Vandag staar die mensdom verbysterende krisisse van oorlog, siektes, besoedeling, droogte en hongersnood in die gesig. Waarheen sal dit alles lei? Bybelprofesie onthul dat God deur huidige gebeure werk om ’n toekomstige tyd tot stand te bring wanneer die hele wêreld vrede sal ervaar. Indien u verstaan wat God nou doen en wat Hy vir Sy skepping beplan het, kan u hoop hê, selfs in tye van teëspoed!

Vir die hedendaagse wetenskaplike, sakeman of selfs die teoloog wat die Bybel nie letterlik opneem nie, is die grootste struikelblok om van God se profesieë te verstaan die onvermoë om die absolute werklikheid van die ware God te begryp – die Skeppergod wat in die Heilige Skrif onthul word. Presies hoe werk God se mag? Hoe herrangskik God die lotsbestemmings van nasies? Kan ons sien dat profesieë in die geskiedenis – en selfs in hedendaagse wêreldsake onthul word?

Die belangrikste is dat ons moet onthou dat die God wat in u Bybel onthul word, oor die vermoë beskik om volkome mag en beheer oor nasies en individue uit te oefen. “Kyk, die nasies is soos ’n druppel aan die emmer, en soos ’n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ’n stoffie! ... Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos ’n dun doek en sprei dit uit soos ’n tent om in te woon. Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid” (Jesaja 40:15, 22-23).

Glo u dit? Of het Jesaja dit opgemaak – hom moontlik letterkundige vryheid toegeëien – in hierdie perspektief van goddelike mag?

Die feit is dat u Bybel van Genesis tot Openbaring gevul is met profesieë wat toon hoe God ingegryp het, tans ingryp en in die toekoms sal ingryp in wêreldsake. Selfs Jesus se eie woorde is gevul met profetiese betekenis, van die Olyfbergpredikasie van Mattheus 24, Markus 13 en Lukas 21, tot by die visioen van die toekoms wat Hy in die boek Openbaring aan die apostel Johannes geopenbaar het.

Hoe kan God betrokke wees om die leierskap van ’n nasie te lei? Die profeet Daniël het beskryf hoe Nebukadnesar, koning van een van die merkwaardigste ryke van die Oudheid, sy verstand verloor het en uit sy amp verdryf is “met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel” (Daniël 4:17). God bepaal wie in die verskillende nasies sal regeer en stel soms die eenvoudigste mense in ampte aan.

Kan Amerikaners in hierdie teksvers troos vind wanneer hulle aan hul leiers van die afgelope dekade of meer dink? Kan die Britte na die optrede van hul Eerste Ministers kyk en God se hand daarin sien? In die eerste 55 jaar na die Tweede Wêreldoorlog, het die polities onstabiele Italië ’n reeks van 58 regerings gehad. Ander Europese nasies staar tans ook maatskaplike en politieke woelinge in die gesig. Die Franse het in Mei 2002 ’n presidensiële tweestryd beleef tussen ’n Galliër en ’n man wat dikwels as ’n neo-Fascis bestempel word. Ontvang hierdie nasies die soort leiers wat hulle verdien, eerder as die ordentlike en wyse leiers wat hulle so dringend nodig het? En wat van die rol van die Rooms-Katolieke pous in Europa? Pous Benediktus die Sestiende het sterk bande met sy geboorteland Duitsland en het openlik gepraat van die belangrikheid om Europa se “Christelike” oorsprong te hervestig – sodoende het hy die Europese Turke en die Moslems regdeur die wêreld se gramskap op die hals gehaal.

Waarlik, die wêreld se huidige politiese stabiliteit is so stewig soos ’n dwaallig.

In die Hebreeuse Skrif het Moses beskryf hoe God die verstrooiing van nasies en volke in die Oudheid gereël en gelei het. “Toe die Allerhoogste aan die nasies ’n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel” (Deuteronomium 32:8). Soos ’n skaakmeester skuif God konings, koninginne, biskoppe en pionne soos Hy wil, ooreenkomstig Sy doel. Hy lei verskeie groot nasies na die gebiede op die aarde waar Hy hulle wil hê en seën of vervloek hulle deur weersomstandighede, oorloë of voorspoed na die mate waartoe hulle hul aan Sy wil oorgee (vergelyk Levitikus 26).

Sal Jesus Christus vanaand terugkeer?

Miljoene Pinkster- en Evangeliesgesinde gelowiges verwag dat Jesus Christus enige tyd kan terugkeer. Hulle sien hoe wêreldgebeure vorm aanneem volgens Bybelprofesie en hulle wil “gereed” wees. “Jesus Christus kan vanaand terugkeer,” skree die ysterlong evangelis in sy groot tentbyeenkoms. “Julle beter nou julle harte vir die Here gee terwyl Hy julle roep. Julle kry dalk nooit weer so ’n kans nie!” Die meeste van ons het al sulke praatjies gehoor, hetsy persoonlik óf oor die radio óf op televisie.

Franklin Graham, seun van bekende prediker Billy Graham, word aangehaal: “Die kerke glo dat alles nou tot ’n punt kom en dat God aan die beweeg is. Baie mense in die Evangeliesgesinde gemeenskap glo dat die Wederkoms van Jesus Christus enige oomblik kan plaasvind – ek is een van hulle” (Los Angeles Times, 31 Desember 1995). Dit was meer as tien jaar gelede! Vir dekades bulder vurige evangeliste dit in herlewingsdienste uit: “Jesus Christus kan vanaand kom. Julle moet nou gereed wees om jul Skepper te ontmoet!”

Kommentator Andree Seu berig: “Ek ken ’n pastoor wat daarvan hou om te sê: ‘Jesus kom vandag terug’, want, soos hy verduidelik, watter dag Hy ook al terugkom, sal dit ‘vandag’ wees” (World Magazine, 24 April 1999). Mark Galli, skrywer by Christianity Today skryf: “Jesus kom weer! Ons weet net nie wanneer nie. Dit kan gou wees. Of dalk is dit eers oor ’n duisend jaar ... of meer” (“Millennium Madness” Januarie/Februarie 1999). Vandag, of ’n duisend jaar van vandag af. Watter een is reg? Of is hulle albei verkeerd?

Is dit waarskynlik dat die Jesus Christus van die Bybel vanaand sal terugkeer? Vir die meeste mense wat vandag leef, blyk die vooruitsig van God se ingryping nie baie werklik nie. Selfs onder “gelowiges” is daar grootskaalse onenigheid oor wanneer en hoe Christus sal terugkeer – en of Hy enigsins letterlik sal terugkeer.

Sal God skielik en in die geheim ingryp, heeltemal onverwags? Of het die Almagtige ’n spesifieke reeks gebeure onthul wat diegene wat die Bybel ernstig opneem, kan inlig en waarsku? Het God al in wêreldsake ingegryp?

Wat sê die Bybel werklik? U moet weet!

Voor enigiets anders is dit nodig om te sê dat God nie wispelturig is nie. Die Skepper van die heelal maak nie Sy planne om buierige, impulsiewe of temperamentele redes nie. God die Vader sal Jesus Christus na hierdie aarde terugstuur op ’n tyd wanneer Sy Wederkoms die verskil sal maak tussen lewe en dood vir die menseras. Leraars wat dwase aansprake maak dat “vanaand die aand is”, bewys hul luisteraars ’n groot onguns. Die terugkeer van Jesus Christus is doodernstige sake. Dit kan selfs ’n kwessie van u eie oorlewing wees!

Die Bybel is die enigste ware bron van onthulde kennis oor Jesus Christus se Wederkoms. Die meeste van die mensdom se idees en spekulasies oor Sy Wederkoms is blote onsin, wat op niks anders as raaiskote en ydelheid gegrond is nie! Is daar enige manier om die tekens van Sy koms en die einde van die tyd te herken? Kan ons waarlik vervulde profesie in wêreldsake sien – en verstaan wat dit vir ons en vir ons wêreld beteken?

