William Shakespeare, dramaturg, digter en buitengewone woordsmid, het aan die wêreld ’n voortreflike uiteensetting en kragtige (hoewel by tye onkuis) prosa nagelaat. Die jaar 2016 het die 400ste herdenking van Shakespeare se dood gekenmerk. Regdeur Engeland was feestelikhede ter ere van hierdie nasionale ikoon vir sy onskatbare bydraes tot die Engelse kultuur, kuns en taal geskeduleer.

Shakespeare is oor generasies heen deur baie mense bewonder vir sy vermoë om die Engelse woord en frase so vinnig te hanteer. Hy het oor, wat soms beskou word as die grootste woordeskat van enige skrywer, beskik – sowat 24,000 woorde! Sy bekwaamheid met ’n pen is net verder versterk nadat hy honderde Engelse woorde uniek uitgevind of nuwe betekenis gegee het – baie woorde wat vandag nog steeds in gebruik is.

Wat kan ons uit die lewe en werk van Shakespeare leer? Watter verband, indien enige, bestaan tussen Shakespeare en Engelse vertalings van die Bybel? Taal was William Shakespeare se speelterrein, maar wat openbaar Bybelprofesie in verband met opknapping en suiwering van taal in die toekoms?

Lê die grondslag

William Shakespeare is laat in April 1564 in die landelike dorp Stratford-upon-Avon gebore. Hy het sy vormings-skooljare deurgebring waar hy bekendgestel was aan die meganismes van “oortuigende, elegante en kragtige” verwoording van denke en het sterk gefokus op die antieke Latynse taal wat destyds die lingua franca [omgangstaal] van die mees opgevoede Europeërs was.

Jeremy Lemmon, regisseur en skrywer, beskryf in sy boek, Shakespeare, hoe die jong Shakespeare onderrig was om op “50 verskillende maniere te sê: ‘Ek dink dit gaan reën’, uit Erasmus se De copia verborum (bl. 10). Die jong Shakespeare het “bewus geraak van die hulpbronne en moontlikhede van taal” (ibid., bl. 12). Hierdie intense konsentrasie op verbale en geskrewe verwoording het die grondslag gelê vir die enorme struktuur van Shakespeare se literêre pogings.

In die somer van 1582, net vier jaar nadat hy die skool verlaat het, is Shakespeare met Anne Hathaway getroud. Hulle het saam drie kinders gehad, twee dogters en ’n seun. Die seuntjie het ongelukkig op die ouderdom van elf jaar gesterf. Ongeveer 1587 het Shakespeare Stratford verlaat, terwyl sy gesin in sy tuisdorp agtergebly het, sodat die begaafde skrywer dit kon waag om die geleenthede te verken en die uitdagings te trotseer wat in Londen op hom gewag het.

Londen en nalatenskap

Londen was Shakespeare se tuiste terwyl hy al sy groot toneelstukke geskryf het. Terwyl hy in diens van die Chamberlain’s Men was, ook bekend as “the King’s Men”, was die talentvolle Shakespeare – saam met sy span vrolike akteurs – so suksesvol dat hy in staat was om die Globe-teater te bou. Vandag kan toeriste besoek bring aan ’n moderne, gerekonstrueerde Shakespeare’s Globe, in Bankside by die Teemsrivier.

Oor ’n tydperk van 23 jaar, vanaf 1590 - 1613, het Shakespeare vyf gedigte, 154 sonnette en sowat 38 toneelstukke geskryf – ’n verstommende 884,647 woorde altesaam! Die oorsaak van sy dood op 23 April 1616 is onbekend, maar in sy 52 jaar het hy ’n nalatenskap van toneelstukke saamgestel soos Hamlet, King Lear, Othello, Macbeth en The Tempest, om maar net ’n paar op te noem, wat hom oorleef en ’n beduidende merk op vier eeue van menslike denke ingeprent het – ’n merkwaardige prestasie volgens enige persoon se standaarde.

Die opkoms en oorheersing van die Engelse taal

Dit word deurgaans gesê dat die Bybel regdeur Shakespeare se werk weerspieël word. Dit sou egter oordrewe wees om aan Shakespeare krediet te gee vir ’n beduidende invloed op die Engelse Bybelvertalings. Dit was eerder die werk van William Tyndale in die 16de eeu en John Wycliffe voor hom in die 14de eeu, wat die Bybel in die taal van dieselfde Engelse mense gebring het wat Shakespeare se toneelstukke sou bywoon en op die Bybelse aksent van sy mees aangrypende werke sou ag slaan.

