Het u al ooit gewonder waarom u gebore is en wat u ware toekoms sal behels in die hiernamaals? Wat sal u werklik vir ewigheid doen? Sal u heeldag rondsit en harp speel of passief in God se aangesig staar? Of het God iets veel meer ontsag¬wekkend en wonderlik vir u beplan?

Het u al ooit gewens dat u ’n kerk kon vind wat waarlik die eindtyd¬profesieë van die Bybel verstaan – hoe dit van toepassing is op vandag se koerantopskrifte en die gebeure in die nabye toekoms wat u lewe gaan raak? Het u gesoek vir ’n kerk wat u kan help om die ware betekenis van die lewe self te verstaan en wat kan verduidelik waarheen u en u volk in die volgende paar jaar op pad is? Het u al ooit gewens dat u ’n kerk kon vind waar leraars eintlik uit die Bybel self preek en u help “sin maak” van die woorde – insluitend die vele spesifieke profesieë? Wens u vir ’n kerk waar bykans al die lidmate hul Bybels na dienste bring en waar almal regtig glo wat die Bybel sê en probeer leef volgens die ware “eerste-eeuse Christenskap” wat Jesus Christus en Sy Apostels geleef en verkondig het?

Het u gehoop om ’n kerk te vind waar mense van alle rasse en agtergronde met liefde en hartlikheid aanvaar word en waar Christus se gebod om mekaar lief te hê, weergegee word in die “gesinsatmosfeer” wanneer kerklidmate saamkom om te aanbid en gemeensaam te wees?

My vriende, daar is so ’n kerk wat waarlik in die goddelike inspirasie van die Bybel glo en werklik in elke fase en faset van die lewe probeer doen wat die Bybel sê. Dit is ’n kerk wat geen ander “heilige boeke” of “kerktradisies” het oor enigiets wat die plek van die Bybel inneem nie. Hierdie kerk is nie ’n gebou of korporasie of uitvinding van mense nie. Dit is ’n geestelike organisme met ’n geskiedenis wat strek vanaf Jesus Christus en die Apostels. Dit is ’n baie klein kerkie – die “klein kuddetjie” wat deur Jesus Christus beskryf word (Lukas 12:32) – maar dit het sedert die tyd van Jesus Christus nog altyd bestaan en sal voortgaan om te bestaan tot aan die einde van die tyd wanneer haar getroue lidmate na ’n “plek van veiligheid” (sien Openbaring 12) geneem sal word voor die Groot Verdrukking in werklikheid begin. Wil u deel van so ’n kerk wees, wie se lidmate binnekort die konings en priesters gaan word en hierdie aarde sal help regeer onder Jesus Christus (Openbaring 5:10)?

Waar is God se volgelinge?

Die man wat oorkant my gesit het, het in erns sy gedagtes met my gedeel.

“Ek het gedink dat God se volgelinge bloot verspreid was deur die verskillende kerkverbande,” het hy uit¬geroep. “Hoe meer ek egter die Bybel lees, hoe sterker voel ek dat daar êrens op aarde ’n ware Kerk moet wees wat bestaan uit mense wat werklik doen wat die Bybel sê. Maar hoe kan ek weet? Hoe kan ek seker wees waar God vandag werk?”

Nou is die groot vraag: Hoe kan u weet? Hoe kan u seker wees?

Deesdae noem baie kerke hulself Christelik. Party beoefen doop deur onderdompeling in water. Ander weer “sprinkel” of giet bloot water op die hoof van dopelinge. Baie kerke hou elke Sondagoggend die sogenaamde “Nagmaal”. Ander kerke onderhou hierdie gebruik eenkeer per maand of elke drie maande of slegs een keer per jaar.

Die meeste kerke onderhou Sondag as hul dag van aanbidding, terwyl ’n paar die Sabbat onderhou van Vrydag sononder tot Saterdag sononder. Ander weer, sê die dag van aanbidding maak glad nie saak nie.

Kerke word met allerlei name benoem: Episkopaal, Baptiste, Heilige, Lutherse, Presbiteriaanse, Katolieke, Metodiste, Pinkster en ander. Nog belangriker, die verskillende kerke van hierdie wêreld het verskillende opvattings oor God. Party voel dat God ’n wreedaardige outokraat is wat sondaars in ’n ewigbrandende helvuur braai. Ander dink aan God as bloot die “goddelike vonk” wat op die een of ander manier alle lewe begin het, maar baie min te doen het met alledaagse gebeure en nie omgee oor die mensdom se “lewenstyl” nie. Nietemin noem hierdie verskillende kerke hulself almal “Christene” – hulle gebruik Christus se naam.

Maak dit enige verskil? Het God dit aan die mense self oorgelaat om hul kerke te kies, verskillende benamings te gee, self te besluit oor die dag van aanbidding en om verskeie wyses van doop en verskillende leerstellings te verkondig?

Waar is God?

Het God enige iets hieroor te sê?
Ja, Hy het!

God het êrens op hierdie aarde ware dienaars wat die eindtydse waarskuwings, waarna ons almal moet oplet, getrou en ten volle verkondig. God het Sy profeet Amos geïnspireer om vir ons te sê: “Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie. Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie?” (Amos 3:7-8).

Vandag lê verstommende gebeure vlak voor ons deur. U Bybel voorspel dit. ’n Kwart van die hele Bybel is aan profesie afgestaan, en die apostel Paulus skryf: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timotheus 4:2-4). Verkondig u leraar die volle boodskap van die Bybel? Verduidelik hy en maak hy gereeld die kragtige eindtydse profesieë van die Bybel aan u en u geliefdes duidelik? Die Bybel noem baie spesifieke gebeure waarvoor ware Christene op die uitkyk moet wees. Hierdie gebeure sal dit binnekort duidelik maak dat die mensdom heel aan die einde van hierdie huidige tyd is – die tyd van die mens se heerskappy oor die aarde onder Satan, die duiwel, se invloed (Openbaring 12:9).

Baie godsdiensleiers praat van die “eindtyd”. Maar, in alle eerlikheid, wie lig u in oor die spesifieke gebeure waarvoor u op die uitkyk moet wees? Wie help u, vandag, om die ware betekenis te verstaan agter die traumatiese weerskommelings, die toenemende aardbewings, terroriste-aanvalle en gruwelike oorloë in Afrika, die Midde-Ooste en elders wat hierdie planeet toenemend bedreig?

Wie “maak werklik sin” uit al hierdie dinge?

Jesus sê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31-32). Weer eens, indien u in staat is om in Christus se “woord” te bly, wie laat werklik daardie woord “lewend word”? Wie haal deurgaans aan – nie uit sekulêre skrywes van hierdie wêreld nie – maar uit die geïnspireerde Woord van God? Wie daag u voortdurend uit: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21)?

Nog ’n noodsaaklike aangeleentheid om te oorweeg is: Waar word die volle Waarheid vandag verkondig?
“Ag, alle kerke het dieselfde basiese oortuigings!” sal baie mense sê, of “Niemand het alleenreg op die Waarheid nie. Ons kan in elk geval nie regtig hiervan weet nie, so alle godsdienste geld in wese, solank mense net opreg is!”

Ek is seker baie van u het al hierdie tipe redenasies gehoor. Indien daar nie ’n ware God is nie, of indien die Bybel nie werklik geïnspireer is nie, kan sulke redenasies dalk oortuigend wees. Dit is egter nie die geval nie! “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4), is moontlik die mees grondslaggewende stellings van Jesus Christus. God se ware Kerk moet noodwendig hierdie mees fundamentele Christenlering erken! Kerk¬leierskap, sowel as individuele kerklidmate, is dalk nog nie volmaak nie, maar hulle moet ten minste erken dat God se Woord die grondslag is om die uiteindelike Waarheid te ken wat hul Skepper beoog het. Sonder die Bybel – sonder die geïnspireerde opdrag van God Self in Sy geïnspireerde Woord – is al wat oorbly, die biljoene menslike menings: “Dit is hoe ek daaroor voel!” of: “Dit is hoe dit vir my voorkom!”

Verstaan u?

Indien God dus ’n ware Kerk op hierdie aarde het, moet dit die geïnspireerde gesag van die Bybel erken en moet dit sy leerstellings stewig op daardie grondslag baseer! Soos die apostel Paulus geïnspireer is om te skryf: “Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Timotheus 3:15).

Weer eens, wat is die Waarheid? Jesus sê in u Bybel: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17).

Waar ookal die ware Kerk is, is dit die pilaar en “skans” (soos die woord “grondslag” in 1 Timotheus 3:15 behoort vertaal te word) van die Waarheid. Dit is die beskermer van die Waarheid (vgl. NV). Paulus vertel ons ook dat ware Christene – diegene waaruit die ware Kerk bestaan – “medeburgers van die heiliges en huisgenote van God [is], gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Efesiërs 2:19-20). Indien, soos Paulus geskryf het, die ware Kerk op die fondament van die Apostels en Profete gebou is, met Jesus Christus Self as hoeksteen, dan moet die skrywes van die Apostels en Profete – nie mense se menings of “gevoelens” nie – die basis van leerstellings en gebruike wees.

Paulus se geïnspireerde stelling oor die ware Kerk wat die pilaar en grondslag van die Waarheid is, is uiters belangrik! Deur God se Kerk moet mense tot die begrip van die opperdoel van die mens se bestaan kom. Hulle moet in detail leer wat God se groot plan vir die mensdom is en hoe Hy daardie plan in werking stel. Hulle moet die noodsaaklike kwart van die Bybel wat profeties is, verstaan. Dan behoort hulle die ware betekenis van huidige gebeure te begryp, soos dit verband hou met Bybelprofesie. Dit sal die wyse waarop hulle die koerant lees en na wêreldgebeure op die TV kyk, verlewendig.