Wêreldlyding in die eindtyd

Die Bybel onthul dat die mens se tegnologiese kennis grootliks sal toeneem pas voor Christus se Wederkoms. Dit sal ook ’n tyd van grootskaalse reis en beweging van massas immigrante wees: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder” (Daniël 12:4).

Ondanks hierdie oplewing in tegnologiese vermoëns, stagneer die mens se kennis in geestelike sake! Ons vermoë om met mekaar oor die weg te kom het vir die afgelope 4 000 jaar nie verbeter nie. Jesus sê: “En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Mattheus 24:37).

Die Bybel onthul duidelik dat Noag se tyd gekenmerk was deur toenemende sonde en geweld: “Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was ... En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg” (Genesis 6:5, 13).

Die apostel Paulus is ook deur God geïnspireer om in die toekoms in te kyk en die laaste dae te beskryf as “swaar tye”, tye van growwe materialisme, sedelike verval en ’n vals geestelikheid wat die krag van die ware God van die Bybel verloën (2 Timotheus 3:1-5). Pas hierdie beskrywing by ons huidige Westerse beskawing?

Die tyd wat na Jesus se Wederkoms toe lei, sal ook ’n vloedgolf verskriklike oorloë en vernietiging ondervind (Mattheus 24:3-20). Jesus waarsku dat daar ’n ware bedreiging van menslike uitwissing gaan wees – tensy Hy ingryp om die mens van sy dodelike weë te red: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (verse 21-22).

’n Visioen vir die toekoms

Dink na oor hierdie visioen van die toekoms: ’n Skrikwekkende verskeidenheid krisisse staar ’n verwarde mensdom in die gesig. Die wêreld se voorraad voedsame kos en skoon water kwyn weg weens besoedeling wat die omgewing afbreek en aardverwarming wat weerpatrone verander. Miljoene mense staar honger en uiteindelik verhongering in die gesig. Party gebiede worstel met die allerverskriklikste winterstorms en grootskaalse oorstromings terwyl ander gebiede van droogte verdor onder ’n brandende son! Hierdie weerskommelinge bring geweldige finansiële verliese mee wat baie versekeringsmaatskappye bankrot laat.

Verder dreineer massiewe aardbewings, toevallige vulkaniese uitbarstings en insekteplae internasionale en plaaslike ramplenigingshulpbronne. Etniese spanning, werkloosheid en algemene stedelike misdaad werp ’n sluier van onsekerheid oor eens vreedsame gemeenskappe. Lewens raak al hoe goedkoper. Wat kos ’n paar koeëls of ’n mes op stuk van sake?

Die gruwels van die 11 September 2001 aanvalle in die VSA en die bomaanvalle op 7 Julie 2005 in Groot Brittanje herinner ons ook dikwels daaraan dat toenemende terrorisme al die bogenoemde probleme grootliks sal vererger!

Vernietigende siekte-epidemies sal miljoene der miljoene mense tref! Namate die klimaat warmer word, sal uitheemse siektes wat eens tot die tropiese lande van die Derde Wêreld beperk was, noordwaarts beweeg saam met sekere spesies siektedraende muskiete en ander insekte. Geneesmiddelbestande besmetlike bakteriese lyne vermeerder vinnig in hospitale en wis die doeltreffendheid van antibiotika en ander “wondermiddels” uit. Bio-ingenieurswese – wat mense voorsien van organe van bobbejane, varke en ander diere wat oorgeplant kan word – help die gevaarlike mutasie van dodelike bakterieë en virusse aan. Dit oorbrug gevolglik die vasgestelde grens tussen dier en mens se vatbaarheid vir mekaar se siektes. Kinders, bejaardes en die haweloses sterf in skrikwekkende getalle. Massabegrafnisse van afgestorwenes raak algemeen.

“Onsin”, sê u? “Dit sal nooit gebeur waar ek woon nie,” stry u. “Onnodige doempraatjies” voer u aan. “My regering en die hedendaagse tegnologie sal my op stuk van sake van sulke probleme red,” hoop u.

Sowaar?! Sal u weermag, polisie, pesioenskemas en gesondheidsorgstelsels u vir ’n onbepaalde tyd kan afsonder van sulke dreigende buitelandse en binnelandse verskrikkings? Wat verwag u werklik?

Baie Westerse regerings sit opgesaal met vinnig-stygende staatskuld wat werklik reuse-afmetings aangeneem het! Pynlike besnoeiing op begrotings vorm die wese van baie nasies se politieke beraadslagings. In baie Derdewêreldlande is die prioriteit deesdae om geld aan wapens te bestee – eerder as op gesondheidsorg of pensioene.

Indien u in Amerika, Kanada, Brittanje, Australië of een van die gemaklike, ryk Westerse lande woon, neem kennis: Fiskale onverantwoordelikheid op ’n nasionale skaal is ’n voorloper van ’n duidelike afname in toekomstige prestige en mag. Hoe sal u persoonlik geraak word wanneer u land weens kwynende inkomste moet besnoei? Is dit regtig net maanskyn en rose wat voorlê? Of is daar stormwolke op die horison?

’n Somber prentjie

Dink na oor hierdie nuusberigte:
“Dr Abdul Wahab Achakzai is ’n mediese beampte by die Staatshospitaal in Chaman, ’n arm en stowwerige Pakistanse basaardorpie. Elke dag stroom 700 tot 800 kinders en volwassenes na sy vuil perseel naby die Afgaanse grens vir behandeling van ’n verskeidenheid siektes wat wissel van malaria tot tuberkulose.

“Die regering gee vir ons 120 roepees – minder as R30, vertel Achakzai een middag aan ’n besoeker, terwyl hy ’n bewende 5-jarige dogtertjie ondersoek wat vermoedelik deur ’n muskiet gebyt is wat vivax malaria dra. Minder as R30. Dit is nie per pasiënt nie. Dit is die hospitaal se daaglikse subsidie, het Achakzai gesê” (Los Angeles Times, 3 Desember 1995). Kan so ’n verval in gesondheidsorg in u land plaasvind? Op baie plekke is verswakking van gesondheidsorg vir die armes, kinders en bejaardes reeds vir jare ’n werklikheid.

Namate siektes versprei en lank-vertroetelde sosiale norme verval, wend baie mense hul tot wanhoop en selfs selfmoord. In die afgelope dekade het 300 000 Amerikaners hul eie lewens geneem – soveel as wat in die Tweede Wêreldoorlog op die slagveld gesterf het. “Amerika is in die kloue van ’n grootliks ignoreerde selfmoordepidemie, aangesien selfmoord deesdae die agtste grootste rede vir sterftes in die VSA en die derde grootste rede onder adolessente is. Alle Amerikaners erken dat hul land vol geweldmisdaad is, maar min mense weet dat 50 persent meer Amerikaners hulself doodmaak as wat vermoor word” (San Diego Union-Tribune, 11 Januarie 2002). In 2003 het Students Against Drunk Driving ’n opname uitgereik wat getoon het dat 19 persent van Amerikaanse hoërskoolleerders selfmoord oorweeg het, 14,8 persent het ’n plan beraam om selfmoord te pleeg en 8,8 persent het ten minste een keer werklik selfmoord probeer pleeg.

Die selfmoord-probleem is wêreldwyd. Die Wêreldgesondheidsorganisasie berig in September 2006 dat meer as een miljoen mense hulself jaarliks om die lewe bring en dat daar vir elke suksesvolle selfmoordpoging tot 50 onsuksesvolle selfmoordpogings is (United Press International, 8 September 2006). China se Xinhua Nuusagentskap berig in September 2006 dat ongeveer 250 000 Chinese hulself elke jaar om die lewe bring. In baie lande is selfmoord die hoofoorsaak van dood onder jong mans tussen die ouderdom van 15 en 24.

