Wanneer hewige storms of ander weerverwante rampe voorkom, blameer die mensdom gewoonlik maar vir “Moeder Natuur”. Weerkundiges is gou om statistiek oor soortgelyke storms van 30, 60 of selfs 100 jaar gelede aan te haal. Maar wat hulle dikwels NIE meld nie is dat sulke storms, sowel as hewige aardbewings, meer dikwels voorkom en kragtiger van aard is.

Daarby is die “kundiges” skynbaar in totale onkunde oor die feit dat daar ’n Grote GOD is wat eintlik natuurlike gebeure beheer, wat daardie volke wat Hom gehoorsaam, seën met reën op die regte tyd (Lev. 26:4) en wat ’n opstandige volk kan (en gewoonlik sal) straf met droogte en hongersnood (vers 19). Jesus Christus het voorspel dat natuurrampe een van die tekens sal wees wat Sy terugkeer na die aarde as Koning van konings sal voorafgaan: “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Matt. 24:7-8).

Hierdie boekie is ’n waarskuwing deur die dienaars van die Almagtige God. Tensy Suid-Afrikaners, Amerikaners en andere van Britse afkoms hulle van hul verskriklike sondes bekeer, sal die God van die skepping binnekort tussenbeide tree om die verskriklikste storms en natuurrampe in menseheugenis teweeg te bring! Dan sal “normale” weersiklusse begin verander. Trouens, feitlik alles om ons sal begin verander, tensy ons, op nasionale en persoonlike vlak, berou tot bekering toon en ons werklik wend na die God van die skepping. Hierdie boekie sal u wys WAAROM hierdie rampe voorkom en wat ons MOET doen, individueel en gesamentlik, om onsself te beskerm.

Amerikaanse weerkundige rampe

Die Verenigde State van Amerika het die hoogste kerk-bywoningsyfer van al die groot volke van die wêreld. Die Amerikaners praat baie oor godsdiens. Maar hulle het ook ontstellende hoë statistiek vir gebroke huisgesinne, jeugmisdaad en dwelm­misbruik. Die VSA is toenemend verdiep in onsedelik­heid, geweld, oneerlikheid en die blindelingse strewe na ’n lewenswyse van algehele genot [hedonisme]. Hulle vermoor elke jaar gereeld miljoene ongebore babas deur van hulle ontslae te raak asof hulle bloot huishoudelike vullis is. Amerika noem hulself die “land van vryheid en tuiste van die moediges”, maar letterlik miljoene Amerikaners woon in omheinde, fortagtige omgewings, te bang om saans op straat te wees.

Soos ons sal sien, is God besig om Amerika asook ander lande, te straf deur middel van verskeie natuurrampe. Namate persoonlike en nasionale sondes toeneem, neem vloede, tornado’s, hewige sneeustorms en aardbewings toe. Dus is baie van vandag se sogenaamde “Godgegewe” rampe presies dit: die aktiewe ingryping van die Almagtige God. Dit is maar net die begin. Natuurrampe gaan baie erger word tensy Amerikaners, Britte, Suid-Afrikaners en ander afstammelinge van die Britte, ons as nasies BEKEER en ons na die ware God wend in opregte gehoorsaamheid.

Reuters Nuusagentskap het op 26 Januarie 2000 berig: “Troepe van die National Guard is Dinsdag in Noord-Carolina en Virginia gemobiliseer om noodtoerusting uit te deel en gestrande mense te red, toe die hewigste winterstorm in 72 jaar lughawens en hoofpaaie gesluit en ten minste drie mense dood gelaat het. ’n Rekordsyfer van 18,2 duim sneeu het geval by die Raleigh-Durham Internasionale Lughawe, wat die rekordneerslag van 17,8 duim van 2 Maart 1927 oorskry”.

United Press International berig op 14 Januarie 2000: “Texas se Landboukommissaris, Susan Combs, het Vrydag gesê dat dié staat se graan- en veeboere ’n droogtekrisis in die gesig staar. Graan- en veeboere is midde in die derde droogte in vier jaar en het nog nie ten volle herstel van die vorige droogtes van 1996 en 1998 nie, het Combs gesê”.

CBS News berig op 10 Januarie 2000: “Kundiges van die Amerikaanse regering glo nou dat wêreldverhitting aan die gang en ’n werklikheid is. Dit is die tweede agtereenvolgende La Nina-gedrewe winter, wat storms in die noordweste van die Stille Oseaan veroorsaak, terwyl dit droër en warmer as gewoonlik op baie ander plekke is. Nee, “normaal” is nie ’n woord wat weerkundiges deesdae gereeld gebruik nie. ‘Die wêreld raak al hoe warmer. Dit ly geen twyfel dat ons wêreldverhitting ondervind nie’, sê Dr James Baker van die National and Atmospheric Administration. Die 1990’s, die warmste dekade die AFGELOPE DUISEND JAAR, blyk ’n kommerwekkende verwarmingspatroon te vestig [ons beklemtoning].

“Dit raak nie net warmer nie, dit raak ook droër in dele van die land, insluitende landboustreke wat ’n groot deel van die volk voed. ’n Pertinente geval is die landbou- en veestreke van Kalifornië. Kalifornië het slegs 3% van die land se landbougrond, maar kweek meer as die helfte van die land se vrugte en groente. Die vrees bestaan dat dié “vrugtebak” stof vergader. Daar is geen voer vir Kalifornië se beeste nie. ’n Baie droë herfs het die beeste se weigras verdor en nou ry boere wortels aan om die beeste aan die lewe te hou”.

Iets “ongewoon” in die weer?

Met verwysing na die gewelddadige veranderinge in die weer, het Dr James Hansen, “peetpa” van wêreldwye verhitting-waarskuwings en hoof van die Goddard Instituut van Ruimtestudies in New York gesê: “Dit word elke jaar duideliker dat iets ongewoon aan die gang is” (San Diego Union-Tribune, 14 Januarie 2000).

Iets ongewoon? Beslis. Die meeste wetenskap­likes begin nou besef dat die normale weerspatrone nie meer voorkom nie en dat iets wat hulle nog nooit beleef het nie aan die opbou is in die weerspatrone. ’n Paar jaar gelede het skrikwekkende vloede tienduisende mense in Ohio, Kentucky en naburige state in Amerika getref. Die New York Times het op 3 Maart 1997 die volgende berig:

“Van Arkansas, waar tornado’s ’n dorpie verwoes het, tot Ohio en Kentucky, waar vloedwater motors van die pad afgevee en twee mense in stormwaterslote afgesuig het, het ’n front van dodelike storms hierdie naweek huise versplinter en ten minste 35 mense dood gelaat.

