Oorlog, misdaad, onregverdigheid en haat deurtrek ons menslike samelewing. Slegs die Koninkryk van God sal vrede, voorspoed en harmonie na die aarde bring, wat die mensdom gevolglik sal toelaat om te floreer; maar Christene kan ’n voorsmaak van die Koninkryk hê deur te leef volgens God se lewenswyse!

Waarom is ons nasies in so ’n warboel? Sal oorloë ooit ophou? Sal die mensdom homself binnekort vernietig? Is daar enige hoop vir ons wêreld en vir u? Daar is ’n antwoord en dit sal u lewe vir ewig verander!

Ons huidige menslike samelewing sal binnekort tot ’n algehele einde kom. Die ware Jesus Christus van u Bybel het voorspel dat, teen die “voleinding van die tyd”, God se ware mense na ’n plek van veiligheid sal “vlug” (Matthéüs 24:20; Openbaring 12:14). Jesus het gesê dat daar dan ’n tyd van Groot Verdrukking sal kom, “soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matthéüs 24:21-22). Die weë van die mens sal binnekort tot die uitwissing van alle menslike lewe op hierdie planeet lei – wêreldvernietiging. Slegs die Skepper se ingryping – die ware God van die Bybel – sal hierdie probleem oplos en dit tot ’n einde bring.

Waarom? Hoe? Wanneer? Wat is die antwoord?

Regoor die wêreld begin miljoene mense besef dat daar iets verskrikliks verkeerd is. Hulle verstaan egter nie waarom, hoe, of wanneer nie. Hier in Amerika is daar toenemende angs, kommer en intense verwarring oor wat die nabye toekoms inhou. Soos dit in ’n Wall Street Journal van 2016 berig word: “Die verkiesingsjaar is op ons en die Republikeinse stembeampte, Kellyanne Conway, beskryf die land se stemming terwyl die toekoms tegemoet gegaan word, op hierdie manier: ‘Suur en stroef. Senuweeagtig, gespanne, ’n gevoel van kwesbaarheid en ’n gebrek aan beheer’. Die Demokratiese stembeampte, Fred Yang, sing dieselfde deuntjie: ‘Bekommerd, ontevrede, ongeduldig en basies enige ander woord wat onsekerheid weergee’ ... Oor een onderwerp was daar eenstemmigheid: Amerika is in ’n angstige en ongelukkige stemming” (“Voters’ Dour Mood Is Clear, Consequences Much Less So”, 5 Januarie 2016).

Regoor die wêreld begin miljoene mense om meer as ooit te besef dat die wêreld rondom hulle – die hele menslike samelewing – uitmekaarval en tot ’n bittere einde sal kom, tensy massiewe veranderings gou plaasvind. Baie regerings word links en regs in die Midde-Ooste, Afrika en elders omvergewerp. Die terroristegroep, wat algemeen as ISIS bekend staan, het verskeie regerings omvergewerp en die stabiliteit van ander ondermyn. Hulle vorm van regering is hoofsaaklik diktatorskap, wat onder die Sharia Wet regeer word – dit is ’n regstelsel wat uit ’n bepaalde Middeleeuse begrip van die Moslemse heilige boek, die Koran en daaropvolgende kommentare kom. Soos miljoene mense in die praktyk uit persoonlike lyding kan getuig, is dit ’n harde en bitter lewenswyse wat nie net vroue nie, maar in werklikheid die gesonde gesin en elke deel van die samelewing onderdruk.

In Noord-Korea het ’n onbetwisbare diktator die mense onder sy heerskappy onderdruk en is blykbaar nou van plan om ’n waterstofbom en afleweringstelsel te ontwikkel wat, indien hy daarin slaag, hom die mag sal gee om Amerikaanse stede heeltemal met een slag te vernietig! Leiers in Amerika, die Verenigde Koninkryk en elders, is heeltemal in verwarring oor hoe om dit te hanteer – terwyl hulle rondskarrel in totale verwarring en voortgaan om die agendas van seksuele perverte van alle soorte, finansiële rowers en selfs Islamiete toe te laat en selfs te bevorder, ten koste van lankgekoesterde tradisionele waardes wat vir eeue lank die Westerse samelewing staande gehou het.