Die tronke is ook vol bewyse dat die Amerikaanse – en Suid-Afrikaanse – samelewing nie is soos wat dit moet wees nie. “Onlangs het Amerika die twyfelagtige eer ontvang om te spog met die grootste tronk- en gevangenisbevolking op aarde. Dit het hierdie hoogtepunt bereik deur verarmde Rusland – wat vir lank sy enigste teenstander was as ’n massa-gevangenis samelewing – verby te steek nadat Rusland duisende gevangenes vrygelaat het om geld te bespaar, aangesien die land ’n tekort aan kontant ervaar het,” merk Sasha Abramsky, skrywer van Hard Time Blues op. “Ongeveer 2 miljoen Amerikaners dien nou tronkstraf uit in tronke of gevangenisse ... Die Verenigde State se gevangesettingskoers per honderduisend inwoners is vyf keer meer as die van Engeland, ses keer meer as Kanada en sewe keer meer as Duitsland”.

Volgens ’n verslag van die Amerikaanse Departement van Justisie, was daar in 2004 ongeveer 7 miljoen mense op parool – nagenoeg 3,2 persent van die Amerikaanse bevolking of een vir elke 31 volwassenes. Wat sê dit vir die standvastigheid van ’n samelewing en die tevredenheid van sy mense?

Die pole smelt

Selfs ’n klaarblyklike onbelangrike saak soos stygende temperature kan ’n groot krisis aankondig. Vir so lank as wat rekord gehou is, was daar ’n dik pak Arktiese “permanente ys” wat reg deur die jaar teenwoordig was wat nie deur die Arktiese somer geraak was nie. Daardie ysbedekking het ’n versperring gevorm tussen die noordelike Europese kus en die Noordpool. Wetenskaplikes het egter in 2006 ontdek dat ’n gedeelte van die yspak – wat groter as die Britse Eilande is – weggesmelt het en ’n seeroete gelaat het waardeur skepe binnekort van noordelike Europa na die Noordpool sal kan vaar. “As hierdie afwyking voortduur,” sê Martin Drinkwater van die Europese Ruimte-agentskap, wie se kameras die smelting opgeneem het, “sal die Noordoostelike Deurgang, of ‘Noordelike Seeroete’ tussen Europa en Asië vir langer periodes oop wees en dit is moontlik dat daar pogings sal wees om rondom die wêreld te seil regoor die somer Arktiese See” (Agence France Press, 20 September 2006).

Klimaatveranderings het selfs die uitgestrektheid van Antarktika se reuse-ysbanke geaffekteer. Een ysbank, wat wetenskaplikes vermoed al vir ten minste 12 000 jaar bestaan het, het in 2002 ineengestort, veroorsaak deur een van die warmste somers daar op rekord. “Dit is ’n ontsaglike gebeurtenis,” sê geoloog, Christina Hulbe. “Hierdie ysbank het baie klimaatskommelings oor baie duisende jare weerstaan. Nou is dit weg”. Die area wat ineengestort het, was 200 meter dik en het ’n oppervlakte van 3 237 vierkante kilometer beslaan – ongeveer die grootte van Rhode Island. “Wetenskaplikes sê daar was ’n 50 jaar verwarmingstendens op die skiereiland, wat as ’n sensitiewe, vroeë aanwyser van globale klimaatverandering beskou word” (San Diego Union-Tribune, 20 Maart 2002).

Namate temperature oor die wêreld styg, sal droogte al hoe erger beproewings vir die mensdom meebring. Wetenskaplikes beraam nou dat een uit elke drie mense teen 2025 nie toegang tot genoeg water sal hê nie en dat tradisionele landbou nie in staat sal wees om die wêreld se bevolking te voed nie. Tans “affekteer waterskaarste ongeveer 450 miljoen mense in 29 lande en spanning oor waterregte in Asië en Afrika kan in ernstige konflik ontaard as regerings nie nuwe maniere vind om bestaande voorrade meer doeltreffend te benut nie,” lui ’n verslag wat in Augustus 2001 deur die Wêreld Waterforum uitgereik is. “Water kan die nuwe olie word as ’n bron van konflik,” sê Nederland se kroonprins Willem-Alexander, voorsitter van die Forum. Een ontstellende opmerking is in Maart 2006 by die vergadering van die Wêreld Waterforum in Mexikostad gemaak: “Miljoene mense het sonder liefde geleef. Niemand het nog ooit sonder water geleef nie” (“Synthesis Report,” Wêreld Waterforum 2006, bl. 56).

Neem kennis: “Ondanks nuwighede wat die koste van die behandeling van water verlaag het, beleef meer as ’n miljard mense nog steeds ’n tekort aan veilige drinkwater ... Landelike landbougebiede word die meeste bedreig ... ’n kombinasie van aardverwarming, verkwistende praktyke en besoedeling beteken dat groot riviere waarop miljoene mense tradisioneel staatgemaak het, nou vir ’n gedeelte van die jaar droog loop. Die Yangtse in China, die Nyl in Afrika en die Indus en Ganges in Suid-Asië bereik nie altyd die see gedurende die droë seisoen nie, wat boere laat swaarkry ... Daar is nie genoeg water beskikbaar om genoeg voedsel te produseer nie” (Los Angeles Times, 14 Augustus 2001).

Verhongering en besoedeling

Miljoene mense kan as gevolg hiervan verhonger. “Veertig van die wêreld se armste lande sal waarskynlik die vermoë om kos te produseer, verloor – ’n afname van tot 25 persent ... met 450 miljoen wangevoede mense” (Los Angeles Times, 11 Julie 2001).

Hoe hanteer mense dit? Verslaggewer, Craig Timberg, beskryf die tragiese keuses wat honger vlugtelinge in Soedan se geteisterde Darfoerstreek in die gesig staar: “Al hoe meer dikwels staar vroue in Darfoer die ontsettendste van keuses in die gesig: Loop die risiko om verkrag te word wanneer die [vlugteling-]kampe verlaat word op soek na vuurmaakhout en gras, of sterf van honger. Indien hulle hul broers of mans saamnooi om hulle te beskerm, sal die [burgermag] nog steeds die vroue verkrag, sê hulle, en die mans vermoor. ‘Dit is vir my beter om verkrag te word as vir my broer om doodgemaak te word,’ sê Eisa, sagmoedig en met ’n ronde gesig, haar hare in stywe vlegsels onder haar kopdoek. Sy het twee kinders van 2 en 5 jaar” (Washington Post, 17 September 2006).

Hou ook in gedagte dat die VSA nie immuun is teen die bedreiging van verhongering nie! “Droogte het bykans ’n derde van die Verenigde State verswelg en dreig om sommige plekke hierdie somer, volgens wat kundiges reken, te onderwerp aan wat hul ergste waterskaarste in jare kan wees. ‘Dit is ’n slapende reus,’ sê klimatoloog Mark Svoboda, by die Nasionale Droogtelenigingsentrum in Lincoln, Nebraska. ‘Die impak kom nog’”. Sedert die lente van 2002 het die stad New York se reservoirs tot 48 persent van hul kapasiteit gedaal en baie ander gemeenskappe regdeur die VSA het daardie somer tekorte en verpligte waterrantsoenering ondervind.

Dan kan die water wat ons wel het, ook nog giftig wees! “Drie dekades na die Wet op Skoon Water, glo ’n groeiende aantal omgewingswetenskaplikes dat tradisionele besorgdheid oor waterbesoedeling dalk nie as belangrik genoeg beskou word nie. Hulle sien ’n potensiële bedreiging in die alomteenwoordige gebruik en teenwoordigheid van chemikalieë wat met medisyne en die alledaagse lewe verband hou. Hierdie samestellings, van antibiotika tot kafeïen, word in die omgewing en watervoorraad in gewas – met onbekende gevolge” (San Diego Union-Tribune, 20 Maart 2002). Sommige gevolge is egter wel bekend. In Engeland, byvoorbeeld, word ’n skerp daling in menslike spermtellings gekoppel aan besoedeling in die Teemsrivier. In Duitsland, waar riool-afloop tot minstens die helfte van baie kleiner riviere uitmaak, het navorsers merkbare hoeveelhede stuipwerende, anti-inflammatoriese en ander soorte middels in die watervoorraad opgespoor. Navorsers in Kansas het spore van nonylfelnol in hul water gekry; hierdie algemene bestanddeel van seep word verbind met kanker, onvrugbaarheid en fisiese misvorming.

