Met die wêreld wat skynbaar oral rondom ons ten gronde gaan, is daar enigiets wat u kan doen om uself en u geliefdes te beskerm?

Tye is moeilik en sal moeiliker word ... maar daar is ’n manier om dit vry te spring!

Dit wil voorkom of die struktuur van ons wêreld besig is om voor ons oë geheel en al te verval. Dit lyk of die samelewing voortjaag soos ’n wegholtrein wat buite beheer is met geen remme, geen kondukteur en geen duidelike uitsig vorentoe nie. Onsekerheid en vrees deurtrek die gemoedere wêreldwyd. Baie mense is bekommerd oor die toename in rassespanning, geweld en terrorisme, onsedelikheid en politieke woede. Andere vrees ’n wêreldwye ekonomiese ineenstorting. Baie mense regoor die wêreld begin agterkom dat daar iets verskrikliks verkeerd is. Wat kan u doen? Lees verder!

Dit lyk werklik of die hele wêreld rondom ons besig is om ten gronde te gaan. Dit lyk of ou gebruike nie meer toepaslik is nie. Om sin te maak uit die gebeure van die jaar 2014, het die New York Times se skrywer Roger Cohen, die jaar só opgesom: “Dit was die tyd van verval. Lank daarna, in terugblik, het mense gevra: Hoe kon dit gebeur het? Dit was ’n tyd van onthoofdings ... Dit was ’n tyd van aggressie ... Dit was ’n tyd van verbrokkeling ... Dit was ’n tyd van swakheid ... Dit was ’n tyd van haat ... Dit was ’n tyd van onrus ... Dit was ’n tyd van verwarring ...” (“The Great Unraveling”, nytimes.com, Op-Ed, 15 September 2014). Met ander woorde, 2014 was ’n tyd van groot benoudheid regoor die wêreld.

’n Jaar later het niks verander nie. Indien daar wel iets was, dan het die trein net vinniger voortgesnel. Op 30 Augustus 2015 skryf die blogger Chris Hedges van die onstabiele gemengde gevoelens van frustrasie en woede regoor die wêreld en die geweld wat dit tot gevolg gehad het: “Die fisiese, omgewings-, maatskaplike- en politieke- disintegrasie word weerspieël in ’n oplewing van sinnelose geweld wat deur woede gedryf word. In die Verenigde State voer waansinnige gewapende mans massamoorde uit in winkelsentrums, rolprentteaters, kerke en skole. Boko Haram en die Islamitiese Staat (ISIS) is besig met moordaanslae. Selfmoordaanvallers rig metodies dodelike chaos aan in Irak, Afghanistan, Saoedi-Arabië, Sirië, Jemen, Algerië, Israel en die Palestynse gebiede, Iran, Tunisië, Libanon, Marokko, Turkye, Mauritanië, Indonesië, Sri Lanka, China, Nigerië, Rusland, Indië en Pakistan” (“The Great Unraveling”, truthdig.com). Waar sal dit alles eindig? Is hierdie die “nuwe normaal”?

Die November 2015 en Maart 2016 terreuraanvalle in Parys en Brussel, het baie Europeërs se gevoel bevestig dat basiese dinge verander het en dit is onduidelik of dit moontlik sal wees om weer terug te verander.

In die Midde-Ooste het vyf jaar van oorlog in Sirië nie net groot getalle van daardie volk vernietig nie, maar die noordweste van Europa is diep geraak. In November 2015 het die blogger John Feffer beskryf hoe die groot vlaag van vlugtelinge na Europa daardie kontinent destabiliseer en dit uitmekaar mag skeur. Hy het geskryf: “Die syfers is verstommend en dit lyk na ’n ontsaglike groot bevolkingsverplasing van ’n verbrokkelende Groter Midde-Ooste ... ’n anti-migrant, anti-Moslem driftigheid is nou besig om dele van Europa in sy greep te kry, terwyl verregse partye, nie toevallig nie, aan die toeneem is ... Al hierdie dinge (en meer) verteenwoordig ’n verstommende ontwikkeling wat vroeër of later die groeiende geïntegreerde aard van Europa kan omkeer deur mure en versperrings regoor die hele vasteland te bou en die Europese Unie onomkeerbaar laat verbrokkel ...” (John Feffer, “John Feffer: On the Verge of the Great Unraveling”, tomdispatch.com, 10 November 2015). Net drie dae later is 130 mense in gekoördineerde aanvalle regoor Parys om die lewe gebring. Op 1 Januarie het seksuele aanvalle deur bendes in Keulen en in ander stede in Duitsland plaasgevind. Dit het die Europese Unie geskok en meer bekommernis oor die radikale elemente onder asielsoekers in Europa laat ontstaan.