Mense wat Saterdag se tierende winde oorleef het, noem dit die dag van die hewigste weeraktiwiteit in menseheugenis. Die stormfront het vloede, tornado’s en donderstorms, soort­gelyk aan dié in die lentetyd, deur agt state gestuur. Dit het voorgekom in state so ver suid as Mississippi en Tennessee en so ver noord as Ohio. Geen staat het egter so erg deur­geloop soos Arkansas nie. Gedurende ’n paar uur Saterdagnag het die kolkende winde van verskeie tornado’s hier geboue en huise plat­gevee, 24 mense dood gelaat en 200 beseer …

Goewerneur Mike Huckabee van Arkansas het gewaarsku dat die dodetal kon styg namate reddingswerkers deur die puin van huise en besighede grawe. ‘Dit was ’n absoluut buitengewone weergebeurtenis’, het Huckabee gesê, terwyl eenhede van die National Guard die polisiebeamptes en brandbestryders gehelp het om deur die verwoesting te soek. ‘Ons het meer tornado’s en skade gehad as in die hele verlede jaar’ ... Ek noem dit apokalipties”.

“Apokalipties” het die Goewerneur gesê. Dié uitdrukking verwys natuurlik direk na die boek van Openbaring en die toorn van God. Ons kan verwag om meer en meer rampe te sien soortgelyk aan Orkaan Andrew in 1992 toe dosyne dood is en $25 BILJOEN se skade in Florida en Louisiana aangerig is. Ook rampe soos die groot vloed van 1993 in die Midde-Weste, die duurste vloed in die geskiedenis van die Verenigde State van Amerika wat dosyne gedood en $18 BILJOEN se skade veroorsaak het. Ons gaan meer en meer menslike tragedies sien wat selfs die groot Galveston orkaan van 1900 sal oortref wat na raming 8,000 mense gedood het. Namate ons nasionale sondes toeneem, vertel God se Woord ons, sal Sy toorn ook toeneem.

Kan ons vir God kwaad wees of Hom wreed noem wanneer Hy op hierdie manier ingryp om ons aandag te trek? Veroorsaak of laat God toe dat hierdie rampe gebeur omdat Hy ons haat? Die teendeel is waar! God wil hê dat ons moet WAKKER WORD om ons eie beswil. Hy tree op uit LIEFDE. Die boek Openbaring maak dit duidelik wanneer God ons vertel: “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou” (Op. 3:19). God wil hê dat ons Hom moet onthou en gehoorsaam!

’n Skepper wat ingryp

Die meeste politici, boere, handelaars en weer­voorspellers laat die Een wat weerstoestande beheer egter buite die prentjie. Hulle vergeet van God, die Skepper, wat van tyd tot tyd ingryp in Sy skepping om Sy doel te bereik. Onthou u die sondvloed in Noag se tyd?

Natuurlik is elke donderstorm nie weens God se direkte ingryping nie. Die natuurwette reël sulke weerspatrone. Soms laat God Satan toe om die weer te beheer (vergelyk Job 1:12, 19). Die Bybel onthul egter ook dat daar spesifieke tye is dat God Self ingryp in die weer om volke te seën of te vervloek.

Toe antieke Israel hul van God weggekeer het, hoe het Hy gereageer? “Ek het julle met brandkoring en met heuningdou swaar getref [van te veel reën], baie van julle tuine en julle wingerde en julle vyebome en julle olyfbome het die sprinkaan verslind – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE” (Amos 4:9). Dieselfde God wat die volke en koninkryke van die verlede “pakslae gegee” het, staan steeds aan beheer van sake. “Want Ek, die Here, ... verander nie” (Mal. 3:6).

Die Woord van God stel dit duidelik dat indien die volke van die voormalige Britse Gemenebes (waaronder Suid-Afrika) en die Amerikaanse volk ons nie bekeer van ons persoonlike en nasionale sondes en ons na God wend nie, Hy ons sal straf met vloede, droogtes, hongersnode, aardbewings en siekte-epidemies soos wat ons nog nooit voorheen gesien het of ons kan indink nie! Elkeen van ons behoort persoonlik na God te soek op ’n wyse wat ons nog nooit tevore gedoen het nie.

Die waarheid is dat huidige en voorspelde monstervloede en droogtes die kans op besoedelde water, malaria muskiete en ander bronne van siektes geweldig gaan verhoog. Ons losbandige lewenswyse sal voortgaan om die voorkoms van moderne plae soos VIGS, sifilis en ander seksueel-oordraagbare siektes aan te jaag. Selfs al sou die mediese wetenskap sommige van hierdie siektes ’n knou toedien of selfs oorwin, sal ander selfs meer hewige en kwaadaardige plae ongetwyfeld hul plek inneem.

Uiteindelik sal ons hospitale, wat reeds in ’n finansiële wurggreep is en ’n tekort aan beddens het, eenvoudig nie meer die siekte-epidemies kan hanteer wat, volgens Bybelvoorspellings, op pad is nie! Wat ons reeds hierbo gesien het, word benadruk in dié parallelle teksvers: “En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom” (Luk. 21:11). As gevolg van ons toenemende SONDES, sal hierdie rampe Amerika, Brittanje, Suid-Afrika en die ander afstammelinge van die Britse Gemenebes soos Kanada, Australië en Nieu-Seeland tref –moontlik reeds dié geslag!

Soos verduidelik in ons insiggewende boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? is die mense van die VSA en van Britse afkoms, asook die volke wat deel was van die voormalige Britse Gemenebes – soos Suid-Afrika en Kanada – in Bybelprofesieë geïdentifiseer as “Israel”. Alle ware Christene het die beloftes van “geestelike Israel” beërwe. Maar die meeste belydende Christene besef NIE dat God ook fisiese seëninge aan Abraham belowe het nie. Dié seëninge is oorgedra aan sy twee kleinseuns Efraim en Manasse – die voor­vaders van die hedendaagse mense van Britse afkoms. As die oorblyfsel van die sogenaamde “Verlore Tien Stamme” van Israel, is hierdie mense ryklik geseën. Maar namate hulle die seëninge vermors en ’n toenemende onsedelike lewenstyl aanhang, gaan hulle erg gestraf word deur ’n liefdevolle God wat hulle wil WAKKER SKUD voordat hierdie nasionale brassery te ver gaan (vergelyk Heb. 12:6).

