Dit lyk na ’n belaglike vraag om te vra, maar min mense kry die regte antwoord! Die waarheid kan nogtans ’n groot verskil in u lewe maak.

Dit lyk na ’n verspotte vraag. Onsinnig. Belaglik. Dit is egter ’n vraag waarvoor die oorgrote meerderheid van die belydende Christelike wêreld die verkeerde antwoord het.

Behoort Christene Kersfees te vier?

Soos Desembermaand op die kalender nader skuif, bring dit die versiering van bome en huise, toegedraaide geskenke, geliefde Kersliedere, spesiale kerk- en misdienste en al die ander tierlantyntjies van Kersfees daarmee saam. Op die algemeen aanvaarde “Christelike kalender” word min geleenthede só gekoester en meer na uitgesien as die Kersseisoen. Kinders kry Advent-kalenders, gesinne gaan koop geskenke vir vriende en bure en kinders begin fantaseer oor al die goedjies wat Kersvader dalk vir hulle mag bring.

Dit is ’n tyd wat deur baie mense regoor die wêreld geniet word. Stories doen selfs die rondte van internasionale konflik wat tydelik op Kersdag gestaak word ter ere van die algemeen aanvaarde oortuiging aan albei kante dat die dag bedoel is om die geboorte van die Vredevors te vier – waarna elke kant natuurlik sy poging hervat om die ander een dood te maak.

Dit kan werklik vreemd klink om die vraag te vra: “Is Kersfees Christelik?” Indien ’n mens by nabetragting net na die woord “Christmas” sou kyk, sou mens die naam van “Christus” reg aan die begin sien!

Christene behoort nogtans altyd bereid te wees om hulle oortuigings, gebruike en tradisies met God se geopenbaarde Wil en Woord te vergelyk en dan daardie dinge te aanvaar wat deur God se uitdruklike begeerte bekragtig word en dan ook daardie dinge ter syde te stel wat daarmee teenstrydig is. Soos die apostel Paulus die vroeë Kerk vermaan het: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Die “alle dinge” sou sekerlik die viering van Kersfees insluit.

Wanneer ons dan die vraag vra of Christene Kersfees behoort te vier of nie, is dit net so belangrik om te verstaan watter vrae ons nie vra nie. Byvoorbeeld, ons vra nie of Kersfees pret is of nie. Terwyl die intensiteit van die koop van aandenkings en geskenke ongelooflik spanningsvol vir baie mense is, word Kersfees steeds oor die algemeen as een van die aangenaamste tye van die jaar beskou.

Ons vra ook nie of Kersfeestradisies, liedjies, gewoontes en Kersliedere mooi en inspirerend is of nie. Om eerlik te wees, van die mooiste musiek van die Westerse beskawing is deur die Kersseisoen se sentiment geïnspireer. Terwyl sommige gebruike wat met Kersfees verband hou walglik materialisties is, gee baie mense onbaatsugtig van hulleself gedurende die Kersseisoen en talle persoonlike en gesinstradisies wat tydens daardie dae geniet word, skep gelukkige herinneringe.

Liefde en onselfsugtigheid behoort sekerlik nie tot een kort seisoen in die jaar beperk te word nie. Christene het nie Kersfees nodig om geïnspireerd te voel, pragtige musiek te sing of blywende familie-herinneringe te skep nie.

Ons vraag is baie eenvoudiger: Behoort Christene Kersfees te vier? Dit wil sê, behoort individue wat op getrouheid aan die godsdiens, oortuiging, gebruike en leerstellings van Jesus Christus aanspraak maak, Kersfees te vier? Sou Jesus individue aangemoedig het om die vakansiedag te vier of sou Hy hulle ontmoedig het? Sou Hy die viering daarvan beveel of veroordeel het? Sou Hy dit Self onderhou of ignoreer?

Die oorsprong van Kersfees

Enige oorweging oor die vraag of Christene Kersfees behoort te vier of nie, behoort begin te word met begrip van die oorsprong van dié dag en die vele tradisies daaraan verbonde.

Kersfeestradisies verskil ongetwyfeld van plek tot plek. Baie mense is nogtans vertroud met die ervaring van ’n versierde Kersboom of dalk die brand van ’n Yule log [Kersstomp]. Die ophang van die steekpalm [groenigheid] en die strategiese plasing van ’n mistelkrans is algemeen in baie kulture. Die samekoms van gesinne of vriende en die uitruil van geskenke word sekerlik deurgaans met die “gees van Kersfees” verbind.

Al hierdie gebruike kom direk van voor-Christelike, heidense gelowe en winter aanbiddingsgebruike.