Die “hoofstroom”-godsdienstige groepe in ons Westerse nasies laat al hoe meer ’n “alles is toelaatbaar” lewenswyse toe. Daar is geen standaarde nie en beslis geen Wette van God wat deur die meeste mense vandag as bindend beskou word nie. Die heiligheid van seks in die huwelik is afgewater en die totale ineenstorting van toenemend duisende gesinne is op die oomblik aan die orde van die dag, gevolglik word al meer miljoene jongmense in totale verwarring groot. Hulle kan nie tussen reg en verkeerd onderskei nie. Hulle raak onseker, wetteloos en verval sommer dikwels in alkoholisme, onwettige dwelmmisbruik, ongeoorloofde seks en ander dodelike lewenswyses. Hulle is dikwels wanhopig – verkeer in angs en het seer van binne en neig gereeld na selfmoord!

’n Groot deel van die Westerse wêreld is deur ’n vals onderwysstelsel oorgeneem. Dit is by al dié bogenoemde betrokke en het ’n wêreld tot gevolg waar daar geen absolute waardes is nie. Dit is ’n teelaarde vir verwarring. Dit bevorder volslae goddeloosheid en onsedelikheid. Die toenemende seksuele geweld in Amerika [en Suid-Afrika] se kollegekampusse, die studente se rebellie en oproer teen die administrasie en selfs die sluiting van verskeie gedeeltes van ons opvoedkundige stelsels vermeerder die skade wat hulle in ons hele samelewing aanrig. Die “vrugte” van hierdie stelsel is baie duidelik vir diegene wat daarna kyk. Jesus Christus het gesê: “Aan hulle vrugte sal jy hulle ken” (Matthéüs 7:16). Wat is die “vrugte”, wat is die resultate van “hoër onderwys” hier in Amerika [en Suid-Afrika]? Die resultate word steeds al hoe erger namate ons aangaan en nou sien lang artikels die lig in ons hoofstroom-pers wat aandui dat dit dalk nie eers meer die moeite werd sal wees om nog naskoolse kwalifikasies te kry nie. Tussen ons godsdiens- en onderwysstelsels, is ons hele Westerse samelewing in baie groot moeilikheid.

Wat IS die antwoord?

Vir dekades lank het wêreldleiers gedroom en beplan vir ’n een-wêreldregering. Tot op hede het die beste pogings van die mensdom nog altyd misluk, maar pogings gaan voort en die doelwit bly. U Bybel openbaar dat daar spoedig ’n Nuwe Wêreld Orde sal wees en dit sal die grootste deel van die mensdom verras en skok!

Ja, ’n ware Nuwe Wêreld Orde sal kort voor lank op hierdie aarde gevestig word. Die meeste godsdienstige mense verstaan dit nie. Die meeste predikante verstaan dit ook nie. Dit sal egter binnekort kom! Dit sal u lewe dramaties beïnvloed. Dit kom of mense daarvan hou of nie. Trouens, die meeste mense sal aanvanklik nie daarvan hou nie en sal direk teen die komende Heerser van hierdie aarde veg wanneer Hy kom!

Waarom? Hoe?

Die grote God wat aan ons lewe en asem gee, begin om kragtig in menslike sake in te gryp. Die God van die Bybel sal presies doen wat Sy geïnspireerde Woord duidelik sê – of ons dit glo of nie. So vreemd as wat dit mag lyk, die wêreldoorheersing van die Amerikaners en nasies van Britse afkoms kom tot ’n einde – soos ons toenemend binne die volgende dekade sal begryp! Dit sal die hele wese van wêreldsake verander en ons lewens sal nooit weer dieselfde wees nie.

