vasstel hoeveel ons kan doen om te help voorberei vir God se Koninkryk en om Sy boodskap na hierdie kwynende wêreld te stuur.