Daar is ’n tyd in die toekoms wanneer die “nuwe normaal” wêreldvrede sal wees!

’n Bietjie meer as 65 jaar gelede het Generaal Douglas MacArthur in sy April 1951 afskeidsrede aan die Amerikaanse Kongres, grimmig sy gedagtes uitgespreek oor wêreldwye konflikte waarin hy ’n belangrike rol gespeel het. Terwyl hy as ’n lewenslange militêre man gepraat het – ’n senior leier tydens sommige van die hewigste veldslae in moderne geskiedenis – het hy in sy opmerking die algehele klem op sy ervaring geplaas dat, hoewel die mensdom sedert die begin vrede gesoek het, alle pogings om internasionale vrede te verkry, uiteindelik misluk het. Hy het kil gewaarsku: “Indien ons nie ’n groter en meer regverdige soort stelsel kan bedink nie, sal Armageddon voor ons deur wees”.

Die mensdom het nog nie daardie stelsel uitgedink nie en ons bevind onsself vandag in ’n wêreld van oorlog. Konflikte woed oor baie dele van die wêreld, van opstand en guerrilla-gevegte in die ontwikkelende wêreld, tot volskaalse oorlog en landswye opstande in die Midde-Ooste, waarin ’n paar van die magtigste regerings in die wêreld betrokke is. Volgens die aanlyn militêre data-webwerf, GlobalSecurity.org, woed daar tans meer as 50 voortslepende oorloë en konflikte waarvan die omvang verskil. Baie hiervan, soos die Siriese burgeroorlog en die voortgesette probleme in die Oekraïne, het die nuus gehaal. Ander oorloë is al vir jare lank in en uit die nuus, soos die voortgesette vyandigheid tussen Noord-Korea en sy bure wat al vir dekades steeds pruttende potte van geweld is.

Ongekende bedrae geld en hulpbronne word in die vurige kake van oorlog gestort en hierdie groot kostes word oorskadu deur die ontsaglike slagting van menselewens wat in hierdie vuuroond gegooi word – met die prys wat te dikwels deur baie meer burgerlikes as soldate betaal word.

Is oorlog normaal?

Wat gaan in die wêreld aan? Is al hierdie gevegte die “normale” toestand van die mens se lewe? Wat is die oplossing en is daar hoop op die horison vir ’n einde aan dit alles – ’n einde waarna die wêreld werklik kan uitsien, eerder as die daadwerklike moontlikheid van kern of biologiese rampspoed?

Wanneer ons ons na die Bybel wend, sien ons ’n antwoord op elke vraag. Die geïnspireerde Woord van God sê aan ons wat alreeds gebeur het, wat tans gebeur en wat nog gaan gebeur.

Die apostel Jakobus is geïnspireer om ’n gehoor wat in ’n soortgelyke tydperk van geweld geleef het te vermaan en sy waarskuwings was duidelik en deurdringend: Geweld en oorlog is die gevolge van verkeerde begeertes en motiewe (Jakobus 4:1). Ons word gewaarsku dat ons eie harte ons mislei, van individue tot magtige ryke (Jeremia 17:9) en ongelukkig is dit dikwels waar dat ons grootste oorloë deur die grootste verskonings verbloem word. Terselfdertyd weet ons dat God selfs deur die beste van menslike redenasies sien, want Hy alleen ken ons harte (Jeremia 17:10). Die profeet Jesaja was in antieke tye geïnspireer om te skryf wat selfs die groot “oorlogsman”, Douglas MacArthur, in staat was om in onlangse geskiedenis te erken, dat die “weg van vrede” nie aan die mens bekend is nie (Jesaja 59:8).

God se plan vir vrede

God weet dat die weg van vrede nie deur regerings van hierdie tyd, hulle beleid of deur die revolusies en filosofieë van mense moontlik is nie. Dit maak nie saak wat die oorsaak is nie, dit maak nie saak hoe edel of desperaat die redes is nie, alles wat ons doen voeg net nog volumes by ’n omvattende geskiedenis van geweld. Vrae van reg en verkeerd raak verlore in die wedersydse bloedvergieting. Ons benodig iets groter as wat die mens aan homself kan voorsien. Dit is waarom God lank gelede ’n groot plan in werking gestel het om die mensdom van die werke van oorlog en twis te verlos en om ’n tyd van goddelike heerskappy op hierdie aarde te bewerkstellig, onder Jesus Christus en die herrese heiliges, wanneer die planeet Aarde uiteindelik die weë van vrede geleer het, nie van oorlog nie. Dan sal die hele wêreld God se belofte van rus ontvang (Hebreërs 4:1).