Glo dit of nie, maar hierdie is nie ’n algemeen debatteerbare vraag nie. Dit is ’n geskiedkundige feit. Selfs hoofstroom Christene betwis nie die heidense oorsprong van Kersfeesgebruike en tradisies nie. Selfs gewilde, konserwatiewe Christene soos dr. James Dobson, die stigter van Focus on the Family en die teoloog dr. R. C. Sproul erken dit geredelik. Die heidense oorsprong en invloed agter dit wat ons nou “Kersfees” noem, is beskikbaar vir enige persoon wat met ’n oop gemoed gewillig is om die saak te ondersoek en die feite word nie ernstig betwis nie.

Kyk byvoorbeeld na hierdie kort opsomming oor die oorsprong van Kersfees uit die wyd gerespekteerde “Christelike” hulpbron Eerdmans’ Handbook to the History of Christianity: “Die Christelike kerk het baie heidense idees en afbeeldings oorgeneem. Die viering van Christus se geboorte op 25 Desember, kom byvoorbeeld van sonaanbidding, die geboortedag van die son. Saturnalia, die Romeinse winterfees van 17-21 Desember, voorsien die vrolikheid, uitdeel van geskenke en kerse tipies aan latere Kersfees vakansiedae ... Sommige heidense gebruike wat later verchristelik is, byvoorbeeld die gebruik van kerse, wierook en kranse, was aanvanklik deur die kerk vermy omdat dit die heidendom gesimboliseer het”.

In sy beroemde werk A Classical Dictionary, som die geleerde John Lemprière sommige van die antieke, voor-Christelike gebruike van die heidense vakansie Saturnalia op – die heidense winterfees waarvan baie Kersfees tradisies afkomstig is: “Die viering was merkwaardig vir die vryheid wat universeel geheers het. Die slawe was toegelaat om hulle meesters belaglik te maak ... Dit was algemeen vir vriende om geskenke vir mekaar te maak, alle vyandigheid is gestaak, geen misdadigers is tereggestel nie, skole is gesluit, geen oorlog is verklaar nie, maar alles was plesierig, luidrugtig en uitspattig”.

Klink enigiets daarvan bekend?

Natuurlik! Baie van die gebruike en gewoontes van Kersfees is van heidense oorsprong. Die oorspronklike betekenis daarvan is verander sodat dit meer Christelik kon klink. Sommige predikante vergelyk byvoorbeeld die heidense kranse van steekpalm met die doringkroon wat Christus tydens Sy kruisiging gedra het of die rooi van die steekpalmbessies met Sy bloed. Daardie vertolkings is eers heelwat later by hierdie antieke, voor-Christelike elemente gevoeg en nie een daarvan verander die feit van die oorsprong van hierdie gewoontes, tierlantyntjies en tradisies nie. Indien ons eerlike op die voorhandliggende vraag sou wou antwoord – Behoort Christene Kersfees te vier? – behoort ons dit met inagneming van al die feite te doen.

Wanneer dit by die oorsprong van die gebruike kom, is daardie feite duidelik: Die datums, gebruike en gewoontes – byna die hele pakket wat ons as “Kersfees” ken – was in die Christendom opgeneem uit heidense gebruike wat hulle oorsprong gehad het in sonaanbidding in die winter en die Romeinse Saturnalia. Weereens, feitlik geen geskiedkundige betwis hierdie saak ernstig nie.

Wat behoort ’n Christen se besluit te lei?

In werklikheid is dit nie ongewoon om te sien dat vername tydskrifte en ander publikasies deesdae openlike besprekings oor die heidense oorsprong van Kersfees tradisies bied nie – die versiering van immergroen bome, die hang van ’n mistelkrans en die gee van geskenke – sonder enige sweem van ’n geloofstryd. Alhoewel hierdie dinge al meer bekend raak, lyk dit of min mense daaroor bekommerd is.

Moontlik het hierdie feite nie enige uitwerking op die vraag of ’n Christen die vakansiedag behoort te vier of nie. In werklikheid, hoe weet ons wat Christene behoort te doen of nie? Wat maak iets gepas vir Christene of nie? Is dit alles ’n kwessie van opinie en voorkeur of is daar ’n objektiewe standaard wat ’n Christen se geloofsoortuigings en gebruike in sulke dinge onderrig?

