Terwyl die Verenigde State in 2016 voorberei het om ’n president te kies, hoe sou ons Verlosser reageer? Hoe behoort ons as Christene op te tree?

Wie kan die Verenigde State uit die moeras van tuimelende onsedelikheid, onseker ekonomie en die toenemende spanning in die samelewing lei? Hoe sou ons Verlosser opgetree het terwyl die wêreld se supermoondheid voorberei het om ’n president te kies? Hoe behoort getroue Christene op te tree? Hoe behoort onsself die verkiesingsproses te beskou?

Voor en na die V.S. se presidensiële verkiesingsproses word die diepe verdeeldheid tussen groepe Amerikaners, wat wyd uiteenlopende standpunte huldig oor wat die nasie behoort te wees, beklemtoon.

Dwarsdeur ’n lang en omstrede presidensiële veldtog, het ons gesien hoe een kandidaat ’n ander een ’n “gevaarlike rassis” noem, terwyl ’n ander kandidaat sy opponent eenvoudig ’n “skelm” noem. Een kandidaat het beskuldigings verwerp dat hy nie oor die mees basiese vaardighede en temperament beskik om van diens te wees nie, terwyl ’n ander kandidaat weggeskram het van beskuldigings dat hy invloed gebruik het om ’n groot persoonlike fortuin uit Wall Street en oorsese skenkers op te bou.

Hoewel miljoene die “Bern gevoel” (Demokratiese party kandidaat Bernie Sanders, het in werklikheid meer van die jeug se stemme in 2016 verkry as die kandidaat Barack Obama wat in 2008 gewen het) gehad het, was die opskudding wat hy veroorsaak het nie genoeg om ’n President op te lewer nie. Aan die Republikeinse kant was professionele kenners geskok om die kandidaatskap van die voormalige goewerneur van Florida, Jeb Bush, so vinnig te sien wankel en misluk, terwyl feitlik geeneen van die “deskundiges” die volharding van die Donald Trump verskynsel voorsien het nie.

Sommige ontleders noem die 2016 verkiesing “the last shout of the Boomers”. Die skryfster Clara Bingham wys in haar boek Witness to the Revolution, daarop dat die 2016 verkiesing heelwat parallelle met 1968 toon, toe sy in haar eie woorde gesê het dat “Amerika sy verstand verloor en sy siel gevind het” (“Will 2016 make us witnesses to another revolution?”, The Guardian, 5 Junie 2016). Inderdaad was daar moontlik in geen verkiesing sedert die 1960’s, so ’n emosioneel belaaide mengelmoes van idealisme en sinisme, pessimisme en vrees nie.

Hoe dit ook al sy, dit ly geen twyfel dat die 2016 presidensiële verkiesing diep verdeeldheid onder groepe Amerikaners, met wyd uiteenlopende idees van wat hulle nasie behoort te wees, beklemtoon het. Wat sal in die algemene verkiesing gebeur? Sal een kandidaat nuwe kiesers besiel om die politieke landskap te verander? Sal kiesers deur vrees of hoop gemotiveer word? Sal dit ’n verskil maak? Wat behoort Christene te doen? Indien ons Verlosser voor die huidige keuses te staan sou kom, wat sou Hy gedoen het?

God beveel almal wat op Christenskap aanspraak maak ongetwyfeld daarop om bedag te wees op wêreldneigings, om te “waak” en op die uitkyk te wees vir die tekens van die tye (Lukas 21:34-36). Hy gee ons opdrag om die verkose en aangestelde regeringsamptenare wat in beheer van ons nasies is te respekteer en selfs vir hulle te bid (1 Timótheüs 2:1-4; 1 Petrus 2:17-18). Behoort enigeen van die groot partykandidate aanspraak te maak op die getrouheid van Christene in Amerika? Indien wel, watter een en waarom – of waarom nie?

Maak dit saak? Wat om te doen?