Dié verstommende waarheid is ’n sleutel tot profesie en kan bewys word uit u Bybel. Indien u meer wil weet van hierdie fassinerende onderwerp, kan u gerus skakel of skryf om u GRATIS kopie van hierdie belangrike boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? aan te vra. Dit sal gratis aan u gestuur word, met geen koste of verpligting van u kant nie. Dié boekie sal ’n groot hulp wees wanneer u Bybelprofesieë bestudeer.

Goddelike straf is aan die kom

Stadig maar seker is die denke van die gemiddelde mens gesus rakende die betekenis van sonde. Miljoene mense het nie die vaagste idee wat reg of verkeerd is nie. Nóg hul ouers, nóg skole en onderwysinstellings het hulle geleer. Selfs die kerke het hopeloos gefaal om die realiteit van God te verduidelik, en die betekenis van Sy Wette, en die gevolge wanneer daardie Wette oortree word.

Let op hierdie uittreksel uit ’n kragtige toespraak van William P Barr, voormalige prokureur-generaal van die VSA:

“Amerika ... tel nou onder die hoogste egskeiding statistiek in die wêreld – egskeidings kom net so algemeen voor soos huwelike. [Dit geld ook vir Suid-Afrika.] As gevolg hiervan het ons nou die hoogste persentasie kinders wat in enkelouer-huishoudings woon.

Hierdie aftakeling van die gesin is besonder ontstellend aangesien die gesin die grondvlak is waar ons morele standaarde leer – waar ons ons morele waardes oordra van geslag tot geslag. Soos wat die gesin verbrokkel, ver­brokkel ons vermoë om daardie waardes oor te dra aan die volgende geslag …

Vandag staan ons voor die ontsaglike mag van massakommunikasie en populêre kultuur – die massamedia, die vermaaklikheidswêreld en die akademie. Ek vrees vandag dat die oor­redings­mag van ons gewilde hoë-tegnologiese kultuur nie slegs die verval van moraliteit aanblaas nie, maar ook die eensame stemme teen verwêreldliking verdring ...

Tesame met die massa se populêre volks­kultuur, vrees ek, is daar ’n verdere moderne verskynsel wat dit vir die samelewing moeiliker maak om homself te herstel. In die verlede is samelewings tot hul sinne gedwing as gevolg van die koste van hul wangedrag...

Maar vandag is daar iets nuuts. Die staat – wat homself nie langer beskou as ’n morele instansie nie, eerder ’n wêreldse een – neem die rol aan om slegte nagevolge te verlig. Die staat word versoek om die ongerief en koste van wangedrag te verwyder. Dus is die reaksie op siektes en ongeoorloofdheid nie seksuele verantwoordelikheid nie, maar die uitdeel van kondome” (Vital Speeches of the Day, 1 Nov. 1992, bll. 39-40).

Is dit die Amerikaanse-, Britse-, en Suid-Afrikaanse moraliteit? Baie volwassenes besef nie eens hoeveel onverbloemde onsedelikheid in vandag se skole onderrig word nie! Byna die helfte van alle openbare skole leer skoliere hoe om voorbehoedpille te bekom – selfs sonder hul ouers se toestemming – en byna net soveel skole leer die kinders hoe om dit te gebruik.

Besef ons werklik wat aan die gebeur is in ons land? In stede daarvan om die voorbeeld van President Abraham Lincoln te volg en ’n nasionale dag van vas en gebed uit te roep en vir vergifnis te pleit vir ons toenemende sondes teen die Grote God wat aan ons lewe en asem gee, wil ons leiers slegs die gevolge van daardie sondes verlig. Kan Goddelike straf dan nog ver wees?

God se dienaars het verstaan

Indien u in die ware God glo – die God van die Bybel – behoort u te verstaan dat Hy in beheer is van die weer soos Hy dit uitdruklik in Sy geïnspireerde Woord aandui. God vertel ons aangaande die lesse in die Ou Testament: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Rom. 15:4).

Koning Dawid van Israel was een van God se grootste dienaars in die mens se geskiedenis – ’n man na God se hart (Hand. 13:22). Let op na Dawid se begrip van wat ons te doen staan in tye van hongersnood: “EN toe daar in die dae van Dawid ’n hongersnood was, drie jaar lank, jaar ná jaar, het Dawid die aangesig van die HERE gesoek; en die HERE het gesê: Vanweë Saul en vanweë sy huis waarop bloedskuld rus, omdat hy die Gibeoniete omgebring het” (2 Sam. 21:1). Dawid het geweet dat God die weer beheer. Toe ’n ongewone, voortslepende hongersnood sy land tref, het hy presies geweet wat om te doen.

Onthou u die profeet Elia? Baie mense onthou hom, maar vergeet gewoonlik dat hy God se algehele beheer oor die weer gedemonstreer het. Om die waarheid te sê, word ons vir die eerste keer aan Elia voorgestel tydens hierdie weerkwessie. “EN Elía, die Tisbiet, uit Tisbe in Gílead, het vir Agab gesê: So waar as die HERE, die God van Israel, leef, voor wie sê aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!” (1 Kon. 17:1).

Maar WAAROM het God vir Elia geïnspireer om algehele droogte vir ’n hele drie jaar te voorspel? Die antwoord is gevind toe Elia homself uiteindelik voor die bose Koning Agab bevind: “En net toe Agab Elía sien, vra Agab vir hom: Is dit jy, jou beroerder van Israel? Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die HERE verlaat het en agter die Baals aan geloop het” (1 Kon. 18:17-18).

Die Nuwe Testament bevestig dié Ou-Testamen­tiese verhaal. in die boek Jakobus – geskryf deur Jesus se broer – lees ons hierdie geïnspireerde woorde: “Elia was ’n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit” (Jak. 5:17-18).

Het ons, in die Verenigde State, Brittanje, Suid-Afrika, Kanada, Australië en Nieu-Seeland, die “gebooie van die Here verlaat”, soos Elia vir Koning Agab gesê het dat hy doen? Die antwoord is voor die hand liggend. Sal ons dieselfde soort straf ont­vang as antieke Israel? Ons het reeds uit die Woord van God die antwoord gesien: “Want Ek, die HERE, het nie verander nie” (Mal. 3:6). Die Nuwe Testament sê: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb. 13:8).

Lees ’n bietjie Salomo se geïnspireerde gebed waarin hy erkenning gee aan God se direkte beheer oor die weer: “As die hemel toegesluit is, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe – want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel – en GEE REËN op u land wat U aan u volk as ’n erfenis gegee het” (2 Kron. 6:26-27).

Sal U die Bybel glo?

