Europa het oor die eeue heen ’n gespanne verhouding met sy minderheidsgemeenskappe gehandhaaf. Wat sal die invloei van die Midde-Oosterse vlugtelinge vir ’n kontinent beteken wat gretig is om weer met sy legendariese oorsprong te herenig?

“Binnekort sal Europa meer fisiese versperrings op sy nasionale grense hê as gedurende die Koue Oorlog. Regerings het gedurende 2015 regoor die kontinent grensmure en veiligheidsheinings beplan en opgerig tydens die voortslepende vlugtelingkrisis wat gepaard gegaan het met die Oekraïne se konflik met Rusland ... Sedert die val van die Berlynse Muur het meer as 40 lande regoor die wêreld heinings tussen hulle en meer as 60 van hulle bure opgerig. Die meerderheid het besorgdheid oor veiligheid en die voorkoming van onwettige migrasie as regverdiging aangehaal”.

Meer bure – meer heinings”,
The Economist, 7 Januarie 2016

’n Buitengewoon moderne verskynsel van ontstellende en gruwelike beelde gaan voort om ons TV-skerms te oorheers en te spook in ons gedagtes: Die massa-migrasie van honderde duisende desperate mense uit oorloggeteisterde Moslemnasies wat hulle weg na Europa forseer – ’n immigrasie wat geen teken van einde toon nie.

Klein opblaas rubberbote, wat onbestendig tot oorlopens toe met migrante volgepak is, flous die dood om die Middellandse See en Egeïese See oor te steek; ’n menigte gefrustreerde en honger mense, woedend oor amptenare se pogings om hulle te beheer en te beperk; kronkelende rye van migrante wat vasberade langs paaie en voetpaadjies voortploeter, oor velde en langs treinspore; gefnuikte migrante wat woedend is omdat lemmetjiesdraad-heinings hulle toegang na vryheid blokkeer; die emosionele verligting van bekommerde vaders en geweldig angstige moeders om saam met hulle kosbare kinders eindelik op veilige grond te wees.

Wie kan April 2015 vergeet, toe vyf bote wat byna 2,000 migrante vervoer het, naby Lampedusa (’n Italiaanse eiland suidwes van Sicilië) gesink het, waartydens 1,200 mense verdrink het; of 27 Augustus 2015 toe ’n verlate en onwelriekende vragmotor op ’n snelweg in Oostenryk gevind is met 71 gestorwe migrante, waaronder ’n paar kinders; of die hartverskeurende foto in September 2015 van die lewelose liggaam van klein Alan Kurdi, die 3-jarige Siriese seuntjie wat op die strand van die Middellandse See naby Bodrum in Turkye, uitgespoel het?

Byna 4,000 mense het gedurende 2015 tragies verdrink in hulle stryd om Europa te bereik. Mense-smokkelaars en georganiseerde misdaad het ’n belangrike rol gespeel in hierdie winsgewende, onwettige verskuiwing van mense, met weinig agting vir veiligheid. Hulle hou nogtans aan om in ’n meedoënlose, oënskynlik onstuitbare vloedgolf van mense na Europa te gaan.

In 2015 het meer as ’n miljoen mense deur onwettige roetes gegaan, hoofsaaklik deur die EU lidlande soos Griekeland, Bulgarye en Italië (met ’n paar wat deur Spanje, Malta en Ciprus gegaan het). In Januarie 2015 het die stroom (50,000 vir die maand) geen teken van enige afname getoon nie, selfs toe die weer versleg het, het temperature gedaal, mense het siek geword en baie ander mense het tragies verdrink. Die VN het voorspel dat nog ’n miljoen mense waarskynlik in 2016 sou arriveer, terwyl die EU Kommissie beweer het dat dit soveel as 3 miljoen meer kon wees.

Dit is dus nie ’n verrassing dat die media 2015 die “Jaar van die immigrant” genoem het nie, namate ’n uittog van werklike Bybelse afmetings voortgegaan het om wêreldnuus te oorheers. Immigrasie na Europa het ’n werklike tsoenami geword, namate desperate mense daarop ingestel was om aan die gewelddadigheid en ontberings in hulle geboortelande te ontsnap, wat na ’n beter lewe vir hulleself en vir hulle gesinne op soek was.