Te midde van al die “beswaddering” en die omstrede oor en weer geslinger van beskuldigings, wat behoort ware Christene te doen? Hoe behoort ons op te tree? Die belangrikste van alles, hoe sou Jesus Christus in hierdie polities-gelaaide atmosfeer opgetree het? Ons almal behoort ware Christene te herken as diegene in wie Christus leef deur die krag van die Heilige Gees. Die apostel Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

’n Ware Christen moet leer om te leef soos Jesus Christus werklik geleef het – nie soos baie mense verkeerdelik dink dat Hy geleef het nie. Jesus sê self aan ons: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Die werklike antwoord oor hoe ons in ’n demokratiese land behoort te leef en te funksioneer word in die Bybel, die geïnspireerde Woord van God, gevind. Ons behoort die “gesindheid” wat in Jesus Christus was te hê (Filippense 2:5). Die Bybel is die openbaring van God se denke – dit vertel aan ons hoe die Vader en Jesus Christus werklik oor die fundamentele kwessies van die lewe dink.

Dwarsdeur die somer van 2016 is Amerikaanse kiesers oorval met versoeke om aan te dring om een of ander kandidaat te ondersteun. Wanneer ons na die individue kyk wat president sou wees, vra ons onsself af: “Glo hierdie mense waarlik dat hulle opgewasse is om die wêreld se enigste supermoondheid te lei? Dink hulle dat enige mens vir die taak bekwaam is?”

Waar is God in al hierdie dinge?

Van die begin af het die mens probeer om sonder God se direkte leierskap hulleself te regeer. Die meeste belydende Christene besef nie eers wat Jesus Christus met regeringskap te doen het nie. Daar is baie meer van die “klein Here Jesus in ’n krip” aan hulle vertel as van die Bybelse Jesus Christus, wat nou aan die regterhand van God in die hemel is (Handelinge 7:55-56). Die ware Christus sal binnekort weer as die letterlike Koning van konings oor die hele aarde terugkeer met vorstelike glorie! Vir die meeste mense is hierdie Jesus heeltemal onbekend.

Onthou, min belydende Christene besef dat Jesus se Evangelie oor ’n toekomstige wêreldregering gaan. Een van die slimste Sataniese misleidings wat ooit versprei is, is dat die boodskap van Jesus Christus hoofsaaklik oor Homself was. Die beginpunt van ware Christenskap is die aanvaarding van Jesus Christus se gestorte bloed (Romeine 5:8-11) ná die ware bekering van sonde, wat heeltemal te min beklemtoon word (Handelinge 2:38-39). Jesus se hoofboodskap – die Evangelie wat Hy verkondig het – draai egter om wêreldregering en die bereidwilligheid van elke mens om hulle waarlik aan God te onderwerp en uiteindelik deel van Sy goddelike Gesin te word. Hierdie goddelike regering sal binnekort oor die hele aarde heers (Openbaring 12:5)!

Wie heers oor hierdie huidige wêreld?

Alhoewel baie mense gelei is om te glo dat hierdie nou God se wêreld is, vertel die Bybel iets heeltemal anders aan ons. Die apostel Johannes was geïnspireer om te skryf: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie” (1 Johannes 2:15).

Gedurende Jesus Christus se versoeking is Hy na ’n berg geneem en die heerlikheid van al die koninkryke van hierdie wêreld gewys: “En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil” (Lukas 4:6).

Het Jesus vir Satan weerspreek en aan hom gesê dat hy nié in beheer van die koninkryke van die wêreld is nie? Nee, Hy het nie. Inteendeel, na aan die einde van Sy bediening het Jesus op hierdie manier van Satan gepraat: “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word” (Johannes 12:31). Hy het ook gesê: “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Johannes 14:30).

