Alleenlik die Wederkoms van Christus sal die planeet Aarde “onder nuwe bestuur” plaas!

VRAAG: Indien God almagtig is, waarom laat Hy Satan toe om die “god van hierdie wêreld” te wees (2 Korinthiërs 4:4)?

ANTWOORD: Die Skrif maak dit duidelik dat die duiwel – Satan – tans in beheer van die planeet Aarde is. Jesus Christus het Self kort voor Sy inhegtenisneming en kruisiging Satan se gesag erken: “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Johannes 14:30).

Hoe oefen die duiwel sy heerskappy uit? Hy beïnvloed wêreldgebeure deur sy bose idees binne-in die gedagtes van mense te plaas; baie soos ’n televisiesender sy seine die lug instuur om in mense se huise opgevang te word. Hierdie ooreenkoms kan ons help om te verstaan waarom noem die Skrif vir Satan die “owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander” (Efésiërs 2:2-3).

Was daar altyd ’n Satan? Nee! God het ’n invloedryke en pragtige aartsengel met die naam Lucifer geskape wat saam met Michael en Gabriel by God se troon in die hemel gedien het. Waarom het hierdie Lucifer (Latyns vir “lig-bringer” of “môrester”) geval en Satan geword (Hebreeus vir “aanklaer” of “teenstander”)? U kan hieroor in Eségiël 28:12-17 en Lukas 10:18 lees.

Lucifer en ’n derde van die engele (Openbaring 12:3-4) het teen hulle Skepper in opstand gekom en is uit God se teenwoordigheid gewerp (verse 7-9). Klaarblyklik is die taak aan Lucifer en sy engele gegee om die aarde voor te berei vir sy rol in God se plan vir die mensdom. Hierdie kragtige aartsengel was ontevrede met die rol wat God hom gegee het en het ’n onsuksesvolle rebellie teen God die Vader en die Woord gelei (Johannes 1:1-3).

Satan het in sy opstand misluk, maar hy bly in die posisie wat God hom gegee het, waar hy ironies genoeg nog steeds instrumenteel in God se plan is. Die mensdom spandeer 6,000 jaar om volgens hulle eie manier te leef en word deur die gees van selfsug en boosheid van Satan beïnvloed. Hulle skryf met hulle eie bloed, sweet en trane die geskiedenis van hoe dit is om in ongehoorsaamheid, in teenstelling met God se lewenswyse, te leef.

Die Woord het ’n bietjie meer as 2,000 jaar gelede na die aarde gekom, verpersoonlik as ’n mens – Jesus Christus. Deur Sy volmaakte lewe te leef – met die Heilige Gees gevul sonder mate – het Hy bewys dat ’n mens met God se hulp, in gehoorsaamheid aan God kan leef en Satan se weë kan verwerp (Galásiërs 2:20).

Dit is as gevolg van Jesus Christus dat Satan se heerskappy op die aarde binnekort beëindig sal word. Dit is waarom die duiwel net die god van “hierdie tydperk” genoem word. ’n Duisendjarige tydperk sal binnekort aanbreek wanneer Jesus Christus vir Satan as die heerser van hierdie wêreld sal vervang. Ons noem daardie tyd “die Millennium”. Jesus Christus wat as ’n mens na die aarde gekom het en ’n volmaakte sondelose lewe gelei het, sal weer as Koning kom en Satan uit sy posisie van heerskappy onttroon.

Aangesien die Millennium nog nie hier is nie, wat kan ons doen om die bose gevolge van Satan se heerskappy te vermy? Diegene wat hulle bekeer, word gedoop en aanvaar Jesus Christus se offer deur die krag van die Heilige Gees en staan nou onder God se Regering en ontvang die krag om Satan se invloed in hulle lewens te weerstaan. “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” (Jakobus 4:7-8).

God kyk om te sien wie aan Jesus Christus gehoorsaam is en wie hulle aan die bose onderwerp. “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Petrus 4:17-18).

Wanneer die Vredevors weer kom om Sy Regering oor die nasies te vestig, sal Satan se heerskappy beëindig word. “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word” (Johannes 12:31). Mag God daardie dag bespoedig!