Dan sal lidmate van die ware Kerk van God weet hoe om Jesus se bevel na te kom: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36). Hierdie waarlik bekeerde mense sal dan die Goddelike beskerming van God Self hê gedurende die verskriklike Groot Verdrukking wat Jesus Christus spesifiek geprofeteer het om plaas te vind net voor Sy Wederkoms (Mattheus 24:21-22). Hierdie ware Christene – lidmate van die ware Kerk wat die volle Waarheid leer – sal die verskriklike “uur van beproewing” vryspring wat binne¬kort op hierdie aarde sal toesak! Jesus beloof die volgelinge in hierdie Kerk: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel” (Openbaring 3:10).

Wil ú persoonlike beskerming geniet gedurende die traumatiese jare wat voorlê? Of wil u liewer “gerieflikheidshalwe” die kerk bywoon waarin u grootgeword het – of wat u tans bywoon – of dit nou die egte Waarheid verstaan aldan nie?

’n “Gerieflike” kerk?

Moet u na ’n kerk soek waar u maklik by kan “inpas” en waar u “gemaklik” kan wees? ’n Charlotte Observer-rubriekskrywer skryf onlangs: “‘Gemaksug in kerk’. Die frase het my nog altyd stuurs gestem. Die idee dat ons kerk toe gaan om gemaklik te raak, gerieflik te wees of met mense om te gaan waarmee ons gemaklik is, is afstootlik, malligheid en blote dwaasheid. ‘Gemak’ is wat ek wil hê wanneer ek ontspan om TV te kyk. Vir die kerkgangers wat ek ken, gaan gemaksug oor klas, opvoedingsvlak, buiteklub of ras. Ja, ook dikwels oor politiek. Ons wil graag aanbid saam met mense wat soos ons dink, soos ons lyk en dieselfde soort motors as ons ry”. Ek is seker u is bewus van hierdie gesindhede, maar is dit die benadering tot ware godsdiens wat Jesus Christus Sy ware volgelinge onderrig het?

Luister asseblief na Christus Self: “As iemand na My toe kom en hy haat [minder liefhê] nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie ... So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie” (Lukas 14:26-27, 33).

Nee, Jesus Christus se bedoeling is nie dat ons moet strewe na ’n “gerieflike” bestaan om Hom te volg nie! Dit mag vreemd klink vir sommige van u wat net gehoor het van die “vrede en voorspoed”-evangelie wat vandag deur so baie mense verkondig word. Die ware Christus van u Bybel praat egter voortdurend van die behoefte om uit te kom uit hierdie wêreld se samelewing, van die behoefte om voor te berei vir beproewing en van die noodsaaklikheid om u lewe “oor te gee” ten einde die enigste Een te dien wat aan ons werklik die ewige lewe kan gee!

Die ware Kerk bestaan uit volgelinge wat waarlik hul lewens deur Jesus Christus oorgegee het aan God. Hulle het vir hulself die bestaan van die ware God, die Skepper van die hemel en aarde, bewys. Hulle het aan hulself die letterlike inspirasie van die Bybel bewys en vir hulself besluit om Jesus Christus se opdrag te volg: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Verder sou hulle ook beslis aan hulself bewys het dat Jesus van Nasaret God in die vlees was: dat Hy gesterf het om die boete van sonde vir die ganse mensdom te betaal, dat Hy na drie dae en drie nagte in die graf uit opgestaan het uit die dood (Mattheus 12:40) en tans as ons aktiewe Hoëpriester, lewende Hoof en eerskomende Koning aan die regterhand van God die Vader sit.

Volgelinge wat tot so ’n mate bekeer is, sal hulle aan Christus as “Heer” – die Een wat hulle gehoorsaam – onderwerp. Daarom, deur Christus wat in hulle leef deur die Heilige Gees (Galasiërs 2:20), sal hulle streef om volgens die leringe van die Bybel te leef. Hiérdie is die mense waaruit die ware Kerk van God bestaan!

Indien u dus gewillig is om “realisties te wees”, wees dan asseblief gewillig om te luister na wat die Bybel werklik sê. God het wel ’n ware Kerk hier op aarde. Daardie Kerk is werklik besig om haar lidmate voor te berei vir die ewige lewe. Daardie Kerk is werklik besig om vandag die Werk van God te doen. Daardie Kerk het ook sekere opmerklike “kenmerke” – belangrike kenmerkende eienskappe wat duidelik in die Bybel genoem word – wat aan enige opregte, oordeelkundige persoon sal toon waar God se ware Kerk is, mits hulle gewillig is om onbevooroordeeld te luister!

Het u “nodig” om kerk by te woon?

In die huidige godsdiensverwarring is baie mense afgesit deur wat hulle “georganiseerde godsdiens” noem en besluit hulle om tuis te bly en God op hul eie, saam met hul gesinne of ’n paar ander mense te aanbid. Is daar enigiets verkeerd daarmee?

Selfs hoewel baie opregte mense die praktyk van ’n “tuiskerk” probeer regverdig, is dit baie beslis om verskeie redes verkeerd. Dit is ook heeltemal onbybels, behalwe in ’n paar besonder uitsonderlike gevalle!

Diegene wat waarlik die Bybel glo, verstaan dat Jesus Christus die “lig” was wat God die wêreld ingestuur het. Hy was ons voorbeeld en nadat Sy Apostels hul ten volle bekeer het, het hulle ook as voorbeelde gedien.

Wat was die geïnspireerde voorbeeld van Jesus Christus? “Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees” (Lukas 4:16). Jesus se eie gewoonte was om gereeld aanbiddingsdienste saam met ander in ’n “georganiseerde” sinagoge of Kerkopset by te woon! God het alreeds die Sabbat ’n “heilige samekoms” genoem – wat ’n “bevole vergadering” beteken. Jesus het dus hierdie bevel gehoorsaam en sodoende vir ons ’n voorbeeld gestel.

Selfs ná Jesus se opstanding vind ons dat Petrus en die eertydse Apostels gereeld in die tempel vergader het op beide die weeklikse en jaarlikse Sabbatte. Trouens, die Nuwe-Testamentiese Kerk het eintlik nie sy aanvang op Kersfees of Paasfees gehad nie, maar op een van God se bevole Heilige Dae, die Pinksterdag (Handelinge 2:1). Toe het die eertydse dissipels gereeld met ander in die tempel te Jerusalem saamgekom (Handelinge 2:46-47).

Toe dit volgens God se tydsberekening tyd was vir Paulus om aktief in die bediening betrokke te raak, “vertrek Bárnabas na Tarsus om Saulus te soek, en toe hy hom kry, het hy hom na Antiochíë gebring. En hulle het ’n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ’n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem” (Handelinge 11:25-26). Let daarop dat Paulus en Barnabas saam met die “gemeente ... vergader”. Daar was dus ’n “georganiseerde” Kerk wat wel gereeld saam vergader het! Nog later lees ons: “En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte” (Handelinge 17:2).

Die geïnspireerde skrywer van Hebreërs vertel ons: “En laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie” (Hebreërs 10:24-26). Hierdie noodsaaklike teksvers in God se Woord vertel ons om nie ons onderlinge byeenkoms te versuim nie. Dit vertel ons ook om mekaar tot liefde en “goeie werke aan te spoor”.

’n Paar misleide siele kan aanneem dat, indien hulle tuis vergader met familie en vriende, hulle mekaar tot goeie werke kan aanspoor. Hierdie benadering is duidelik in teenstelling met die oorweldigende aantal Bybelse voorbeelde van dít wat God se dienaars gedoen het. Hulle moet eerder byeenkom as ’n georganiseerde gemeente, nie onder leiding van die een of ander leek wat besluit het om “homself aan te stel” tot die bediening nie, maar deur ’n behoorlik opgeleide en ingeseënde ware leraar van Jesus Christus! Die Bybel maak dit duidelik dat “niemand ... die waardigheid vir homself [neem] nie, maar hy wat deur God geroep word” (Hebreërs 5:4).

In my meer as 50 jaar in Christus se bediening het ek met heelwat mans en vroue te doen gehad wat besluit het om hulle uit “georganiseerde godsdiens” te onttrek. Deur dit te doen, het hulle ’n “net ek en Jesus” benadering tot die kerk aangeneem en nie erken dat God ’n duidelike patroon van leierskap in Sy Kerk daargestel het nie. Baie van die mans, ontneem hulself van goeie raadgewing en het uiteindelik die pligte van die bediening aangeneem of hulself feitlik “aangestel” as leraars van Jesus Christus. Feitlik al hierdie mans is uit die aard van die saak eiewys, gewoonlik “hardkoppig” en werklik onwillig om deur ander geleer en gelei te word. Hulle hunkering was gebaseer op “belangrik” wees in hul eie oë en dié van hul familie of naaste vriende deur dit op hulself te neem om ’n “huiskerk” te stig en as leraar of leier op te tree.

Hierdie mans het blykbaar die kragtige voorbeeld van Korag en sy volgelinge vergeet wat die leierskap van God se aangestelde dienaar, Moses, verwerp het en geredeneer het dat “elke man” die reg het om as geestelike leier op te tree! Hierdie eiewyse manne het Moses en Aäron met hierdie woorde uitgedaag: “Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde!” (Numeri 16:3). God het Sy houding jeens hierdie “elke man is ’n leraar”-benadering getoon deur die aarde te laat oopgaan en hierdie hardkoppige rebelle lewend te verslind (verse 28-34)!

