Ja, woorde kan ons regtig seermaak. Doen ons ons bes om ons woorde op ’n Christelike wyse te kies?

Gee u naaste ’n kans. Kies vriendelike woorde.

Enigiemand wat die nuus deesdae dophou, of na die wêreldtoneel rondom ons kyk, behoort getref te wees deur die gebrek aan hoflikheid wat so algemeen geword het. Ons sien dit in die verslaggewing van die nuus sowel as in nuusgebeure self. Ons sien dit in die daaglikse interaksies tussen mense op alle vlakke van die samelewing. Daar is ’n kras toon, ’n harde stemtoon in baie, amper die meeste woordewisselings met betrekking tot meningsverskille. Of dit nou op die Kongresvloer is, in die raadsale van die Parlement, op straat in ons stede – van slaapkamer tot Raadsaal, in groot en klein lande – twisgierigheid lyk na die gees van die tyd.

Toedigting van motiewe, beledigende taalgebruik en neerhalende aanmerkings blyk aan die orde van die dag te wees. Dit is skokkend, maar baie van die nuusprogramme kweek daardie growwe benadering in hulle aanbieding of dekking van die nuus. Harde stemme, om op mekaar se tone te trap en die persoon wat praat in die rede te val, is ’n standaard formaat wat deur baie, indien nie die meeste nie, gebruik word tydens “nuus”-aanbiedings op televisie. Ek kan net aanneem dat die netwerke opnames gemaak het wat getoon het dat hulle kykers hierdie soort van kras aanbieding van die nuus wil hê.

Ons woedende wêreld

Dit is nie ’n verrassing dat hierdie gesindheid die strate getref het nie. Ons lees dikwels van “padwoede” wat deur een of ander onbenullige voorval veroorsaak word, maar wat ’n geveg of selfs ’n skietery tot gevolg het. Geweld by werksplekke begin dikwels met harde woorde tussen kollegas of tussen ’n werker en ’n toesighouer of bestuurder. My vrou het onlangs ’n onaangename ervaring by ’n supermark gehad. Terwyl sy in ’n lang ry gestaan en wag het om te betaal, het ’n vrou met ’n paar items voor in die ry gaan inval. Met ’n glurende blik het sy met ’n harde stem aan diegene wat geduldig hulle beurt afgewag het uitgeroep: “Het julle ’n probleem hiermee?” Dit was ’n gespanne en stresvolle oomblik, maar die optrede van die onbeskofte koper het die ander kliënte heeltemal geïntimideer. Niemand het haar geantwoord nie en die voorval het sonder verdere konfrontasie verbygegaan.

Wat ons sê en hoe ons dit sê het ’n impak op ander mense, hetsy positief of negatief. U mag dalk nie verbaas wees om te weet dat u Bybel baie oor hierdie belangrike onderwerp te sê het nie. Ons lees: “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing” (Spreuke 12:18). Ja, woorde kan diep wonde veroorsaak, dus behoort ons baie versigtig te wees hoe ons dit gebruik. ’n Ondeurdagte belediging of ’n onbesonne tergery kan pynlik wees en mag onherstelbare skade aan ’n verhouding veroorsaak.

Die boek Spreuke gee verder onskatbare opdragte oor hierdie belangrike onderwerp. Daar is geskryf: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom” (Spreuke 15:1). Indien ons wil verhoed dat woede en wrok in ander mense opgewek word, behoort ons die toon en buiging van ons stem noukeurig in ag te neem. Dikwels is dit nie wat ons sê nie maar hoe ons dit sê wat wrywing en vyandigheid met ander mense veroorsaak. Wanneer ons met ons eggenoot, ons kinders, ons kollegas en diegene praat wat ons in besighede bedien, behoort ons die impak van ons woorde in ag te neem. Bou ons ander mense op, of breek ons hulle af?

Probeer ’n bietjie vriendelikheid

Die “Goue Reël” word omskryf deur Jesus Christus in Lukas 6:31: “En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”

Terwyl u ’n kind was, het u waarskynlik die ou gesegde gehoor: “Stokke en klippe kan my bene breek, maar woorde kan my nooit seermaak nie”. Dit was ’n leuen. Woorde kan seermaak. Hoe ons hulle gebruik kan ’n groot impak op ons lewe hê en die lewens van diegene rondom ons.

Weereens, die boek Spreuke stel dit só in perspektief: “Vriendelike woorde is soos ’n heuningkoek: soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente” (Spreuke 16:24). Watter een sal u kies, “stokke en klippe” of “soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente”?