Dit mag dalk na ’n moeilike vraag lyk, maar dit is nie. Die naam “Christen” is afkomstig van die naam van die ware stigter van die Christendom, Jesus Christus, die Seun van God. Mense wat hulleself Christene noem maak daarop aanspraak dat hulle volgelinge van die leerstellings en voorbeeld van Jesus Christus is. Dus, indien iets as gepas beskou word of selfs van Christene vereis word, moet dit ooreenstem met die leerstellings, verklarings, voorbeelde en opdragte van die ware stigter van die godsdiens wie se naam daardie geloof dra: Jesus Christus!

Dit is werklik voor die hand liggend, is dit nie? Enige iets behoort in die geloof en gebruike van Christene te pas indien dit met die leerstellings en gebruike van Jesus Christus ooreenstem. Enige iets behoort nie in hulle geloof en gebruike indien dit nie so is nie. Dit is nie ingewikkeld nie!

Dit is nie net sommer gesonde verstand nie. Dit is wat Jesus Self uitdruklik aan ons leer. Die Nuwe Testament verkondig Sy stelling dat om Sy volgeling te wees – om ’n Christen te wees – nie genoeg is om net te “glo” wat Hy sê terwyl dit in mens se handel en wandel geïgnoreer word nie.

Neem die volgende in Lukas 6:46 in ag, na Sy veroordeling van diegene wat Jesus as hulle “Here” bely sonder om werklik te leef soos Hy beveel: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” Net so verklaar Hy: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matthéüs 7:22-23).

Jesus aanvaar duidelik nie diegene wat Hom “Here” noem, maar Hom nie volg en handel volgens Sy leerstellings nie en wat God se Wette en bevele ignoreer. Selfs al sou iemand daarop aanspraak maak om ’n “Christen” te wees, ’n wonderwerker, sê Jesus dat indien so iemand nalaat om Sy leerstellings te beoefen en God se Gebooie ignoreer, dan sal Hy daardie een opsy stoot en verklaar dat Hy hom nooit geken het nie!

Trouens, hierdie beginsel om waarlik volgens Jesus se woorde op te tree en Sy Vader se bevele te gehoorsaam was so noodsaaklik vir die geloof wat Hy verkondig het, dat Jesus [die jong man] geleer het: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Matthéüs 19:17). Een van die oorspronklike twaalf Apostels wat gekies en persoonlik deur Jesus Self opgelei is, het geskryf: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Johannes 2:3-4).

Dit is kwaai! Jesus sê deur Sy Apostel dat indien ons nie Sy Gebooie en leerstellings volg nie, ons nie eers weet wie Jesus Christus is nie. Indien ons sê dat ons dit doen, bestempel God se Woord ons as ’n leuenaar!

Wat sou Jesus doen?

Die bedoelings is duidelik. Indien ons wil weet of Christene Kersfees behoort te vier, kan ons net onsself vergewis oor hoe Jesus se eie leerstellings en gebruike van Kersfees toegepas kan word. Dit beteken dat ons na Kersfees behoort te kyk en die antwoord uit te vind op die gewilde vraag: “Wat sou Jesus doen?”

Gelukkig hoef ons nie te raai wat die antwoord is nie. Die Bybel is in baie gedeeltes besonder duidelik oor hierdie vraag.

Byvoorbeeld, toe Hy van heidense volke en tradisies en gebruike gepraat het, het God antieke Israel baie duidelik beveel: “... neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie ...” (Deuteronómium 12:30-31).

Dit is van deurslaggewende belang! Let daarop dat God nie net sê: “Moenie afgode aanbid nie” of “Moenie hulle gode aanbid nie”. Hy sê: “Jy mag die Here jou God nie op daardie manier aanbid nie”! Die Bybel maak dit duidelik dat ons die ware God nie eers op heidense maniere mag aanbid nie. Dus, terwyl sommige mense dikwels probeer sê dat dit aanvaarbaar is om heidense tradisies, simbole en dae te gebruik, solank as wat mens die ware God met daardie dinge aanbid, sê die Bybel anders.

Net so beveel God ons in Jeremia 10:2: “Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie” – bedoelende daardie heidense nasies buite antieke Israel. Hy kon dit nie nog duideliker gestel het nie: Hy wil nie hê dat Sy volk Hom aanbid deur die gebruik van heidense maniere nie. Trouens, die gedeelte in Jeremia 10 gaan veel verder en beskryf ’n spesifieke voorbeeld van ’n heidense gebruik wat deur God veroordeel word wat bekend behoort te klink! God gaan voort: “Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ’n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ’n ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie” (verse 3-4).