Deur hulle vandag te distansieer van God se ware leraars en van deelwees van die Werk wat Christus deur Sy ware Kerk vermag en deur hulle te distansieer daarvan om die Evangelie aan “al die nasies” te verkondig (Mattheus 28:19-20), versuim hulle hul plig om deel te wees van die aktiewe liggaam van Jesus Christus. Hulle leer nie die lesse van samewerking as deel van daardie liggaam nie; ook leer hulle nie die volle Waarheid op ’n gebalanseerde wyse ken nie en ook nie om in nederigheid die nodige vermaning en teregwysing te ontvang en te reageer daarop soos alle Christene in die ware Kerk van God nie.

Sulke mense bevind hulle eerder uiteindelik aan die “buiterand” van God se volgelinge waar hulle nie deel vorm van interaksies en as deel van ’n ware kerkgemeente leer nie. Sulke selfaangestelde godsdiensleiers en hul volgelinge raak gewoonlik die spoor byster as gevolg van snaakse idees en vreemde leerstellings. Wat ook baie belangrik is, is dat hulle vir die lewende Christus wys dat hulle geloof ontbreek in Sy vermoë om die Kerk te lei, wat God sê Sy verantwoordelikheid is (Efesiërs 1:22-23; Kolossense 1:18)!

Die Kerk wat Jesus gestig het

Jesus vra vir Sy dissipels: “Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete” (Mattheus 16:13-14).

Petrus antwoord egter: “U is die Christus, die Seun van die lewende God”.

Toe gaan Jesus voort: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (vers 18).

Jesus sê baie duidelik hier dat Hy ’n “gemeente” sou stig – wat bloot in die geïnspireerde Grieks ’n “groep” of “skare” mense beteken. Jesus noem dit “My” gemeente – nie sommer enige groep, skare of gemeente nie.

Regdeur die Nuwe Testament toon God herhaaldelik duidelik dat Sy volgelinge – Sy Kerk – gedurende hierdie tyd min in getalle sal wees en dikwels vervolg sal word. Hy sê: “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies ... As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle” (Johannes 15:16-19).

Waar hulle ook al is, is dit duidelik dat God se ware volgelinge nie in hierdie wêreld en sy samelewing “inpas” nie, want Jesus gaan voort: “As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (vers 20). Jesus noem ook Sy volgelinge die “klein kuddetjie” (Lukas 12:32).

Jesus sê: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mattheus 7:13-14). Onthou dan dat net ’n paar deur die nou poort gaan. Net ’n paar verstaan waarlik en is vandag deel van God se ware Kerk!

Let daarop: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Mattheus 7:21). Jesus sê duidelik dat Sy ware volgelinge gehoorsaam moet wees aan die Vader se wil. Hulle moet doen wat God die Vader vereis.

Kyk nou hoe regstreeks dit op die ware Kerk van toepassing is. Regdeur die Nuwe Testament word die term “vrou” as simbool van ’n kerk gebruik. In 2 Korintiërs 11:1-2 word die ware Kerk uitgebeeld as die verloofde “bruid” van Christus. In Openbaring 17 word die groot vals kerk ’n “hoer” genoem (vers 1) en die “vrou” (vers 3) sit op ’n skarlakenkleurige dier.

Bykans alle geleerdes erken dat die ware Kerk in Openbaring 12 as die bruid uitgebeeld word. Sy word “vervolg” deur die “draak” – wat in vers 9 as Satan, die duiwel, beskryf word. Hoewel die ywerige lidmate na ’n plek van veiligheid geneem word, beskryf God in vers 17 dat die duiwel gaan om oorlog te voer met die “res” van die ware Kerk – diegene wat agterbly.

In Openbaring 14:12 beskryf God voorts Sy getroue volgelinge: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar”. Hierdie is die volgelinge, sê God, wat beskerm sal word teen die komende Groot Verdrukking en die verskriklike plae van God wat onmiddellik daarna sal volg!

Maak dit enige verskil hoe u God aanbid? U kan natuurlik in die kerk van “u keuse” aanbid – soos die godsdiensadvertensies dikwels Sondae sê. Natuurlik kan u die idees van u familie, vriende en kennisse volg! Sal hulle egter daar wees om u te beskerm tydens die komende wêreldoproer? Nog belangriker, sal hulle dáár wees om u tydens God se oordeel te “red”?

Waarom bewys u nie vir uself dat die Bybel die Skepper se geïnspireerde openbaring van basiese geestelike kennis is wat andersins vir die mens ontoeganklik is nie? Waarom kyk u nie wat die Woord van God – die Bybel – sê oor waar God se ware Kerk vandag is nie?

Kenmerkende “tekens”

Ons het reeds gesien dat Jesus sê dat Hy Sy Kerk sou stig. Ons het gevind dat die Bybel daardie Kerk beskryf as ’n klein, vervolgde Kerk – een wat beslis nie deel is van hierdie wêreld se samelewing nie. Dit is ’n Kerk wat die wil van God die Vader doen. Dit onderhou ook die Tien Gebooie wat deur die Almagtige God gegee is as ’n basiese lewenswyse.

Daar is natuurlik baie verskillende kerke wat klein is. Baie word vervolg. Party word vervolg omdat dit voorkom asof hulle ander mense opsetlik uitlok en sodoende bring hulle onnodige vervolging oor hulself – nie weens ’n Bybelse boodskap nie, maar omdat hulle onbesonne en verwaand probeer om hul “godsdiens” in ander mense “se kele af te druk”.

Baie klein, onortodokse godsdiensgroepe voel opreg dat hulle nie “deel van hierdie wêreld” is nie. Hulle dra dalk kenmerkende klere – swart hoede en kappies, eenvoudige klere of spesiale onderklere – om dit aan hulself en ander te “bewys”. Om egter klein te wees, soms vervolg te word en nie deel van hierdie wêreld se samelewing te wees nie, is beginsels wat op vreemde wyses toegepas kan word. ’n Bybelse “sleutel” om die bogenoemde beginsels behoorlik te verstaan en aan te wend, word in die apostel Paulus se stelling gevind naamlik dat God aan Christene die gees van “selfbeheersing” en ’n gesonde verstand gee (2 Timotheus 1:7).

Is daar enige spesifieke kenmerkende tekens van die ware Kerk wat, behalwe vir die bogenoemde algemene beskrywing van die ware Kerk, toon waar God se Kerk vandag is?

Gelukkig is daar.
Om kort en kragtig te wees, sal ek net vyf van hierdie “tekens” noem en verduidelik, sodat – mits u onbevooroordeeld is – u kan weet hoe om vandag God se ware Kerk op aarde te herken.

1. Om God te VREES

Voordat God die mensdom geskape het, het Hy Lucifer geskape – een van drie gerubs, of super aartsengele, wat oorspronklik Sy troon omring het. In Hebreeus beteken “Lucifer” “ligbringer” of “blink oggendster”. Lucifer is oorspronklik geskape as magtige, pragtige superaartsengel met geweldige wysheid en vermoëns (Esegiël 28:11-15). In Jesaja 14:12-15 word Lucifer beskryf: “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil!”

Soos bykans alle teoloë erken, is dit duidelik uit hierdie en ander teksverse dat Lucifer se vaardigheid en skoonheid tot baie hoogmoed gelei het. Hierdie hoogmoed het, op sy beurt, daartoe gelei dat Lucifer teen sy Skepper gerebelleer het en sy naam is later verander van “ligbringer” na Satan – wat in Hebreeus letterlik “teenstander” beteken. Lucifer het God se grootste vyand geword.

Regdeur die hele Bybel wys God vir ons dat Hy vasberade is om niemand in Sy Koninkryk toe te laat wat ’n potensiële teenstander – ’n potensiële Satan, is nie. Sou u? Ons behoort almal te besef hoe noodsaaklik dit vir God is. Hy wil eensgesindheid en vrede in Sy Koninkryk en gesin wat deur die Gees gelei word, hê! Hy is die Oorsprong van liefde, vreugde en vrede. Enige wese wat ’n potensiële rebel kon wees, sou uiteindelik daardie vrede vernietig.

Daarom, regdeur die hele Bybel, onthul God dat Hy absoluut seker sal maak dat enige potensiële kind van Hom tot die korrekte “vrees” vir God sal kom! Soos God se Woord aandui, is vrees nie “verskrikking” of om “bang” te wees vir iets slegs nie! Dit is eerder ’n diepgesetelde verering, nederigheid en bereidwilligheid om ons Skepper te gehoorsaam en nooit te rebelleer teen Sy Wette en Sy regverdige weë wat altyd vrede en vreugde bring nie.

Een van die eerste “toetse” wat Abraham, die “vader van die gelowiges” moes slaag, word in Genesis 22 beskryf. Lees asseblief hierdie hoofstuk noukeurig! Hier vind ons hoe God Abraham “getoets” het (vers 1) om te sien of hy heeltemal onderdanig sou wees aan sy Skepper – selfs gewillig om sy enigste seun op te offer. Op die heel laaste oomblik, toe Abraham sy algehele onderdanigheid aan God bewys het, stuur God Sy Segsman wat sê: “Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie” (vers 12). Toe gee God aan Abraham die wonderlike seën dat geweldige fisiese welstand en mag na sy nageslag sal gaan, asook geestelike seëninge deur die “saad”, Jesus Christus (verse 15-18).