Die Financial Times se webwerf het ook in Desember die wêreld se ekonomiese vooruitsigte vir daardie jaar op hierdie manier opgesom: “Dit wil voorkom of ’n gevoel van onrus en voorspooksels al die groot magsentrums van die wêreld in 2015 getref het. Vanaf Beijing tot Washington, Berlyn tot Brasilië, Moskou tot Tokio was regerings, die media en burgers, senuweeagtig en slaggereed. Hierdie soort wêreldwye angs is ongewoon ... Op die oomblik lyk dit of al die groot spelers onseker of selfs bang is” (“Battered, bruised and jumpy: The whole world is on edge”, FT.com, Gideon, Rachman, 28 Desember 2015). Sedert daardie tyd het meer vrese vir ’n wêreldwye ineenstorting opgeduik.

Sal dit u ondergang wees?

Wat moet ons doen? Behoort ons bekommerd en angstig oor die toekoms te wees? Hoe behoort ons te reageer wanneer ons hierdie gebeure rondom ons sien plaasvind?

Dit mag heelwaarskynlik nie net wêreldgebeure en nasionale probleme wees wat u bekommer nie. U mag heel moontlik oor u eie persoonlike uitdagings bekommerd wees. Met wat sommige mense “die verval van globalisering” noem, raak dit al hoe moeiliker om ’n betrekking te vind en te behou. Baie mense is gespanne namate geld skaarser raak. Regoor die wêreld ly gesinne as gevolg van die effek van vernietigende persoonlike skuld. Ander mense ly as gevolg van uitdagings in verhoudings -– om met ’n huweliksmaat saam te leef, kommer wat betref hulle kinders of ouers of om persoonlike probleme te oorwin.

Waaroor u ookal gespanne is, ongeag hoe ons wêreld skynbaar agteruit gaan, kan ons hoop hê. Daar is ’n manier om te ontvlug deur God se lewenswyse te volg, selfs wanneer ons vind dat ons wêreld uitmekaarval. Dit is belangrik om daarop te let dat die maatskaplike agteruitgang en verval wat ons vandag sien, baie eeue gelede al voorspel is. Paulus het daaroor geskryf in sy tweede brief aan die jong evangelis en prediker, Timótheüs: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Timótheüs 3:1-5).

Wat ’n lys! Paulus het op soveel maniere as moontlik probeer om te verduidelik wat hy deur God se inspirasie vooruitgesien het. Daar sal ’n katastrofiese morele ineenstorting aan die einde van die tydperk wees. Dit sal ’n tyd wees wanneer mense meer by hulle eie selfsugtige begeertes betrokke sal wees as om hulle Skepper of medemens te dien. Dit sal ’n tyd wees wanneer mense meer bekommerd oor hulleself sal wees as oor hulle kinders of toekomstige generasies. Die geskiedkundige en Harvard professor, Niall Ferguson, het die ineenstorting van “die Amerikaanse ryk” binne ons generasie se leeftyd voorspel. Een van die redes waarom hy meen die Verenigde State ineen sal stort, is omdat ons generasie meer met onsself gemoeid is as met die volgende generasie (“Niall Ferguson: Four Reasons America is Falling Apart”, thinkadvisor.com, Gil Weinreich, 2 Mei 2013 ). Wat ’n beskuldiging!

Vanuit verskillende oogpunte is baie mense van mening dat dinge nie in die regte rigting beweeg nie. Mense is bekommerd omdat dinge in die ekonomie, politiek, moraliteit, nywerheid en onderwys handuit ruk; hulle voel dat daar ’n agteruitgang van burgerlike orde is. Ordentlike mense regoor die hele wêreld vrees dat dinge verkeerd loop.