Hoeveel mense doen dit elke Kersfees met ’n immergroen boom – deur dit in hulle huise in te bring, dit te laat staan en dan met silwer en goud te versier? Die Almagtige God sê Hy gee nie om of u dit ’n afgod noem of nie. In stede hiervan sê Hy eenvoudig: “Moenie sulke dinge van die heidene leer en moet My nie op daardie manier aanbid nie!”

Opdragte vir Christene ook!

Natuurlik is hierdie gedeeltes uit die Ou Testament, nie waar nie? Die vraag gaan daaroor of Christene Kersfees behoort te vier of nie en of Jesus Christus nie dalk dinge verander het nie. Moontlik het Hy gesê dat dit heeltemal aanvaarbaar is om God se Gebooie ter syde te stel ter wille van tradisies wat ons persoonlik wil volg. Moontlik het Hy gesê dat ons toegelaat word om God se opdragte te ignoreer en om Hom te aanbid net soos ons wil en met watter tradisies ons wil, ongeag van wat die res van die Bybel sê.

Ons het dit egter alreeds geantwoord of hoe? Jesus het God se Wette liefgehad en geëer en almal wat Hom volg beveel om dieselfde te doen. Trouens, Hy het spesifiek die vraag aangespreek of Sy volgelinge bereid behoort te wees om God se opdragte ter syde te stel ter wille van tradisies wat hulle wil onderhou.

Jesus Christus het die godsdienstige leiers van Sy tyd streng veroordeel wat dieselfde ding gedoen het – om God se Wette te ignoreer ter wille van hulle eie tradisies van aanbidding: “Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas ... Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Markus 7:6-9).

God se Woord en Jesus Christus se leerstellings is glashelder! Vir ’n Christen om Kersfees te vier – die boom, die geskenke, selfs ook die datum – sou dit vir hom of haar nodig wees om van God se Gebooie afstand te doen om aan daardie tradisie vas te hou. God beveel ons om nie gebruike en tradisies van heidense oorsprong te gebruik om Hom te aanbid nie en Kersfees – bo alle twyfel – is met sulke gebruike en tradisies deurweef. Om Kersfees te vier moet ’n Christen eerstens God se Gebooie verwerp. Jesus Christus, die Seun van God en die stigter van die Christendom – veroordeel sulke handelinge driftig sonder om doekies om te draai.

Indien ons daarop aanspraak maak om ’n Christen te wees, maar ons ignoreer Christus se leerstellings om in elk geval Kersfees te vier, weerklink Jesus se woorde van 2,000 jaar gelede om ons uit te daag: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?”

Dit is eintlik verbasend duidelik. Indien Jesus vandag op aarde was, met die wete dat Sy hemelse Vader Hom beveel om nie heidense gewoontes te gebruik om Hom te aanbid nie, sou Jesus Christus Kersfees gevier het? Enigeen wat bereid is om eerlik met die Bybel te wees behoort te sê: “Nee, Hy sou nie”. Niemand wat daarop aanspraak maak om Hom te volg of wat beweer om ’n Christen te wees, sou Kersfees vier nie.

Jesus Christus het nie Sy naam aan Kersfees gekoppel nie. Mense het. Jesus Christus en Sy getroue volgelinge hou hulleself verantwoordelik aan ’n hoër gesag wat hoër as die tradisies van mense is. Dit is wat dit beteken om ’n Christen te wees.

’n Eenvoudige, maar onweerlegbare antwoord

Ons het met ’n vraag begin wat dalk vreemd kon klink: Behoort Christene Kersfees te vier? Die antwoord mag dalk net so vreemd wees – maar dit is ook onweerlegbaar: Nee, hulle behoort nie.

Dit mag wel pret en ’n “aangename tyd” wees. Ons mag dit selfs geniet. Dit mag heel moontlik ’n lang familietradisie wees. Ons mag eerlik en opreg probeer om dit met goeie bedoelings vir God te hou. Kersfees is egter nie ’n Christelike fees volgens die woorde en leerstellings van die stigter van die Christendom Self – Jesus Christus – nie. Trouens, Jesus se leerstellings veroordeel die viering daarvan asook die viering van alle soortgelyke vakansiedae wat hulle oorsprong in heidense gewoontes en gebruike van aanbidding het. Jesus verbied Sy volgelinge om dit te vier. Christene behoort nie Kersfees te vier nie.

Indien Christene hulle geloof met suiwer harte en sonder skynheiligheid wil beoefen en daarna streef om Jesus in hulle diens en gebruike te behaag en nie hulleself of ander mense nie – dan maak hierdie dinge saak. Christene moet tot meer as goeie bedoelings verbind wees. Soos Jesus aan die vrou by die put gesê het: “Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:22-24).