Later skryf Paulus: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:3-4). Satan die duiwel is die onsigbare heerser – die “god” van hierdie tydvak wat ongeveer 6,000 jaar van die mens se geskiedenis gedek het – sedert die skepping van Adam. Met die Wederkoms van Jesus Christus as Koning van die konings sal hierdie tydperk eindig! God het Paulus geïnspireer om aan ons te openbaar dat Satan “die owerste van die mag van die lug [is], van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efésiërs 2:2). Dus, die onsigbare geestelike heerser – die owerste – oor hierdie wêreld se samelewing, is in der waarheid Satan die duiwel!

Die ware Skepper-God gryp nietemin in wanneer dit nodig is om Sy doel te bereik. In Galásiërs 1:4 onderrig Paulus [die Galásiërs] dat Christus “Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld”. Selfsugtige mense wat dink dat hulle alles weet, is eintlik onbewus daarvan dat hulle onder die kragtige invloed van die onsigbare Satan is. Hulle dink dat hulle idees oor die samelewing en oor regering sin maak maar dit is dikwels lynreg in teenstelling met dié van God. God sê: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12).

Satan mislei hierdie wêreld op ’n duisend verskillende maniere! In die boek Openbaring het Johannes ’n geestesoorlog in die nabye toekoms voorsien. “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei], hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9).

God openbaar later aan ons dat Satan aan die begin van Christus se heerskappy in die bodemlose put op aarde gewerp sal word, “sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie” (Openbaring 20:3). Die Bybel maak dit besonder duidelik dat hierdie huidige samelewing aan Satan behoort. Eerder as om werklik na God se wil te soek, is vandag se samelewing op ydelheid, wedywering, misleiding en blatante bedrog gebaseer.

Jesus het aan Pontius Pilatus gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Johannes 18:36). Dit is duidelik dat Jesus geen voorneme gehad het om in politiek en die oorloë van hierdie wêreld betrokke te raak nie. Hy het ’n ander wêreld verteenwoordig, ’n ander regering, naamlik die Koninkryk van God. Daarom sal Jesus definitief nie probeer om hierdie wêreld te herorganiseer en Homself in ’n leuenagtige, onderduimse politieke stelsel onder die invloed van Satan die duiwel te plaas nie!

Opleiding om konings te wees

Die Bybelse Jesus Christus sal moontlik nog in hierdie geslag weer kom om op ’n regte troon in die stad Jerusalem te sit. Sy regering sal oor die hele aarde gevestig word – ’n letterlike regering wat deur die Almagtige God bemagtig en deur die Koning van die konings en Here van die here regeer word (Openbaring 19:15-16). Wat sal Jesus se volgelinge doen – die ware heiliges van God? “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korinthiërs 6:2-3). In die volgende paar verse gaan Paulus voort om te verklaar hoe die Christene in Korinthe veronderstel was om te leer hoe om God se Kerkregering te beoefen deur probleme korrek onder mekaar “te oordeel”. Van Genesis tot Openbaring is ’n posisie in God se regering altyd deur ’n “aanstelling” gevul – nie deur politiekery of om andersins misleidende beloftes aan mense te maak deur hulle stemme te werf nie. Dit was in hierdie konteks dat Paulus kon sê: “As julle dan alledaagse regsake het, moet julle dié persone daaroor laat sit wat in die gemeente die minste geag word” (vers 4).

Christene is nou in opleiding om konings en priesters in die toekomstige Koninkryk van God te wees. Jesus sê: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27). Ons behoort dus ons menslike weë en selfsug te oorwin en te leer om nou God se regering te beoefen. Let op na hierdie “gebed van die heiliges” in Openbaring 5:9-10: “Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” Dit is duidelik dat die ware heiliges van God binnekort heerskappy sal hê – nie bo in die hemel nie, maar op hierdie aarde!

Bestudeer die gelykenis van die ponde in Lukas 19:11-27 noukeurig. Hier word dit uitgebeeld dat Jesus na die hemel sou gaan om Sy Koninkryk te ontvang en dan terug te keer. Wanneer Christus terugkeer beloon Hy Sy dienaars volgens hoe goed elkeen gebruik gemaak het van hulle Godgegewe tyd, talente en wysheid om God te dien. Watter loon het Christus aan Sy getroue dienaars gegee? “En Hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (vers 17). Aan die dienaar wat net vyf ponde verdien het sê Hy: “En jy moet wees oor vyf stede” (vers 19).

