Faktore buite menslike beheer het gehelp om ’n koninkryk se toekoms vir ewig te vorm.

Byna een duisend jaar gelede het ’n hewige en wreedaardige inval die verloop van Britse geskiedenis verander. Dit het gelei tot jare van barbaarse onderwerping en kolonisasie wat deur sommige mense met ’n “apokalips” vergelyk is. William, die Hertog van Normandië, het geglo dat hy die reg tot die Engelse troon het en in ’n poging om daardie troon te verseker het hy “die opening van ’n massiewe verskuiwingslyn in die voortsetting van ons geskiedenis veroorsaak” skryf die geskiedkundige Simon Schama in sy boek A History of Brittain: At the Edge of the World? 3000 v.C. - 1603 n.C. (bl. 66).

Schama sê ook: “Die Engelse geskiedenis in besonder lyk na die werk van ’n gematigde gemeenskap wat selde deur oproer geskud is. Daar is egter oomblikke wanneer die geskiedenis onstabiel is; wanneer verandering met ’n gewelddadige stormloop aanbreek, beslissend, bloedig en traumaties; soos ’n trokvrag vol probleme, wat alles uitwis wat aan ’n kultuur sy rigting gee – gebruike, taal, die regstelsel en lojaliteit. Die jaar 1066 was een van daardie oomblikke” (Schama, bl. 66).

Indien ons na die agtergrond van die Slag van Hastings kyk, besef ons presies hoe betekenisvol hierdie verskuiwingslyn was en wie uiteindelik daarvoor verantwoordelik was.

’n Betwiste koninkryk

Namate hulle die einde van die eerste millennium n.C. genader het, was Brittanje se bevolking ’n vermenging van verskillende bloedlyne – die onvermydelike resultaat van buitelandse invalle. By die antieke Keltiese stam is Anglo-Saksiese bloed en kultuur gevoeg. Deense Wikings het in ’n groot gebied van Oos-Engeland gewoon, wat as Danelaw bekend was. Noorse Wikings was in die Orkneys, die Shetlands, die Hebrides en in die noordweste van Engeland gevestig. Die Anglo-Saksers was in sentraal en suidelike Engeland woonagtig, met die Kelte in die suidweste van Engeland, Wallis en Skotland.

Met die naderende dood van Edward I en geen erfgenaam in plek nie, was daar verskeie aanspraakmakers op die Engelse troon: Harold Hardrada, die koning van Noorweë; William, die hertog van Normandië en Harold Godwinson, die graaf van Wessex.

Op 5 Januarie 1066 sterf Edward en Harold Godwinson, wat “die man op die regte plek was”, was vinnig as sy opvolger gekroon. William van Normandië het geglo dat die nuwe koning Harold voorheen die Engelse troon onder eed aan hom beloof het. Na Harold se kroningsplegtigheid het hy geen tyd verspil om ’n invalsvloot van meer as 400 skepe te versamel en om die feodale baronne in sy gebied in Normandië te oorreed om hom te ondersteun in sy poging om die troon te verower nie. Op ’n slim manier het hy die seën van die Rooms-Katolieke Kerk in Rome verkry vir sy kruistog teen Harold wie, in die oë van die pous, oor ’n land van barbare en kwasi-heidene regeer het. Teen 10 Augustus was die vloot gereed om te seil.

Die weer help om geskiedenis te vorm

Aan die ander kant van die Engelse Kanaal het koning Harold 3,000 opgeleide soldate versamel en 10,000 deeltydse troepe wat elke jaar verplig was om vir 40 dae lank die koning te dien. Die suidelike wind wat William nodig gehad het om die kanaal oor te steek, het egter nooit gewaai nie en op 8 September het Harold die deeltydse troepe ontbind. Vier dae later het William van Normandië af weggevaar, maar ’n skielike stormwind het die vloot ooswaarts gedwing en só verhinder dat hulle die kanaal oorsteek.

Gebeure het gou ’n ander wending aangeneem. Harold se verbanne broer, Tostig, het Engeland binnegeval saam met ’n bondgenoot, die Noorse koning Harold Hardrada. Op 19 September het ’n vloot van 300 skepe en 10,000 manskappe die plaaslike inwoners naby York in die noordooste van Engeland verslaan. Koning Harold het noordwaarts opgeruk, sy troepe onderweg versamel en 304 km in vyf dae gemarsjeer. Op 25 September het hy sy broer en die Noorse koning in die Slag van Stamford Bridge suksesvol verslaan.