Abraham moes aan God bewys dat hy Hom “gevrees” het en dat hy bereid was om sy eie wil heeltemal oor te gee – nie net te “glo in” God nie, maar om ook te doen wat God beveel! In Spreuke 1:7 lees ons: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug”. Ook in Spreuke 9:10 lees ons: “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand”. Hierdie geweldige ontsag en diepe verering vir ons Skepper is dus die uitgangspunt van ware kennis en ware wysheid. Daarsonder wil God ons nie in Sy ewige Koninkryk hê nie!

Dit behoort duidelik te wees dat diegene in God se ware Kerk moet leer om hierdie selfde diepgesetelde verering en bereidwilligheid te hê om hul Skepper te gehoorsaam as wat so goed deur Abraham, die “vader” van die getroues, weergegee is. Die lidmate van die ware Kerk sou ook vir hulself bewys het wat God ons in Hebreërs 11:6 meedeel: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek”.

Indien ons ware Christene gaan wees, moet ons volkome in ’n ware God glo – dié God wat in die Bybel beskryf word. Ons moet ook glo dat, soos die Bybel sê, Hy ’n “beloner” is van diegene wat naarstigtelik na Hom soek – nie van diegene wat halfhartig die “kerk van hul keuse” of die plaaslike kerk-om-die-hoek gerieflikheids¬halwe bywoon nie, of glo in watter godsdiensneiging ookal tans in die mode is nie!

Ware Christene sou ook aan hulself die inspirasie van die Bybel bewys het! Jesus sê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Hulle sou hulself oorgegee het om te gehoorsaam wat Jesus gesê het en te doen wat God in Sy geïnspireerde Woord sê. Hulle sal verstaan dat God Homself “onthul” deur Sy Woord, nie deur ons menslike verbeelding nie. Hulle sal verstaan en reageer op 2 Timotheus 3:16-17: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus”.

Soos God dit in die bostaande vers duidelik maak, is die skrifte nie net vir ons ter bemoediging gegee nie, maar ook vir weerlegging en teregwysing, asook vir “onderwysing in die geregtigheid”. God se ware Kerk moet sy oortuigings geheel en al op God se geïnspireerde Woord baseer! Dit moet die ware Christus wat in die Bybel as beide Verlosser en Here onthul word, aanvaar – die Een wat ons moet gehoorsaam. Diegene wat versuim om dit te doen, het na vore gekom met honderde verskillende, mededingende kerklike organisasies – elk met verskillende leerstellings, praktyke en opvattings oor hoe God is.

Die Grondslag van die WAARHEID

In sy baie nuttige en insiggewende boek, The Battle For the Bible, verduidelik dr. Harold Lindsell hierdie fundamentele stelling: “Van al die leerstellings wat verband hou met die Christengeloof, is daar nie ’n belangriker een as dié een wat te doen het met die grondslag van ons godsdienskennis nie. Vir enigeen wat die Christengeloof bely, is die kernvraag: Waar kry ek my kennis vandaan waarop my geloof gegrond is? Die antwoorde op hierdie vraag verskil natuurlik, maar vir die Christen eindig dit ten minste altyd weer by die Bybel. Alles in ag genome, is die enigste ware en betroubare bron van Christenskap dié boek wat ons die Bybel noem” (bl. 17, klem ons eie).

Ek hoop almal van u sal die bostaande aanhaling noukeurig lees en heelhartig daarmee saamstem, want dit is absoluut noodsaaklik vir ware Christenskap. Dit is ook ’n noodsaaklike “sleutel” wat deur enige kerk wat hulself die ware Kerk van God noem, onderrig en beoefen moet word! Weer eens, die ware volgelinge van God sal slegs diegene wees wat hulself werklik oorgee om te doen wat die Bybel werklik sê. Hulle sal God se Woord gehoorsaam selfs al het dit “probleme” of erge vervolging tot gevolg. Soos u weet, het die eertydse Christene hul lewens in hulle hande geneem toe hulle Jesus en die oorspronklike Apostels gevolg het. Hulle is voortdurend vervolg, soms gemartel en dikwels uit hul werk, hul stede of weg van hul families verdryf. Soos ons reeds gesien het, vertel die Jesus Christus van die Bybel aan almal wat Hom sou volg: “As iemand na My toe kom en hy haat [minder liefhê] nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie” (Lukas 14:26-27).

Toe die apostel Paulus gekonfronteer is met watter “mag” ’n kreupel man genees het, antwoord hy manhaftig: “Laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ’n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:10-12).

Om in God se ware Kerk te wees, moet ’n mens Petrus se geïnspireerde opdrag op Pinksterdag opreg navolg: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Handelinge 2:38-39). Wanneer ’n mens die punt bereik waar jy gewillig is om jou hartstogtelik te bekeer daarvan om God se heilige Wet te verbreek – want “sonde is wetteloosheid” (1 Johannes 3:4) – moet ’n mens gedoop word in die naam van Jesus Christus en die Heilige Gees ontvang deur die oplegging van hande. Op daardie oomblik sal die nuwe Christen heeltemal vergewe word van die sondes van die verlede en ’n lidmaat van God se Kerk word.

U kan nie “aansluit” by God se ware Kerk nie! U moet in die Kerk geplaas word – in die Kerk gedoop word – deur God Self, deurdat Hy u met Sy Heilige Gees vervul. Soos Paulus verduidelik: “As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie” (Romeine 8:9 NV). Ook: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge” (1 Korintiërs 12:13). Deur die algehele oorgawe van u hart, verstand en liggaam aan God deur Jesus Christus as Verlosser, sal u inskakel by – geplaas word – in die Kerk van God, wat Christus se liggaam is. Dan – met Christus as u uiteindelike Heer en Meester – sal u nie meer aan uself behoort nie. “Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Korintiërs 6:19-20).

Is u persoonlik gewillig om daardie soort verbintenis te maak?

Algehele oorgawe aan Jesus Christus

God se ware Kerk bestaan uit volgelinge wat bereidwillig is om hulle ten volle aan Christus oor te gee. Hulle moet ook bereid wees om Jesus se opdrag te volg: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind” (Mattheus 16:24-25). Die meeste belydende Christene is deesdae so gesteld daarop om hul lewens te “red” – ’n “goeie tyd” te hê en in te pas by hierdie huidige samelewing – dat hulle dit baie moeilik sou vind om selfs te oorweeg om werklik hierdie kragtige lering van die Seun van God te gehoorsaam.

Ek sal altyd onthou toe ek in Februarie 1957 ’n reeks klein evangeliesamekomste in Londen, Engeland gehou het. Onder die teenwoordiges was ’n baie gawe Skotse egpaar wat bykans elke aand vir vier weke die dienste bygewoon het en baie belangstellend en entoesiasties voorkom het. Hulle het gesê: “Prys die Heer!” en baie ingenome gelyk met wat ek tydens die grootste deel van die veldtog verkondig het. Hulle het gesê hulle sou doen “wat ookal” die Here in gedagte gehad het, maar teen die einde van hierdie evangeliesamekomste het ek aan party van die baie belangrike en noodsaaklike opdragte van God wat regstreeks met die Tien Gebooie te doen gehad het, geraak. Skielik het hul gesindheid verander. Hulle het somber en verdedigend geraak.

Ek en my vrou beide het tydens die laaste twee aande wat hulle die samekoms bygewoon het, met hulle probeer gesels. Hulle het erken dat dít wat ek gesê het uit die Bybel kom, maar gesê dat dit tans in hul huidige situasie weens die man se werk “te moeilik” sou wees om God te gehoorsaam. Gevolglik het hulle nie die laaste paar samekomste bygewoon nie en uiteindelik weggeraak in die massa van Londeniete. God se regstreekse opdrag was blykbaar “te moeilik” vir hulle. Dit het gehoorsaamheid vereis op ’n wyse waarop hulle nie bereid was om te reageer nie.

Een van die beste ware leraars wat ek ooit geken het, het dikwels gesê: “God sal nie iemand ‘red’ wat Hy nie kan regeer nie!” U sien, soos met die voorbeeld van Abraham, vereis God dat ons aan Hom ons gewilligheid bewys om ons lewens en wil geheel en al aan Hom oor te gee deur te doen wat Hy sê!

Moet asseblief nie misverstaan nie! Ek probeer nie die idee oordra dat elke persoon hierdie bykans volmaakte gesindheid van onderworpenheid aan God moet hê voordat hy ’n lidmaat van Sy ware Kerk kan word nie! Die basiese begrip en bereidwilligheid om te groei in daardie volmaakte onderworpenheid aan ons Skepper moet egter bestaan. In hierdie Werk wat die lewende Christus gebruik om Sy boodskap te verkondig, kan ons u nie help deur aan u ’n “goedkoop plaasvervanger” te bied vir ware Christenskap nie. Ons kan en mag nie aan u “goedkoop genade” bied en, soos deur so baie beweer word, sê: “God aanvaar u soos u is!” nie.

Die ware Jesus Christus van die Bybel sê: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).

Die ware Jesus Christus sê ook: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheus 7:21-23).

Let noukeurig op die laaste frase van hierdie geïnspireerde lering van die Seun van God: “Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”

Diegene wat voorgee om die Tien Gebooie te onderrig, maar wat dan allerlei verskonings uitdink om die einste grondslag van ware Christenkarakter te “verwater”, is in diep moeilikheid! Die apostel Jakobus is geïnspireer om te skryf: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ’n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word” (Jakobus 2:10-12).