Gelyktydig met die uiteindelike val van die Engelssprekende nasies sal ’n Groot Verdrukking, wat Jesus Christus voorspel het, die huidige orde van die menslike samelewing heeltemal verbrysel (Matthéüs 24:21-22). Die ware Jesus Christus van die Bybel sal na dramatiese “tekens” (verse 29-30), weer na die aarde terugkeer. Hy sal as Koning oor al die ander leiers van hierdie aarde heers. “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Sal die nasies van hierdie aarde bly wees? Glad nie! Baie van ons in die Westerse, Christen-belydende nasies is geneig om te aanvaar dat die meeste mense rondom ons “Christelik” is. Ons aanvaar soms dat die meeste belydende Christene die Bybel werklik glo, maar nie een van die aannames is waar nie!

Indien u die resultate van verskeie meningspeilings van godsdienstige mense lees, sal u gou besef dat selfs die meeste Katolieke en Protestantse kerkgangers baie min Bybelkennis het. Baie stembeamptes noem Amerika ’n “Bybel ongeletterde nasie”. ’n Onlangse verslag van Christianity Today het die volgende te sê gehad: “Christene beweer dat hulle glo die Bybel is God se Woord. Ons maak daarop aanspraak dat dit God se goddelik-geïnspireerde, onfeilbare boodskap aan ons is. Ten spyte hiervan, lees ons dit egter nie. In ’n onlangse LifeWay Research studie is bevind dat slegs 45% van diegene wat gereeld kerk bywoon, die Bybel meer as een keer per week lees. Meer as 40% van die mense wat kerk bywoon lees hulle Bybel af en toe, moontlik een of twee keer per maand. Byna 1 uit elke 5 kerkgangers sê hulle lees nooit die Bybel nie – feitlik dieselfde aantal wat dit elke dag lees” (Ed Stetzer, “The Epidemic of Bible Illiteracy in Our Churches”, 6 Julie 2015). Dit alles is geen verrassing nie omdat baie kerkgangers nie eers die vier Evangelies kan opnoem nie – laat staan nog om te verstaan wat dit werklik sê!

Dit behoort ons nie te verbaas nie. U eie Bybel openbaar duidelik en herhaaldelik dat hierdie hele wêreld mislei is! Natuurlik, aangesien die meeste mense mislei is, besef hulle nie dat hulle mislei is nie. Indien hulle geweet het hulle is mislei sou hulle nie mislei gewees het nie – sou hulle?

Let op hierdie geïnspireerde verse: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei], hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9). Na Christus se Wederkoms, sal Satan in ’n plek gebind en opgesluit word “sodat hy die nasies nie meer sou verlei [mislei] .... nie” (Openbaring 20:3). Onthou, soos die apostel Paulus geskryf het, Satan het hierdie wêreld verblind: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:3-4).

Ons behoort liewer ophou om te dink dat die Bybelse waarskuwing dat die “hele wêreld” mislei is, slegs vir ’n paar mense iewers anders bedoel is!

Die ware Evangelie van Jesus Christus

Indien u Matthéüs 24:30 mooi lees, sal u sien dat – eerder as om bly te wees – die nasies van die aarde sal treur by die Wederkoms van Jesus Christus. Die Bybel openbaar ook duidelik dat met Christus se Wederkoms, die tien konings van die toekomstige Diermoondheid en hulle ontsaglike leërs teen die terugkerende Seun van God gaan veg! “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:12-14).

Hoe is dit moontlik dat dit kan gebeur? Hoe kan die weermagte van ’n “Christelike” Europa vir Christus met Sy Wederkoms direk aanval? Omdat die Bybel so sê!

Die waarheid is dat die hele Bybel ons na ’n tyd van wêreldregering onder Christus, aan die einde van hierdie huidige tydperk wys. In ’n geïnspireerde preek wat die apostel Petrus direk na Pinkster gelewer het, het hy gesê dat God vir Jesus Christus na die aarde gaan terugstuur. “Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gepreek het deur die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:20-21).

