Op lyste van groot leiers wat die verloop van geskiedenis beïnvloed, verskyn gewoonlik name soos Hammurabi, Plato, Alexander die Grote, Julius Caesar, koningin Victoria en George Washington. Dit is verbasend, maar Jesus Christus word selde deur moderne, sekulêre geskiedkundiges in hierdie kategorie geplaas. As gevolg van hierdie weglating of slegs beperkte verwysings, het miljoene mense geen idee van die geweldige impak wat Jesus Christus op die mens se geskiedenis gemaak het nie. Wanneer die gordyn van stilte egter teruggetrek word, word die geskiedkundige invloed van Jesus onmiskenbaar bewys.

’n Wêreldwye impak

Skeptici beweer dat Jesus net ’n rondreisende plaaslike prediker was wat die stowwerige paaie van Judea in ’n konflikgebied van die Romeinse Ryk bewandel het. Geleerdes wat Jesus se invloed bestudeer kom egter tot baie ander gevolgtrekkings. Die gerespekteerde geskiedkundige van die Christendom, dr. Jaroslav Pelikan, merk in sy boek  Jesus Through the Centuries op dat die vroeë “kerkvader” Tertullianus, wat in ongeveer 200 n.C. geskryf het, na “die kulturele betekenis van Jesus verwys as die spil waarom die geskiedenis gedraai het” (bl. 26, klem bygevoeg). Pelikan merk ook op dat die geskrifte van Eusebius – wie soms die “Vader van Kerkgeskiedenis” genoem is, duidelik toon dat die bekende geskiedkundige 1,700 jaar gelede geglo het dat “die beslissende gebeurtenis in die geskiedenis wat hy beskryf het ... tydens Jesus Christus se leeftyd plaasgevind het ... [Eusebius] het ’n geskiedkundige relaas geskryf waarvan die keerpunt tydens die ‘heerskappy van Augustus’ was, toe Jesus Christus gebore is” (ibid, bl. 31).

Michael Hart, die skrywer van ’n boek wat die heel invloedrykste persone in die geskiedenis in rangorde plaas, beweer: “Jesus se impak op die mens se geskiedenis is so voor die hand liggend en enorm, dat min mense sy plasing na aan die bopunt van die lys sal bevraagteken” en wys daarop dat die grootste godsdiens in die wêreld beweer dat Jesus Christus die stigter daarvan is (The 100, bl. 47). Dr. Pelikan kom tot ’n soortgelyke gevolgtrekking en gee hierdie omvattende beraming: “Jesus van Nasaret was vir byna twintig eeue die dominante persoon in die geskiedenis van die Westerse kultuur ... Dit is van sy geboorte af dat die grootste gedeelte van die menslike ras hulle kalenders dateer ... Europa se ware kalender wat toe die kalender vir die grootste gedeelte van die moderne wêreld geword het, het ontwikkel ter erkenning van hierdie siening van die betekenis van die persoon van Jesus as die draaipunt in die geskiedenis” (Pelikan, bll. 1, 32).

Dr. William Phelps, ’n professor in Engelse letterkunde aan die Yale Universiteit, het gesê dat die leerstellings van Jesus Christus (Reading the Bible, bl. 59) “die geskiedenis van die wêreld verander het”. Die navorsingsgeleerde, Kenneth Samples, kom tot die gevolgtrekking dat die leerstellings van Jesus Christus “die grondslag gelê het vir die meeste van die morele teorie wat regdeur die Westerse beskawing aangeneem is” en dat Jesus Christus “die grootste impak op die mens se geskiedenis in terme van morele deugde gehad het” (7 Truths that Changed the World, bl. 67). Dr. Alvin Schmidt, ’n professor in sosiologie, het opgemerk dat sonder die invloed van Jesus Christus, “die Weste nie sy hoë vlak van beskawing sou bereik het nie” (How Christianity Changed the World, Schmidt, bl.12).

Hierdie is buitengewone waarnemings. Waarom het Jesus dan so ’n kragtige uitwerking op die verloop van die mens se geskiedenis gehad?