Sien u enige aanduiding van politiek of stemmery hier? Glad nie. Inteendeel, dit is net nóg ’n ekstra skriftuurlike voorbeeld wat dit vir Christene duidelik maak dat die beste vorm van regering – God se regering – geensins gegrond is op menslike politiekery, kompromie, gekonkel en om vorendag te kom met halfgebakte oplossings vir ons probleme nie.

Jesus sê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36). Hy sou Homself sekerlik nie verneder het om deel van hierdie wêreld se verkeerde benadering tot regering te wees nie. Trouens – deur aan ons ’n voorbeeld te stel – het Jesus Christus in Sy menslike bediening nooit enige toenadering gesoek by die menslike leiers van Sy tyd nie, Hom nooit met enige politieke veldtog bemoei nie en nooit Sy volgelinge geleer om die politieke landskap te probeer verander of om die menslike regerings van Sy tyd reg te help nie!

Christus sal met Sy Wederkoms verseker met beslistheid teen die konings van hierdie wêreld optree: “Maar in die dae van dié konings [dié wat regeer onmiddellik voor Christus se Wederkoms] sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44).

Later beskryf God duidelik in Daniel hoe die ware heiliges onder Christus gesag gegee sal word oor al die regerings van hierdie aarde met die Messias se Wederkoms. “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:27).

Christene en die regerings van vandag

Alhoewel Jesus Christus nie aktief aan die regerings van hierdie misleide wêreld deelgeneem het nie, het Hy aan ons ’n voorbeeld van gehoorsaamheid aan burgerlike wette gestel en om respek aan ampsdraers te betoon. Die Fariseërs het na Jesus gekom om Hom oor die betaling van belasting uit te vra. Hy antwoord: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom” (Matthéüs 22:21).

God het Paulus geïnspireer om te skryf: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang” (Romeine 13:1-2). Paulus verduidelik verder: “Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom” (verse 6-7).

Paulus sê ons aan om vir diegene in gesagsposisies te bid. “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid” (1 Timótheüs 2:1-2).

Ware Christene – waaruit die Kerk bestaan (Grieks ekklesia, letterlik die “uitgeroepenes”) – is soos buitelandse ambassadeurs. “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus” (Filippense 3:20).

’n Aantal jare gelede het ek die geleentheid gehad om as adjunk-kanselier van ’n klein kollege naby Londen, Engeland waar te neem. Uit hoofde van my posisie en ander verantwoordelikhede het ek ’n aantal belangrike byeenkomste in Londen en aan huis van die V.S. se ambassadeur in diens van Haar Majesteit se regering bygewoon. By twee van hierdie geleenthede het ek die Amerikaanse ambassadeur ontmoet.

Dit word van die V.S. ambassadeur in Brittanje verwag – trouens van enige regeringsamptenaar – om aan die wette van die land waarin hulle woonagtig is gehoorsaam te wees, om die owerhede te respekteer en eer te betoon aan wie eer toekom. By die twee geleenthede wat ek Winfield House, die ambassadeur se woning besoek het, is ’n heildronk op die Koningin ingestel. Almal het opgestaan en hulle glase ter ere van die minsame dame wat steeds die vors van die Britse volk is gelig. By elke geleentheid het die V.S. se ambassadeur – Elliot Richardson in die een geval en Walter Annenberg in die ander geval – in die heildronk gedeel. Om hierdie soort respek aan diegene wat in gesagsposisies is te betoon, weerspieël duidelik die gesindheid wat God van ons almal wil hê. Dit word sekerlik van ons verwag om ons belasting te betaal en al die landswette te gehoorsaam, solank as wat dit ons nie verplig om God se Wet teë te gaan nie. Indien een of ander totalitêre regering ons ooit sou probeer verplig om ongehoorsaam aan die hoër Wette van die Almagtige God te wees, dan behoort ons die geïnspireerde voorbeeld van die Apostels te volg, soos hulle gesê het: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29). Selfs al sou ons dan besluit om in daardie land aan te bly, behoort ons bereid te wees om enige boete of straf te dra wat sodanige owerhede aan ons mag oplê en in geloof op te sien na God om vir ons te sorg (vgl. Daniël 3).