Petrus sê dus in die Nuwe Testament aan ons dat al die profete van die Ou Testament die toekomstige tyd van “wederoprigting van alle dinge” beskryf het. Wat openbaar die Bybel dus duidelik aangaande die tyd wat binnekort gaan aanbreek? Dit is inderdaad ’n boodskap waarvan die meeste mense bitter min gehoor het! Dit beskryf duidelik ’n ongelooflike toekoms vir ons kinders en kleinkinders na Jesus Christus se Wederkoms na die aarde. Dit is ’n lewensbelangrike deel van die Goeie Nuus wat Christus en Sy Apostels verkondig het. Jesus Christus het nie gekom om net oor persoonlike verlossing te praat nie, maar ook oor ’n toekomstige wêreldregering wat vrede en vreugde na hierdie hele aarde sal bring!

Die ware Jesus van u Bybel het gekom om die boodskap van die Koninkryk van God te verkondig (Markus 1:14). Dit was nie ’n Evangelie oor ’n vae soort warm gevoel in u hart, of net oor die aanvaarding van die Persoon van Christus nie. Inteendeel, dit was omtrent die toekomstige Regering van God wat ware vrede, voorspoed, gesondheid en geluk aan hierdie siek en verwarde wêreld sal bring. Jesus het Sy oorspronklike Apostels beloof: “En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge. En Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:28-30).

Baie teoloë probeer om die dosyne duidelike stellings soos hierdie regdeur die Bybel geestelik weg te redeneer. Indien Jesus sê wat Hy bedoel en bedoel wat Hy sê, is dit baie duidelik dat ’n wonderlike Nuwe Wêreld Orde inderdaad aan die kom is, om met Sy Wederkoms hier op die aarde gevestig te word – ’n letterlike Koninkryk of Regering wat in die Skrif “die Koninkryk van God” genoem word.

Let op wat die apostel Johannes geïnspireer was om met die beskrywing van Jesus se Wederkoms na die aarde tydens die laaste basuin te skryf: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Let daarop dat Jesus Christus met Sy Wederkoms oor die “koninkryke van hierdie wêreld” sal regeer – nie oor mense in die hemel nie!

Lees ook die geïnspireerde “Lied van die Heiliges” in Openbaring 5:9-10: “Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” Dus kom daar ’n tyd wanneer die ware heiliges van God beslis saam met Christus op die aarde sal heers. Daar is nie een enkele vers op enige plek in u Bybel wat vir ons sê dat die loon van die heiliges is om “heeldag in die hemel rond te lê” met niks om te doen nie. Nee! Die heiliges sal werk hê om te doen onder Christus na Sy Wederkoms, deur hier op die planeet Aarde te regeer!

Waarom versuim die hoofstroom kerke om die kragtige boodskap wat betref die toekomstige Koninkryk van God op hierdie aarde te verkondig? Waarom dring hulle daarop aan om oor die Persoon van Jesus te praat maar versuim byna heeltemal om die kragtige boodskap te verkondig wat Hy van die Vader gebring het oor ’n toekomstige wêreldregering?

Waarom?

Die apostel Paulus sê baie duidelik aan ons dat ’n ware Christen se doel is om deel te wees van daardie letterlike Regering wat op hierdie aarde gevestig sal word: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korinthiërs 6:2-3). In hierdie gedeelte verduidelik Paulus dat ware Christene moet voorberei om op hierdie hele aarde te regeer. Soos die apostel Johannes aan ons sê: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

’n Ontsagwekkende doel

Wat ’n opwindende toekoms! Wat ’n ongelooflike doel! Wat ’n wonderlike rede om God te dien, om ons sondes te oorkom en om ons lewens heeltemal aan Hom en Sy wil oor te gee, om Christus in ons te laat leef en God se ware karakter in ons te bou! (Vgl. Galásiërs 2:20). Dan, en slegs dan, sal ons geskik wees om saam met Christus in Sy toekomstige Koninkryk te regeer.