Hedendaagse landbou self verander die aard van ons watervoorraad ten slegste. “Landbou is die enkele, grootste bedreiging vir watergehalte in ons land vandag,” sê Charles Fox, wat van 1997 tot 2001 as mede-administrateur van die Amerikaanse Omgewingsbeskermingsagentskap gedien het. Een faktor is ’n verskynsel genaamd “hipoksie”, wat veroorsaak dat besoedelde water so sout word – ontdaan van bruikbare suurstof vir plante en dierelewe – dat dit die ekologie in baie gebiede beskadig. “Sedert 1960 het boere in die streek die hoeveelheid stikstof en ander chemikalieë wat hulle in hul landerye aanwend, verdriedubbel. Hoewel grondbewaring dramaties verbeter het gedurende daardie tydperk, loop duisende ton chemiese voedingstowwe steeds van daardie landerye af na die sytakke van die Mississippirivier en uiteindelik na die Golf van Mexiko. Elke somer aktiveer stikstof die onnatuurlike en oormatige groei van alge, wat verrot, afsak na die bodem en suurstof verbruik wat nodig is vir die onderhoud van die kuslewe” (Minneapolis Star Tribune, 17 September 2006).

Soms is die probleem so eenvoudig soos die mens se onoordeelkundige ontslaeraking van wat hy gebruik het. Chinese omgewingsbewustes berig dat hul nasie in 2005 meer as 52 miljard ton afloopwater in riviere en die oseaan gestort het – bykans die helfte daarvan heeltemal onbehandeld (China Daily, 27 September 2006).

Met skoon, vars water wat al hoe skaarser en kosbaarder raak, hoe lank voordat oorloë oor water sal uitbreek? Soos ’n redakteursbrief in die Midland Reporter-Telegram opmerk: “Die feit bly staan dat die wêreld op die rand van die beker is sover dit vars waterbronne aanbetref” (26 September 2006).

Die teistering van VIGS

VIGS – Verworwe Immuniteitgebreksindroom – haal nie meer die koerantopskrifte soos jare gelede nie, maar dit het nie weggegaan nie. Volgens een verslag van die Verenigde Nasies lewe ’n beraamde 46 miljoen mense van 2005 af met die MIV-virus. Slegs in daardie jaar is ’n beraamde 6,2 miljoen mense opnuut besmet met MIV en ’n geskatte 3,3 miljoen het hul lewens as gevolg van VIGS verloor” (“2006 Verslag oor die Wêreld VIGS-epidemie”, Mei 2006).

In ses Afrikalande is meer as een uit elke 20 volwassenes tussen die ouderdom 15 en 49 met die MIV-virus besmet. Botswana is die ergste getref met ’n 24,1 persent MIV voorkoms in hierdie groep. Dit verteenwoordig ’n afname van bykans 33 persent besmettingskoers teenoor 2001, maar ’n groot deel van hierdie afname was nie goeie nuus nie – dit weerspieël hoeveel gesterf het (ibid.).

In sy Morbidity and Mortality Weekly Report teken die Centres for Disease Control die somber mylpaal aan: “Vyf-en-twintig jaar van MIV/VIGS”. Die CDC berig dat meer as ’n miljoen mense in die VSA met die MIV-virus leef, waarvan 40 000 in 2006 besmet geraak het. Hiervan maak homoseksuele mans 45 persent van nuwe besmettings uit. Vroue maak ongeveer 25 persent van nuwe VIGS besmettings in die VSA uit en VIGS is tans die hoofoorsaak van dood onder swart vroue tussen die ouderdomme van 25 en 34” (2 Junie 2006).

VIGS gaan voort om ’n vernietigende uitwerking op die Amerikaanse ekonomie te hê. Navorsers by die Centres for Disease Control het bereken dat VIGS die Amerikaanse ekonomie ongeveer $36,4 miljard jaarliks kos aan regstreekse en onregstreekse koste (“The Economic Burden of HIV in the United States in the Era of Highly Active Antiretroviral Therapy,” Journal of Acquired Immune Deficiency Syndrome, September 2006).

VIGS is natuurlik geensins – of selfs hoofsaaklik – net ’n Amerikaanse of Afrikaprobleem nie. Oostelike Europa en die voormalige Sowjet-Unie het nou die snelgroeiendste MIV-besmettingskoerse in die wêreld, met die aantal MIV-positiewe mense in Rusland wat vyftienvoudig vermeerder het tussen 1998 en 2001, volgens ’n verslag van die Verenigde Nasies. Die hoogste besmettingskoers is in die Oekraïne gevind, waar minstens een persent van die bevolking met die virus besmet is.

Tussen 1981 en 2006 is meer as 25 miljoen mense aan VIGS dood – met inbegrip van 500 000 in die VSA – wat dit die vierde grootste oorsaak van dood wêreldwyd maak.

Die Bybel het hierdie tendense duidelik voorspel!

Jesus Christus het profeteer dat daar net voor Sy Wederkoms “hongersnood” – kosgebrek – en “pessiektes” – siekte-epidemies – sal wees. Tans sien ons net die begin van al hierdie vloeke, wat sal toeneem totdat dit ’n oorweldigende uitwerking op ons ganse leefwyse gaan hê! Christus het pertinent geprofeteer dat ons tyd soos Noag s’n sal wees (Mattheus 24:37-39). Die tyd waarin Noag geleef het was gekenmerk deur “boosheid” en gevul met “geweld” (Genesis 6:5, 13).

Is die probleem van misdaad in die VSA oorkom? Nee, glad nie! Die Buro vir Regstatistiek berig dat twee uit elke 1 000 mense in 2005 in die VSA slagoffers was van ’n geweldsmisdaad waarin ’n vuurwapen betrokke was – ’n 43 persent toename teenoor 2004. Daarbenewens was daar 2,6 inbrake per 1 000 – ’n styging teenoor die 2,1 in 2004. Dan Esserman, polisiehoof in Providence, Rhode Island, het onlangs ’n ontmoeting gehad met adjunk prokureur-generaal Paul McNulty en is meegedeel dat staatsfondse wat voorheen geoormerk was vir misdaadbestryding, nou gebruik gaan word om terrorisme te beveg. Esserman se reaksie: “Ek glo in binnelandse verdediging, maar ek glo ook in misdaadbestryding, ek wil nie die een agterweë laat ter wille van die ander nie. Elke jaar verloor ons 16 000 mense weens moord, meestal jongmense wat meestal met vuurwapens gedood word, en dit is drie keer meer mense as wat in die Wêreldhandelsentrum gesterf het” (The Star-Ledger, 11 September 2006). Kriminoloë waarsku dat die komende geslag “superplunderaars” kan word sonder enige bewustheid van wat reg en verkeerd is – omdat hulle nooit liefde, vertroeteling of positiewe dissipline ontvang het nie.

Terselfdertyd, tot die afsku van baie mense in die konserwatiewe, tradisionele gemeenskappe in ander dele van die wêreld, word Hollywood en sy nabootsers fantasties ryk deur morele verval te verhandel deur middel van gewelddadige, seksbelaaide video’s en CD’s. Só ’n korrupte invloed word toenemend gesien as ’n maatskaplike euwel wat voorkom behoort te word – tog aanvaar die jeug en al hoe meer volwassenes in die Westerse wêreld dit met oorgawe! In ’n artikel vir USA Today, berig Kim Painter op 15 Maart 2002 dat studies nou toon dat soveel as 21 persent seuns en 19 persent meisies sê dat hulle teen die ouderdom van 14 reeds seksuele omgang gehad het! Nie lank gelede nie het navorsers in Washington, DC ’n program ontwikkel om vroeë seksuele bedrywighede te voorkom. Hulle het dit ontwerp met Graad Sewes in gedagte, maar na ’n proeflopie het hulle besluit om eerder Graad Vyfs te teiken – te veel Graad Sewes was reeds seksueel aktief!