Jakobus verwys duidelik na die Tien Gebooie. Dit is die Gebooie wat onderrig téén moord en egbreuk. Jakobus wys dat ons al tien van God se Gebooie moet gehoorsaam – nié na vore moet kom met slim redes waarom enige daarvan mee “weggedoen” is of dat party aangepas of “verwater” is om by ons hedendaagse lewenswyse te pas nie.

Inteendeel, God se ware Kerk bestaan uit diegene wat die ware “vrees vir God” het – wat moeg is om “speletjies te speel” met godsdiens en bereid is om met ywer te soek na die God van die Bybel, Sy Gebooie te onderhou en hulself waarlik aan Christus oor te gee om Sy gehoorsame lewe deur die Heilige Gees in hulle te leef. Trouens, een van die beste enkelversdefinisies van ’n ware Christen waarvan ek weet, tref ons aan in Paulus se geïnspireerde stelling: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20). Dit is die einste grondslag van ware Christenskap. Dit is die grondslag van die ware Kerk van God!

2. Die Ware Kerk het God se NAAM

Dit klink byna te eenvoudig. Mens sou reken dat mense sou weet. God vernoem dinge na wat hulle is!

Voordat Satan gerebelleer het, is hy “Lucifer” genoem, wat “ligbringer” beteken. Nadat hy die lewende God egter probeer onttroon het, is sy naam na “Satan” verander. Dit beteken “vyand” of “teenstander” – presies dít wat hierdie groot gevalle gerub geword het.

Die naam “Jakob” beteken “verdringer” of die een wat ’n ander “verdring”. Nadat hy met God se Boodskapper gestoei het en God vir hulp begin vra het, het God sy naam verander na “Israel”. Dit beteken “oorwinnaar” of “volhouer” in God. Regdeur die Bybel sien ’n mens hierdie beginsel. Name is vir God baie belangrik en Hy vernoem dinge na wat hulle is!

Baie jare gelede, in 1517, het ’n jong Katolieke priester in Duitsland omgekrap geraak oor die verkoop van “vergunnings” – die Rooms-Katolieke praktyk om vergifnis vir sonde te beloof wanneer geld betaal word. Hy het 95 tesisse aan die kerkdeur vasgespyker waarin hy verduidelik het waarom die verkoop van vergunnings verkeerd was en waarin hy voorts verduidelik het wat sy ander verskille met die Rooms-Katolieke Kerk was. So het Martin Luther onwetend die Protestantse Hervorming begin. Later, na ’n breuk met die Roomse Kerk, het sy volgelinge hulself “Luthers” genoem na hierdie hervormer. Hulle het besluit om hul kerk die “Lutherse Kerk” te noem.

Jare later, nadat John Wesley ’n gevoel van “innerlike warmte” en vrede ervaar het ná ’n sekere godsdiensbyeenkoms, het hy ’n ander benadering tot God en godsdiens begin verkondig. Met verloop van tyd het sy volgelinge besluit om hul kerk na hom te vernoem. Hoewel die naam “Wesleys” wyd in gebruik was, het Wesley en sy volgelinge egter bekend geraak vir hul “metodiese” en georganiseerde optrede en wat as ’n bynaam begin het, het uiteindelik die naam van hul hele kerklike organisasie geword, “Die Metodiste Kerk”.

Presbiteriane is vernoem na hul vorm van kerkregering deur die ouderlinge, of “presbiters”. Baptiste is vernoem na een leerstelling: dié van doop (Engels: baptise). Sewendedag-Adventiste is vernoem na twee van hulle leerstellings – geloof in die sewendedag Sabbat en die “advent” of Wederkoms van Jesus Christus. Baie ander kerke se name is afkomstig van hulle dorpe, hul regeringsvorm of die een of ander leerstelling.

Hoe moet God se ware Kerk dan genoem word? Moet dit na ’n mens vernoem word? Moet dit na die een of ander land of geografiese streek vernoem word? Moet dit na ’n leerstelling of praktyk van die Kerk vernoem word? Gee God vir ons enige aanduiding in die Bybel van wat Sy Kerk genoem moet word? Party mense mag dalk verbaas wees om te hoor dat Hy dit wel doen!

Die regte “naam” word twaalf keer genoem

Toe die apostel Paulus die ouderlinge van die Kerk in Efese opdrag gee, skryf hy: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het” (Handelinge 20:28).

Wie moet versorg word? Die “gemeente van God” moet versorg word.

Blyk dit bloot té voor-die-hand-liggend dat God se ware Kerk presies dit genoem word: “Die Gemeente [Kerk] van God”. Neem kennis van 1 Korintiërs 1:1-2. In sy amptelike skrywe aan die gemeente, inspireer die Heilige Gees Paulus om te skryf: “Aan die gemeente van God wat in Korinthe is ...”. Later in die brief vertel hy hulle: “Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie” (1 Korintiërs 10:32).

In 1 Korintiërs 11:16 beskryf Paulus die baie gemeentes gesamentlik as “gemeentes van God”. In vers 22 van hierdie hoofstuk verwys Paulus weer na hulle as “die gemeente van God”. In 1 Korintiërs 15:9 skryf hy: “Want ek is die geringste van die apostels, wat nie werd is om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het”. 2 Korintiërs begin met dieselfde amptelike aanvoering: “Aan die gemeente van God wat in Korinthe is”. Ook in 1 Thessalonicense 2:14 verwys Paulus na die oorspronklike Christene as die navolgers “van die gemeentes van God wat in Christus Jesus is in Judéa”.

Die inleiding tot albei Paulus se briewe aan die Thessalonicense verwys na die “gemeente van die Thessalonicense wat in God die Vader” is, want hulle was Sy gemeentes en moes eensgesind met Hom wees. In 1 Timotheus 3:5 sê Paulus ook vir die jong evangelis Timotheus dat, as ’n ouderling nie weet hoe om sy eie huis te beheer nie, “hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?” Laastens, in 1 Timotheus 3:15 deel Paulus Timotheus mee dat hy skryf om hom te vertel hoe om homself te gedra in “die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid”.

Hoe duidelik!

Regdeur die Nuwe Testament – in twaalf onderskeie teksverse – word die ware Kerk die “gemeente van God”, “gemeentes van God”, “gemeente van die Thessalonicense wat in God is” en in die heidense Efese waar die afgod van die godin Diana was, die “gemeente van die lewende God” genoem.

Die stigter of eienaar se naam word dikwels in sake- of industriële bedrywighede aan ’n onderneming gegee as die kenmerkende “teken” van eienaarskap of beheer: Byvoorbeeld, die “De Beers Diamantmyn” of “Lever Brothers”. God se naam word altyd aan Sy ware Kerk gekoppel. Christus is God; daarom sien ons ook in een of twee verse die benaming, “gemeente van Christus”.

Een van die absolute voorvereistes van kenmerkende tekens van God se ware Kerk, is dat dit God se naam moet dra! Die naam alleen is nie ’n klinkklare bewys van die identiteit nie, maar saam met die vier ander kenmerkende tekens wat ons sal bespreek, is dit ’n absolute noodsaaklike benaming, want God vernoem dinge na wat hulle is. Trouens, pas voor Sy kruisiging, bid Jesus vir Sy volgelinge: “Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons” (Johannes 17:11).

3. Toename in genade en kennis

Die apostel Paulus skryf: “As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie” (Romeine 8:9 NV). Verder: “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God” (vers 14).

Om waarklik “Christelik” en ’n kind van God te wees, moet ’n mens gevul word met en gelei word deur die Heilige Gees. Die Bybel toon duidelik dat elke kind van God geestelik moet groei. So moet die ware Kerk van God waarlik geestelik toeneem in begrip en diepsinnig¬heid. Dit moet ook gelei word deur die Heilige Gees.

Let nou op hoe die Heilige Gees werk. Jesus verduidelik dat die Heilige Gees die “Gees van die waarheid” is. Hy sê dat wanneer die Gees van die waarheid gekom het, dit Christene na die volle waarheid sal lei en hulle selfs sou vertel van toekomstige dinge (Johannes 16:13). Let op dat die Gees ons in die volle waarheid “lei”. Dit help ons ook om profesie te verstaan – “toekomstige dinge”.

Dit is ’n proses van groei en verandering; ’n proses om al hoe meer soos God te word in ons karakter, ons denke en ons gewoontes. Die apostel Petrus druk dit moontlik die beste uit: “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Petrus 3:18).

Die ware Kerk van God bestaan uit waarlik bekeerde Christene – volgelinge wat beslis reeds deur die krag van God se Heilige Gees verander is en in die proses is om verander te word. Net soos elke individu moet “groei” in genade en kennis, so moet die verenigde liggaam van daardie individue – die ware Kerk – ook groei.

Byvoorbeeld, Daniël het ontsagwekkende visioene en drome ontvang oor gebeure wat op die aarde gaan plaasvind aan die einde van die tyd – moontlik net ’n paar jaar van nou af. Hy vra: “My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge?”

God se engel antwoord hom dan: “Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe” (Daniël 12:8-9). Nou, met die mensdom se vermoë om alle lewe op die planeet uit te wis, is ons beslis in die geprofeteerde “eindtyd”.

Wie VERSTAAN werklik?

Is daar vandag ’n kerk wat waarlik toeneem in sulke kennis en begrip van Bybelprofesieë? Weet u van enige kerk wat bereid is om te verander en te groei, om nie meer soos die wêreld te word nie, maar om eerder dieper begrip te kry van die Meesterplan wat God hier op aarde uitwerk? Is daar ’n kerk wat waarlik verstaan waarheen ons op pad is – waarom die Verenigde State en Groot Brittanje stadig, maar onvermydelik, van hul toppunt van nasionale grootsheid glip en hoe en waarom ’n magtige unie van nasies in Europa binnekort die mag gaan word om mee rekening te hou?