God se Woord sê aan ons: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:27). Ons moet leer om Paulus se geïnspireerde woorde te glo: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?” (1 Korinthiërs 6:2).

Die meeste belydende Christene glo dit nie, want dit is nog nooit aan hulle geleer nie. Hulle verstaan nie naastenby die belangrike doel waarvoor ons op hierdie aarde geplaas is nie – dit strek selfs verder as wat ek hier beskryf het!

Terwyl Hy in die eerste persoon gepraat het, sê Jesus Christus aan ons: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27). Daardie ware Christene wat Satan, die wêreld en hulleself oorwin het, sal ontsagwekkende verantwoordelikhede onder Jesus Christus gegee word om oor die nasies te regeer en om die jammerlike probleme van hierdie wêreld se samelewing op te los.

Sal ons direk onder Jesus Christus regeer – of het die lewende Christus alreeds ’n plan in gedagte – ’n volledige Regeringstruktuur wat Hy en die Vader in die Wêreld van Môre gaan gebruik?

Die profeet Abraham staan bekend as die “vader” van die gelowiges (Romeine 4:1, 11-12, 16). Hy sal saam met Isak en Jakob in senior posisies wees in Christus se toekomstige Regering – moontlik soortgelyk aan kabinetsministers of sleutelraadgewers in vandag se samelewing (Matthéüs 8:11). Ander uitstaande dienaars van God vanaf antieke tye sal ook in senior posisies wees. In een skriftuurlike visioen van die toekomstige Koninkryk van God (Matthéüs 17:1-9), is Moses en Elia albei as sleutelfigure in daardie toekomstige Koninkryk aangewys.

Daar is ook koning Dawid van antieke Israel, iemand wat deur God beskryf word as “’n man na my hart, wat al my welbehae sal doen” (Handelinge 13:22). Wat sal Dawid in Christus se wêreldheersende Regering doen? Baie skrifgedeeltes gee aan ons die antwoord. Soos Hosea in ’n profesie vir die eindtyd aan ons sê: “Want die kinders van Israel sal ’n lang tyd bly sit sonder koning en sonder vors en sonder slagoffer en sonder klippilare en sonder efod en huisgode. Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die Here hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die Here en na sy goedheid in die laaste van die dae” (Hoséa 3:4-5).

God sê aan ons dat nadat die tien stamme van die huis van Israel – saam met die Joodse volk (die stam van Juda) – almal van hulle toekomstige ballingskap teruggekeer het: “En op dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek sy juk verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie. Maar hulle sal die Here hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek” (Jeremia 30:8-9). Eségiël 34:23-24 en Eségiël 37:24-25 beskryf Dawid as die toekomstige koning oor die stamme van Israel – met die Jode en Israeliete wat uiteindelik weer as een nasie herenig is (verse 19-22.). Daar sal nie meer “anti-Semitisme” wees wanneer al die stamme van Israel uiteindelik besef dat hulle in werklikheid broers is nie!

Die Twaalf Apostels sal direk onder koning Dawid dien en elkeen sal oor ’n individuele stam of nasie van Israel regeer. Jesus Self het Sy Apostels belowe: “Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel” (Matthéüs 19:28).

Die ware heiliges ontvang heerskappy

Indien ons ons werklik aan God oorgee en Christus ons in Sy toekomstige Regering gebruik, wat sal ons dan doen? In die geïnspireerde gelykenis van die ponde (beskrywing van ’n geldeenheid), is God se getroue dienaars heerskappy oor stede in die Regering van Christus gegee: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Lukas 19:11-19).

’n Paar van die liberale geleerdes sal uitroep: “Maar dit was net ’n gelykenis. U dink tog sekerlik nie Jesus was besig om van werklike heerskappy oor die werklike stede hier op aarde te praat nie, of hoe?”