Soos Paulus skryf, ons is “gesante [ambassadeurs] vir Christus” (2 Korinthiërs 5:20). Ons behoort met liefde en respek teenoor alle mense op te tree – met inbegrip van dié in politieke gesagsposisies. Ons moet egter altyd onthou dat ons uiteindelike burgerskap nie in of van die regerings van hierdie Satan-geïnspireerde samelewing is nie! Hoewel ons ander mense behoort te dien en op ’n individuele basis aan hulle goed te doen, kan en mag ons nie met militêre of politieke pogings gemoeid raak om Satan se misleide wêreld te herorganiseer of op te ruim nie. Die hele stelsel is nie God se stelsel nie! Hy laat net misleide mense toe om hulle eie gang te gaan en met verskillende regeringstipes gedurende hierdie huidige 6,000 jaar van die menslike bestaan te eksperimenteer.

Paulus skryf: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?” (2 Korinthiërs 6:14-15). Wanneer Hy na die godsdiens-politieke stelsel verwys wat die grootste deel van die ontwikkelde wêreld ten tye van Jesus Christus se Wederkoms sal oorheers, beveel God Sy mense: “En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4).

Wat sou Jesus in die 2016 V.S. verkiesingsjaar gedoen het? Hy sou so besig gewees het met die verkondiging van die goeie nuus van die toekomstige Koninkryk van God dat Hy geen tyd sou hê vir politiekery, stemmery of deelname aan enige groepe wat druk uitoefen om Satan se wêreld op te ruim nie. Hy sou weet dat menslike pogings om die wêreld te red – alhoewel dit dikwels goed bedoel is – tot mislukking gedoem is, omdat dit onder Satan se heerskappy is en deel van sy stelsel vorm   wat God Self “Babilon” noem (Openbaring 14:8). Hy sou weet dat dit God die Vader is wat volgens Sy eie wil konings aanstel en hulle weer verwyder om Sy doel op aarde uit te voer (Daniël 2:21). Dit word nie van Christene verwag om God se wil in hierdie sake te bevraagteken of om dit selfs teë te werk nie.

Die opdrag en roeping van alle ware Christene is om die weg te help voorberei – as gesante aan die voorpunt – vir die Koninkryk van God, die letterlike regering wat die lewende Jesus Christus binnekort tot stand sal bring. Dit sal al die misleide menslike regerings van hierdie aarde vervang. “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid”! (Openbaring11:15).

Wanneer die spesifieke eindtydse gebeure soos geprofeteer in die Skrif – God se geïnspireerde Woord – begin om oral om ons plaas te vind, behoort ons ernstig te verstaan dat Christus se naderende regering ’n werklikheid is! Namate die Amerikaanse dollar uiteindelik in waarde tuimel, namate die Amerikaanse en Britse aansien regoor die wêreld bly afneem en die Almagtige God voortgaan om [ons] “trotse mag” te verbreek (Levitikus 26:19), beter ons besef dat Christus werklik binnekort weer sal kom! Ons behoort ook werklik te verstaan dat alles rondom ons spoedig gaan verander. Wanneer ons werklike fokus op daardie vernaamste feit is, kan ons uiteindelik “al ons kragte inspan” in ons voorbereiding om oorwinnaars te wees (Openbaring 2:26) en om ons deel te doen om voor te berei om die terugkerende Jesus Christus werklik by te staan om oor hierdie aarde te regeer – op God se manier!