Geen gewone mens nie

Sommige moderne kritici beweer dat Jesus Christus nooit werklik bestaan het nie en dat Hy ’n denkbeeldige karakter was wat deur die hergebruik van mites oor heidense gode soos Horus, Osiris, Tammuz en Adonis geskep is. Hierdie bewerings ignoreer egter die feite van die geskiedenis en die onoordeelkundige ooreenkomste hou nie water wanneer oorspronklike bronne ondersoek word nie. In plaas daarvan tree Jesus as ’n werklike geskiedkundige persoon van Bybelse sowel as nie-Bybelse skrywers na vore. Flavius Josephus, ’n Joodse geskiedkundige, wat in ongeveer 90 n.C. geskryf het, noem Jesus ’n wonderwerker, wat deur Pontius Pilatus gekruisig is en na die lewe teruggekeer het deur opstanding uit die dood (Antiquities, 18;4). Tacitus, ’n Romeinse senator en geskiedkundige wat net ná 100 n.C. skryf, maak ook melding van Jesus Christus. Hy meld dat Pilatus Hom gekruisig het asook van die vinnige groei van die Godsdiens wat na Hom vernoem is (Annals, 15,44). Bybelse skrywers verwys na dosyne profesieë wat eeue tevore geskryf is en deur die koms van Jesus Christus vervul is. Dit is interessant om daarop te let dat daar geen profesieë oor die koms van Boeddha, Confucius of Mohammed is nie.

Moderne kritiese geleerdes beweer dat die wonderwerke wat aan Jesus toegeskryf word nie gebeur het nie, aangesien hulle persoonlik nie vandag wonderwerke sien gebeur nie – dus aanvaar hulle dat wonderwerke nie kan plaasvind nie. Sulke aannames misken egter die feit dat Jesus se wonderwerke, met inbegrip van Sy opstanding en die opstanding van ander mense, deur baie mense aanskou en bevestig is (Handelinge 2:22, 32; 1 Korinthiërs 15:1-8). Selfs nie-Bybelse skrywers soos Josephus het daarop kommentaar gelewer.

Die mees unieke eienskap wat Jesus van ander geskiedkundige godsdienstige figure onderskei is dat Hy daarop aanspraak gemaak het om heilig te wees (Johannes 10:30-33), die Seun van God is asook die lank beloofde Messias (Matthéüs 26:63-64) – aansprake wat herhaaldelik deur Sy dissipels bevestig is (bv. Matthéüs 16:16). Hierdie moedige aansprake het die toorn en vyandigheid van godsdienstige owerhede in Sy dag laat ontstaan en hulle laat saamsweer om Hom dood te maak (Johannes 11:47-53). Die Skrif stel dit egter duidelik: “... die Woord [Jesus Christus] was God ... En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon” (Johannes 1:1, 14). Geleerdes merk op: “Van al die wêreldgodsdienste, maak net Christenskap daarop aanspraak dat God as ’n mens verpersoonlik is. Van al die stigters van die wêreld se groot godsdienstige tradisies, beweer net Jesus Christus dat hy God is” (7 Truths that Changed the World, bl. 61). As God het Hy siektes genees en sondes vergewe (Markus 2:1-12). Hy het dooies opgewek (Markus 5:35-42; Johannes 11:41-44) en uit die graf opgestaan, drie dae nadat Hy gesterf het – net soos Hy voorspel het Hy sou doen (Markus 8:31). Geen ander godsdienstige leier het ooit sulke verstommende aansprake gemaak wat daarna deur konkrete bewyse gerugsteun is nie. Boeddha, Confucius, Zoroaster en Mohammed was duidelik menslik. Jesus Christus het duidelik met unieke goddelike gesag opgetree. Dit alleen is verantwoordelik vir Sy onvergelykbare invloed op wêreldgeskiedenis.

’n Toekomstige keerpunt

Jesus se boodskap – die Evangelie van ’n toekomstige Koninkryk van God (Markus 1:14-15), die geleentheid om die ewige lewe te verkry (Johannes 3:16) en om saam met Jesus Christus vir 1,000 jaar, of ’n millennium, op die aarde te heers, (Openbaring 1:5-6; 20:2-4), het Sy dissipels geïnspireer en gemotiveer. Die bekende geskiedkundige Edward Gibbon skryf hoe “die versekering van so ’n Millennium sorgvuldig deur vroeë kerkleiers ingeskerp is” en vir ’n paar eeue “die heersende sentiment onder ortodokse gelowiges” was. Dit was ’n belangrike faktor in die groei van die Christelike geloof totdat dit deur misleide teoloë weggeredeneer en eenkant toe geskuif is (The Decline and Fall of the Roman Empire, hoofstuk 15). Dieselfde Jesus wat ’n belangrike keerpunt in die mens se geskiedenis met Sy eerste koms ontketen het, het beloof om weer te kom (Johannes 14:1-3) en ’n wêreldregering aan die einde van hierdie tydperk te vestig (Jesaja 2:2-4) wat vrede en geregtigheid aan alle mense op aarde sal bring (Jesaja 9:6-7). Jesus Christus raai Sy eindtydse dissipels aan om te “waak” en “gereed te wees” vir nog ’n groot keerpunt in die geskiedenis tydens Sy Wederkoms. Vandag sien ons dat wêreldgebeure in daardie rigting beweeg!