Beskawings oor die hele wêreld heen het verander namate een godsdiens versprei het en ’n impak op elke kultuur gehad het waarmee dit in aanraking gekom het.

Jesus Christus het Sy Kerk in 31 n.C. gestig om Sy leerstellings en Sy boodskap van die toekomstige Koninkryk van God aan die wêreld uit te dra (Matthéüs 28:19-20). Diegene wat deel van hierdie beweging was, is “Christene” genoem (Handelinge 11:26). Dit was egter nie lank voordat ’n element van daardie geloof op beduidende maniere van die leerstellings van Jesus begin afwyk het nie (Judas :3). Die godsdiens wat uit hierdie afwyking gegroei het – die ineenvloei van Bybelse leerstellings en gebruike van Jesus met onbybelse leerstellings en gebruike van buite die Bybel – het uiteindelik die gesag en invloed van Rome verkry asook die openbare etiket van “Christelikheid”.

Die samevloei van Bybelse begrippe en heidense idees wat hierdie wêreldwye, belydende Christelikheid verteenwoordig, sowel as die merkwaardige wyse waarop God die suiwer geloof en leerstellings van ware Christenskap onder ’n klein kudde bewaar het, sal die onderwerp van toekomstige artikels in hierdie reeks wees. Die geskiedkundige rekord is duidelik: Die gemengde godsdiens wat Christus se naam oorgeneem het, het ’n geweldige uitwerking op die beskawing gehad wat tot vandag toe nog regoor die wêreld ondervind word.

Die verandering van die Romeinse Ryk

So ’n impak het gou in die Romeinse Ryk self posgevat. Die voormalige professor in sosiologie, dr. Alvin Schmidt, maak melding van Elwood Cubberly se waarneming dat die Bybelse leerstellings van Jesus Christus “byna alles waarvoor die Romeinse wêreld gestaan het” bevraagteken (How Christianity Changed the World, Schmidt, bl. 44). Dr. James Kennedy skryf: “Voor die invloed van Christelikheid was lewe waardeloos ... In daardie dae was aborsie algemeen. Om kinders weg te gooi was algemeen: Dit was alledaags om sieklike, gebreklike of ongewenste kindertjies na die woud of berge te neem om deur wilde diere verslind te word of om van die honger te sterf ... Hulle het dikwels vroulike babas weggegooi omdat vroue as minderwaardig beskou was” (What If Jesus Had Never Been Born?, bll. 9-11).

Die Romeine het wreedaardige gladiatoragtige wedstryde georganiseer waar duisende slawe, veroordeelde misdadigers en krygsgevangenes mekaar verskeur en vermoor het tot die vermaak van juigende skares. Romeinse skrywers dui aan dat “seksuele aktiwiteite tussen manne en vroue hoogs verwarrend en hoofsaaklik pervers geword het voor en gedurende die tyd wat Christene in die Romeinse samelewing verskyn het”. Homoseksualiteit was wydverspreid onder die heidense Grieke en Romeine, veral tussen mans met seuns (Schmidt, bll. 79-86). Vroue is na ’n laer status in die samelewing verban, waar hulle min skoolopleiding ontvang het, nie in die openbaar toegelaat was om te praat nie en as die eiendom van hulle mans beskou was (Schmidt, bll. 97-102).

Namate belydende Christelikheid in die streek versprei het, het daardie dele van die leerstellings wat met die Bybelse waarhede ooreengestem het, ’n groot impak gehad. Heidense gebruike is met Bybelse beginsels gekonfronteer ten opsigte van vroue se status en die belangrikheid van die gesin (Efésiërs 5:22-33; 6:1-4), die heiligheid van menslike lewe soos dit na die beeld van God geskape is (Génesis 1:26) en die sondigheid van seksuele onsedelikheid en homoseksualiteit (1 Korinthiërs 6:9-10). Uiteindelik het Romeinse keisers selfs ’n verbod op die brandmerk en kruisiging van misdadigers geplaas en ’n einde aan die wrede gladiator kragmetings gemaak wat vir byna sewe eeue gefloreer het – een van die belangrikste hervormings in die morele geskiedenis van die mensdom is toegepas (Schmidt, bll. 63-65). In die woorde van die geskiedkundige, Christopher Dawson, het die veranderings wat deur die verspreiding van hierdie idees bewerkstellig is, “die begin van ’n nuwe era in wêreldgeskiedenis” gekenmerk (Religion and the Rise of Western Culture, bl. 25).