Ja! Ek dink beslis Hy het!

Selfs die apostel Paulus – wat nie in gelykenisse gepraat het nie – het verstaanbaar verduidelik dat ons regters en heersers oor belangrike sake sal wees (1 Korinthiërs 6:2-3)!

Vir bykans 2,000 jaar het verskeie geleerdes, monnike, biskoppe en teoloë desperaat probeer om die deurlopende leerstellings van die Skrif af te water, naamlik dat ’n letterlike Regering op hierdie aarde gevestig sal word onder die direkte heerskappy van Christus en die heiliges wat opgewek is! Die vroeë Christene het nogtans almal hierdie geïnspireerde waarheid verstaan en geglo. Terwyl hy die oortuigings van die vroeë Kerk in sy grootse werk, The Decline and Fall of the Roman Empire beskryf het, skryf die bekende geskiedkundige Edward Gibbon:

“Die antieke en gewilde leerstelling van die Millennium was nou verbind met die Wederkoms van Christus. Soos die werke van die skepping in ses dae voltooi is, word hulle duur in hulle huidige staat, volgens ’n tradisie wat aan die profeet Elia toegeskryf word, op sesduisend jaar vasgestel. Deur dieselfde analogie is afgelei dat hierdie lang tydperk van arbeid en twis, wat nou byna verstreke is, opgevolg sal word deur ’n vreugdevolle Sabbat van ’n duisend jaar; en dat Christus, met die triomfantlike groep heiliges en die uitverkorenes wat die dood vrygespring het, of wat wonderbaarlik herleef het, op aarde sal regeer tot die tyd wat vasgestel is vir die laaste en algemene opstanding” (bl. 100).

Dus erken een van die heel vernaamste geskiedkundiges oor hierdie tydperk dat die oorspronklike Christene presies geglo het wat ons in hierdie tydskrif aan u sê! Hulle het beslis geglo dat die ware heiliges “op die aarde sal heers”.

Aangaande die eindtyd, openbaar die Almagtige God in die boek Daniël: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:27). Soos die apostel Petrus inderdaad gesê het, het God van Christus se toekomstige heerskappy oor die aarde en die “tye van die wederoprigting van alle dinge” gepraat deur “die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:21).

Ons het ook gesien dat Christus en die Vader ’n spesifieke Regeringstruktuur beplan het met bepaalde verantwoordelikhede wat vir Abraham, Moses, Dawid, die Apostels en ander ware heiliges van God uiteengesit is. Ons, die heiligesindien ons sal toelaat dat Christus in ons lewens heers – sal ook posisies van verantwoordelikheid gegee word om te regeer oor individuele stede of heel moontlik departemente in Christus se Regering – vanuit die nuwe wêreldhoofstad in Jerusalem. Wat ’n opwindende lewe het ons voor ons in Christus se toekomstige Koninkryk in die nabye toekoms!

Christus se glorieryke Koninkryk

In Sagaria 14:1-4 gee God se Woord aan ons ’n volledige beskrywing van Christus se Wederkoms en die vroeë jare van Sy Koninkryk: “Kyk, daar kom ’n dag vir die Here; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg”. Dan openbaar God in vers 9: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde”. Christus en die heiliges sal dus op die aarde weesnie in die hemel nie!

Direk na Christus se Wederkoms, sal Hy al die nasies straf wat teen Jerusalem geveg het (verse 12-13). Dan, “die rykdom van al die nasies rondom sal ingesamel word: goud, silwer en klere – ’n groot hoeveelheid” (vers 14). God sal die fisiese volke van Israel en Juda met ontsagwekkende rykdom seën wanneer hulle hulle bekeer en ná hulle nasionale ballingskap na die land van Israel teruggebring is.

Wat dan?

