Ek vertrou dat teen die tyd wat u hierdie tydskrif lees, die meeste van u reeds die spesiale “halfjaarlikse” brief van ons Hoofredakteur, dr. Roderick C. Meredith ontvang het. Hy skryf tweemaal per jaar aan die intekenaars van die Wêreld van Môre van spesiale nuus oor die “werk agter die skerms”. Hy skryf ook oor wat die lewende Jesus Christus besig is om vandag in die wêreld te doen namate ons die einde van hierdie huidige tydvak nader. Ten spyte van vele sataniese aanvalle op lankgekoesterde Bybelse waardes, kan ware Christene lojaal en getrou aan hulle Verlosser bly deur met liefde en gehoorsaamheid te reageer op wat deur die gawe van die Heilige Gees moontlik gemaak word. Jesus verklaar in Johannes 10:27: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.”

In sy halfjaarlikse brief aan die Wêreld van Môre-intekenaars bied dr. Meredith ’n spesiale gratis DVD aan met die titel “Escape the Great Tribulation” – ’n samestelling van drie van ons heel beste Tomorrow’s World beeldsendings. Indien u nog nie die versoekvorm wat saam met die brief gekom het teruggestuur het nie, moedig ek u aan om dit sommer nou te doen. Reageer op dit wat Jesus Christus deesdae deur Sy Kerk en Sy Werk doen!

Kyk op na u Verlosser!

Op wie vertrou u vir leiding in u lewe? U Bybel gee aan ons inspirerende beloftes wat u behoort op te eis en te vertrou. Jesus het aan ons hierdie bemoedigende belofte gegee: “Ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matthéüs 28:20). God die Almagtige gee aan ons hierdie belofte in Hebreërs 13:5: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”

Natuurlik wil ons Vader in die hemel hê dat ons in elke opsig ontvanklik vir Jesus Christus, ons Verlosser sal wees. Wat vra Christus van ons, Sy volgelinge? Hy sê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36). Wanneer ons na die wydverspreide boosheid en verwarring in die wêreld rondom ons kyk, mag dit sommige mense tot depressie, wanhoop en moedeloosheid dryf. Menslik gesproke lyk dit asof daar geen oplossing vir die eeue-oue probleem van oorlog, gierigheid en die menslike natuur is nie. Ons as Christene weet egter dat die ware antwoord nie menslik van aard is nie! Slegs die Wederkoms van Jesus Christus, die toekomstige Koning wat die Koninkryk van God hier op die planeet Aarde sal vestig, sal die mensdom van totale selfvernietiging red. Omdat ons as Christene daardie hoop het, kan ons moedeloosheid vermy. God het aan ons hoop, bemoediging en praktiese maniere gegee om op ons Christelike verantwoordelikhede gefokus te bly. Om meer hieroor te wete te kom kan u gerus my artikel, “Sewe sleutels vir gemoedsrus”, elders in hierdie uitgawe lees.

Vir diegene wat nie werklik ontvanklik vir Jesus Christus is nie, verval ons huidige wêreld al hoe meer  in volslae boosheid, met die wydverspreide en bewuste verwerping van alles wat eens as heilig beskou was deur diegene wat Christus bely het. Ons Hoofredakteur, dr. Roderick C. Meredith, het ’n treffende artikel geskryf waarin hy die maniere beskryf waarop Satan probeer om hierdie wêreld te mislei. Lees sy insiggewende artikel, “Satan se alternatiewe heelal”, elders in hierdie tydskrif en u sal beter insig verkry van hoe belangrik dit is dat ons Satan weerstaan en ontvanklik vir Jesus Christus bly.

Onthou my vriende, daardie “ontvanklikheid” is ’n “tweerigting straat”. Indien ons op ons Verlosser reageer, beloof Hy om op ons te reageer. Christus is ons Hoëpriester, gretig om namens ons by Sy Vader in te tree (Hebreërs 7:25). Een manier waarop God op die gebede van sy dienaars reageer, is deur genesing. Natuurlik sal alle Christene uiteindelik “genees” wees wanneer hulle weer as onsterflike geestelike wesens in die Gesin van God gebore word. Ons weet ook dat God ten volle in staat is om ons vandag in ons menslike liggame te genees, indien dit Sy wil is. Die gewyde seremonie met die neem van die Pasgabrood elke jaar, herinner ons daaraan dat die liggaam van ons Verlosser as ’n offer gebreek was en dat Hy die een is “deur wie se wonde julle genees is” (1 Petrus 2:24; sien ook Jesaja 53:5).

Het u genesing nodig? Verstaan u hoe en waarom God genees? Die Wêreld van Môre-skrywer Rod McNair het elders in hierdie uitgawe ’n treffende artikel: “Waarom genees God?” geskryf. Lees hierdie bemoedigende artikel en u behoort dan ’n groter waardering as voorheen vir die wonderlike gawe van goddelike genesing te hê.

Berou en bekering tot gehoorsaamheid

Wanneer ons gesond gemaak word, is ons vry van ’n fisiese kwaal wat ons geteister het. Indien ons egter na ons ou weë terugkeer waardeur daardie kwaal in die eerste plek veroorsaak is, tot watter voordeel sou die genesing strek? God wil hê dat ons op Hom reageer deur berou tot bekering – deur ons te distansieer van ons ou sondige weë.

Presies wat is berou tot bekering? Die Griekse woord vir “bekering” is metanoeo wat beteken om “anders te dink”. Mens moet van sonde bekeer deur anders daaroor te dink. Wat is sonde dan? “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid” (1 Johannes 3:4). Die NV stel dit eenvoudig só: “Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God.” Wanneer u een van die Tien Gebooie oortree, het u gesondig. Soos die apostel Jakobus skryf: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ’n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word” (Jakobus 2:10-12).

Wanneer ons ons van sonde bekeer, is ons intens jammer dat ons God se Wet oortree het. Ons het nie meer ’n vyandige gesindheid teenoor God en Sy Wet van vryheid nie. Ons het nie meer ’n vleeslike gesindheid wat vyandiggesind teenoor die Wet van God is nie (vgl. Romeine 8:7). Na bekering wil ons in harmonie met God se Wet van liefde wees – die Tien Gebooie. Bekering bring ’n deeglike verandering in ons denke mee en ’n ontvanklikheid vir elke Woord van God. Soos Jesus sê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4).

 Ware bekering is hoegenaamd nie soos die aardse berou wat ons dikwels in diegene sien wat vir hulle misdade of sondes uitgevang word nie. Die berou “om uitgevang” te word, is nie die belydende berou wat ervaar word wanneer die behoefte om te verander besef word en die teenoorgestelde rigting in te slaan nie. “Want die droefheid volgens die wil van God werk ’n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood” (2 Korinthiërs 7:10).

Let op die eienskappe van goddelike berou: “Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God – wat ’n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is” (2 Korinthiërs 7:11).

Indien u gehoor gee aan Jesus Christus – indien u opreg daarna streef om volgens elke Woord van God te leef en om die vrugte van die Gees in u lewe te dra – sal u daardie goddelike bekering ervaar wanneer u besef dat u skuldig is aan sonde. Christene is deur die bloed van Christus van hulle sondes van die verlede gered; ons word nou gered (2 Korinthiërs 2:15) en ons “sal deur sy lewe gered” word (Romeine 5:10).

My vriende, ek bid dat u op Jesus Christus, die wêreld se toekomstige Koning van die konings en Here van die here sal reageer, in alles wat u dink, sê en doen!