Tog is al hierdie probleme net die begin van die verhaal. Die wêreld staar steeds werklike grootskaalse kernwoekering in die gesig. Terwyl u dalk verheug is oor die ontbinding van die Sowjet-Unie, loop die enorme aantal wapens wat daardie nasie besit het – kernwapens ingesluit – nou die gevaar om aan die hoogste bieër verkoop te word!

Moslem-ekstremiste maak gereed vir oorlog!

Militante Islam smee honderde miljoene mense saam in teenstand teen die Westerse demokrasieë, veral nou waar die Amerikaanse weermag tot die uiterste ingespan is in die “oorlog teen terrorisme”. Ons moet verstaan dat die uiteindelike doel van radikale Moslemleiers is om die wêreld “te oorwin” in dié sin dat alle mense hetsy Moslems moet word, heeltemal onderwerp aan Moslemheerskappy, of uiteindelik uitgewis moet word!

Let op wat die geskiedkundige Bernard Lewis – ’n professor aan Princeton Universiteit wat wêreldbekend is as een van die top deskundiges oor Islam – aan ons sê oor die groeiende Moslembedreiging. In sy sterkbewoorde boek met die naam The Crisis of Islam, beskryf Lewis dat “’n beduidende aantal Moslems – merkbaar maar nie uitsluitlik dié waarna ons as fundamentaliste verwys nie – vyandig en gevaarlik is, nie omdat ons ’n vyand nodig het nie maar omdat hulle een nodig het”. Hy verduidelik: “In onlangse jare het ’n paar veranderings in die persepsie en gevolglik ook in taktiek onder die Moslems plaasgevind. Party van hulle sien die Weste steeds oor die algemeen, en sy huidige leier, in besonder die Verenigde State, as die eertydse en onversoenbare vyand van Islam, die een enorme struikelblok in die pad van die herstel van God se geloof en wet aan die tuisfront en hul uiteindelike universele triomf. Vir húlle is daar geen ander uitweg as oorlog tot die dood nie, ter vervulling van wat hulle as die gebooie van hul geloof beskou” (bl. 28).

Lewis gaan voort: “Vir die grootste deel van die veertien eeue van aangetekende Moslemgeskiedenis, word jihad meestal geïnterpreteer as ’n gewapende stryd ter verdediging of vooruitgang van die Moslemmag. Volgens Moslemtradisie word die wêreld in twee huise verdeel, naamlik die Huis van Islam (Dar al- Islam), waarin Moslemregerings regeer en Moslemwette van krag is, en die Huis van Oorlog (Dar al-Harb), die res van die wêreld, steeds bewoon, en nog belangriker, regeer deur ongelowiges. Die veronderstelling is dat die plig van jihad sal voortduur, om slegs onderbreek te word deur wapenstilstande, totdat die ganse wêreld óf die Moslemgeloof aanneem óf hulle aan Moslemregering onderwerp” (ibid., bl. 31).

Hoewel die VSA hard werk om ’n soort “demokrasie” in Irak af te dwing, erken Lewis en die meeste geloofwaardige geleerdes dat Islam die politieke en maatskaplike tradisies kortkom wat demokrasie sal laat floreer. Baie godsdienstige Moslems sien dié praktyk van demokrasie as ’n handeling om teen God te draai. Om dié rede is hulle dikwels gewelddadig daarteen gekant en sal tot die dood toe veg om die voortgesette beoefening van enige soort ware demokrasie te stuit, hoewel hulle “demokrasie” – die handeling om te stem – vir ’n kort rukkie mag gebruik as dit hulle sal help om die huidige bedeling omver te werp en in sy plek ’n Islamitiese republiek daar te stel wat dan heeltemal ondemokraties en diktatoriaal sal word!

Lewis lewer verder kommentaar oor hierdie algemene probleem van baie Moslemnasies: “Soortgelyke probleme kom na vore in Egipte, Pakistan en sommige ander Moslemlande waar dit waarskynlik voorkom dat ’n ware vry en regverdige verkiesing sal lei tot ’n Islamitiese oorwinning. Hierin het die demokrate natuurlik ’n nadeel. Hul ideologie vereis van hulle, selfs wanneer hulle aan bewind is, om vryheid en regte toe te ken aan die Islamitiese opposisie. Die Islamiete staan onder geen sodanige verpligting wanneer hulle aan bewind is nie. Daarenteen vereis hul beginsels van hulle om alles te onderdruk wat hulle as goddeloos en opruiende aktiwiteite beskou. Vir Islamiete is demokrasie, wat uitdrukking gee aan die wil van die mense, die pad na mag, maar dit is ’n eenrigtingpad, waarop daar geen omdraaikans is nie, geen verwerping van die soewereiniteit van God nie, soos beoefen deur Sy verkose verteenwoordigers, [die Islamitiese godsdiensleiers]” (ibid., bl. 111).

Die Bybel profeteer dat ’n komende “koning van die Suide” in botsing sal kom met ’n opkomende Europese ryk, wat aardskuddende eindtydgebeure sal uitlok. Indien u meer wil verstaan oor hierdie profesieë, skryf asseblief vir u gratis eksemplaar van ons insiggewende boekie, Die Midde-Ooste in Profesie. Dan sal u sien hoe militante Islam gereed maak vir die dramatiese vervulling van Bybelprofesie. U kan dan begin verstaan hoe toenemende tientalle miljoene Moslems deur die groeiende mag van militante Islam oorgehaal word! Dan sal u selfs meer begin verstaan hoe om te “waak en te bid” – soos Jesus aan ons gesê het om te doen! ’n Onlangse berig in die Washington Post gee verdere insig in die situasie in die Midde-Ooste:

“Die doelwit om Moslems onder een vlag te herenig lê aan die hart van die radikale Islamitiese ideologie waarteen Bush herhaaldelik gewaarsku het in onlangse belangrike toesprake oor terrorisme. In taal wat die Koue Oorlog in herinnering roep, het Bush die konflik in Irak uitgesonder as die vernaamste strydgebied in ’n groter wedywering tussen voorstanders van vryheid en diegene wat poog om “’n totalitêre Islamitiese ryk daar te stel wat strek vanaf Spanje tot by Indonesië”.

Die ekstremiste se entoesiasme vir daardie visie word nie betwis nie. Hoe onwaarskynlik die verwesenliking daarvan ook al mag wees, kan hierdie ambisie terroriste-optrede wat dikwels die verstand te bowe gaan help verduidelik. Toe Osama bin Laden die aanvalle van 11 September op die Wêreldhandelsentrum en Pentagon ‘baie klein in vergelyking met hierdie vernedering en minagting vir meer as 80 jaar’ genoem het, het hy verwys na die nadraai van die Eerste Wêreldoorlog, toe die laaste kalifaat ontbind en Europese magte die Midde-Ooste verdeel het. Al Qaeda noem sy Internetnuusuitsending, wat in September die eerste keer uitgesaai is: ‘Die Stem van die Kalifaat.’

Die kalifaat word ook hoog geag deur baie gewone Moslems. Vir die meeste van hulle is die herlewing daarvan nie ’n belangrike saak nie. Openbare meningspeilings toon dat onmiddellike vraagstukke, soos die Israeli-Palestynse konflik en diskriminasie, as meer dringend beskou word. Moslems beskou hulself egter as lede van die umma, of gemeenskap van die gelowiges, wat die hart van Islam uitmaak. Soos dit duidelik blyk uit onderhoude, word die kalifaat as aardse hoof van daardie gemeenskap, met toegeneentheid bejeen, beide as nagedagtenis [aan die verlede] en as ideaal [vir die toekoms].