Hierdie massa immigrasie het Europa se bepalende politieke uitdaging geword en skep erge spanning, groot politieke verdeeldheid en ’n aanhoudende gekibbel oor die beste manier om op te tree en hoe om die krisis op te los. Dit is te verstane dat belangrike vrae na vore sal kom. Waarom het hierdie groot immigrasie gebeur en wat is die oorsake daarvan? Op watter maniere sal die impak daarvan Europa verander? Kan ons hierdie buitengewone verplasing van mense in ’n wyer Bybelse konteks plaas? Dit is die vrae wat ons in die res van hierdie artikel sal ondersoek.

Anatomie van n moderne uittog

Daar was nog altyd ’n gesonde vlak van wettige en beheerde immigrasie na die nasies van Europa, maar die huidige immigrasie is heeltemal anders en omseil normale immigrasieprosedures. Dit bestaan geheel en al uit onreëlmatige, “onwettige” migrante wat arriveer met die desperate hoop dat hulle nie weggewys sal word nie. Dit is deel van ’n deurlopende en verergerende krisis – gedeeltelik werklike vlugtelinge wat vir hulle lewens vlug en gedeeltelik ekonomiese emigrante wat op soek is na ’n beter lewe.

Tussen 2007 en 2011 het groot getalle onwettige migrante uit die Midde-Ooste, Afrika en Suid-Asië probeer om Europa via Turkye en Griekeland te bereik, maar die konstruksie van ’n grensdraad tussen die twee lande het die deur vir daardie roete effektief gesluit. Bootreise het daarna die standaard vir vlugtelinge geword wat desperaat gehoop het op ’n veiliger, vreedsamer en meer welvarende lewe elders. Die nadraai van die Libiese Rewolusie in 2011 in die besonder, het ’n merkbare toename in migrerende verkeer vanaf die Libiese kus oor die Middellandse See na Italië gegenereer – ’n roete wat as die dodelikste in die wêreld beskou word.

Na ’n noemenswaardige migrante skipbreuk in 2013 naby Lampedusa, wat tot meer as 360 migrante-sterftes gelei het, het die Italiaanse regering ’n grootskaalse vloot-operasie vir soek en redding gestig. Nadat hierdie operasie beskikbare Italiaanse fondse uitgeput het, het die EU grensagentskap Frontex die taak oorgeneem. Nietemin, albei bedrywighede was deur ’n gebrek aan fondse in die wiele gery, aangesien sommige EU lidlande beswaar gemaak het op grond van vrese dat hierdie operasie nog meer mense sal aanmoedig om die gevaarlike tog te onderneem en tot meer tragiese en onnodige sterftes sal lei. In 2015 het die EU besluit om ’n nuwe grensbeheer-operasie vir die Middellandse See te loods ten einde meer doeltreffend met die probleem te handel.

Ten spyte daarvan en ten spyte van die groot vermindering van Mediterreense verkeer uit Noord-Afrika, toe beter maniere gevind is om Europa te bereik, het algehele getalle van migrante toegeneem en voortgeduur. Die huidige voorkeur-roete is per boot deur Turkye na Griekeland en daarvandaan oor land na die suidooste van Europa. Vir baie mense is Duitsland die voorkeur bestemming, veral nadat kanselier Angela Merkel verklaar het dat haar land ’n effektiewe oop deur beleid sal handhaaf en elkeen sal aanvaar wat wou kom. Dit is dus nie verbasend dat die vloei van migrante dramaties toegeneem het nadat die nuus versprei het; aangesien dit ’n eenmaal in-’n-leeftyd geleentheid verteenwoordig vir ’n nuwe begin en ’n meer welvarende toekoms.

Om ’n akkurate begrip van die getalle te kry kan verwarrend en uitdagend wees aangesien die krisis vinnig en aan die beweeg bly, maar die jongste syfers ten tye van die skryf van hierdie artikel beweer dat 821,000 migrante in 2015 deur Griekeland aangekom het, byna almal per boot. ’n Verdere 150,000 het ook per boot in Italië aangeland, terwyl meer as 30,000 oor land uit Turkye via Bulgarye gereis het. Hierdie mense het hoofsaaklik van oorloggeteisterde, mislukte samelewings gekom waar bevoegde en eenstemmige regerings in duie gestort het. Dit is deur bomme en koeëls vervang waar haat en vyandskap op ’n epiese skaal floreer.

