Is ons op ’n weg van onafwendbare kern-, chemiese, biologiese, politieke, militêre en maatskaplike onheil wat die einde van ons beskawing sal beteken? Die antwoord hierop is in u Bybel!

Wetenskaplikes het ’n generasie gelede “globale verkoeling” en die einde van ons beskawing in ’n massiewe nuwe ystydperk gevrees. Vandag het vrese oor die klimaat na aardverwarming verskuif. Baie van u het al ’n gewelddadige natuurlike gebeurtenis soos ’n aardbewing of orkaan beleef of woon selfs in ’n gebied waar kenners sê “die groot een” binnekort verwoesting vir miljoene mense kan bring. Sommige van u wat hier lees kon dalk gedurende die “Koue Oorlogsjare” grootgeword het toe ’n “wedersydse gewisse verwoesting” gevrees is. Die geweldige groot kern-arsenale van die Verenigde State en Rusland sou nie die wêreld werklik veilig hou nie, maar dit kon ’n waansinnige mens aangespoor het om algehele vernietiging van die planeet teweeg te bring.

U mag dalk die rolprent Dr. Strangelove onthou, wat probeer het om iets humoristies in daardie verskriklike scenario te vind. U het dalk meer onlangs een van die vele Hollywood “lokettreffers” gesien wat die vernietiging van ons planeet uitbeeld deur ’n asteroïde, ’n komeet, ’n wêreldwye plaag of ’n “kernwinter” gevolg deur die Derde Wêreldoorlog. Die rolprentbedryf beskryf dikwels sulke films as “apokalipties”. Waarom? Die term kom van die Griekse woord apocalupsis en beteken om “oop te maak” of te “openbaar”. Dit is die Griekse titel van die boek Openbaring in die Bybel, wat ook “The Apocalypse” in ’n paar ouer Engelse weergawes genoem word.

Die boek Openbaring beskryf ’n groot oorlog waarna baie mense as “Armagéddon” verwys. Sal daar werklik ’n “Slag van Armagéddon” wees? Sal die planeet Aarde vernietig word? Sal die mensdom daarin slaag om homself te vernietig? U Bybel het die antwoord op hierdie lewensbelangrike vraag!

Die grootste nuusleser en profeet wat nog ooit geleef het, Jesus van Násaret, is deur Sy dissipels uitgevra oor die einde van die wêreld: “En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Matthéüs 24:3).

Natuurlike en onnatuurlike rampe

Die Yellowstone Krater is ’n supervulkaan wat onder die Yellowstone Nasionale Park lê en beslaan 1,500 vierkante myl [3885 vierkante kilometer] in die noordweste van Wyoming. Dit is deel van die geologie wat baie van die park se spuitbronne [geisers] en warmwaterbronne veroorsaak. Baie geoloë verwag dat dit een of ander tyd binne die volgende 10,000 jaar sal uitbars. Tog is daar onlangs ’n toename in seismiese aktiwiteite naby die krater waargeneem. Wetenskaplikes waarsku dat indien die krater in volle intensiteit sou uitbars, dit vulkaniese as van etlike sentimeters diep, regoor die grootste deel van die weste van die Verenigde State sal versprei. Boerdery sal verwoes word en ’n uitwerking soortgelyk aan ’n “kernwinter” sal die klimaat vir ’n dekade of meer beïnvloed. Behoort ons bevrees te wees?