Meer as wat die meeste mense besef, is die lande van Amerika, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Brittanje en Suid-Afrika inderdaad deur God aan ons gegee as ’n “erfenis”. Wanneer ons wegdraai van ons Skepper – eintlik spoeg in die gesig van die God wat ons aanvoer ons wel dien, en voortdurend ongehoorsaam is aan Sy gebooie – BERISPE God ons inderdaad individueel en nasionaal vir ons eie onthalwe. Hy gebruik dikwels die weer en ander natuurverskynsels om ons nederig te maak en te laat besef hoe swak ons is.

Onthou dat die Skrif die denke van GOD is. In die Bybel onthul ons Skepper Homself, hoe Hy dink en hoe Hy handel en wat Hy van ons verwag. So wys God deur die apostel Paulus: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim. 3:16).

Die apostel Petrus is ook geïnspireer om vir ons te sê: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Pet. 1:19). Petrus vermaan ons om op die geïnspireerde profesieë van die Bybel “AG TE GEE”. Sal u dit werklik DOEN?

Of sal u, soos die meeste belydende Christene maar net rondsit en by uself dink: “Wel, miskien sal hierdie dinge gebeur. Maar ek is nie eintlik seker nie en ek wil nie regtig opgewonde raak oor hierdie godsdiens besigheid nie. Dit sou ongebalanseerd wees. Dit mag dalk inmeng met my besigheids- of sosiale lewe!”

My vriende, dit is een van die talle redes waarom die Skepper wel GAAN ingryp in die mens se sake deur middel van die weer, siekte-epidemies, aardbewings en ander natuurverskynsels. Ons moet besef dat ons volke ’n konstante “dieet” gevoer is deur die sogenaamde “hoër opvoeding”, deur die nuusmedia en ander bronne. ’n Dieet wat neerkom daarop dat God “ver verwyderd” is van die mens – indien Hy hoegenaamd bestaan! Ons is geleer dat ons die produk is van verliefde amebes en dat ons van ape afgestam het sonder die toedoen van ’n ware Skepper. Die groot God gaan ingryp en die aandag vasvat van die biljoene swak, verwarde, sondige, menslike wesens. Hy gaan hulle “wys” – deur verskeie wyses van ingryping – dat Hy God is. Die GEWELDIGE weersveranderinge in die komen­de maande en jare is net ’n deel van die proses!

U sien, indien U persoonlik begin om werklik in God te GLO weens Sy geïnspireerde profesieë, sal u miskien bereid wees om te DOEN wat God sê. U mag dan gewillig wees om die Tien Gebooie as ’n lewenswyse TE GEHOORSAAM. Jesus het aan die jongman wat wou weet hoe om die ewige lewe te beërwe, gesê: “Maar AS jy in die lewe wil ingaan, ONDERHOU DIE GEBOOIE” (Matt. 19:17).

Deesdae argumenteer die meeste belydende Christen-predikante teen daardie stelling. Hulle het talryke redes en verskonings geleer waarom ’n mens nie die Tien Gebooie “kan” onderhou nie, en leer dit aan ander! Hulle sê dit is “te moeilik” om die vierde gebod te onderhou (Ex. 20:8). Hulle sê dit is “onprakties” om werklik ’n vyand LIEF TE Hê en NOOIT ’n menselewe te neem nie (Matt. 5:43-44). Hulle sê dit is “te veel gevra” om jouself te verbind om vir altyd aan ’n lewensmaat getrou te bly ten spyte van sy of haar menslike tekortkominge (Matt. 5:31-32).

God weet als van menslike redenasie en dié spul jammerlike verskonings. Dus gaan Hy binnekort ingryp en die nasies SKUD sodat die mense baie meer bereid sal wees om na Hom te “luister” en Sy geïnspireerde Woord te gehoorsaam. Soos Koning Dawid van Israel in die Psalms geskryf het: “Staan op, HERE, laat die mens nie sterk word nie; laat die heidene voor u aangesig geoordeel word! o HERE, jaag hulle skrik aan; laat die heidene [nasies] weet, hulle is mense!” (Ps. 9:20-21).

Aardbewings oor die hele wêreld

Toe Jesus gevra is om ’n teken te gee wat sal wys dat Sy Wederkoms naby is, het Hy gesê: “Maar wanneer julle hoor van oorloë en gerugte van oorloë, moet julle nie verskrik word nie, want dit moet kom. Maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal AARDBEWINGS wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnode wees en beroeringe. Hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Mark. 13:7-8).

Later, toe Jesus die sewende en laaste plaag beskryf het – daardie laaste groot STRAF van ’n reg­verdige God op ’n sedelose, bose en rebelse wêreld – het Jesus gesê dat die laaste plaag eerstens ’n groot AARDBEWING sal wees: “En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ’n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby! En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ’n groot AARDBEWING gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie - so ’n geweldige groot aardbewing. En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn” (Op. 16:17-19).

Ja, God gaan hierdie aarde SKUD soos dit nog nooit tevore geskud is nie! Die sogenaamde “kundiges” verstaan dit natuurlik nie, maar selfs hulle is bekommerd oor die moontlikheid hiervan. Neem kennis van die volgende ontleding van die New York Times News Service, soos berig in die San Diego Union Tribune van 28 April 1999:

Die doemprofete is verkeerd, sê weten­skaplikes. Die verwoestende aardbewings wat die aardbol die afgelope maand geskud het en der­duisende lewens geëis het in Turkye, Grieke­land en in Taiwan, is geen teken dat die einde naby is nie.

Na raming is die getal groot skuddings regoor die wêreld vanjaar onder die gemiddeld. Dit is bloot slegte toeval dat die onlangse skuddings voorgekom het in bevolkte gebiede, duisende geboue plat gevee en derduisende mense dood, vermis of haweloos gelaat het.

Kenners is dit egter eens dat nog meer ongeluk aan die kom is. Alhoewel die tempo van aardbewings oor die eeue heen redelik konstant is, het die wêreld se bevolkings­ontploffing tot gevolg dat al hoe meer mense stroom na aardbewingsones – dikwels geleë aan kusgebiede. Die gevolg, volgens die kenners, is dan die vooruitsig van voortgesette trauma soos wat stedelike gebiede ontplof in ’n klaarblyklik eindelose reeks van verwoestings.

Kenners meen dat ’n miljoen mense in die 20ste eeu omgekom het in aardbewings. Hierdie eeu mag 10 maal meer sterftes inhou, met ’n lewensverlies van 1 miljoen mense per keer, voeg hulle by, tensy drastiese stappe geneem word om dosyne wydstrekkende stede met biljoene inwoners te beveilig.