Onderliggende oorsake

Die vordering van die sogenaamde Arabiese Lente dwarsoor Noord-Afrika, wat in Desember 2010 in Tunisië begin het, daarna deur Libië, Egipte, Jemen, die Golf State en dan tot in Sirië versprei het, het tot uitgebreide interne konflik en in sommige gevalle tot die ineenstorting van regerings in elkeen van hierdie lande gelei. Wat as ’n protes teen armoede en stygende voedselpryse in Algerië teen die outokratiese bewind in Libië begin het, (wat tot die ondergang van kolonel Ghaddafi gelei het) en in Egipte met die uitsetting van president Hosni Mubarak in 2011, het vinnig ’n stryd vir die Islamitiese siel geword en het ’n reeks krisisse regdeur hierdie nasies veroorsaak.

Die voortgesette ineenstorting in Afghanistan en Irak, sowel as Afrika-konflikte in Somalië, Soedan, Eritrea en Nigerië, het ook tot die migrasie-situasie bygedra. Die gebeure in Sirië het nietemin die grootste aantal migrante ontketen.

Wat as ’n siviele opstand in 2011 begin het, het vinnig ’n gewapende opstand geword en daarna in ’n volskaalse burgeroorlog ontaard. In 2013 het Islamitiese Djihad groepe die ekstremistiese Sunni Moslem Staat (IS) gevorm en ’n Islamitiese kalifaat in die noorde van Sirië gevestig wat tot in Irak strek. Dit het grootliks tot die geweld, onderdrukking en die vrees van die mense bygedra. In 2015 het algehele geweld toegeneem nadat Turkye by die lugaanvalle teen Assad aangesluit het en Rusland met lugaanvalle ingegryp het om Assad teen IS sowel as die groeiende Vrye Siriese Weermag koalisie te ondersteun. Wat as ’n groot V.S.-geleide militêre koalisie van lug-bombardement in Irak begin het, het gou uitgebrei om Sirië in te sluit in ’n poging om die barbaarse Islamitiese Staat kalifaat in Sirië en Irak te verswak en te vernietig en dus die nodigheid vermy om grondtroepe te betrek.

Teen die einde van 2015 het sowat 250,000 Siriërs in die oorlog gesterf. Volgens sommige skattings, is tot soveel as 9 miljoen Siriërs uit hulle huise verskuif, 4 miljoen mense het die land verlaat – 2 miljoen mense is na Turkye; meer as ’n miljoen mense na Libanon en 630,000 mense is in Jordanië se vlugtelingkampe. Dit is as gevolg van hierdie katastrofiese werklikheid dat mense na Europa vlug om ’n nuwe lewe te begin.

Impak op die Europese Unie

Dit alles het die potensiaal om Europa in baie opsigte te verander, sommige is voor die hand liggend en ander is moeiliker om te voorspel. Dit is egter duidelik dat die migrantekrisis die voortbestaan van die EU in sy huidige vorm bedreig.

As gevolg van kanselier Merkel se barmhartige voorbeeld, word Duitsland nou as meer simpatiek, meer verwelkomend, met meer selfvertroue en sterker gesien en dit het ’n positiewe uitwerking op ander EU lande. Positief of nie, die druk op behuising, maatskaplike dienste, onderwys en die beskikbaarheid van arbeidsgeleenthede is egter sigbaar en sal net baie erger word. Die krisis lok toenemende vlakke van kritiek uit omdat daar té sag met migrante gewerk word. Kanselier Merkel speel met vuur en moes haar beleid strenger aanpas. Indien dinge nog meer versleg, wat moontlik kan gebeur, kan die Duitse kiesers dalk teen haar draai.

Die EU en Duitsland sal die vloei van migrante drasties moet verminder voordat die EU uitmekaar skeur. Aanvanklik is alle Siriese migrante outomaties as vlugtelinge geklassifiseer wat verdien om asiel toegestaan te word, maar dit kan heel moontlik verander namate Europese nasies reageer aangesien hulle oorweldig word deur die groot getalle vlugtelinge. Baie strenger en vinniger beleidsrigtings word voorgestel om migrante te registreer, te sorteer, te vestig en maatskaplike voordele in te perk. “Ekonomiese” emigrante wat op soek is na groter rykdom eerder as toevlug, veral diegene wat uit meestal vreedsame gebiede kom, word al hoe meer vlugtelingstatus geweier en elders heen gestuur. Migrante wat die wet verontagsaam, soos honderde op Oujaarsaand 2015 gedoen het, met roof en seksuele aanvalle in verskeie Duitse stede, sal nie geduld word nie.

