Waarom is daar soveel verskillende godsdienste in die wêreld? Wat is die bron van hierdie uiteenlopende sienings waarmee daar deur die eeue heen volgehou is? Die Bybel bied insiggewende en unieke antwoorde op hierdie verwarrende vrae, maar dit word vandag grootliks geïgnoreer.

God lei die verloop van die geskiedenis om Sy doel te bereik. “Hy maak nasies groot en laat hulle omkom” (Job 12:23). Dit was te midde van die skielike einde van die Bronstydperk ongeveer 1200 v.C. – een van die rampspoedigste keerpunte in die geskiedenis – dat God die opkoms van die nasie van Israel as ’n lig vir die antieke heidense wêreld beplan het. Die Israeliete het God egter vergeet, Sy Wette geïgnoreer en ander gode gevolg (Jeremia 5:19; 9:13). Dit is as gevolg hiervan dat die tien noordelike stamme tussen 722 - 586 v.C. in ballingskap deur Assirië en die twee suidelike stamme deur Babilon weggevoer is, hulle “lig” het doodgegaan. Dit was egter geen toeval dat die ondergang van hierdie uitverkore volk tydens ’n ander belangrike keerpunt in die geskiedenis plaasgevind het nie, een wat betrokke was by die totstandkoming van wêreldgodsdienste.

Die Aksiale tydperk

Hierdie keerpunt het tydens die middel eeue van die eerste millennium v.C. (900 - 200 v.C.) plaasgevind en word deur sommige geskiedkundiges “die Aksiale tydperk” genoem. Hierdie “deurslaggewende” tydperk getuig van ’n opvallende vlaag van intellektuele aktiwiteite wat “’n groot bron van die meeste van ons hedendaagse geloofstradisies geword het” (sien “The Axial Age”, ReligiousTolerance.org). Die Aksiale tydperk het die opkoms van bekende filosowe in Griekeland, die verspreiding van Hindoeïsme, Boeddhisme en Djainisme in Indië, Zoroastrisme in Persië, Judaïsme in Palestina en Confucianisme en Daoisme in antieke China gesien (“The Axial Age: 5 Fast Facts”, Britannica.com). Hierdie uiteenlopende geloofstelsels, wat “verrassende ooreenkomste toon ten opsigte van hulle uiteindelike besorgdheid” oor die betekenis van die lewe, goed en kwaad en wat na die dood gebeur, lyk of dit in afsonderlike dele van die wêreld op ongeveer dieselfde tydstip ontstaan het (ibid.). Die bekende Britse skryfster, Karen Armstrong, beskryf hierdie tydperk in die mens se geskiedenis as ’n tyd waartydens “geestelike en filosofiese baanbrekers van ’n heeltemal nuwe soort menslike bestaan voorberei het” (The Great Transformation, bl. xii).

Geskiedkundiges weet nie regtig wat die vlaag van geestelike aktiwiteite tydens die Aksiale tydperk veroorsaak het wat geboorte geskenk het aan godsdienstige en filosofiese stelsels wat vandag nog dominant in ons wêreld is nie. Karen Armstrong gee aan die hand dat dit ’n reaksie op die ongekende geweld van daardie tydperk was. Ander persone beweer dat die opkoms van gelyksoortige idees gedurende dieselfde tydperk te wyte was aan die verspreiding van handel, verstedeliking, wêreldwye handel en die vermeerdering van welvaart (sien “Axial Age”, NewWorldEncyclopedia.org). Ander persone kom ook tot dié gevolgtrekking: “Die byna gelyktydige veranderings in China, Indië, Palestina en Griekeland – lande wat ver van mekaar verwyder was – blyk te merkwaardig te wees om dit as toevallig te aanvaar” (ibid.). Trouens, sommige persone beweer dat dié tydperk – toe mense probeer het om antwoorde op die groot vrae van die lewe te vind – eintlik ’n tyd van “goddelike ingryping” was en “’n tydperk waartydens God ... morele waarhede aan die mensdom geopenbaar het”, wat “’n doelbewuste rigtinggewende mag agter die ontplooiing van die geskiedenis impliseer” (ibid.). Was God dan werklik besig om geestelike waarhede aan die wêreld te openbaar deur middel van hierdie diverse en kompeterende geloofstradisies?