Hoe het dit gebeur? Waar het ons verkeerd gegaan? Om die oorsaak te vind, moet ons na die verlede kyk. Die wettiging van dieselfde-geslag huwelike in lande regoor die wêreld is ’n ernstige teken dat daar iets in ons samelewing verkeerd is. Die toename in huweliksontrouheid, egskeiding en die verval van die huisgesin is ’n kwessie wat wêreldwye maatskaplike probleme veroorsaak. Die wreedheid van aborsie het vir dekades beteken dat, selfs in ons verligte, moderne wêreld, ontelbare miljoene kosbare lewens tragies beëindig word. Hierdie maatskaplike euwels is nogtans nie die werklike bron van ons probleme nie! Ons behoort verder as die laaste paar jaar of die laaste paar dekades te kyk. Ons behoort na die geskiedenis te kyk. Om die waarheid te sê, behoort ons na die begin terug te gaan. Wáár kan ons die begin vind? In die Bybelboek Génesis.

Die begin van die antwoord!

Spotters, selfs sommige belydende Christene, beweer dat die boek Génesis ’n mite en fabel is. Génesis is egter Skrif en alle Skrif is “deur God ingegee” (2 Timótheüs 3:16). Génesis bevat die verhaal van Adam en Eva in die tuin van Eden en Jesus het uit Génesis 1 en 2 aangehaal (Matthéüs 19:4-6). Adam en Eva het werklik bestaan en die keuses wat hulle gemaak het, het vir die hele menslike nageslag gevolge meegebring. Hulle het die maatskaplike euwels en sosiale verval wat ons vandag ervaar aan die gang gesit.

In die boek Génesis lees ons dat God die gras, die bome, die visse van die see en die voëls van die hemel geskep het. Hy het alles geskape! Hy het die mens geskape en uit die man het Hy die vrou geskape. Hy het hulle aangesê om die aarde te vul en regverdig daaroor te regeer. Hy het hulle die nodige geleer sodat hulle voorspoedig in hulle nuwe omgewing kon leef. Baie gou het iets egter skeefgeloop. Let op in Génesis 3:1: “Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die Here God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” Hier het Satan die duiwel in die prentjie gekom. Dit is die engel wat van sy weg afvallig geraak het en ’n weg van opstand teen God gekies het. Hier het hy in die tuin probeer om daardie weg aan die eerste menslike wesens te verkoop. Ons lees verder: “En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken” (Génesis 3:2-5).

Satan het die strik gestel. Hy het aan hulle gesê dat God ’n leuenaar is! Dit was nog altyd sy boodskap: “Moenie God vertrou nie. Moenie alles navolg wat hierdie boek sê nie. U kan kies en keur. U kan kies om ontrou aan u huweliksmaat te wees. U kan ongestraf moord pleeg. U kan lieg en bedrieg en steel vir ’n ‘goeie’ rede!” Die mensdom het ongetwyfeld hierdie weg gevolg en blindelings sy eie reëls gemaak. Dit het egter alles in die tuin van Eden begin.

Wat het met Eva gebeur? Sy is in die strik gevang. “Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ’n lus was vir die oë, ja, ’n boom wat ’n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet. Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak” (Génesis 3:6-7).

Vir die eerste keer het Adam en Eva skuldig gevoel. Waarom? Hulle het hulleself van God gedistansieer en ’n ander pad gekies. Elkeen van ons het dieselfde natuur! Soos ons ouers, het elke enkele mens die verkeerde weg gekies – behalwe vir Jesus Christus wat nie gesondig het nie! Waarom is ons dus verbaas dat boosheid, korrupsie, morele onsedelikheid en geweld toeneem? Dit het alles daar in die tuin begin. Adam en Eva was uit die tuin gewerp en het so op hierdie manier die menslike geslag van God afgesny. Sedertdien is dit die pad wat die meerderheid van die mensdom volg.

Kies God se weg!

Die vraag is, op watter weg is u? Probeer u om God te gehoorsaam en in Sy weë te wandel? Het u die gesag om te besluit wat reg en wat verkeerd is, of is dit God se voorreg?

Die struktuur van die samelewing rondom ons is besig om te verval. Wat kan u daaraan doen? Ek en u kan kies om die regte weg te bewandel en die verkeerde een te weerstaan. Let op wat Jesus in Matthéüs 7:13-14 sê: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” Wat doen u wanneer alles rondom u klaarblyklik uitmekaarval? Wat doen u wanneer u ’n ernstige geskil met ’n vriend het? Wanneer u voel dat u wêreld by die huis rondom u in duie stort? Wat doen u wanneer dit voorkom of u nie uit die siklus van twis en argumente kan kom nie? Waarheen draai u, wanneer u probleme in u huwelik het?