‘Dit is onvermydelik’, het Klaus Jacobs, ’n aard­­bewingdeskundige aan die Lamont-Doherty aardswetenskaplike navorsingsentrum van Colombia Universiteit gesê. ‘Al hoe meer mense en al hoe meer geboue is in die gedrang. Namate die wêreldbevolking en ryk­dom toeneem – wat lei tot ’n dig beboude omgewing, hoër geboue en die infrastruktuur wat ons samelewing, kommunikasie, ens. onderhou – verhoog die risiko dienooreen­kom­stig’.

Die punt wat ons in hierdie boekie maak is nie dat die “risiko” verhoog nie. Die punt is wat die Skepper sê Hy gaan doen, ongeag die mening van die “kenners”.

Sommige navorsers glo dat die geweldige vrystelling van energie ná die 1906-aardbewing in San Francisco dinge in Kalifornië tot bedaring gebring het vir bykans 70 jaar. Maar nie meer nie. “Sedert ongeveer 1980 sien ons verhoogde seismiese aktiwiteit in beide Noord- en Suid Kalifornië”, het geoloog Walter Mooney van die Uppsala Seismologiese Instituut gesê. “Ek dink mense sal aanvoel dat daar dinge aan die broei is”.

Aardbewings en vulkaniese uitbarstings

Baie mense dink dat aardbewings hoofsaaklik ’n Kaliforniese probleem is. Maar om buite Kalifornië te woon, is GEEN waarborg tot veiligheid nie. Die vier aardbewings wat die verste gevoel is in Noord-Amerika, het tussen 16 Desember 1811 en 7 Februarie 1812 voorgekom naby New Madrid, Missouri, en het in sterkte gewissel tussen 7,6 en 8,2 op die Richter skaal. Die sterkste is gevoel vanaf die Ooskus tot by die Rotsgebergte [Rockies], en vanaf Kanada tot aan die Golf van Mexiko. Daar word vertel dat dit “kerkklokke” laat lui het tot in Boston, Massachusetts, amper 1,000 myl verder. Kenners sê al lankal dat ’n GROOT aardbewing eendag die Ooskus gaan tref waar die skade geweldig sal wees, aangesien bouregulasies nie geformuleer is om voorsiening te maak vir groot aardbewings nie. Wat veral kommerwekkend is, is die geboue in laag­liggende gebiede naby riviere en baaie wat beskadig sal word deur die “vloeibaarwording” van die aarde onder hulle.

Reekse vulkaan- en aardbewinggeteisterde gebiede omring die Stille Oseaan vir duisende kilometer. Hierdie buiterand om die Stille Oseaan is bekend as die “Kring van Vuur”. In die 20ste eeu het die meeste van die groot aardbewings – 8,5 en hoër op die Richter skaal – in hierdie gebied voorgekom. Meer as die helfte van die wêreld se vulkane bo seespieël word ook daar aangetref, soos St. Helens in die VSA, Pinatobu in die Filippyne en Krakatoa in Indonesië. Hulle het almal groot verwoesting gesaai tydens hulle uitbarstings. Die Filippynse Eilande het meer as 200 vulkane en het die afgelope jare groot seismiese verwoesting beleef – soos die aardbewing in Julie 1990 met ’n sterkte van 7.7 waarin ongeveer 2,000 mense gesterf het.

Alaska is die tuiste van meer as 50 vulkane in die Aleoetiese ketting. Dit was waar die 20ste eeu se grootste vulkaniese uitbarsting plaasgevind het op Berg Kaimai in 1912. Bob Tilling van die VSA se geologiese diens het vroeër vanjaar gesê: “Die kans bestaan dat daar vanjaar of volgende jaar in die Aleoetiese ketting iets sal gebeur”.

In Jesaja 29:6 sê God van Jerusalem: “Vanweë die HERE van die leërskare sal jy in genade besoek word, met donder en AARDBEWING en groot ge­druis, wind en storm en die vlam van ’n verterende vuur”.

God sê: “Ek ... verander NIE” (Mal. 3:6). Hy het antieke Israel inderdaad met aardbewings en storms gestraf. Hy begin nou om die moderne afstam­melinge van antieke Israel op dieselfde wyse te straf.

Ná ’n onlangse aardbewing in suidelike Kalifornië het party plaaslike verslaggewers gevra: “Waarom is Los Angeles uitgesonder?” Die vraag moes eerder wees: “Waarom NIE?”

Los Angeles word bestempel as die vermaaklik­heids­media­hoofstad van die wêreld. Daar word meer verrotte, onsedelike flieks en TV-reekse vol moord, verminking, ongeoorloofde en perverse seks ver­vaardig in Los Angeles as in enige ander plek in die wêreld. Kalifornië word lank reeds beskou as die toonaangewer vir byna elke vorm van perversie bekend aan die mens. Die Groot God wat regeer oor mense en volke het die goeie reg om rebelse mense en volke wat steeds laer sink in slegtigheid, te straf omdat hulle Sy wette versaak en nie Sy groot seëninge waardeer nie. Die mense in Kalifornië – en in die grootste deel van die Engelssprekende wêreld – het in die verlede reeds baie geleenthede gehad om die Waarheid te leer ken, indien hulle belang sou stel. God se basiese etiese standaarde, opgesom in die Tien Gebooie, is welbekend – dit is nie verborge, esoteriese kennis nie. Moontlik sal ’n goeie “wakkerskud” die mensdom se aandag trek!

Wat God sal doen

Die Grote God het ons voorvaders aangesê: “Slaan jou oë op na die kaal heuwels en kyk! Waar is jy nie onteer nie? Aan die paaie het jy vir hulle klaar gesit soos ’n Arabier in die woestyn, en jy het die land ontheilig deur jou hoererye en deur jou boosheid. En die reënbuie is ingehou, en daar was geen laat reëns nie. Maar jy het ’n hoerevoorhoof gehad, jy het geweier om jou te skaam” (Jer. 3:2-3). Komaan, wees eerlik. As ’n belydende Christennasie het ons die land “ontheilig”, dit besoedel met ons moderne owerspeligheid, perverse dade, misdaad en moorde. Dit sluit die slagting van derduisende ongebore babas in, en tallose ander dade wat GRUWELIK is in die oë van die God van die hemel.

Is Hy dan daartoe geregverdig as Hy die “laat reën” weerhou van diegene wat Hom nie gehoor­saam nie?

Ons – die moderne afstammelinge van die Britte en die volke van Noordwes-Europa – is beslis die nasate van die sogenaamde “Tien Verlore Stamme” van lsrael. God het ons onmeetbaar geseën met die grootste konsentrasie van rykdom en materiële hulpbronne in die geskiedenis. Maar ons het God “vergeet”. Ons is ’n skande in die oë van die Een wat ons so baie geseën het. Daarom beskryf God in profesie na profesie in u Bybel in fyn besonderhede hoe Hy die moderne “huis van Israel”, gaan STRAF – ASOOK die Joodse volk. Weereens, soos wat ’n liefdevolle vader sy seun tugtig, so sal God ons tugtig om ons eie beswil, in die hoop dat dit ons sal WAKKER skud!