Daardie bron van respek hou ’n risiko in vir die Bush-administrasie, aangesien dit ’n vraagstuk aanspreek wat fyn dopgehou word deur ’n wêreldwye Islamitiese bevolking, geraam op 1,2 miljard mense. Baie opnames toon reeds dat Moslems sedert die Amerikaansgeleide invalle in Afganistan en Irak, die oorlog teen terrorisme bykans universeel sien as ’n oorlog teen Islam.
‘Waarom hou julle aan om Moslemlande in te val?’ vra Kerem Acar, ’n kleremaker in sentraal Istanboel. ‘Ek sal nie leef om dit te sien nie, en my kinders ook nie, maar miskien, eendag, sal my kinders se kinders sien hoe iemand homself die kalief verklaar, soos die pous, en ’n impak maak’ (14 Januarie 2006).


Inderdaad, ’n toekomstige “Mahdi” wie se koms deur Moslems verwag word – in Bybelprofesie staan hy bekend as die “koning van die suide” (Daniël 11:40-45) – sal binnekort op die toneel verskyn en ’n dramatiese impak hê op wêreldgebeure. Hierdie sterk Moslem godsdiensleier sal baie van die meer as een miljard Moslems verenig. Hy sal ’n ernstige bedreiging inhou vir die toekomstige Europese Ryk, wat daardie bedreiging sal moet vernietig ten einde te kan voortgaan om Midde-Oosterse olie te gebruik om sy militêre ambisies te bevorder.

Ons het waarlik nodig om ernstig te erken dat die wêreld inderdaad in ’n staat van oorlog verkeer. Moontlik onwetend, het die Amerikaanse President George W. Bush veroorsaak dat dit voorkom asof sy nasie die ganse “Moslemnasie” – soos hulle na hulself verwys – wat uit meer as een miljard mense bestaan, “aanval!”

Tussen al die toenemende militêre bedrywighede deur, word dit skaars raakgesien dat die VSA sy dekades-lange “twee front” strategie versaak het, ’n strategie waarin die nasie homself gereed gehou het om, byvoorbeeld, ’n oorlog in die Middellandse See en terselfdertyd ’n ander oorlog in die Stille Oseaan te veg. Hierdie verandering van strategie kan in die nabye toekoms groot gevaar voorspel, namate die VSA al hoe meer vyande maak.

Moet ook nie vergeet dat dit ’n opkomende Europa is – en nie ’n verswakte Amerika nie – wat aan die voorpunt van die geveg teen uitbreidende Islam sal staan. Die nasies van Europa, wat sedert Januarie 2002 deur ’n gemeenskaplike geldeenheid, die euro, verenig is, is al hoe gretiger om wêreldwyd in te gryp waar hulle glo die VSA misluk, hetsy in die “oorlog teen terrorisme” of in die Midde-Ooste.

Wanneer al hierdie tendense saamvloei, beskryf dit ’n visioen van die toekoms wat baie skrikwekkend klink! Wat is aan die gang? Vir diegene wat studeer, wyd reis en die ingewikkeldheid van hierdie vraagstukke verstaan, is dit duidelik dat ons in “gevaarlike tye” leef. Wêreldgebeure neem gestalte aan soos dit in Bybelprofesie beskryf word! Die winde van verandering waai, maar moontlik nie op die wyse wat baie mense gedink het nie.

En hulle was verstrooi!

God het nie nodig om die weerkanaal dop te hou nie. Hy besluit of môre mooi weer sal wees al dan nie. Jesus Christus sê God “laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Mattheus 5:45). Van tyd tot tyd weerhou God reën of stuur Hy te veel om vir mense lesse te leer!

In sy sendbrief beskryf Jakobus hoe die profeet Elia “ernstig gebid [het] dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit” (Jakobus 5:17-18).

God het dus die mag om die grond water te gee of om dit uit te droog. Dieselfde geld vir die wind, koue, orkane en wolke. Hy gebruik hierdie mag ook soms om in mensesake in te gryp: “Deur die oostewind verbreek U die skepe van Tarsis” (Psalm 48:8).

Verskeie van die groot keerpunte in die geskiedenis vir die Engelssprekende volke is bepaal deur God se ingryping in die weer gedurende veldslae. Hierdie suksesvolle ingrypings het die godsdiensvryheid, voorspoed en mag wat die Anglo-Saksies-Keltiese magte van die Verenigde State, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en die Verenigde Koninkryk geniet het, moontlik gemaak.

In 1586-87 is Katolieke oorheersing van die Engelse troon gefnuik deur die teregstelling van Mary, koningin van die Skotte. Die volgende jaar het Spanje se koning Philip II sy “onoorwinlike” Armada van 124 skepe teen Engeland losgelaat in ’n poging om weer Katolieke beheer te vestig. Hoewel die Engelse vlootmagte baie hard geveg het, het hul buskruit uiteindelik opgeraak! Op daardie kritieke tydstip het ’n ongekende stormsterk wind opgekom en baie van die goedbewapende, lompe Spaanse galjoene na hul ondergang gestuur. Die erg beskadigde skepe wat mank na Spanje teruggevaar het, was so deur die storm beskadig dat baie van hulle nooit weer gebruik kon word nie.

Koningin Elizabeth het ter herdenking aan die Spaanse nederlaag ’n silwer medalje uitgereik waarop gegraveer is: “God het geblaas en hulle is verstrooi”. Sy het geweet wie beheer oor daardie winde uitgeoefen het op daardie kritieke tydstip in die geskiedenis van haar mense!

’n Wonderbaarlike ontvlugting

In 1940 het Hitler se magte Frankryk en die laagliggende lande vinnig ingeneem. Hulle het 330 000 bobaas Britse troepe afgesny en hulle gedwing om na die hawe van Dunkirk terug te val met hul rûe teen die Engelse Kanaal. Indien die Britte hierdie leër verloor het, sou hulle beswaarlik kon hoop om die Nazi-hordes wat hulle wou oorval, te verslaan. Die boodskap het oor die hele Brittanje uitgegaan: “Winnie [Churchill] het bote nodig”.

Hoewel die Engelse Kanaal gewoonlik onstuimig en gevaarlik is, is honderde skepe, jagte en klein bootjies – enigiets wat kon dryf – gestuur om ten minste ’n gedeelte van die leër te red. Die situasie het egter somber gelyk. Toe, verbasend genoeg, het slegte weer op die vasteland die grootste deel van die Duitse lugmag op die grond gestrand. Maar in stede daarvan dat die kanaal rof en veranderlik was soos gewoonlik – gevaarlik vir klein vaartuie – het dit amper so kalm soos badwater geword! Manne en vroue wat hul lewens lank aan sy oewers gewoon het, het die kanaal nog nooit so kalm gesien nie. Winnie se mengelmoes-armada van wrakhout en uitskot het bykans 330 000 Britse troepe – die ruggraat van hul ganse leërmag – gered! Hitler was stomgeslaan. Die Nazi-generaals het erg binnensmonds gemompel omdat hulle ’n maklike prooi deur hul vingers laat glip het. Die Britte was diep dankbaar en het dit die “wonderwerk van die kalm seë” genoem.

Ek het vier jaar van my volwasse lewe in Brittanje deurgebring en het met verskeie ouer mans gepraat wat persoonlik vertroud was met die Dunkirk-reddingsoperasie. Hulle het almal ’n glinstering of traan in die oog gekry wanneer hulle daaroor gepraat het. Hulle almal het die diepe dankbaarheid van die Britse volk teenoor God onthou na hierdie gebeurtenis. Sondag, 9 Junie 1940, was as ’n Dag van Nasionale Danksegging verklaar vir God se redding by Dunkirk en baie Engelse predikante sal ’n mens vertel dat hul kerke op daardie dag volgepak was soos nog nooit weer sedertdien nie.

Die vorige dag, 8 Junie, het London se Daily Telegraph ’n berig geplaas wat gelui het: “Die wonderbaarlike redding” by Dunkirk. ’n Britse offisier wat self uit Dunkirk gered was, het gesê: “Een ding is seker oor môre se Danksegging in ons kerke. Van niemand sal die dank met groter opregtheid en groter vurigheid opgaan nie, as van die offisiere en manskappe wat gesien het hoe die Hand van God, magtig om te red, hulle verlos het uit die hande van ’n magtige vyand wat, menslik gesproke, hulle heeltemal in sy mag gehad het”.