Regoor die wêreld is aardbewings ’n deurlopende bron van bekommernis. Kom dit meer gereeld voor of is dit eenvoudig net dat met groeiende bevolkings ’n aardbewing van dieselfde intensiteit ernstiger gevolge as in vorige eeue inhou? Sommige reuse aardbewings kan so erg wees dat dit ons planeet se beweging deur die ruimte beïnvloed. Tesame met die astronomiese dodetal – wat meer as 200,000 sterftes was, het die 2004 aardbewing in Sumatra met ’n omvang van 9.1 in werklikheid die rotasie van die Aarde met sowat drie mikrosekondes vertraag! Ander aardbewings saai net eenvoudig dood en verwoesting. Ons onthou die 2010 aardbewing in Haiti wat volgens die Haïtiaanse regeringsrekords, meer as 300,000 Haïtiane se lewens geëis het en meer as ’n miljoen mense dakloos gelaat het. Die finansiële implikasies van ’n aardbewing kan aansienlik wees. Die eilandnasie van Japan het uiters doeltreffende veiligheidstelsels wat in die dodelike 2011 Tohoku-ramp die dodetal onder 16,000 sterftes gehou het. Skade aan eiendom deur die 9,0 aardskudding en gevolglike tsoenamie is nogtans op meer as $230 miljard geskat!

Sal natuurrampe toeneem? Sal plaaslike oorloë vermeerder totdat daar ’n Derde Wêreldoorlog en Armagéddon is? Wat openbaar Bybelprofesie oor die toekoms? U Bybel openbaar die toekoms van die wêreld. Meer as ’n kwart van u Bybel bestaan uit profesieë, dus behoort ons ag te slaan op wat Jesus aan Sy dissipels gesê het nadat hulle Hom gevra het: “Wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Matthéüs 24:3). Hier is Sy antwoord: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Matthéüs 24:4-8).

Kritici mag dalk sê: “Daar was nog altyd oorloë en natuurrampe”. Dit is waar en dit behoort u iets te vertel: Daardie oorloë was deur mense veroorsaak en die menslike natuur het nie verander om blywende wêreldvrede te bewerkstellig nie! Daar word gesê dat elke keer wanneer die mensdom een of ander nuwe werktuig of tegnologie ontdek, ons ’n manier sal vind om dit vir bose doeleindes te gebruik. Hetsy dit vuur, buskruit of atoomsplitsing is, die voortdurende waarheid van menslike vooruitgang is dat mense voortgaan om nuwer en meer doeltreffende maniere te vind om mekaar in steeds groter getalle dood te maak.

Enige terugblik op die mens se geskiedenis behoort ons te leer dat na twee wêreldoorloë en heelwat plaaslike oorloë sedertdien, ons op ’n totale wêreldwye ramp afstuur. Gedurende Augustus 2015, het die Japanese volk die 70ste herdenking van die twee atoombomme gedenk wat die stede van Hirosjima en Nagasaki feitlik vernietig het. Honderde duisende mense het gesterf en ander is ernstig beseer waarna die mensdom in die era van atoom en kernwapens ingelui is. Hoe ver het ons in die afgelope 70 jaar gevorder?

Op 22 Januarie 2015, het die Bulletin of Atomic Scientists die minuutwyser van hulle simboliese oordeelsdaghorlosie twee minute vorentoe na “drie minute voor middernag” geskuif. Die wetenskaplikes het hierdie ontnugterende aankondiging gemaak: “In 2015 hou onbeheerde klimaatsverandering, wêreldwye kernwapen moderniserings en groot kernwapen arsenale buitengewone en onmiskenbare bedreigings vir die voortbestaan van die mensdom in. Wêreldleiers het gefaal om met die nodige spoed of op die skaal wat nodig is op te tree om burgerlikes teen moontlike rampspoed te beskerm. Hierdie mislukkings van politieke leierskap stel elke persoon op aarde in gevaar”.

Is daar enige hoop vir die toekoms? Bybelprofesie openbaar dat ’n Armagéddon die hele wêreld sal beïnvloed! Ja, ons sal ’n Derde Wêreldoorlog beleef. Daar ís egter goeie nuus. Ons dank God dat die grootste profeet wat nog ooit geleef het, Jesus Christus van Násaret, sal ingryp en ons van onsself sal red. Hy waarsku ons: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matthéüs 24:21-22).