Ons sien veel strenger maatreëls word geïmplementeer om die eksterne grense van die EU te versterk. Indien die byna onaantasbare vrye beweging van mense dwarsdeur Europa behoue bly (naamlik die Schengen-ooreenkoms van ’n paspoortvrye, grenslose gebied wat deur 26 Europese nasies gedeel word), dan moet daar veilige eksterne grense wees. Indien grense nie veilig gehou kan word nie, sal migrante voortgaan om in te stroom en nasionale stabiliteit bedreig wat daartoe kan lei dat die EU self uitmekaar skeur. Ons het reeds ’n tydelike opskorting van die Schengen-ooreenkoms gesien, met nasionale grensdrade wat opgerig is en strenger nasionale grensbeheer wat ingestel is. Brittanje (’n eiland en nie lid van Schengen nie), het byvoorbeeld migrante wat uit Frankryk via Calais en die Eurotonnel kom, byna heeltemal geblokkeer, terwyl hulle migrante direk uit vlugtelingkampe in en rondom Sirië verkies.

Die EU wil ’n gesentraliseerde migrante kwotastelsel instel, waarvolgens die aantal migrante meer regverdig tussen lidlande verdeel word, maar dit het baie teenkanting ontvang. Hoe die EU hierdie netelige kwessie gaan hanteer sal bepaal of die EU in sy huidige vorm sal oorleef of nie. Die uitdaging om die migrantekrisis onpartydig te finansier, is nog ’n netelige kwessie, met reaksies van die lidlande wat hemelsbreed van mekaar verskil.

Die meeste migrante wat die EU binnegaan is Moslems. Die byvoeging van potensieel 1 tot 3 miljoen meer Moslems in die gebied van die EU hou enorme politieke-, maatskaplike- en veiligheidsgevolge in. Die meeste Moslems is natuurlik wetsgehoorsame en verantwoordelike mense, wat hard werk en goeie landsburgers uitmaak. Selfs dan sal dit hulle ’n tyd neem om te verwerk en by die lewe in die EU aan te pas. Daar mag egter ’n klein minderheid wees met meer uiterste sienings. ’n Groot les van die verskriklike gruweldaad in Parys was dat sommige terroriste, wat as migrante vermom was, Europa binnegegaan het. Is Europa onwetend besig om die vure van toekomstige terroriste gruweldade te stook? Hierdie moontlikheid hou sonder twyfel ’n paar amptenare deur die nag wakker en sal die uiterste waaksaamheid vereis.

Nog ’n dringende politieke prioriteit is hoe die EU die fundamentele probleme in die migrante se tuislande gaan aanspreek, wat die migrasiekrisis in die eerste plek ontketen het. Dit vereis enorme insig, gesonde denke en mag aansienlike ekonomiese en selfs militêre bystand betrek waar benodig word. U kan verwag om meer EU asook Duitse inisiatiewe in die maande wat voorlê in hierdie gebied te sien.

In sy September 2015 Staat van die Unie Toespraak het die EU Kommissie se president, Jean-Claude Juncker, versiende en omvattende kommentaar oor die toekomstige rigting en prestasie van die EU gelewer. Hy het vir meer politiek, meer Europa en meer Unie gevra. Hy het vir baie meer hervormings, vinniger vordering op baie fronte en beter bestuur gevra – veral van die migrantekrisis. Maatreëls vir ’n sterker enkele geldeenheid, ’n meer mededingende ekonomie, ’n sterker teenwoordigheid in die wêreld en ’n regverdige bedeling vir die Verenigde Koninkryk, was almal uitgelig. Wat wyd verwag, maar tot 2017 geheim gehou is, is die tot nog toe min gepubliseerde EU planne vir ’n belangrike verdragsvoorsiening wat omskrywend is van ’n binnekern van nasies wat gelukkig is met die idee van ’n federale Europa en ’n buitekring van nasies met ’n ongebonde ooreenkoms. Europa is besig om vinnig te verander en die migrantekrisis het as ’n belangrike katalisator vir so ’n verandering begin dien.

Die Verenigde Koninkryk wat uiters sensitief is oor die kwessie van migrasie, het teen die middel van 2016 ’n referendum gehou om te bepaal of hulle sal voortgaan as deel van die EU. Brittanje se uittrede het ’n enorme impak op die EU gehad sowel as op die Verenigde Koninkryk self. ’n Britse uittrede (ook “Brexit” genoem) sal waarskynlik die Skotse Nasionalistiese oproep verskerp om die Verenigde Koninkryk te verlaat en dan alleen binne die EU te bly.