Shakespeare se geskrifte het na alles, tog ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die Engelse taal gespeel, van die bekrompe taal van een Europese eiland tot ’n wêreldwye medium van kommunikasie wat Latyn sou vervang en werklik die algemene tweede taal van die grootste deel van die wêreld sou word. Een ander belangrike faktor in die verspreiding van Engels was die druk en wye verspreiding van die King James Bybel, wat tussen 1604 en 1611 vertaal is. Namate die Britse Ryk uitgebrei het, het sy kolonies nie net die nalatenskap van Shakespeare nie, maar ook van die King James Bybel ontvang – veral ná die Slag van Waterloo in 1815 is die Engelse taal meer opmerklik as ooit tevore na die uithoeke van die aarde versprei.

Geprofeteerde suiwering

Moontlik was Shakespeare nie ’n openlik godsdienstige man gewees nie, maar sy geskrifte toon ’n waardering vir baie van die lewendige en onvergeetlike uitdrukkings wat regdeur die Skrif gevind word. Tog was sy toneelstukke vir ’n alledaagse en dikwels ongekunstelde gehoor geskryf en gevolglik was dit met tye besaai met wat sommige mense as vulgêre en wellustige idees en situasies beskou het. As gevolg van hierdie waarneembare “besoedeling” op Shakespeare se nalatenskap het die Engelse filantroop en geneesheer dr. Thomas Bowdler probeer om dit wat hy as onvanpas beskou het te parafraseer en te suiwer, terwyl al die “skoonheid” van Shakespeare se geskrifte behoue bly. Sy “gesuiwerde” volume met die titel The Family Shakespeare, wat die eerste keer in 1807 gepubliseer is, het vir Shakespeare sonder twyfel selfs ’n meer uitgebreide gehoor gebring. Tog is dit die oorspronklike woorde van die “Bawdy Bard” wat die tyd deurstaan het, terwyl Bowdler se pogings nou grotendeels geminag word.

Wat dan van die idee van suiwerheid in taal? In ’n profesie aangaande die komende aardse heerskappy van Jesus Christus, skryf Sefánja: “Want dan sal Ek aan die volke rein lippe toebring, sodat hulle almal die Naam van die Here sal aanroep en Hom met ’n eenparige skouer sal dien” (Sefánja 3:9). Die Hebreeuse woord wat hier vir “taal” gebruik word is elders as “lippe” in talle ander Skrifgedeeltes vertaal. Dit impliseer dat wat in die Koninkryk van God, uit die mond gaan kom, suiwer sal wees (vgl. Sefánja 3:13). God begeer uiterlike suiwerheid van taal, maar ook nog belangriker suiwerheid van hart, vanwaar ’n mens se woorde ontstaan (Matthéüs 12:34).

Bowdler se suiwering van Shakespeare se werk was bespot en belaglik gemaak as ’n gepeuter en sensuur; hoewel die tyd kom wanneer God alle tale sal hernu en suiwer en gevolglik ook die gedagtes, om sodoende die mensdom in staat te stel om Hom te verheerlik sonder die “besmetting” van verdorwe woorde en idees, dubbele betekenisse en heidense verwysings wat so algemeen in alle hedendaagse tale is.

Die Bybel beskryf ’n tyd in die toekoms, wanneer kennis van God se lewenswyse die aarde sal vul (Jesaja 11:9). Christus sal vrede en geregtigheid verseker (Jesaja 9:6-7). Die suiwering van taal sal maar net een aspek wees van die groter hernuwing wat gaan kom (Handelinge 3:20-21). Om meer inligting te verkry oor hierdie wonderlike toekoms, lees gerus ons inspirerende boekie, Die toekomstige wêreld: Hoe sal dit wees?

Namate vieringe dwarsdeur die “Jaar van Shakespeare” voortgegaan het om sy invloed op die Engelse taal lof toe te swaai, laat ons stilstaan om die werklikheid wat binnekort hier sal wees te waardeer wanneer Jesus Christus tale wêreldwyd sal herstel en suiwer tydens Sy triomfantelike Wederkoms.