Byna alle Bybelstudente erken dat die boek Esegiël geskryf is in ongeveer 593 v.C., meer as 100 jaar ná die ondergang van antieke Israel in 721 v.C. Hierdie kragtige profesie beskryf egter presies wat met die huis van Israel gaan gebeur in die eindtyd. In Esegiël 4:1-3 gee God aan Esegiël die opdrag om ’n skynbeleg teen Jerusalem uit te voer. God sê: “’n TEKEN is dit vir die huis van Israel”. God sê toe vir Esegiël om op sy linkersy te lê om die ongeregtig­heid van die huis van Israel te dra (verse 4-5), en daarna op sy regtersy vir die “huis van Juda”, vir die JODE (vers 6).

U sien, hulle is twee aparte volke! Tot vandag toe is hulle NIE dieselfde nie. Dié “teken” waarna God in vers 3 verwys, is dat “Jerusalem” die HELE huis van Israel simboliseer en wat met hulle almal sou gebeur, met al twaalf die stamme. Dit is ’n profetiese sleutel wat u MOET verstaan ten einde u in staat te stel om die volle betekenis van Bybelprofesieë te verstaan.

In Esegiël 5 gee God dan vir Esegiël die opdrag om sy eie hare en baard af te sny en simbolies elke derde daarvan op ’n ander wyse te “straf”. God sê: “Daar sal vuur van uitgaan in die HELE huis van Israel” (vers 4). Dit sluit sonder twyfel al twaalf stamme van Israel in, die Tien Verlore Stamme en die Joodse volk! God sê: “’n Derde deel van jou sal aan die PES sterwe en deur HONGERSNOOD in jou omkom; en ’n derde deel sal deur die swaard rondom jou val; en ’n derde deel sal Ek na al die windstreke verstrooi, en Ek sal ’n swaard agter hulle uittrek” (vers 12). Dus, net vóór ’n gewapende aanval op ons volke en die daaropvolgende nasionale slawerny, sal ’n GEWELDIGE groot getal van ons mense omkom weens HONGERSNOOD en sterf weens siekte-epidemies wat nog voorlê!

Tans, in ons huidige situasie van voorspoed en ongekende welvaart, mag hierdie profesie belaglik klink. Maar God se Woord staan vas! Een derde van slegs die VSA se huidige bevolking van ongeveer 270 miljoen, beloop 90 miljoen mense. Kan u u voorstel dat soveel mense in die volgende 10 tot 25 jaar of so kan OMKOM weens hongersnood en siekte-epidemies?

Dié van ons verbonde aan die Wêreld van Môre-tydskrif, daag u almal uit om hierdie dinge aan uself te bewys. Waarlik, dit is nodig dat u verstaan en OPTREE voordat dit te laat is!

Bekende hongersnode in die geskiedenis

Baie van die ouer lesers sal die Waaistofstreek van die 1930’s in Amerika onthou. Droogte het oor die Groot Vlaktes getrek en duisende mense oor die hele VSA in armoede gedompel toe boere hul verarmde plase verlaat het om elders ’n beter lewe te probeer maak.

Dit is maar ’n klein voorsmakie van wat nog oor die VSA en ander Britse afstammelinge – soos Suid-Afrika, Kanada, Australië en Nieu-Seeland – gaan kom. Ons het nog nooit sulke erge hongersnood in die gesig gestaar soos wat baie nasies in Afrika, Indië en ander wêrelddele al moes doen nie. Ons het nog nie naastenby die grusaamheid begin beleef wat ’n regte droogte kan bring nie.

Ons het nog nooit ’n droogte beleef soos dié in 1907 in China, wat na raming 24 miljoen sterftes veroorsaak het nie. Nog meer miljoene is dood in daaropvolgende droogtes in 1928 - 1930, in 1936 en in 1941 - 1942. ’n Soortgelyke droogte het in 1921 - 1922 ongeveer 5 miljoen sterftes veroorsaak in die Ukraïne- en Volgastreke van die voormalige Sowjet Unie. Kort gelede, in 1965 - 1967, het droogte in Indië die lewens van 1,5 miljoen geëis. Tot vandag toe ervaar Noord-Korea en Ethiopië droogteverwante voedseltekorte wat honger en wanhoop inhou vir miljoene der miljoene mense.

In die Julie 1917-uitgawe van die National Geographic Magazine is ’n artikel met dié titel “Fearful famines of the past”. Die artikel beeld op aanskoulike wyse uit wat mense doen as hulle honger is. Hulle eet enigiets wat hulle kan beetkry, insluitend katte, honde, rotte, en selfs mense.

Byvoorbeeld, tydens ’n hongersnood in Rusland in 1600 toe 500,000 mense gesterf het, “is katte, honde en rotte geëet; die sterkes het die swakkes oorwin, en by die slagpale van openbare markte is mensvleis verkoop. ’n Menigte dooies is gevind met hul monde vol strooi geprop” (bl. 89).

Tydens ’n droogte in Egipte gedurende 1201 en 1202 “het mans die vroue in die strate voorgelê en babas uit hul moeders se arms gegryp”. Een historikus “vertel met groot omhaal van die verskeidenheid disse waarin die moorddadige ontvoerders hul bababuit omskep het. Selfs die grafte in Egipte is vir kos geplunder” (bl. 79).

Dink u dat ons mense nooit tot sulke dade sal oorgaan nie? Lees wat het in Engeland gebeur tydens die hongersnood van 1314: “Enigiets denkbaar is geëet; honde, perde, katte, selfs babas. Die tronke was propvol oortreders en wanneer ’n nuwe misdadiger in ’n sel gegooi is, is hy deur die uitgehongerde selmaats gegryp en letterlik aan stukke geskeur vir kos” (bl. 82)!

Sulke grusame dade is nie beperk tot vorige eeue nie. Met die beleg van Leningrad tydens die Tweede Wêreldoorlog, het “mans hul vroue geëet, vroue het hul mans geëet en ouers het hul kinders geëet” (“The 900 Days: The Siege of Leningrad”, Reader’s Digest, April 1969).