Wat volgende na Christus se Wederkoms gebeur, is iets waarvan die meeste “hoofstroom Christene” nog nooit gehoor het nie, want hulle het nog nooit van die Sabbat en die godsdienstige Feeste geleer wat deur God gegee is vir die ganse mensdom deur alle eeue heen nie. Let op: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie – hulle sal geen reën kry nie” (verse 16-17).

Die belydende Christelike nasies van die wêreld is geleer dat God se Sabbatte en Feeste “Joods” is en dus nie onderhou behoort te word nie. Die lewende Christus sal hierdie volke skud deur hulle letterlik van water te ontneem en uiteindelik plae oor hulle te stuur indien hulle hardnekkig weier om op te trek om “die huttefees te vier” (vers 18).

Egiptenare, Chinese, Amerikaners en andere – sal almal leer om al die jaarlikse Feeste van God te onderhou, met inbegrip van hierdie inspirerende Fees wat die duisendjarige heerskappy van Christus uitbeeld en die gevolglike groot “herfsoes” [lente in Suid-Afrika] van siele wanneer God se waarheid die aarde sal deurtrek. Sedert God die eerste keer hierdie Feeste aan antieke Israel gegee het, was hierdie herfsfees die “fees van die insameling” genoem (Exodus 23:16). Jesus en die Apostels het hierdie Fees en al God se Feeste onderhou (Johannes 7:1-14), wat Sy groot plan uitbeeld. God sal die hele wêreld binnekort leer om dit te onderhou. Skryf gerus om ons baie insiggewende boekie, Die Heilige Dae: God se meesterplan, te ontvang indien u meer oor hierdie belangrike onderwerp wil leer.

Dit mag dalk nou moeilik wees om die opwinding en die vreugde vir ons van ontelbare mense van regoor die wêreld voor te stel wat na Jerusalem sal kom om die Heilige Dae te onderhou. Hulle sal weet dat Christus die Koning letterlik in Persoon daar sal wees – nie net in Gees nie. Hulle sal optrek om hulle in God se seëninge te verheug in die Wêreld van Môre en om die Koning van die konings te aanbid!

God is die outeur van skoonheid en van alle goeie musiek. Hy het koning Dawid en koning Salomo en andere gelei om wonderlike kore tydens spesiale geleenthede te organiseer om God met koorsang te loof (1 Kronieke 15:16; 2 Kronieke 5:12-13). Kan u uself die ongelooflike musiek voorstel wat die Feeste van God en die aanbidding van die lewende Christus in Jerusalem sal vergesel? Kan u uself die pragtige optogte van hooggeplaastes indink, asook die van manne en vroue uit alle vlakke van die lewe wat die Heilige Stad sal instroom – opgewonde oor die geleentheid om hulle Skepper te sien en direk te kan aanbid? Baie mense sal pragtige geskenke vir Christus, die Koning bring. Byna almal sal kosbare items bring waarmee hulle die Here van die Leërskare sal aanbid wat in Persoon op Sy troon in Jerusalem sal sit!

Aangesien Jesus Christus “gister en vandag dieselfde [is] en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8), sal daar ongetwyfeld baie sulke geleenthede tydens Sy duisendjarige heerskappy wees, soos die een wat hier aangehaal word. Die skare sangers en musikante was besig om in perfekte harmonie te sing, God te prys en te aanbid, toe “die huis van die Here vervul [word] met ’n wolk. En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van God gevul” (2 Kronieke 5:14)!

Gehoorsaamheid bring seëninge

Die profeet Jesaja sê aan ons: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jesaja 2:2-3).

God se groot geestelike Wet – die Tien Gebooie – sal die grondslag wees vir Christus se heerskappy in die Wêreld van Môre. Deur die onderrig en leiding van Christus en Sy opgestane heiliges, sal die hele wêreld leer hoe om God lief te hê en te aanbid en hoe om werklik ons naaste lief te hê en vir hulle om te gee. God se Woord beskryf daardie tyd: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9).