Ja, God beheer die lotsbestemming van nasies – en individue – deur selfs die weer vir Sy doeleindes te laat verander. Vir meer oor hierdie wonderlike teken van God se ingryping om Sy profetiese doeleindes te bereik, skryf gerus vir u gratis eksemplaar van ons insiggewende boekie, Wie beheer die weer?

Hitler se duiwel

Om Sy wil onder mense uitgevoer te kry, gebruik God Sy geheime, onsigbare agente – regverdige engele (en soms selfs gevalle engele) – om te beïnvloed, te red of te vernietig.

Die Bybel onthul ’n fassinerende insig in die werkinge van die geesteswêreld in 1 Konings 22. Die geïnspireerde skrywer beskryf ’n verhaal van ’n konferensie wat voor die Here plaasgevind het. Dit blyk dat God reeds besluit het om een van die boosste konings in die geskiedenis van Israel, koning Agab, te elimineer. Die vraag was, hoe om dit te doen? God het besluit op ’n plan om Agab aan te moedig om persoonlik deel te neem aan ’n opkomende stryd teen die Arameërs by Ramot in Gilead. God het egter iemand nodig gehad om Agab aan te por om te gaan veg. In hierdie geval het ’n bose gees gepraat en aangebied om die werk te doen: “En die Here vra hom [die bose gees]: Waarmee? En hy sê: Ek sal uitgaan en ’n leuengees word in die mond van al sy [Agab se] profete” (vers 22).

Op die dag van die stryd het God reeds geweet dat die Aramese leër sterker was en inderdaad die Israeliete sou oorwin. Hoewel Agab sy rang vermom het ten einde nie ’n teiken te wees nie, is hy gedurende die stryd om die lewe gebring deur ’n “gelukkige” pyl wat tussen die skakels van sy wapenrusting deurgedring het (verse 34-37). Dit was omdat God bepaal het dat hierdie bose koning nóg sou agterbly weg van gevaar af, nóg lewend uit die stryd sou tree, maar sou sterf saam met baie van sy verslane troepe.

Toe Adolf Hitler aan bewind gekom het, het die bekende Duitse Luthersgesinde predikant, Martin Niemoller, met insig verklaar: “Voorwaar, ’n tyd van uitsifting het oor ons gekom. God gee aan Satan ’n vry hand, sodat Hy ons kan wakker skud en sodat gesien kan word watter soort mense ons is”.

God het klaarblyklik spesifiek toegelaat dat demone die Nazi-diktator oorneem of sterk beïnvloed. Britse skrywer George Bruce het geskryf: “Kan die raaisel van die boosheid van Naziïsme verduidelik word? Was daar ’n Sataniese beginsel teenwoordig? Een vertolking van die aard daarvan wat genoem behoort te word, is die skakel tussen Naziïsme en die beweerde verknogtheid aan swart towerkuns en okkultisme van Hitler en sy binnekring, insluitend Goering, Himmler, Goebbels, Ley en in die vroeë dae Dietrich Eckart en professor Karl Haushofer.

“Wat vir baie mense ’n verregaande aanname blyk te wees, was Hitler die medium waardeur kontak gemaak was met bonatuurlike bose magte. Hermann Rauschning, wat Hitler met ’n koue, analitiese oog dopgehou het, verklaar dat hy ’n medium was “besete deur magte buite homself – amper demoniese magte”. Rudolf Olden, politieke redakteur van die koerant Berliner Tageblatt in die dae van Naziïsme se opkoms tot mag, merk op hoe die oorweldigende, bykans bonatuurlike stortvloed van woorde wat gedurende Hitler se toesprake geuiter is, soms ’n klimaks bereik het waar hy letterlik “in tale gespreek het” en besete voorgekom het. André François-Poncet, Franse Ambassadeur in Berlyn, het ook na hierdie klaarblyklik demoniese besetenheid verwys” (The Nazis, Hamlyn, 1974, bl. 154).

Nadat hy ’n aantal ander waarnemers aangehaal het wat gevoel het dat Hitler duistere geestelike hulp gehad het, spekuleer George Bruce: “En werp hierdie teorie dat Hitler deur bose bonatuurlike magte beheer was nie vir die eerste keer lig op die rede vir Auschwitz, Treblinka, die dood van ses miljoen Jode, die plan om 33 miljoen van die Slawiese bevolking in Rusland te vermoor, die bereidwilligheid om drie tot vier miljoen van Duitsland se jong mans in oorlog op te offer en laastens, die langtermyn doelwit, soos berig deur Fabian von Schlabrendorff, die algehele en permanente uitwissing van Christendom regdeur die wêreld nie?” (ibid. bl. 156).

Hitler se Europa was ’n ligte voorloper van wat God se geïnspireerde Woord profeteer aangaande die toekomstige herlewing van ’n satan-geïnspireerde “Babiloniese-Romeinse stelsel”: “Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls” (Openbaring 18:2).

Dit is ’n sombere gedagte om te besef dat van die belangrikste spelers op die wêreldtoneel wat ons lotsbestemming vorm, nie gesien kan word nie. Hulle is engele of demone! Ons moet baie meer bedag wees op die werklike geestelike wêreld om ons en ons moet absoluut seker maak dat ons gelei word deur die Gees van God!

Hoe weet God vooruit wat gaan gebeur?

Hoe weet God wat in die toekoms gaan plaasvind? Hoe kan Hy honderde of selfs duisende jare vooruit oor die een of ander gebeurtenis profeteer? Van die begin af was God ’n skerp en opmerksame waarnemer van menslike gedrag. Hy weet werklik hoe ons mense is (Jeremia 17:4-10). God verstaan ten volle hoe mense neig om te verval, toe te gee en die regte pad byster te raak.

Net nadat God vir Moses die besonderhede van sy Wet vir antieke Israel gegee het, sê Hy vir hom: “Kyk, jy ontslaap met jou vaders, en hierdie volk sal opstaan, en hulle sal die vreemde gode van die land waarheen hulle gaan, in sy midde agternahoereer en My verlaat en my verbond verbreek wat Ek met hulle gemaak het. Dan sal my toorn op dié dag teen hulle ontvlam, en Ek sal hulle verlaat en my aangesig vir hulle verberg, sodat hulle verteer word en baie onheile en node hulle oorkom. Dan sal hulle op dié dag sê: Het hierdie onheile ons nie oorgekom, omdat onse God nie onder ons is nie?” (Deuteronomium 31:16-17).

Aangesien God so ’n grondige kennis en insig aangaande ons het, kan Hy met gesag voorspel wat die basiese omstandighede van volke en nasies in die toekoms gaan wees. Deur die bepalende faktore van nasionale mag – soos die weer, menslike leierskap en ander faktore – vernuftig te manipuleer, kan God spesifieke profesieë, dikwels verstommend tot in die fynste besonderhede, vervul.

’n Voorbeeld van hierdie goddelike ingryping is die merkwaardige verhaal van Kores, die Grote, koning van die Persiese Ryk. Dit is verbasend hoe God die profeet Jesaja geïnspireer het om Kores by naam en deur dade te beskryf bykans twee eeue voor Kores se geboorte!

Ongeveer 740-720 v.C. skryf Jesaja onder goddelike inspirasie: “Wat van Kores sê: Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word. So sê die HERE aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings losgord; om voor hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie” (Jesaja 44:28; 45:1).

Vandag sê verskeie geleerdes dat hierdie teksverse in die boek Jesaja gelyktydig met die gebeure geskryf moes gewees het. Hulle ontken dat Jesaja ’n profesie geskryf het 200 jaar voor die vervulling daarvan. Op watter gronde ontken hulle dit? Hulle het nie die feite om hul stelling te bewys nie – net ’n gebrek aan geloof dat God die Almagtige is wat waarlik in mensesake ingryp!