Daar is ’n Kerk wat begryp waarom u gebore en op hierdie aarde geplaas is, en verstaan wat die ongelooflike menslike potensiaal is – insluitend die verbasende waarheid dat God Homself letterlik voortplant. Hierdie Kerk weet waarom die meeste mense in hierdie huidige tydvak nooit by enige soort “Christelike” kerk of organisasie aansluit nie en waarom God nie eens gedurende hierdie 6,000 jaar lange periode probeer om die wêreld te “red” nie, terwyl Hy, as die Almagtige God, duidelik die mag het om dit te doen as Hy dit sou verkies.

God se ware Kerk verstaan hierdie aangeleenthede en kan duidelike antwoorde uit die Bybel gee op hierdie basiese vrae. Dit is ’n Kerk wat aanhou onderrig en toeneem in lewensbelangrike kennis en begrip.

Onthou dat “hoofstroom”-kerke selde, indien ooit, verander of groei in ware kennis. Wanneer hulle wel verander, is dit amper altyd in die rigting van verwêreldliking – “verwatering” van die klein bietjie Bybelse waarheid wat hulle nog eens kon gehad het.

Die ware Kerk van God groei egter voortdurend na dieper en voller begrip van die Bybel van die groot doel wat hier op aarde uitgewerk is en van die opwindende vervulling van Bybelprofesie wat nou begin ontvou.

4. Die “TEKEN” van God se volgelinge

Verwysend na ware Christene wat van die komende Groot Verdrukking vlug, sê Jesus: “En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie” (Mattheus 24:20). Waarom sou Jesus besorg wees oor Sy volgelinge wat die Sabbatdag onderhou?

Omdat dit nog altyd die “toetsgebod” was en steeds is – ’n toets om te sien of elkeen van ons God sal gehoorsaam net omdat Hy so sê. Dáárom is dit ’n kenmerkende “teken” van Sy volgelinge. Dit dui ook op die ware God, die Skepper van die hemel en die aarde.

Jesus het die Sabbat onderhou “soos Hy gewoond was” (Lukas 4:16). Die Apostel vir die Heidene het altyd op daardie dag gepreek en aanbiddingsdienste gehou (Handelinge 17:2).

In die Ou Testament is ’n spesiale Sabbatverbond met Israel gemaak: “Spreek jy met die kinders van Israel en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ’n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig. Onderhou dan die sabbat, want dit moet vir julle heilig wees. Hy wat dit ontheilig, moet sekerlik gedood word; want elkeen wat daarop werk verrig, dié siel moet uitgeroei word onder sy volksgenote uit. Ses dae lank kan werk verrig word, maar op die sewende dag moet dit wees ’n dag van volkome rus, heilig aan die HERE. Elkeen wat op die sabbatdag werk doen, moet sekerlik gedood word. En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ’n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ’n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik” (Eksodus 31:13-17).

Om hierdie punt oor God se ware Sabbat en die betekenis daarvan aan uself te bewys, vra dadelik aan vir ons gratis boekie, Watter dag is die Christelike Sabbat?

Benewens die weeklikse Sabbat, het God aan Sy volgelinge sewe jaarlikse Sabbatte of Heilige Dae gegee. Hierdie geestelike “jubelfeeste” beeld God se groot plan van verlossing uit. Diegene wat versuim om dit te onderhou, verstaan nie God se groot plan en doel nie. Hulle weet byvoorbeeld nie waarom God nie nou almal “red” nie. Hulle ken ook nie die presiese tyd wanneer alle mense wat nog ooit geleef het volgens God se Meesterplan, ware begrip van God se Woord en ware Christenskap sal ontvang – en wanneer die oorgrote meerderheid mense daarop sal reageer, nie!

Een van hierdie geestelike feeste is die Pasga. Die meeste kerke het die tyd en manier van die viering van hierdie dag verander en noem dit die “Laaste Avondmaal”, “Nagmaal” of iets anders. Jesus het dit as die “Pasga” onderhou (Lukas 22:15-20). Die apostel Paulus het die Pasga en die gepaardgaande “Dae van Ongesuurde Brode” onderhou (1 Korintiërs 5:7-8).

Die Paaslam van antieke Israel het gedui op die dood van Jesus Christus – die Lam van God – vir ons sondes. Net ná die Pasga is die “Dae van Ongesuurde Brode” gevier. Deur rysmiddels uit hul huise te verwyder, moes Christene uitbeeld hoe hulle van sonde ontslae raak en toeneem in genade en kennis – die volgende stap na aanvaarding van Christus se offer!

Paulus onderrig die gemeente in Korinthe, wat uit Grieke bestaan het, hoe om die Fees van Ongesuurde Brode te onderhou: “Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Korintiërs 5:8). Let hierop! Hierdie is ’n Nuwe-Testamentiese gebod – nie vir Jode nie – maar vir ’n gemeente wat hoofsaaklik uit Grieke bestaan het, om die Fees van Ongesuurde Brode te onderhou. God se ware Kerk moet hierdie Godgegewe fees onderhou, net soos Christus, die Apostels en al die eertydse Christene gedoen het!

Vir ’n volledige verduideliking van hierdie dae en hul betekenis, kan u ook skryf om ons gratis boekie, Die heilige dae: God se meesterplan, te bekom.

Die punt is dat hierdie jaarlikse Sabbatte en Heilige Dae ook deel is van God se “teken” waaraan Sy volgelinge uitgeken word. Let op God se duidelike stelling rakende die dae van Ongesuurde Brode: “En dit moet vir jou as ’n teken wees op jou hand en ’n gedenkteken tussen jou oë, sodat die wet van die HERE in jou mond mag wees ...” (Eksodus 13:9).

Waar ookal God se ware volgelinge is – waar ookal Sy Kerk is – sal Sy dienaars die kenmerkende “teken” van God se ware weeklikse en jaarlikse Sabbatte hê, want die weeklikse Sabbat dui op die ware God – die Skepper – en die jaarlikse Sabbatte dui Sy wonderlike plan aan.

Trouens, indien u of u huidige kerk nie gewillig is om waarlik die vierde gebod, wat ons beveel om die sewende dag van die week as “heilige tyd” te onderhou, nie gehoorsaam nie, sal u daar sit en stry en God se Gebooie “wegredeneer” terwyl Sy ware Kerk na veiligheid vlug soos Christus aandui in Mattheus 24:20! U sal ook baie dors word wanneer die duisendjarige regering van Christus begin en Hy noodgedwonge algehele droogte oor al die nasies en volke bring wat weier om Sy bevole Heilige Dae te onderhou – veral die Loofhuttefees (Sagaria 14:16-19)! Om u eie ontwil – en dié van u geliefdes – moet asseblief nie hierdie reuse aangeleentheid geringskat nie! Is u bereid om oor te gee en u Skepper te gehoorsaam op hierdie lewens¬belangrike punt?

5. God se Kerk doen God se ware WERK

Hierdie is een van die “tekens” wat Jesus rakende Sy Wederkoms en die einde van hierdie tyd gegee het: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheus 24:14).

Kort voor Jesus se Wederkoms, sal Sy ware dienaars êrens op hierdie aarde die boodskap van die komende wêreldregerende Koninkryk van God met toenemende krag verkondig! Hulle sal die boodskap verkondig van innige bekering en algehele oorgawe aan God en Sy Wette wat Jesus Self verkondig het. Hulle sal verduidelik hoe ware Christenskap nie net beteken om Jesus Christus te aanvaar as persoonlike Saligmaker nie, maar om Hom werklik te aanvaar as ons Heer, ons Hoëpriester en ons eerskomende Koning, want Jesus se komende Koninkryk is ’n Koninkryk in die ware sin van die woord. ’n Koninkryk is ’n regering – en in u Bybel, van voor tot agter, handel God se boodskap oor Sy komende regering, wat al die regerings van hierdie wêreld heeltemal sal vernietig en vir ewig sal regeer (Daniël 2:44; Openbaring 11:15).

Die lewende Jesus Christus sal binnekort in grootse mag terugkeer om hierdie aarde te regeer en die mens daarvan te red om homself van die planeet te verdelg (Mattheus 24:22)! Soos Jesus vir een “era” of “vertakking” van Sy ware Kerk sê: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf” (Openbaring 2:26-27).

Let op: “En het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10). Let daarop dat Christus en Sy heiliges “op die aarde” sal regeer – nie bo “in die hemel” nie!

Die lewende boodskap van Sy eerskomende wêreldregering moet deur God se ware Kerk verkondig word. Hierdie boodskap word nie gegee om almal te bekeer nie, maar word as “getuienis” verkondig sodat die mensdom gouer sal verstaan wanneer hierdie eindtydgebeure werklik plaasvind.

God is ook in die proses om mans en vroue deur Sy Kerk te onderrig in lesse in die bou van karakter en gehoorsaamheid, sodat hulle “gereed” sal wees om onder die lewende Christus te dien wanneer Hy terugkeer as Koning van konings. Die apostel Paulus is geïnspireer om ware Christene bewus te maak van hierdie absoluut noodsaaklike aspek van ’n Christen se lewe en die soort voorbereiding en onderrig wat ware Christene behoort te ontvang. Paulus skryf: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korintiërs 6:2-3).

Ten einde ander mense te regeer, moet mens eers leer hoe om jouself te regeer. God se regering is op Sy geestelike Wet – die Tien Gebooie – gegrond. Dit is dus waarom God vir Sy ware heiliges sê: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12).