Jesaja beskryf wat sal gebeur wanneer duisende Israeliete van slawerny af teruggebring word en selfs baie van hulle kinders aan hulle terugbesorg word: “Slaan jou oë rondom op en kyk – hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe; jou seuns kom van ver, en jou dogters word op die heup gedra. Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies kom na jou toe aan” (Jesaja 60:4-5).

Let op die fisiese seëninge wat op die herversamelde Israel en Juda uitgestort sal word: “Ja, op My wag die eilande, en die skepe van Tarsis kom vooraan, om jou seuns van ver te bring. Hul silwer en hul goud is by hulle, vir die Naam van die Here jou God en vir die Heilige van Israel, omdat Hy jou heerlik gemaak het. En uitlanders sal jou mure bou, en hulle konings sal jou dien; want in my toorn het Ek jou geslaan, maar in my welbehae het Ek My oor jou ontferm. En jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog” (Jesaja 60:9-11).

Dit sal wees soos toe God aan Job dubbel teruggegee het van dit wat Hy van hom weggeneem het (Job 42:10). Waarlik, die bedorwe en arrogante afstammelinge van die sogenaamde “Verlore Tien Stamme” van Israel word vandag onder die Amerikaners en nasies van Britse afkoms gevind asook die vredeliewende nasies van noordwes Europa. Indien u nog nie hierdie basiese waarheid verstaan nie, maak seker dat u ons gratis boekie: Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? aanvra en bestudeer.

Tensy ’n ongekende nasionale bekering gou plaasvind, sal ons volke verootmoedig, getugtig en in nasionale slawerny geneem word. Wanneer ons dan begin om ons les te leer, sal God ons volke terugbring na die land van Israel en hulle op ’n werklik ongelooflike wyse seën.

Soos ons gesien het, sal die Wet dan uit Jerusalem uitgaan. Die Tien Gebooie sal regoor die wêreld geleer en toegepas word as die grondslag van Christus se toekomstige Regering! Soos God se Gees op alle nasies uitgestort word, sal elke mens op aarde geleer word hoe om God lief te hê en hoe om sy naaste lief te hê! Die hele wêreld sal God se ware weë geleer word en vrede en blydskap sal uiteindelik die hele aarde deurtrek! Die “Nuwe Verbond” sal uiteindelik verstaan en toegepas word deur die huis van Israel sowel as die huis van Juda (Jeremia 31:31). God sê: “Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees” (vers 33).

Wanneer Satan aan die begin van Christus se heerskappy gebind is (Openbaring 20:1-3), sal mense gou hulle vyandigheid teenoor God en Sy groot geestelike Wet te bowe kom. Daar sal dan uiterlike vrede oor die hele aarde wees en ’n innerlike vrede – die “vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan” (Filippense 4:7), sal op die mens neerdaal op ’n manier wat nog nooit voorheen in die hele menslike geskiedenis ervaar is nie.

Christus se toekomstige wêreldregering wat vinnig nader, sal in beheer wees. Ek en u kan deel wees van daardie Regering, indien ons bereid is om onsself waarlik aan God oor te gee en werklik te doen wat Hy beveel! Ons kan pioniers wees en Christus help met die herstrukturering van hierdie verwarde wêreld en die nasies God se weë leer. ’n Glorieryke toekoms wag op die hele aarde met die Wederkoms van Jesus Christus!

Dit is die ware antwoord op al die lyding en angs wat ons mense – onder Satan se bose invloed – oor onsself bring. My vriende, wanneer Jesus Christus werklik weer na hierdie aarde terugkeer, binne die leeftyd van baie van u, sal die gevoel van “leegheid” en doelloosheid vinnig verdwyn. Ons sal almal uiteindelik verstaan waarom ons gebore is. Almal sal uiteindelik ’n wonderlike en inspirerende doel vir hulle lewens hê. Dit sal die uiteindelike oplossing wees vir al die haat, lyding, verwarring en leegheid wat ons menslike samelewing deesdae deurdring. Ja, dit is die antwoord!