Sodanige veranderings was nie net tot die Weste beperk nie. Die invloed van Bybelse beginsels het sutti in Indië afgeskaf. Dit was die gebruik om ’n weduwee op die brandstapel van haar gestorwe man te verbrand. Dit het ’n einde gemaak aan die moord op vroue en byvroue wanneer stamhoofde in Afrika gesterf het, kannibalisme is ontmoedig en het gehelp om wêreldwye slawehandel in die 1800’s te beëindig (Kennedy, bll. 16-17).

Verandering is nie altyd vrywillig nie

Terwyl dit sommige van die Bybelse leerstellings in sy doktrines en kategismusse bevat het, was hierdie “Christelikheid” ’n saamgesmelte godsdiens. Dit het Jesus se Bybelse leerstellings met die oortuigings, gebruike en gesindhede vermeng van heelwat volke wat dit wou “verander”.

Baie van dieselfde geleerdes wat die voordele ingesien het van dit wat deur belydende Christelikheid na die wêreld gebring is, het ook besef dat hierdie toenemende invloed dikwels deur uiters onbybelse en onchristelike maniere tot stand gebring is. Die geskiedenis van bewegings soos die Spaanse Inkwisisie, wat Jode en Moslems in Europa en elders met geweld deur pyn en marteling bekeer het, kan nie ontken word nie. Jesus leer sy volgelinge: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het” (Johannes 18:36). Die godsdiens wat in Sy naam versprei is, het egter anders daaroor gedink en die kruistogte en ander militaristiese pogings is van stapel gestuur om ruimte te skep sodat hulle invloed kon toeneem.

Verbranding op die brandstapel, onthoofding, galgdood en ander teregstellings van ketters en diegene wat nie bereid was om hulle te bekeer nie, was kenmerkend van die Rooms-Katolieke sowel as Protestantse neigings van die belydende Christendom (Schmidt, bl. 293). Die godsdiens wat die wêreld verander het mag dalk in naam “Christelik” gewees het, maar dit was nie werklik die godsdiens wat deur Jesus Christus gevestig is nie.

Die impak op die moderne wêreld

Die impak van daardie godsdiens is vandag nog steeds in die Westerse beskawing waarneembaar. Geskiedkundiges van belydende Christelikheid het opgemerk: “Teen die Middeleeue het Christelikheid die Westerse kultuur gevorm en dit sal voortgaan om kulture te beïnvloed waar [die leerstellings] ookal versprei word” (Seven Revolutions, Aquilina & Papandrea, bll. 6-7). Die welwillendheid wat deur Bybelse leerstellings aangemoedig word (bv. Lukas 10:30-37), het uiteindelik gefloreer in hospitale, weeshuise, tehuise vir bejaardes, die versorging van armes, diegene wat honger ly en die wat haweloos is. (Schmidt, bll. 147-148). Selfs heelwat van die grootste en mees vooraanstaande universiteite van ons dag is oorspronklik vir “Christelike” doeleindes gestig (Kennedy, bl. 40).

Terwyl kritici beweer dat Christelike godsdiens die groei van wetenskap belemmer, dui die geskiedenis anders aan. Dr. Rodney Stark, ’n professor in sosiologie en vergelykende godsdiens verklaar: “Die voorste wetenskaplike persone in die sestiende en sewentiende eeue was meestal toegewyde Christene wat geglo het dat dit hulle plig was om God se handewerk te verstaan” (For the Glory of God, bl. 123). In teenstelling met die godlose gelowe van Asië en die wispelturige gode van ander gelowe, is die God van die Bybel ’n verstandige Wese. God se skepping werk volgens wette wat sigbaar is en toegepas kan word om probleme tot voordeel van die mensdom op te los (Psalm 19:1; Spreuke 25:2) – ’n begrip wat “noodsaaklik is vir die vooruitgang van die wetenskap” (Stark, bl. 123).

Moderne, ateïstiese kritici kan met die oortuigings van die Bybel en die bygelowe van belydende Christendom spot, maar hulle doen dit terwyl hulle voordeel trek deur in ’n kultuur te leef wat op baie van die oortuigings gebou is wat hulle verag. Terwyl dit op baie maniere lyk of dit op die oomblik aan die afneem is, voorspel die Bybel dat hierdie afvallige, belydende Christendom weer geweldig opgang sal maak, nie net om die wêreld te beïnvloed nie, maar om dit te verower (Openbaring 6:1-2) op ’n wyse wat dit in konflik sal bring met ware Christenskap wat probeer het om dit agter te laat (Openbaring 13:11-17).

Op ’n baie werklike manier sal die draaipunt in geskiedenis wat die verspreiding van belydende Christelikheid verteenwoordig, ’n voorteken wees van ’n groter keerpunt wat nog sal kom.