Ja, daardie dae sal verkort word! Jesus Christus sal kom om die wêreld van totale wêreldwye verwoesting en uitwissing te red! Hy sal ’n nuwe wêreldregering instel wat ’n ware millennium van vrede en voorspoed onder nasies sal inlei.

Lê kernverwoesting voor?

Oorweeg weer die bedreiging van kernoorlog wat al vir meer as 70 jaar saam met ons is. Daardie twee bomme wat in 1945 op Hirosjima en Nagasaki afgegooi is, het met die krag van 15 en 20 duisend ton TNT onderskeidelik ontplof en het albei stede totaal uitgewis asook in ’n woesteny omskep! Met temperature bo tienduisend grade Fahrenheit en dodelike bestraling, is meer as 100,000 mense oombliklik dood en ’n verdere honderdduisend of meer mense het in die daaropvolgende dae aan die gevolge van die twee bomme gesterf.

Hierdie twee kernbomme het die Tweede Wêreldoorlog beëindig. Het die wêreld se nasies, staatsmanne en leiers egter die weg na blywende vrede gevind? Die nasie van Japan het onvoorwaardelik oorgegee en die Tweede Wêreldoorlog beëindig. In sy oorwinningsuitsending vanaf die USS Missouri het Generaal Douglas MacArthur die geskiedkundige les van oorlog opgesom. Generaal MacArthur het hierdie woorde in sy afskeidstoespraak aan die Kongres op 19 April 1951 herhaal. “Militêre alliansies, mags-ewewig, volkebonde, elkeen het op sy beurt misluk en die enigste pad wat gelaat is, is die weg van die smeltkroes van oorlog. Die uiterste vernietiging van oorlog het nou hierdie alternatief geblokkeer. Ons het ons laaste kans gehad. Indien ons nie ’n groter en meer regverdige stelsel bedink nie, sal Armagéddon voor ons deur wees”.

Ja, ons “Armagéddon” sal voor ons deur wees. Sal u daarop voorbereid wees? Wie sal die Derde Wêreldoorlog wen? Sal ’n ander militêre mag in Europa te voorskyn kom wat Westerse lande in gevaar sal stel, soos wat dit in die Tweede Wêreldoorlog gebeur het? Baie nasies pleeg verskriklike sondes. Die meeste mense ondersteun die gruwel van moord op miljoene ongebore babas en sommige mense verkoop selfs van hulle liggaamsdele vir gewin. Talle nasies het huwelike tussen lede van dieselfde-geslag goedgekeur, dit wat God in Levitikus 18:22 ’n “gruwel” noem! Op wie sal die grootste straf neerkom? Ons het vroeër in Matthéüs 24:21 gelees dat daar ’n unieke tyd in die geskiedenis sal kom – die Groot Verdrukking.

Die Groot Verdrukking sal ’n tyd van straf vir die nasionale en persoonlike sondes van ons Westerse nasies wees, indien ons nie nasionale en persoonlike berou toon nie. God sal daardie nasies straf wat nie werklik vrede soek nie, maar wat afgodediens en alle vorms van boosheid bedryf. Laat ons die werklikheid in die gesig staar! Hoeveel nasies regoor die wêreld word nie deur hebsug en gierigheid verteer nie? Trouens, God sê aan ons in Kolossense 3:5-7 om ons gedrag te verander: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het.”

Ja, gierigheid is afgodery. Dit lyk of ons Westerse nasies op materialisme, gierigheid en hebsug floreer. Die boek Jeremia bevat God se kragtige veroordelings oor die antieke huise van Israel en Juda. Gereelde lesers van hierdie tydskrif verstaan dat die moderne nasie van Israel in die Midde-Ooste hoofsaaklik afstammelinge van die huis van Juda is en dat die Engelssprekende nasies hoofsaaklik vanuit die huis van Israel kom – spesifiek uit die stamme van Efraim en Manasse, wie se afstammelinge in Brittanje, Kanada, die Verenigde State, Australië, Suid-Afrika en Nieu-Seeland gevestig is. Dink aan hierdie kragtige woorde soos dit deur die profeet Jeremia opgeteken is: “En dit is die woorde wat die Here gespreek het oor Israel en Juda: Want so sê die Here: Ons het ’n stem van verskrikking gehoor; daar is vrees en geen vrede nie! Vra tog, en kyk of ’n manspersoon baar? Waarom sien ek elke man met sy hande op sy heupe soos een wat baar, en is alle aangesigte in bleekheid verander? Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jeremia 30:4-7).

