Watter eienskappe soek u in ’n vriend? Is ’n persoon se voorkoms vir u die belangrikste? Dink u mense is “cool” as gevolg van hulle gedrag of hoe hulle aantrek? Heg u dalk meer waarde aan ’n persoon se karakter en ander eienskappe én hulle invloed op u lewe?

Die Bybel bied goeie raad om na op te let en wat om te vermy wanneer dit by die keuse van vriende kom. Een bekende beginsel van positiewe vriendskap word in die Ou Testament in die boek Spreuke gegee: “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander” (Spreuke 27:17). Wat beteken hierdie Skriftuur en hoe kan hierdie idee u vriendskappe lei?

Volgens The Bible Knowledge Commentary: “Wanneer yster teen ’n ander stuk yster geskuur word, word dit gevorm en skerp gemaak. Net so kan mense mekaar help om te verbeter deur hulle besprekings, kritiek, voorstelle en idees”. Die beeld van ’n sjef wat ’n staalstaaf gebruik om ’n mes skerp te maak, is ’n goeie voorbeeld van die gebruik van sterk metale om die instrument te verbeter.

In direkte verband met vriendskap, sê The Life Application Study Bible: “Daar is ’n geestelike skerpsinnigheid wat spruit uit samesyn met goeie mense. Twee vriende wat hulle idees saamvoeg kan mekaar help om skerpsinniger te word”.

Hierdie Skrifgedeelte beklemtoon die belangrikheid om vriende te maak met kwaliteit mense wat daartoe bydra om onsself te verbeter. Sulke vriende kan ons begrip en wêreldbeskouing aansienlik verbreed en kan terugvoering gee wat ons gedrag verbeter. Sonder hierdie tipe persoonlike hulp kan ons ’n verkeerde, opgeblase siening van ons eie idees en gedrag ontwikkel.

Waarom is dit belangrik?

Een van die belangrikste besluite wat ’n jong persoon kan neem is om vriende te kies. Die invloed wat deur ons naaste verwantskappe uitgeoefen word, sal neig om die verloop van ons lewens te bepaal – of dit nuwe opsies, moontlikhede en aanmoediging is om te groei, of om ons op paaie te lei wat ons ontwikkeling inperk en ons in die moeilikheid kan laat beland.

Vir diegene wat daarna streef om God se leerstellings te volg, is hierdie keuse lewensbelangrik. Die Bybel waarsku: “Die regverdige vind sy weide uit, maar die weg van die goddelose laat hulle dwaal” (Spreuke 12:26). Soos hierdie Skriftuur aandui, bring die ”slegte” dikwels die “regverdige” ten gronde. Hierdie punt word in 1 Korinthiërs 15:33 herhaal: “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.” Ons behoort dit nie as vanselfsprekend te aanvaar dat ons onder ’n slegte invloed kan bly, sonder dat dit ons ten kwade verander nie.

Dit is waarom dit so belangrik is om “yster slyp yster” verhoudings te vind. Ons verhoog die kans op sukses wanneer ons onsself met mense omring wat ons ophef. Dit is ’n goeie ding wanneer ons vriende uitmuntende eienskappe van ons verwag. Ons is dan geneig om dit van onsself ook te verwag.

Persoonlike voorbeeld

Wanneer ek na my vormingsjare terugkyk, besef ek dat my lewe grootliks deur die kwaliteit van my vriende beïnvloed is. Daar was tye wanneer hulle direkte leiding en raad my gehelp het om die nodige veranderings in my benadering tot die lewe te maak.

Terwyl ek op kollege was moes ’n goeie vriend my konfronteer omdat ek oor die algemeen onaangename gedrag openbaar het. Ek was onbewus van hoe irriterend ek geword het en my vriend moes my hiervan bewus maak. Dit was pynlik om dit te hoor en aan die begin was ek op die verdediging, maar namate hy aan my verskeie oortredings verduidelik het, het dit duidelik geword dat ek na sy woorde behoort te luister en daarvolgens te handel. Vandag waardeer ek dit dat my vriend genoeg omgegee het om my uit te daag, want wat hy aan my uitgewys het, het my deur die res van my lewe gehelp. Op daardie manier het hy my “geslyp”.

Dit is nogtans maar net een van die vele maniere waarop ’n vriend my gehelp het om te verbeter. Daar was talle geleenthede wanneer deelname aan insiggewende gesprekke met vriende my denke op maniere verbreed het, wat ekself nooit sou ervaar het nie. Dit is heel moontlik die belangrikste aspek van “slyp” wat ek ondervind het. Selfs my heel intiemste Christelike oortuigings is gevorm en duidelik gemaak aangesien ek die voordeel gehad het om my gedagtes te suiwer deur goeie vriende, wat ook op soek was na ’n beter begrip van God se lewenswyse.

U beurt!

Daar is ooglopende voordele om ons met vriende te omring wat ons aanmoedig om beter mense te word. Soos die term “yster slyp yster” dan ook aandui, behoort daar wedersydse bydraes tot die verbetering van mekaar te wees. Met ander woorde, ons vriende behoort net soveel baat te vind om vriende met ons te wees, as wat dit ons bevoordeel om vriende met hulle te wees. Dit kan dus nuttig wees om te ontleed of dit waar is in u verhoudings. Verbeter u invloed ander mense? Indien nie, is daar stappe wat u kan begin neem om diegene rondom u te slyp:

1. Verbeter uself – Streef daarna om ’n persoon van gehalte te word deur die ontwikkeling van u intellektuele en geestelike kapasiteit. Dit kan bereik word deur die verkryging van wysheid en insig. ’n Goeie plek om te begin is om die boek Spreuke te lees en uit te leef, wat persoonlike verbetering as ’n verklaarde doel het: “... om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan, om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid; om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg; laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry” (Spreuke 1:2-5).

2. Stel die regte voorbeeld – Kennis is van min waarde indien dit nie u lewe verbeter nie. Indien u volgens die wysheid leef wat u opdoen, behoort die positiewe voorbeeld wat u stel outomaties te volg. Mense sal u van nature begin respekteer wanneer hulle sien u is ’n persoon van uitstaande karakter en nie ’n huigelaar nie. U voorbeeld behoort as ’n getuienis te dien van hoe ’n positiewe, omgee en dienende persoon behoort op te tree. Jesus Christus het die fundamentele voorbeeld gestel deur Sy dissipels, wat Hy Sy vriende genoem het, te dien: “Want Ek het julle ’n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen” (Johannes 13:15, vgl. Johannes 15:15).

3. Wees lief vir u naaste – Soek nederig na maniere om ander mense te help en behou ’n opregte begeerte om hulle te sien slaag. Onthou die “gee en neem” dimensie van yster wat yster slyp, wat wedersydse interaksie aanmoedig waardeur elke persoon bevoordeel word. Indien ander mense waarneem dat dit u motivering is om lief te hê en ander mense te dien, sal u geleenthede vir wedersyds bevredigende verhoudings toeneem, as gevolg van die sorgsaamheid wat u vir andere demonstreer. “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself” (Filippense 2:3).

Soos vele suksesvolle mense ontdek het, maak die kwaliteit van ons hegste persoonlike verhoudings ’n geweldige verskil in die vorming van wie ons is. Ons behoort dankbaar te wees wanneer ons deur vriende wat omgee uitgedaag word en wat ons ruwe kante wegskaaf, ons denke verbeter en ons help om daarna te streef om beter te wees. Terselfdertyd behoort ons daarna te streef om dieselfde vir hulle te doen. Dus, as ’n belangrike deel van u persoonlike ontwikkeling, probeer om u lewe met sulke yster slyp yster verhoudings te vul.