Vleeslike mense doen soms vreeslike dinge

Een van ons personeellede is ’n oorlogsveteraan uit die Tweede Wêreldoorlog. Hy was in aanhouding op ’n gevangenis skip en later in ’n Japannese konsentrasie­kamp. Hy het dikwels aan my vertel dat selfs Amerikaanse en Britse soldate uiteindelik “mensvleis sal eet” onder dwang! Alle geskied­kundiges weet dat dit eenvoudig ’n feit van die lewe en van die geskiedenis is. Tensy ’n persoon gevul is met en gelei word deur die Heilige Gees van God (Rom. 8:14), sal die menslike verstand in sulke traumatiese situasies “knak” en verskriklike skandelike dade pleeg.

Ons het vroeër reeds verwys na Levitikus 26. Dit is die grondliggende profesie vir God se volk Israel, waarin God ’n hele reeks strawwe beskryf vir Israel, INDIEN hulle nie diepe berou toon nie (vers 14-35). Nadat God droogte, hongersnood, siekte-epidemies en vyandige leërinvalle voorspel, sê Hy: “As julle ook hierom nie na My luister nie, maar julle teen My versit, sal Ek My in grimmigheid teen julle versit, en Ek sal julle ook sewevoudig tugtig weens julle sondes. En julle sal die vlees van julle seuns eet, en die vlees van julle dogters sal julle eet. En Ek sal julle hoogtes verwoes en julle sonpilare verdelg en julle lyke op die lyke van julle drekgode gooi; en my siel sal ’n afsku van julle hê. En Ek sal julle stede puinhope maak” (verse 27-31).

Ek hoop werklik dat hierdie profesie van u Skepper u nie aanstoot gee nie. Ek hoop ook dat die historiese materiaal oor hongersnood wat vroeër aan­gehaal is uit National Geographic Magazine en Reader’s Digest u nie aanstoot sal gee nie. Ek sal egter liewer ’n paar bang en moontlik selfgereg­verdig­de individue “aanstoot gee” as om duisende van u deur die SKRIKWEKKENDSTE nasionale verdrukking in menseheugenis te sien gaan. Hierdie waarlik traumatiese tye, soos beskryf is in Levitikus 26 en Deuteronomium 28, is deel van die Groot Verdrukking wat Jesus Christus Self voorspel het. Jesus het daarvan gesê: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou GEEN VLEES gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matt. 24:21-22).

Ja, selfs ons Verlosser het voorspel dat “geen vlees” lewend sou kon bly na hierdie Groot Verdrukking van die toekoms, tensy God sou ingryp nie. GLO u vir Jesus Christus ?

Of is u té tevrede in hierdie wêreld? Te vasgevang in die “sorge van hierdie wêreld”? Te bang en te besorg oor “wat die mense sal dink”?

Selfs ten tye van Jesus se bediening was dit dikwels ’n probleem. Die apostel Johannes het só geskryf oor die godsdiensleiers in Jesus se tyd: “Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God” (Joh. 12:42-43).

God se ingryping in die eindtyd

Indien u die God van die Bybel glo, behoort u in die jare wat voorlê te verwag dat baie erger weerstoestande en natuurlike katastrofes die VSA, Kanada, Brittanje, asook Suid-Afrika, dramaties sal beïnvloed. Ja, daar mag wel hier en daar normale jare wees. Maar die weerspatroon sal toenemend dui op kragtige storms, vloede en aardbewings wat ons stede tot in hul fondamente sal skud. Daar sal erge droogtes en bosbrande wees en uiteindelik sal hongersnood ons lande ook tref. Te midde hiervan sal angswekkende siekte-epidemies algemeen voorkom, meer as in enige ander tyd in ons ge­skiedenis.

Meer as 100 jaar ná Israel se destydse gevangenskap beskryf Esegiël die moderne afstammelinge van Israel se straf in die eindtyd (Eseg. 36:16-23). Ná hierdie straf sal ons volke uiteindelik hul lewenswyse verander. “Dan sal julle dink aan jul verkeerde weë en aan jul handelinge wat nie goed was nie; en julle sal vir julleself walglik wees oor jul ongeregtighede en oor jul gruwels. Ek doen dit nie om julle ontwil nie, spreek die Here HERE; laat dit julle bekend wees! Skaam julle en bloos oor jul weë, o huis van Israel” (vers 31-32).

Ja, ons mense sal uiteindelik werklik berouvol wees oor ons stygende misdaad en geweld, ower­spel en perversiteit, leuens, bedrog en diefstal en elke vieslike ding denkbaar wat ’n gruwel is in die oë van ’n regverdige God. Dan sal ons volke onsself VERAG. Dit sal ons tot naarheid dryf wanneer ons besef hoe verrot en laakbaar ons “moderne lewenswyse” is wat gegrond is op wellus, kitsgenot en ’n massiewe reeks leuens en selfmisleidings. Hoe diep het ons nie in die put van immoraliteit geval nie!

Nadat hy die opregte bekering van ons mense ná hulle nasionale straf en slawerny beskryf het, gaan Esegiël se profesie voort: “En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen” (verse 24-27).

Bogenoemde is gewis ’n profesie vir die EINDTYD! So ’n diepgaande bekering en bymekaar­koms het nog nooit met Israel of met Juda gebeur nie, want die “nuwe hart” en die Gees van God wat in Israel geplaas word, kom SLEGS ná die Wederkoms van Christus! Dit word ook beskryf in die inspirerende profesie van Jeremia. “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat hulle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees” (Jer. 31:31-33).

Ja, God se WETTE moet in ons hart en verstand “geskryf” word, sodat ons mense uiteindelik gewillig sal wees om Hom te GEHOORSAAM en Sy Sabbatte en Sy Heilige Dae te onderhou en Sy wil te volg in elke fase en faset van ons lewens.

’n Toekomstige “Tuin van Eden”

Terug by Esegiël se profesie: Wanneer ons mense bymekaargebring is uit slawerny en in ’n eie land gevestig is, sal mense sê, aldus God: “Hierdie land wat verwoes was, het geword soos die tuin van Eden; en die stede wat in puin gelê het en verwoes en afgebreek was, is versterk en bewoon. Dan sal die nasies weet wat rondom julle oorgebly het, dat Ek, die HERE, opgebou het wat afgebreek was, beplant het wat verwoes was; Ek, die HERE, het dit gespreek en sal dit doen” (Eseg. 36:35-36).