Onthou dat Jakob se naam na Israel verander is nadat hy met die Ewige geworstel het en die oorhand verkry het (Génesis 32:28). Die patriarg Israel het sy naam op die seuns van Josef oorgedra, wat die voorvaders van die Amerikaners en nasies van Britse afkoms is. Die tyd wat uniek in die hele geskiedenis is, die Groot Verdrukking, is die tyd van benoudheid vir Jakob – ’n tyd waaruit u sal wil ontsnap!

Ontsaglike rampe lê voor!

Die ramp-rolprente wat deesdae ons teaters vul, gee slegs ’n aanduiding van die ontsaglike rampe wat gedurende die Groot Verdrukking en die Dag van die Here sal plaasvind. Stel u die vulkaniese uitbarstings in Noord- en Suid-Amerika voor en al langs die “kring van vuur” in nasies wat aan die Stille Oseaan grens. Stel u die aardbewings en verwoestende tsoenamies voor wat alle vorige rekords oortref. Die asteroïde wat op 15 Februarie 2013 oor Rusland ontplof het, het 20 tot 30 keer die krag van die atoombom gehad wat tydens die Tweede Wêreldoorlog op Hirosjima gegooi is. Die Bybelse boek Openbaring beskryf in simboliese taal die soort moderne kernoorlog wat in die toekoms miljoene mense op aarde sal vernietig (Openbaring 9:13-18).

Ons behoort die waarskuwing ter harte te neem! Bybelprofesie waarsku ons oor die straf en oordeel wat oor ons nasies sal kom! Hoe kan ons van daardie oordele ontsnap? Eerstens behoort ons ’n gesindheid van bekering te hê. Ons behoort ons sondes te erken, God om vergifnis vra en ons gesindheid en gedrag verander. Indien ons ná aan God is, sal Hy ons beskerm tydens die uitdagende tye wat voorlê. Let op Jesus se opdrag en waarskuwing: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36).

Dit is nou die tyd om in gebed tot God te nader. U behoort u Bybel te bestudeer en op die uitkyk te wees vir die profetiese tekens waarvan Jesus ons gewaarsku het. Onthou die tekens van oorloë, pessiektes en aardbewings wat in Matthéüs 24 voorspel word. Trouens, Lukas praat van “groot aardbewings” in Lukas 21:11! Die aardbewings wat ons nou ervaar gee ons maar net ’n voorsmaak van die vernietiging wat deur “groot aardbewings” veroorsaak sal word! Ons het reeds die Sumatra aardbewing en tsoenamie bespreek, asook die Tohoku aardbewing – die duurste natuurramp in die geskiedenis! Daar is egter baie meer voorbeelde. Op 8 Oktober 2005 het ’n 7.6 aardbewing in Kashmir, Pakistan, 86,000 mense gedood en 106,000 mense beseer. Ses-honderd-duisend huise is vernietig en drie miljoen mense is dakloos gelaat. Op 12 Mei 2008 het ’n aardbewing van 7.9 omvang meer as 69,000 mense se dood veroorsaak en $85 miljard se skade in die provinsie Sichuan in China veroorsaak. Die Haiti aardbewing van Januarie 2010 het meer as 300,000 mense se dood veroorsaak, asook honderde duisende mense beseer en meer as ’n miljoen mense haweloos gelaat.

Selfs matige aardbewings kan ontsettend skrikwekkend wees, soos wat ek en my vrou ervaar het terwyl ons vir meer as ’n dekade in Kalifornië gewoon het.