Harold het die volgende dag verneem dat William vanaf Frankryk geseil en aan die suidelike kus by Pevensey aan wal gegaan het. Omdat daar geen georganiseerde Engelse leërmag was om hulle af te weer nie, het Harold weer terug suidwaarts gemarsjeer. Hy kon suid van Londen stop en moontlik die voorsprong behou het en daardeur Willem se noordwaartse opmars vanaf die kus onderdruk, maar hy het nie.

Die Slag van Hastings het op Saterdag 14 Oktober 1066 tussen die ewe sterk Normandiese en Anglo-Saksiese magte plaasgevind en het die grootste deel van die dag geduur. Op ’n belangrike punt in die geveg het die Normandiërs ’n skyn aftog geblaas en daardeur veroorsaak dat die Saksiese “muur van skilde” verbreek word toe hulle agtervolg is, daardeur is swak punte in die Saksiese verdedigingslinie ontbloot. Harold se broers het gesterf en Harold self is noodlottig deur ’n pyl in sy oog getref.

Brittanje permanent verander

William die Veroweraar, soos hy bekend geraak het, is op 25 Desember 1066 in die Westminster Abdy gekroon. Die Anglo-Saksiese regeringsklas is deur Normandiese, Franssprekende oorwinnaars vervang wat ’n blywende impak op Brittanje gelaat het. In 1085 het William opdrag gegee dat ’n volledige inventaris van die koninkryk gedoen word, graafskap vir graafskap. Hierdie inventaris – die berugte Oordeelsdag-boek [Domesday Book] – het hom van inligting voorsien om te dwing, te beboet en te konfiskeer soos hy wou. Hierdie kennis was werklik insiggewend. Normandiese oorheersing het beteken dat die hele land aan William behoort het. Hy het die land beheer en daarvan as geskenke gegee aan wie hy wou. Die regerende klasse moes deur ’n eed van getrouheid en lojaliteit aan William eer betoon. William het kort daarna gesterf terwyl hy op die vasteland teen die Franse geveg het, maar die Engelse nasie is vir ewig verander.

Gereelde lesers van die Wêreld van Môre sal onthou dat die geboortereg-beloftes van nasionale grootheid aan Josef se nageslag gegee is (1 Kronieke 5:1-2; Génesis 49:22-26). Sy jongste seun, Efraim sou ’n groot menigte van nasies word (Génesis 35:10-11) – die moderne nasie van Brittanje vervul hierdie belofte. Brittanje, in ooreenstemming met die antieke Israelitiese stam van Efraim, het tot ’n indrukwekkende nasionale moondheid ontwikkel, saam met die volke van haar ryk wat in ongeveer 1800 begin het. Dit is van kardinale belang dat hierdie beloftes nie aan ander moderne lande soos Denemarke, Noorweë of Frankryk gegee is nie; hulle is nasate van die ander stamme van antieke Israel. Die geskiedkundige gebeure met die Slag van Hastings bewys ’n noodsaaklike stap in die samestelling te wees van die nasie, sy kultuur en sy wette ter voorbereiding van sy uiteindelike profetiese rol eeue later, as ’n verenigde mag in wêreldsake. (Vra gerus ons gratis boekie aan, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, vir meer besonderhede oor Brittanje se plek in Bybelse profesie.)

Die tydsberekening van die gebeure vir die uitslag van die Slag van Hastings was van kritieke belang. Indien ons erken dat “die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens” (Daniël 4:17; 5:21) en dat Hy die geskiedenis beheer, kan ons begrip hê vir Sy hand in die tydsberekening wanneer Hy die uitkoms van elemente buite menslike beheer bepaal. God as die skepper van die aarde, beheer byvoorbeeld die weer (Jesaja 29:6; 2 Kronieke 6:26, 27). Die weer het ’n belangrike rol in die vertraging van die inval van Koning William se vloot gespeel, totdat Harold se magte uitgeput was deur die vinnige opmars noord na Stamford Bridge en toe weer suid om teen William te veg. Gebeure sou heeltemal anders verloop het indien William twee maande vroeër in Engeland aangekom het. (Ons boekie, Wie beheer die weer? verduidelik in meer besonderhede hoe en waarom God natuurlike weersomstandighede gebruik om Sy groot doel te bereik.)

Die “Normandiese Apokalips” wat die gevolg van die Slag van Hastings was, was ’n belangrike oomblik wat die geskiedenis na God se doel gelei het, die vervulling van die profesieë en Sy nasionale beloftes aan Abraham.