Nog ’n uiters noodsaaklike deel van die Werk van die ware Kerk is om die Bybelse profetiese boodskappe te verstaan en te verkondig. Sowat een kwart van die ganse Bybel is aan profesie gewy! God se Woord self leer ons: “Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Openbaring 19:10).

God se Kerk verstaan en verkondig aan u die ware betekenis van huidige gebeure, die “Geheelbeeld” van waarom die VSA en ander lande van Britse afkoms toenemend hul mag en aansien verloor en presies waartoe dit aanleiding gee. Dit kan verduidelik waarom die oorwegend Katolieke nasies van die Europese vasteland toenemend verenig, waartoe dit aanleiding sal gee en waarom die Britte – binne ’n paar jaar – uit die Europese Unie gaan onttrek of daaruit “gedryf” gaan word. Indien u werklik hierdie noodsaaklike kwessies wil verstaan, skakel of skryf en vra aan vir u gratis kopie van ons insiggewende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?

Nog ’n noodsaaklike deel van die profetiese opdrag van God se Kerk tydens hierdie eindtyd, is dít wat ons die “Esegiëlwaarskuwing” noem. Dit is die waarskuwingsboodskap wat God duidelik aandui deur Sy ware dienaars gerig moet word, veral aan die twaalf stamme van Israel. Soos die reedsgenoemde boekie duidelik verduidelik, is die Anglo-Keltiese nasies van die VSA en die Britse Gemenebes die afstammelinge van die sogenaamde “verlore tien stamme” van Israel. Hulle, saam met die Joodse volk, sal die ergste getref word deur die eerskomende Groot Verdrukking. Dit is die mense wat teen hierdie komende volksmoord gewaarsku moet word – vroegtydig!

Ons, in die Lewende Kerk van God, voel dus wel die verantwoordelikheid om te reageer op God se opdrag aan die eindtydse brandwag: “En hy sien die swaard aankom oor die land en blaas met die basuin en waarsku die mense – as dan iemand die geluid van die basuin hoor, maar hom nie laat waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg, dan is sy bloed op sy hoof. Hy het die geluid van die basuin gehoor, maar het hom nie laat waarsku nie: sy bloed is op hom. Maar as hy hom laat waarsku, dan red hy sy siel. As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem ’n siel uit hulle weg – dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis. En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku” (Esegiël 33:3-7). Hierdie is ’n noodsaaklike deel van die verantwoordelikheid van God se ware dienaars tydens hierdie “laaste dae”.

Slegs God se Kerk verstaan werklik en gee u die ware begrip van hierdie en ander wêreldveranderende neigings wat u lewe binnekort ingrypend gaan raak! God se ware Kerk sal ook sy lidmate aanhoudend leer, onderrig en werklik voorberei vir hul toekoms as konings en priesters in Christus se wêreldregering wat binnekort gevestig gaan word (Daniël 7:27; Lukas 19:15-19; Openbaring 1:5-7; 5:10; 20:6). U moet u verstand ontvanklik maak, u Bybel met ywer bestudeer, God vir begrip vra en “kyk” waar die lewende Christus tydens hierdie eindtyd werk! God se ware Kerk sal die Bybel in geheel onderrig – nie slegs ’n paar sentimentele verse oor Jesus Christus as persoon terwyl hulle terselfdertyd die kragtige boodskap wat Hy self gepreek het, nalaat nie. U kan daardie Kerk opspoor en deel daarvan word – mits u gewillig is!

God se Kerk het AL VYF die kenmerkende “TEKENS”

God se ware Kerk verkondig wêreldwyd die komende regering van God op aarde – met toenemende mag – deur Jesus Christus en die herrese heiliges, gegrond op God se Wet en Sy Gebooie. God se ware Kerk onderrig die lewenswyse wat Christus en Sy Apostels onderrig en geleef het. Die Kerk beoefen God se vorm van regering en berei sy lidmate voor om Christus by te staan om hierdie wêreld te regeer (1 Korintiërs 6:2-3).

Dit is belangrik om kennis te neem dat, terwyl God se ware Kerk een geestelike organisme is, die Bybel toon dat dit normaal is vir die Kerk om terselfdertyd uit ’n paar verskillende korporatiewe “genootskappe” of “vertakkings” te bestaan. In hoofstukke 2 en 3 van Openbaring, onthul Christus die kenmerke van die sewe tydperke of “eras” van God se ware Kerk. Hy vind wél fout met die meeste van die sewe kerke of “eras” – maar nie met die Filadelfia-era nie. Hierdie “eras” verteenwoordig gesindhede wat altyd in God se Kerk teenwoordig is en dit dui ook op die verloop van “oorheersende” gesindhede in die Kerk as geheel. Vandag is ons duidelik in die Laodisiese-era, wat deur God verdoem word omdat hulle “lou” is, hoewel dit groot dele van die Waarheid bevat. Die lewende Jesus Christus sê: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:15-16).

Die Lewende Kerk van God, wat hierdie boekie uitgee wat u nou lees, streef daarna om die klem van die Filadelfia-era selfs in ons Laodisiese-era te behou. Ons vermaan God se volgelinge opreg om ywerig te wees om God se Werk te doen, om voor te berei om konings en priesters in Christus se Koninkryk te wees en om heeltemal oor te gee aan Christus se regering in die Kerk en in ons persoonlike lewens. Ons in die Lewende Kerk van God is beslis daarop gefokus om die Werk te voltooi wat Jesus Christus in hierdie laaste dae deur Sy Kerk doen.

Jesus inspireer die apostel Paulus om ons in 1 Korintiërs 12 te vertel dat Sy Kerk die “liggaam” van Christus is – die fisiese instrument waardeur Christus vandag werk om Sy Werk gedoen te kry en die toekomstige konings en priesters op Sy Koninkryk voor te berei. Dit is belangrik om daarop te let dat daardie liggaam altyd bestaan het. Onthou, Jesus sê: “En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Mattheus 16:18).

Dus, sedert Christus na die hemel opgevaar het en die lewende Hoof van die Kerk geword het, het Hy Sy “klein kuddetjie” deur die eeue heen deur beproewings, toetse en vervolgings gelei. Dit sal uiters nuttig wees vir elkeen van u om u gratis eksemplaar van ons onthullende boekie, God se Kerk deur die eeue, oor hierdie onderwerp te bestel. Hierdie boekie teken die geskiedenis van die ware Kerk deur die eeue deeglik aan – met behulp van baie ander kerkgeskiedenis en hulpbronne om die feite te bewys. Dit sal u help verstaan waar God se ware Kerk nog altyd was en waar dit nog steeds vandag is.

Deur die “vrugte” te ondersoek, kan u vir uself sien hoe God die Lewende Kerk van God gebruik om Sy doelwitte te bereik. Onthou, soos tevore genoem, is God se ware Kerk die “liggaam” van Christus. Soos die apostel Paulus skryf: “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge” (1 Korintiërs 12:12-13).

Verskillende “vertakkings” van God se Kerk

Ten einde in die liggaam van Christus te wees, moet jy jou ten volle oorgee aan God en deur Sy Gees gelei word: “As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie” (Romeine 8:9 NV). So moet elke lidmaat van die ware Kerk waarlik bekeer wees en deur God se Gees gelei word. Weer eens, God gee die Heilige Gees “aan die wat Hom gehoorsaam” (Handelinge 5:32). Tog, deur die eeue heen, was daar baie verskillende Kerk-van-Godgenootskappe – “vertakkings” van die ware Kerk – wat soms tegelykertyd bestaan het. In die eerste eeu na Christus het die apostel Johannes van sewe kerke in Klein-Asië geskryf, wat almal gesindhede geopenbaar het wat regdeur die kerkgeskiedenis teenwoordig sou wees, elkeen verteenwoordigend van ’n dominante gesindheid in die Kerk in die opvolgende “eras”. Hierdie verskillende “vertakkings” van God se ware Kerk was dikwels in verskillende dele van die wêreld – by tye selfs onbekend aan mekaar. Gedurende die 12de en 13de eeu het God se ware Kerk tussen die Bogomille in Hongarye bestaan; onbewus van die feit dat ’n soortgelyke groep Sabbatonderhouers gelyktydig in Groot-Brittanje bestaan het.

Baie mense in die VSA is bewus van die Sewendedag Kerk van God. Oor die jare het dit verskeie “skeurings” ondergaan – soos baie kerklike instansies ervaar – en voor die Tweede Wêreldoorlog het dit gebeur dat een groep hul hoofkwartier in Santberry, Missouri, gehad het en ’n ander in Caldwell, Idaho. Uit hierdie gebied het God die ene Herbert W. Armstrong opgehef wat vir baie jare die organisasie gelei het wat as die Wêreldwye Kerk van God bekend geraak het. Die Wêreldwye Kerk van God het by verre die grootste groep ware gelowiges geword wat hul lewens oorgegee het om die hele Wet van God te onderhou, die ware Sabbat te onderhou, die Evangelie van die komende Koninkryk van God te verkondig en die regte naam, “die Kerk van God”, te gebruik. Selfs gedurende hierdie tyd het die reedsgenoemde groepe van die Sewendedag Kerk van God steeds bestaan. Mnr. Armstrong het dikwels erken dat hierdie verskillende gemeentes “vertakkings” van die ware Kerk was.

Gedurende mnr. Armstrong se bediening het die meeste mense wat tot die Waarheid geroep is, hulself twee lewensbelangrike vrae gevra:
• Waar word die waarheid van die Bybel die duidelikste gepreek?
• Waar word die “Werk” op sy kragtigste gedoen?