Gee u eie manier prys. Kies om in God se weë te wandel, die weë van Jesus Christus van die Bybel. Die samelewing is op die verkeerde pad – maar u hoef dit nie blindelings te volg nie.

Net voordat Jesus Christus Sy lewe vir die sondes van die wêreld gegee het, het Hy hierdie bemoedigende woorde gespreek: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle” (Johannes 14:1-4). Satan beeld God as ’n leuenaar uit. Hy snou: “U kan nie staatmaak op wat God sê nie – u kan God nie vertrou nie”. Op een of ander stadium in ons lewe sal ons moet besluit wie ons wil glo: Diegene wat deur die boodskap van Satan die duiwel beïnvloed word, of die ware God van die Bybel?

Let op Jesus se reaksie aan die twyfelende apostel Thomas: “Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:5-6).

Hoop in Christus!

Die enigste weg na die lewe is deur ’n persoonlike verhouding met ons Verlosser, Jesus Christus. Ons moet Hom toelaat om Sy Gees in ons te plaas en Sy lewe in ons te leef. Ons moet Sy Gebooie bewaar. Ons moet begin om die weg te bewandel soos Hy het en leef soos Hy geleef het. Ons moet die lewenswyse van die wêreld verwerp!

Die profeet Jeremia het die ineenstorting van ’n magtige nasie beleef, die antieke nasie van Juda. Hy het die ineenstorting van ’n koninkryk beleef. Hy het getreur oor die sondes van sy volk en die straf wat hulle as gevolg van hulle sondes verduur het. Hy het egter ook daardeur geleef en dit oorleef! Hy was aan God getrou. Hy was op daardie stadium deel van God se werk en was by daardie generasie betrokke met die prediking van die boodskap van waarheid en hoop en die ware weg van die lewe. Sy boodskap weerklink vir ons generasie, wat vandag voor soveel onsekerhede te staan kom. Aan die eenkant het Jeremia die straf voorspel wat hulle sou verduur vir hulle opstand teen God. Hy het nogtans die bemoediging van lewe en vrede anderkant die donker tye bygevoeg. Hier is die woorde wat God tot daardie generasie gespreek het: “Want ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee” (Jeremia 29:11).

’n Hoopvolle toekoms. Wat kan beter wees? Dit is wat elkeen wil hê – of u in Brussel of Birmingham, Colombia of die Ivoorkus woon. Alle ouers wil hê dat hulle kinders in ’n wêreld van vrede leef. Hulle wil met sekerheid weet dat hulle kan werk en vir hulle eie gesin voorsiening kan maak. Hulle wil weet hoe om met hulle bure saam te werk. Hulle wil weet hoe om hulle huweliks- en gesinsverhoudings te laat werk.

Dit is nou nog nie daardie wêreld nie. Miljoene mense het uit Sirië gevlug op soek na ’n tuiste en as vlugtelinge kry hulle swaar. Miljoene ander mense is in hulle eie land verskuif, met geen ander heenkome nie. Gesinne in die Oekraïne leef in ’n land waar die ekonomie ineengestort het as gevolg van voortdurende konflik tussen diegene wat lojaal aan die regering is en die oproeriges. Die lyding hou net aan.

Ongelukkig, as gevolg van die mensdom se keuses, lei hierdie wêreld se pad na chaos, vernietiging en die dood. Die Ewige God sê egter dat Hy uiteindelik ’n toekoms en hoop in gedagte het vir almal wat gewillig is om Sy weg te kies. Ons lees verder in verse 12-13: “Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.”

Tree op terwyl u kan!

Die wêreld is aan die verander. Jesus het in verband met die eindtyd gesê: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Lukas 21:25-26). Christus kom terug en Hy sal betyds die mensdom verhinder om hulleself uit te wis. Sommige mense sal Hom egter met die vyand verwar en bang wees, omdat hulle Hom nie ken nie.

Vir diegene wat Hom ken sal Sy Wederkoms ’n opwindende geleentheid wees! “En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:27-28).

U hoef nie bang te wees wanneer die wêreld rondom ons ineenstort nie. Daar is ’n pad na veiligheid, vrede en hoop. Daar is ’n weg wat vervulling en rustigheid bring – selfs in moeilike tye. Ons Skepper-God bied daardie geleentheid aan u! Tree op volgens die waarheid! Die keuse berus by u!