Uiteenlopende oortuigings

’n Noukeurige blik op die Aksiale tydperk se denkers is insiggewend. In plaas daarvan om deur God gelei te word om universele geestelike waarhede te ontdek, het elke wysgeer sy eie kop en pad gevolg op soek na antwoorde vir die groot vrae van die lewe (The Great Transformation, bl. xvii) en daardie antwoorde het mekaar dikwels weerspreek (sien “Roots of Faith”, NYTimes.com, 30 April 2006). Confucius het wyse spreuke van voorgeslagte versamel en geen melding van goddelike inspirasie gemaak nie. Griekse filosowe het op die rasionele menslike verstand vertrou, wat deur mistieke insigte van godsprake aangehelp is.

Terwyl die Boeddha onder ’n boom gemediteer het, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat menslike hebsug die oorsaak van lyding was en die belangrikste doel was om daardie hebsug te blus – dat versuim om dit te doen tot wedergeboorte in ’n menslike, engelagtige of dierlike staat sou lei, afhangende van hoe ’n persoon hom gedurende sy leeftyd gedra het. Niks hiervan verskyn in die geloofstelsels van Confucius of die Grieke nie. Inderdaad, min godsdienste in die Aksiale tydperk – buiten Judaïsme wat dieselfde tyd in Palestina te voorskyn gekom het – dra enige ooreenkoms met Bybelse monoteïsme of die betekenis van die lewe soos dit in die Bybel geopenbaar word.

Karen Armstrong merk op: “Die meeste filosowe van die Aksiale tydperk het geen belangstelling in leerstellings gehad nie ... Wat die meeste saak gemaak het was nie wat mens geglo het nie, maar hoe mens opgetree het ... Indien mense met vriendelikheid en vrygewigheid teenoor hulle medemense opgetree het kon hulle die wêreld red” (The Great Transformation, bll. xiii-xiv). Ongelukkig laat die geestelike strewes van “geestelike en filosofiese genieë” van die Aksiale tydperk ons ’n erfenis van wedywerende wêreldbeskouings en ’n verwarrende verskeidenheid van idees oor die doel van die lewe. Sou dit die werk van ’n alwyse God wees?

’n Ander bron

Vandag ontken baie geskiedkundiges en teoloë die historiese toepaslikheid van die Bybel. Op sy beste sien hulle dit as nog ’n mededinger met Confucius, Boeddha en die Griekse filosowe. Die Skrif gee nogtans ’n teologiese perspektief op die geskiedenis wat nie uit enige ander bron bekombaar is nie. In die Bybel word die sleutel-elemente in die geskiedenis vanuit God se perspektief opgeteken. In skrille kontras met die gees van die Aksiale tydperk wat na menslike redenasies gekyk het, waarsku die Bybel ons: “... steun nie op jou eie insig nie” (Spreuke 3:5). Geleerdes van vergelykbare godsdienste kan spekuleer dat God die universele waarhede aan denkers wat antwoorde van binne hulle eie denke gesoek het tydens die Aksiale tydperk geopenbaar het, maar die Skrif sê dat die Woord van God die bron van waarheid is (Psalm 119:142, 160; Johannes 17:17).

In die lig van botsende idees oor die doel van die lewe wat uit die wedywerende wêreldbeskouings voortspruit wat tydens die Aksiale Era ontstaan het, meld die Bybel bowendien die beginsel: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Korinthiërs 14:33) – wat daarop dui dat God nie agter die chaotiese uiteenlopenheid van godsdienstige en filosofiese stelsels is wat vandag ons wêreld oorheers nie.

Die Bybel openbaar dat daar ’n ander bron is wat vandag grootliks geïgnoreer word en sê dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Johannes 5:19), ’n magtige geestelike wese wat Satan genoem word, na wie meer as een keer verwys word as die “owerste van hierdie wêreld” (Johannes 12:31; 14:30) en die “god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:4), wat die mense van hierdie wêreld verblind en mislei het (Openbaring 12:9). Die mensgemaakte godsdienste wat ons vandag rondom ons sien is die produk van hierdie selfde wêreld. Israel was ’n voorbeeld vir die wêreld (Deuteronómium 4:6). Wanneer ons dus na die belangrike ommeswaai in geskiedenis kyk, wil dit voorkom asof Satan van die ondergang van antieke Israel gebruik gemaak het om alternatiewe godsdienstige en filosofiese stelsels te skep en te versprei, om mense weg te lei van die geopenbaarde geestelike waarhede in die Bybel. Die totstandkoming van wêreldgodsdienste en die godsdienstige verwarring wat ons vandag sien, is die voortslepende gevolge van die Aksiale tydperk – ’n belangrike keerpunt in wêreldgeskiedenis. Die Israeliete – God se uitverkore volk – sal egter voortgaan om ’n sentrale rol in die geskiedenis se keerpunte te speel, soos ons in hierdie reeks met die volgende uitgawe van hierdie tydskrif sal sien.