Onthou, die “Werk” bestaan nie net daaruit om die waarheid van die Bybel te preek nie, maar spesifiek om aan die wêreld die eerskomende Koninkryk van God te verkondig (Mattheus 24:14), om aan die “Israelitiese” nasies ’n dringende waarskuwing te rig oor die komende Groot Verdrukking, om “die kudde te voed” met die “hele raadgewing van God” (Handelinge 20:27) en om God se volgelinge waarlik te onderrig, op te lei en voor te berei om “konings en priesters” in Christus se Koninkryk te wees (Openbaring 5:10).

Die meeste mense van die Sewendedag Kerk van God was beslis “aangenaam” en het oor ’n gedeelte van die Waarheid beskik, maar was blykbaar tevrede daarmee om slegs die basiese dinge te onderrig en in die stilte hul gemeenskap met mekaar te geniet. Dit blyk hulle het tekortgeskiet aan die “vurige” ywer om “die wêreld in te gaan” en die Evangelie kragtig te verkondig en ook die “Esegiëlwaarskuwing” (Esegiël 33:1-7) oor die komende Groot Verdrukking wat hoofsaaklik die Anglo-Keltiese nasies sal tref, te verkondig.

Jesus deel ons mee, met betrekking tot enige godsdiensorganisasie: “So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken” (Mattheus 7:15-20). So rus die verantwoordelikheid op elke persoon om die volgende noukeurig te oorweeg: Waar werk Christus hoofsaaklik vandag? Wie preek meer van die Waarheid? Wie doen die Werk meer doeltreffend om die Evangelie aan die publiek regoor die wêreld te verkondig?

Ons verstaan uit die Bybel en uit die geskiedenis dat die Kerk van God die “liggaam” van Jesus Christus is – die liggaam van gelowiges in die volle Waarheid van die Bybel. Waar ookal God se ware volgelinge is, hulle sal diegene wees wat hul lewens oorgegee het om te leef “volgens elke woord van God”. Binne die groter liggaam van Christus, moet God se ware volgelinge mekaar liefhê soos Jesus almal van ons liefgehad het (Johannes 13:34). Waar daardie mense in verskillende korporatiewe gemeentes is, sal daar verskillende sterk punte en verskillende fokuspunte wees. Uitgaande liefde, broederlike goedheid en die gees van dienswilligheid sal egter teenwoordig wees in die bekeerde lidmate van God se Kerk, ongeag waar hulle woon en tot watter spesifieke godsdiensgemeenskap hulle behoort, want die ware liefde van God is vierkantig op die Tien Gebooie gegrond. Die apostel Johannes is geïnspireer om ons die volgende mee te deel: “Want dit is die liefde tot God dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3).

Dus, deur die Gees van Christus in hulle, sal die ware volgelinge van God hierdie weg volg. Hulle sal die begrip en moed hê om al tien van die Tien Gebooie te gehoorsaam – om die voorbeeld van Openbaring 14:12 uit te leef: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar”. Hulle sal ook die geloof uitleef om die kenmerkende “teken” te onderhou wat God aan Sy volgelinge gegee het (Eksodus 31:16-18).

Eerder as om te argumenteer en verskonings te maak vir ongehoorsaamheid, hóú God se Kerk dít wat God heilig gemaak het, heilig. Dit volg die geïnspireerde voorbeeld van Jesus en die Apostels om God se Sabbat en Sy jaarlikse Heilige Dae waardeur Sy ontsagwekkende plan onthul word, te onderhou. Laastens doen God se Kerk die Werk om as ’n “getuienis” die boodskap van verlossing deur Jesus Christus te verkondig en ook die goeie nuus van die eerskomende Koninkryk van God wat gegrond is op Sy Wette.

Die organisasie wat hierdie boekie publiseer, streef daarna om al hierdie dinge te doen. Soos u weet, probeer ons in die Lewende Kerk van God om al die bogenoemde waarhede ter ganser harte na te volg en om kragtig die eindtyd-Bybelprofesieë te verkondig en om alles in ons vermoë te doen om ons Israelitiese mense teen die komende Groot Verdrukking te waarsku. Met ons hoofkwartier in Charlotte, NC, kantore regoor die wêreld, talle plaaslike gemeentes met leraars, wêreldwye radio- en TV-programme en ’n groeiende uitgewery wat hierdie einste boekie en die Wêreld van Môre-tydskrif insluit, word daardie boodskap met toenemende krag uitgestuur.

Nou moet u besluit wat om te doen omtrent hierdie boekie. Moontlik sal dit net nuttig wees vir u om hierdie duidelike, Bybelse kenmerkende “tekens” van waar God werk – waar Sy ware Kerk vandag is – te oorweeg.

Indien u belangstelling egter verder strek – indien God u roep en indien ons u persoonlik van diens kan wees – moet u nie huiwer om vir ons te skryf na die adres van ons kantoor naaste aan u nie. Ons kan bloot u vrae per pos antwoord. Indien u so versoek, kan ’n ten volle opgeleide verteenwoordiger van hierdie Werk u persoonlik besoek op ’n tyd en plek wat vir u geleë is.

U moet besluit.
Namate wêreldgebeure onvermydelik na die einde van hierdie huidige tydvak beweeg, is u dit aan uself verskuldig om seker te wees waarheen u op pad is. Pak die bul by die horings. Bewys hierdie dinge aan uself uit die bladsye van u persoonlike Bybel. Indien God u verstand nou open, reageer dan op hierdie kosbare kennis en begin om u waarlik voor te berei vir u taak in die Wêreld van Môre. Slegs die ware Kerk van God het die ware begrip, die moed en die motivering ontvang om die volle Waarheid te verkondig om u en u geliefdes waarlik voor te berei om die manjifieke doel vir u lewens te vervul en “konings en priesters” (Openbaring 1:6) te word in die eerskomende Koninkryk van God op hierdie aarde!

Dit is noodsaaklik dat u sal REAGEER!

Indien u besoek wil word deur ’n leraar of verteenwoordiger van hierdie Werk, skakel dan ons kantoor naaste aan u soos gelys op die “Plaaslike Kantore”-bladsy agterin hierdie boekie, of, indien u dit verkies, skryf aan die naaste kantoor. Spreek net u begeerte uit vir ’n besoek en gee u adres en/of telefoonnommer sodat ons verteenwoordiger u kan kontak. Wees verseker dat niemand by u sal opdaag sonder dat ’n afspraak gemaak is vir ’n tyd en plek wat vir u geleë is nie. Ons leraar of verteenwoordiger sal bloot daar wees om u vrae te beantwoord oor die Bybel of oor hierdie Werk en die Lewende Kerk van God.

Daar sal geen druk op u wees om by enigiets “aan te sluit” of enige versoeke vir geld vir enige doel nie. U sal egter die geleentheid hê om met ’n ware leraar of verteenwoordiger te praat, ons persoonlik te ondersoek en uit te vra oor die bywoning van aanbiddingsdienste of Bybelstudie, indien dit u wil is. Dikwels kan ons leraar voorstel dat u meer literatuur lees, die waarhede van die Bybel meer breedvoerig vir uself bewys en sekerder sal wees van u betrokkenheid voordat u enige samekomste bywoon, want ons wil hê dat u oortuig moet wees. Ons probeer u van diens wees in u soeke na die ewige lewe in die Koninkryk van God.

Indien God werklik u verstand open en u “roep”, is ons seker dat u verheug sal wees om met ander te vergader wat bereid is om waarlik hul lewens aan God en in diens van hul medemens te gee. U sal ’n groep gelukkige volgelinge vind – dikwels met klein kindertjies – wat hul Bybels kerk toe bring en soos die Bereane “die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:10-11). Daar sal gewoonlik – afhangende van die grootte van die groep en die plaaslike omstandighede – liedere gesing word, aankondigings gemaak word van aktiwiteite, nuus oor die Werk gegee word, nuttige preke gegee word en baie entoesiasties saam gekuier word na die dienste.

Mag God u help tot die volgende: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Namate die einde van hierdie tydvak vinnig nader kom, moet ons nie vir ewig rondsit, spekuleer en niks doen nie! God beloon diegene wat met ywer reageer op die Waarheid en alles in hul vermoë doen om betrokke te raak om Hom en hul medemens in God te dien. Soos Jakobus geïnspireer is om ons mee te deel: “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie” (Jakobus 1:22). Weer eens, vra gerus aan vir u gratis eksemplaar van ons baie nuttige en volledig gedokumenteerde boekie, God se Kerk deur die eeue. Dit sal u help om waarlik die geskiedenis van God se ware Kerk te verstaan – daardie “klein kuddetjie” wat in die Middeleeue bykans verdwyn het.

Mag God u help om te verstaan en betrokke te raak terwyl u nog die geleentheid het! U mag nou in u “gemaksone” in die een of ander kerkgenootskap wees, maar – indien God u nou roep – wil u Skepper hê dat u ’n aktiewe deel van Sy Kerk moet wees om waarlik gereed te maak vir Sy Koninkryk en die mensdom kragtig te waarsku teen die komende Groot Verdrukking. Let op die duidelike verantwoordelikheid van God se getroue dienaars: “Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug! As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! – sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk” (Spreuke 24:11-12).

Die lewende Jesus Christus beveel almal van ons om vrugte te dra: “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees” (Johannes 15:8). Weer eens, mag God u inspireer om ’n aktiewe deel te wees van die Werk wat Christus huidiglik verrig deur Sy liggaam; die ware Kerk van God op aarde vandag.