Weereens, dit het nog NOOIT tevore met Israel of Juda gebeur nie, want die tien nasies van antieke Israel het mos “verdwyn” en toe die “Verlore Tien Stamme” geword. Ná hul straf onder koning Nebukadnésar en die daaropvolgende Babiloniese konings, het die grootste deel van Antieke Juda teruggekeer na hul geboorteland. Soos u egter duidelik lees in Esra en Nehemia, het hulle NIE God se Gees ontvang nie. Hulle is NIE geseën sodat hulle land soos die “Tuin van Eden” sou word nie (vers 35). Die nasies “rondom” (vers 36) hulle, het definitief NIE geweet dat God hulle teruggebring het nie. Inteendeel, Juda het volgehoue vervolgings, teisterings en beproewings beleef.

Ons kan ook NIE sê dat hierdie profesie van toepassing is op die onlangse bymekaarkom in die Midde-Ooste van die relatief klein groepie Jode, vandag bekend as “lsrael” nie. (Dié Jode in Israel is ’n minderheid uit die wêreld se Joodse bevolking). Hierdie nasie is NIE geseën en herstel as ’n ware “Tuin van Eden” nie – dit is ook nie deur die omliggende nasies erken en aanvaar dat God hulle enigsins geseën het nie! Hierdie nasie is ook nog onderworpe aan voortdurende oorlog, teistering en beproewing. Dus kan dié moderne nasie in die land van Israel geensins die vervulling wees van Esegiël se profesie nie (hoofstuk 36)!

Soos wat die profesie van Esegiël vir die EINDTYD vorder, beskryf hy hoe God beide die “huis van Israel” EN die “huis van Juda” byeen sal bring (Eseg. 37:15-26), want God sê: “Ek sal hulle EEN VOLK maak” (vers 22). Verder sê God in vers 24: “En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel”. Die verwysing hier is dus na die OPSTANDING uit die dode, daardie tyd wanneer koning Dawid opgewek sal word en weereens oor die herenigde Israel sal regeer onder Jesus Christus, die Koning van konings! Die profeet Hosea is geïnspireer om dit te beaam: “Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die HERE hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die HERE en na sy goedheid in die laaste van die dae“ (Hos. 3:5).

Dus, ná al die beproewings, toetse en erge nasionale STRAWWE om ons “wakker te skud”, sal God ons afstammelinge wonderlik seën in die Wêreld van Môre! Hy sal ingryp en Jesus Christus terugstuur as Koning van konings oor die hele aarde (Sag. 14:9). En, soos ons gesien het, sal koning Dawid onder Jesus Christus dien in Sy regering – Dawid sal regeer oor al twaalf die stamme van Israel, wat dan weer herenig sal wees as een nasie in hierdie toekomstige duisendjarige regering van Christus.

Maar om die Almagtige God se definitiewe strawwe vry te spring, moet elkeen van ons sy of haar deel doen. Elkeen van ons moet bereid wees om die vals idees en godsdienste van die mens te versaak en om ons Skepper waarlik te begin GEHOORSAAM en te doen wat Hy uitdruklik beveel in Sy geïnspireerde Woord. Dan mag ons beskerm word teen die toekomstige menseslagting, en as “oorwinnaars” regeer onder Jesus Christus, en help om hierdie wêreld reg te ruk in die Wêreld van Môre (Op. 2:26-27).

Wat moet U doen?

Die genoemde profesieë is seker. In die eindtyd sal hulle plaasvind. Dié profesieë, tesame met ontsettende ontwrigtings in die weer, sal alles om u drasties verander en u hele lewe beïnvloed. Dus, wat moet u doen?

As u God – en die ware Jesus Christus van die Bybel – opreg wil dien, moet u u heelhartig tot God wend soos nog nooit tevore nie. U sal moet begin om Sy geïnspireerde Woord waarlik te bestudeer en wat u daarin lees begin gehoorsaam. U behoort daagliks vurig tot God te bid – Hom op u knieë vra vir ware begrip, kennis en leiding (vergelyk Deut. 4:27-31).

Lees en bestudeer ook die artikels in ons Wêreld van Môre-tydskrif en vergelyk dit met u Bybel. Hierdie tydskrif sal u vroegtydig nuus gee van wat voorlê, en sal u die ware lewenswyse leer wat u moet uitleef om God se leiding, seën en beskerming te ontvang in die jare wat voorlê. Dit sal u wys dat u hierdie dinge uit u eie Bybel kan bewys.

Indien u werklik meer wil weet oor wat die Bybel regtig onderrig, sal u wil inteken op die Wêreld van Môre se Bybelstudiekursus. Hierdie geïnspireerde kursus sal u stap vir stap deur “sleutelleerstellings” en profesieë van die Bybel neem. Dit sal u help om ware begrip te bekom. Indien u die eerste vier lesse van dié Bybelstudiekursus wil ontvang, skryf gerus aan ons kantoor, en ons sal dit absoluut gratis en sonder verpligting aan u pos.

God het vir ons by die Wêreld van Môre opdrag gegee om ons mense te waarsku oor die Groot Verdrukking wat net om die draai lê en waaroor Jesus geprofeteer het. Hy het ons geroep om die ware Evangelie aan die wêreld te verkondig – die Evangelie van die Koninkryk of Regering van God – ’n regering wat binnekort op hierdie aarde gevestig sal word met Jesus Christus as Koning van konings (Op. 11:15; 19:16). Met God se hulp, herstel ons die Christenskap van die Apostels, die eintlike lewenswyse wat Jesus Christus, Sy Apostels en die oorspronklike Kerk in die eerste eeu onderrig en uitgeleef het.

God se boodskap is ’n boodskap van HOOP, van God se groot liefde vir ons. Die toenemende rampe die wêreld oor is ’n teken dat God wil hê dat ons ons moet bekeer, om ons eie beswil! Deur Sy groot liefde, wil Hy vir ons die gevolge van ons sondes wys. Soos die apostel Paulus geskryf het: “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem“ (Heb. 12:6). Ja, God wil u as Sy seun of dogter aanneem! Dit is waarom Hy u geskape het. Dit is waarom Hy bereid is om die aarde te SKUD om u aandag te kry en u tot berou en bekering te bring!

Ja, u moet in Jesus Christus glo en Hom as u Heer en Verlosser aanvaar. Dit is die eerste stap. U moet Sy boodskap glo – en daarop reageer! Deel van daardie reaksie is om u heelhartig tot God te wend, soos antieke Juda aangesê is ná hul gevangenskap van 70 jaar in Babilon. God, wat “nie verander nie”, het hulle toe aangesê, en sê vandag aan ons: “Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle HELE hart. En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die HERE; en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap weggevoer het” (Jer. 29:12-14).

Selfs al bekeer ons volke as geheel hulle nie, kan u sekerlik u lewe verander en vergewe en beskerm word tydens hierdie toekomsrampe. Jesus het Self hierdie versekering gegee in Lukas 21:36: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan”.