Bekende godsdienstige gebruike openbaar die mensdom se vrugbare verbeelding!

VRAAG: Ek wonder elke Paasfees: Wat het gekleurde eiers en wollerige hasies met die dood en opstanding van Christus te doen?

ANTWOORD: Biologie maak dit duidelik: Hase lê nie eiers nie! Wat het hase en eiers dus in gemeen? Hase is bekend vir hulle reproduktiewe vrugbaarheid. Eiers word as ’n simbool van vrugbaarheid beskou.

Wat het vrugbaarheid dan met Paasfees te doen? Baie mense wat hierdie vakansie vier, besef glad nie dat Paasfees nie ’n Bybelse vakansiedag is nie – dit is afgelei uit die voor-Christelike vierings van vrugbaarheid in die lente, wat aan heidense godinne met name soos Ishtar, Astarte en Ostara gewy is en waarvan die naam “Easter” afgelei is. Ook diegene wat ’n woordspeling maak soos die Engelse woorde “Son rise” en “sunrise” mag heel moontlik nie daarvan bewus wees dat hulle Paasfees se oggend “sunrise”-diens – met hulle gesigte in die rigting van die opkomende son gedraai tydens hulle aanbidding – nie sy oorsprong in die Skrif het nie, maar in heidense aanbidding van die songodin.

’n Paar mense sal sê: “Wel, ons ‘doop’ net ’n heidense gebruik en maak dit Christelik”. Wat sê God egter oor daardie benadering? Die profeet Jeremia het God se baie duidelike en eenvoudige opdrag opgeteken: “Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie” (Jeremia 10:2). Die gedeelte in Jeremia gaan voort om die maak van houtafgode te beskryf wat dit duidelik maak dat God nie heidense aanbiddingspraktyke in Sy eie aanbidding ingevoer wil hê nie.

Wil God dan hê dat Christene Paassondag vier? U mag moontlik verbaas wees om te verneem dat daar geen Bybelse rekord van Paassondag- aanbidding is nie en geen opdrag aan ons gegee is om vandag só te aanbid nie! Soos gereelde lesers van hierdie tydskrif weet, het Christus kort voor sononder op ’n Woensdag gesterf en is in die graf geplaas, net voor die aanvang van die jaarlikse Heilige Dag wat bekend is as die Eerste Dag van Ongesuurde Brode (sien Levitikus 23:6). Die Skrif toon dat Jesus vir drie dae en drie nagte in die graf was – 72 uur – wat beteken dat Hy net voor sononder op die Saterdag opgestaan het! Teen die tyd dat die vroue op die Sondagoggend by die graf gekom het, het Hy alreeds opgestaan (Matthéüs 28:1-8)!

Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het aangedring om ’n teken van Christus se Messiasskap te sien, waarna Hy gesê het dat Hy aan hulle “die teken van die profeet Jona” sou gee (Matthéüs 12:39; Johannes 2:19). Hy het inderdaad gesê dat dit die enigste teken sou wees wat Hy sou gee. Jona was vir drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis en Christus sou vir daardie selfde tydperk in die graf wees. Let daarop dat dit ook die latere “Goeie Vrydag”-gebruik as ’n onbybelse verhaal openbaar, aangesien ’n Vrydag-begrafnis vir Christus tot die Maandagaand in die graf sou hou, hoewel die Skrif duidelik toon dat die graf reeds leeg was toe die vroue vroeg die Sondagoggend daar opgedaag het.

Indien Paassondag dus ’n valse gebruik is, hoe behoort Christene Christus se offer te herdenk? Weereens openbaar die Skrif die antwoord. Die apostel Paulus skryf aan die Christene in Korinthe: “... want ook ons paaslam [korrekte vertaling: Pasgalam] is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Korinthiërs 5:7). Tydens Sy finale Pasgamaaltyd saam met Sy dissipels na sononder op 14 Nisan, het Christus die nuwe simbole van brood en wyn ingestel, wat Sy liggaam en Sy bloed voorgestel het (Matthéüs 26:26-28). Paulus herinner die Korinthiërs daaraan dat die Pasga die jaarlikse gedenkdag van Christus se offer is. “Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Korinthiërs 11:23-26).

Christus se liggaam was gebreek vir ons fisiese genesing (Jesaja 53:5), Sy bloed was gestort tot vergifnis van ons sondes (Matthéüs 26:28). Christene behoort dus nie ’n nie-Christelike vakansie met hasies en eiers en ander heidense simbole van vrugbaarheid te vier nie. Hulle behoort die Pasga as die ware herdenking van Sy offer te onderhou.