Onder hierdie omstandighede word die voortbestaan van die EU in sy huidige vorm uit verskeie oorde bedreig. ’n Sterk Duitsland sal in die besonder sterk teenstand bied teen enige beleid wat die unie destabiliseer of wat die sterkste nasie in die EU straf ten einde die swakkeres te subsidieer. Indien hulle voor ’n sterk genoeg krisis te staan kom, kan ’n “kern”-groep van die huidige EU lande hulleself geredelik afsny en ’n kragtige Europese nasionale mag word wat na die regse politieke kant oorskuif in reaksie op eksterne ekonomiese en godsdienstige magte wat as vyandig teen Europa se historiese herkoms gesien kan word.

Ongekende wêreldkrisis lê voor!

Uit ’n Bybelse perspektief dui dit alles op die naderende einde van ’n tydperk: ’n Tyd van “oorloë en opstande” (Lukas 21:9), ’n tyd van groeiende “benoudheid van nasies” (vers 25). Die Europese migrantekrisis is ’n direkte gevolg van oorloë, van die mensdom se onvermoë om hulle sake vreedsaam te besleg. Dit is tog deel van ’n nog wyer beeld van wêreldwye ongesteldheid en nood. In 2015 was daar volgens die VN 60 miljoen gewelddadig verplaaste mense wêreldwyd – die hoogste vlak sedert die Tweede Wêreldoorlog! Die tekens dui daarop dat dinge geleidelik erger word. Ons is nog nie heeltemal daar nie, maar die Bybel voorspel ’n tyd wanneer die wêreld by ’n tyd van die uiterste krisis sal kom, waaruit slegs die Wederkoms van Jesus Christus ons lewe sal kan red (Matthéüs 24:21-22).

Die mensdom se pogings om homself te regeer, het bewys om op sy beste gebrekkig te wees en rampspoedig op sy slegste. Ten spyte van die sirenesang van sedelike relativisme, laat dit gesê word: Sommige regerings is beter as ander. Wat is egter God se siening op regering? Wat elke nasie en die hele wêreld nodig het is ’n doeltreffende, Goddelike Regering wat op die Wette van God gebaseer is! Dit sal blywende vrede, voorspoed, tevredenheid en ware geluk meebring. Ons kan dankbaar wees dat so ’n Regering aan die kom is! God is alreeds besig om die voorbereidings vir daardie Regering in werking te stel.

Dink daaraan dat wanneer Jesus Christus weer na hierdie aarde terugkeer, ’n hele nuwe hoofstuk van wêreldregering vinnig te voorskyn sal kom. “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde” (Jesaja 9:5-6). Ons lees in Openbaring 11:15 dat ware Christene eendag vol vreugde sal sê: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” Bid vir daardie Koninkryk om te kom en doen u deel om voor te berei. Om meer oor hierdie wonderbaarlike tyd in die nabye toekoms te leer, lees ons insiggewende en inspirerende gratis boekie, Die toekomstige wêreld: Hoe sal dit wees?

Laat U Koninkryk kom!

Maak geen fout nie. Ek en u mag wens dat dit anders was, maar volgens Bybelse profesieë is ons besig om ’n groot hoogtepunt in die geskiedenis van die wêreld te nader. God lê Self die uiteindelike vordering van gebeure uit wat onverbiddelik tot die einde van hierdie tydperk sal lei. Hoewel die meeste mense wat hulleself Christene noem onbewus daarvan bly, is dit die boodskap wat Jesus Christus so sterk verkondig het terwyl Hy op die aarde was en is dit die boodskap wat Hy aan Sy volgelinge opgedra het om te verkondig. Jesus noem dit die Evangelie van die Koninkryk van God (Markus 1:14-15). Dit is ’n diepsinnige boodskap van hoop vir ’n duidelik beter wêreld as die een waarin ons nou is – ’n wêreld sonder oorloë, geweld, haat en vyandskap. Dit sal ’n wêreld van regverdige Regering wees, waar vrede sal seëvier en mense nie verplig sal voel om uit hulle lande te vlug en elders skuiling te soek nie – kortom, ’n wêreld waar die groot probleme wat Europa vandag trotseer, nie meer sal bestaan nie. Dank God dat Sy Koninkryk binnekort sal kom, voordat die mensdom homself tot op die rand van uitwissing sal bring – en daarna!