Die boek Openbaring verwys na ’n paar ernstige aardbewings wat in die toekoms sal kom. Een van hulle vind plaas in verband met die geprofeteerde hemelse tekens of kosmiese versteurings (Openbaring 6:12-17) en dit word as so kragtig beskryf dat dit selfs eilande en berge uit hulle plek sal skud (vers 14)! Gedurende hierdie tyd sal die Kerk van God – ware, getroue Christene – vir drie-en-’n-half jaar in die wildernis hier op planeet Aarde beskerm word, nie in die hemel nie (Openbaring 12:14-16).

Die Dag van die Here sal ’n tyd wees wanneer God baie kragtig en direk in wêreldsake sal ingryp. Jesus Christus, die Lam van God, sal die nasies vir hulle boosheid oordeel. Ons lees: “... en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:13-17). Geagte lesers, dank God dat u beskerm kan word teen die oordele wat elke nasie, eiland en grondgebied op aarde sal beïnvloed.

Christus sal weer terugkeer om te regeer!

Jesus se dissipels het Hom gevra wat die teken van Sy Wederkoms en van die einde van die wêreld sou wees, maar die werklike vraag was nie oor die einde van die planeet Aarde self nie, maar oor die einde van die era. Die aarde sal altyd bestaan, hoewel dit deur die Almagtige God hernu sal word (2 Petrus 3:13). In Openbaring 5:10 maak Hy bekend dat die geestelike bestemming van die heiliges sal wees om “konings en priesters vir onse God gemaak [te word], en ons sal as konings op die aarde heers.” Die hemel is nie ons beloning nie!

U Bybel openbaar die profetiese gebeure wat sal lei tot die Wederkoms van Christus om oor alle nasies te regeer. Die Prins van Vrede sal ’n regverdige wêreldregering oor al die nasies vestig. Ná Armagéddon is daar goeie nuus! Wêreldgeskiedenis het getoon dat die mensdom nie die weg na vrede ken nie. Die Vredevors sal egter al die nasies die Weg na vrede leer. Die belangrikste is dat die menslike natuur verander moet word. Generaal Douglas MacArthur het besef dat die menslike karakter die belangrikste kwessie is: “Ons het ons laaste kans gehad. Indien ons nie ’n groter en meer regverdige stelsel kan bedink nie, sal ons Armagéddon voor ons deur wees. Die probleem is basies teologies van aard en behels ’n geestelike oplewing en verbetering van die menslike karakter wat met ons bykans weergalose vooruitgang in wetenskap, kuns, literatuur en alle materiële en kulturele ontwikkelings van die afgelope tweeduisend jaar sal kan sinchroniseer. Dit moet van die gees wees indien ons die vlees wil red”.

Trouens, die geskiedenis van die wêreld het getoon en die Bybel voorspel dit, dat sonder God se voortdurende leiding, die mensdom homself en alle lewe op aarde sal vernietig! Ná Armagéddon sal die Vredevors – Jesus Christus – die wêreld egter red en Hy sal aan al die nasies die Weg na vrede leer. ’n Wêreldwye heropvoedingsprogram sal ’n ommekeer in internasionale verhoudings ten goede verander. Gelukkig, soos generaal MacArthur besef het dit nodig sal wees, sal daar ’n “geestelike oplewing” of geestelike vernuwing regoor die wêreld wees. Let op na hierdie inspirerende profesie: “En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Miga 4:2-3).

Dank God dat ’n nuwe wêreld en ’n nuwe era gedurende hierdie geslag sal kom! Bid soos Jesus ons beveel het: “... laat U koninkryk kom” (Matthéüs 6:10). Dit is nodig dat ons met geloof vir die toekoms voorberei. Bestudeer u Bybel elke dag! Wend u in gebed na God. Sien uit na God se toekomstige Koninkryk en die nuwe era wat sal kom – die wêreld van môre!