Kyk na wat geskiedkundiges weet van die gebeure wat plaasgevind het rondom 539 v.C. toe Kores Babilon, ’n ‘ondeurdringbare’ stad-fort wat regdeur die wêreld bekend was vir haar mag, verower het. Kores se manskappe, wat nie in staat was om oor die massiewe versterkte mure, wat so baie ander invallers weerstaan het, te klim nie, het die Eufraatrivier, wat gewoonlik onder die stad se swaar waterpoorte deurgevloei het, se loop herlei. Deur die riviervlak te verlaag en nadat ’n spioen die binnehekke met die rivier langs oopgesluit het, het Kores se leër die stad op heel onverwagte wyse ingeval en die Babiloniërs heeltemal onverhoeds betrap.

Was God verras? Nee. Hy het bykans 200 jaar tevore beskryf hoe ’n leier wat spesifiek “Kores” sou heet, groot konings sou oorwin deur “deure” oop te maak!

Kort hierna het Kores ’n bevel uitgereik waarin die Jode toegelaat word om vrywillig na hul tuisland en Jerusalem terug te keer en – in nog ’n merkwaardige vervulling van profesie – is hulle bevel gegee om die Tempel te herbou (Esra 1:2-4; 6:2-5).

Wat doen God?

Godsdienstige mense vra hulself af: “Wat het die Skeppergod in gedagte?” Tog wissel belangstelling in godsdiens na gelang van wat in die wêreld gebeur. “Na 11 September was godsdiens ter sprake op ’n wyse wat vir lank nie die geval was nie en vir lank in die toekoms nie die geval sal wees nie,” sê Andrew Kohut, direkteur van die Pew Navorsingsentrum vir die Volk en die Pers. Na die terroriste-aanvalle van 11 September, het party sekulêre skrywers gesê dat godsdiens in die algemeen die probleem was, maar Kohut se sentrum het bevind dat die Amerikaanse nasie ’n ander mening huldig. “Met ’n verhouding van 2 teen 1, het mense gesê die September terroriste-aanvalle was die gevolg van te min godsdiens in die wêreld, eerder as te veel,” volgens die Pew-opname (San Diego Union-Tribune, 22 Maart 2002). Daardie opname toon ook dat 52 persent van die Amerikaners dink dat godsdiens se invloed reeds afneem, net ses maande na ’n oplewing in belangstelling in September 2001. Tog ag die meeste Amerikaners godsdiens steeds belangrik; 83 persent van diegene wat in September 2006 aan die Gallup-opname deelgeneem het, noem godsdiens hetsy “baie belangrik” of “redelik belangrik” in hul lewens. Net 16 persent het gesê godsdiens is “nie baie belangrik nie”.

Ondanks sekulêre skeptisisme, kan ons algehele begrip vind oor die beslissende toekomstige “gevaarlike tye” in ’n boek waaroor baie mense sentimenteel mag voel, maar eintlik baie min oor weet. Hierdie boek is die Bybel. Dit praat met gesag oor die toekoms van ons nasies. Dit onthul profesieë oor ontsagwekkende gebeure wat die ganse mensdom sal oorval.

Hoewel min mense in die moderne wêreld dit besef, was Jesus Christus van die Bybel die grootste voorspeller van toekomstige gebeure wat ooit geleef het. Die boek Openbaring, wat ook as die Apokalips bekend staan, beskryf wat Jesus Christus regstreeks onthul het.

Let op die eerste vers van hierdie opwindende en betekenisvolle boek: “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het” (Openbaring 1:1).

Hierdie profesieë word egter nie net in Openbaring gegee nie. Dit is ook deur Jesus Christus self uitgespreek toe Hy nog op die aarde was. Die hoofstukke van Mattheus 24, Markus 13 en Lukas 21 is in geheel aan Jesus se bekende Olyfbergprofesie gewy – ’n noodsaaklike profesie wat die opvolging van gebeure beskryf wat direk gaan lei tot die einde van die beskawing soos ons dit vandag ken en wat gaan lei tot die begin van ’n tydperk wat baie anders sal wees.

Die bespreking begin toe Jesus se dissipels Hom vra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” – hierdie era van die mens se heerskappy (Mattheus 24:3). Nadat Jesus ’n reeks toestande opgenoem het, met inbegrip van die voorkoms van vals profete, plaaslike en wêreldoorloë, hongersnode, siekte-epidemies en aardbewings, beskryf Hy ’n “Groot Verdrukking” op die aarde – “soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (vers 21).

Die ergste tyd wat nog ooit die aarde getref het? Tragies, ja. Die Jesus Christus van u Bybel het dit in onmiskenbare terme beskryf. Die evangelie volgens Markus gee Jesus se stelling soos volg weer: “Want daardie dae sal daar ’n verdrukking wees soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe, en ook nooit sal wees nie” (Markus 13:19).

Skreiende armoede, droogte en hongersnood, verwoestende siekte-epidemies en uiteindelik wêreldwye geweld sal die uitwissing van alle biologiese lewe bedreig – dit alles word baie duidelik in die Bybel voorspel om plaas te vind naby die einde van hierdie menslike samelewing.

Is dit dan werklik die einde van alles?

Jesus sê onomwonde: “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered [lewend gelaat] word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheus 24:22). Daardie dae sal verkort word “ter wille van die uitverkorenes” – ter wille van die ware Christene wat God opreg dien en gehoorsaam.

Voor God se genadige ingryping, sal Hy egter toelaat dat die Westerse wêreld ’n tyd van ongeëwenaarde nasionale smart ervaar, wat in Bybelse terme die “Groot Verdrukking” genoem word. Dit sal ’n tyd van nasionale straf wees wat die VSA, Kanada, Brittanje, Australië, Nieu-Seeland en die meeste van die nasies van noordwes Europa sal raak.

Waarom die Groot Verdrukking?

Die Almagtige God is die Een wat nasies aan bewind laat kom en tot ’n val bring. Hy is die Een wat – duisende jare gelede – die eerskomende vorming van ’n finale Europese ryk of “Verenigde State van Europa” voorspel het, wat Hy sal gebruik om Amerika, Brittanje, Kanada en die ander nasies wat pas genoem is, te straf!

In Jesaja 47:1 praat God van ’n jonkvrou, dogter van antieke Babilon. Hy beskryf haar toekomstige straf: “Sit doodstil, en gaan in die duisternis, dogter van die Chaldeërs! want jy sal nie langer genoem word gebiedster van die koninkryke nie. Ek was toornig op my volk, Ek het my erfdeel ontheilig en hulle in jou hand oorgegee: jy het hulle geen barmhartigheid bewys nie, op die grysaard het jy jou juk baie swaar laat druk” (verse 5-6).

Let daarop dat God van “My volk” en “My erfdeel” praat. Onthou dat die Huis van Israel “My erfdeel” genoem word en God noem hulle herhaaldelik “My volk” of “My huis” of “My erfdeel” in die Ou Testament (Jesaja 19:25; Jeremia 12:7-9).

Onthou ook dat dit die antieke Assiriërs was wat die Tien Stamme van noordelike Israel binnegeval en oorwin het.

Hierdie profesie beeld egter ’n dogter uit – ’n politieke, ekonomiese en godsdiensstelsel in die gees van antieke Babilon – wat in hedendaagse tye na vore sal kom en ’n “juk” op die fisiese afstammelinge van God se volk, Israel, sal plaas.

Let daarop dat sy die “Gebiedster van die koninkryke” heet en dat sy sê: “Dit is ek en niemand anders nie! Ek sal nie as weduwee sit of kinderloosheid ken nie” (Jesaja 47:8). Om te verstaan wie hierdie dogter van Babilon is, moet ons nie feilbare menslike redenasie gebruik nie, maar eerder die Bybel toelaat om homself te verklaar. In Openbaring 17 vind ons dat dieselfde vals stelsel volmaak beskryf word.

Die Bybel gebruik simbole om geestelike begrippe te verduidelik. Openbaring 17 vertel simbolies van ’n groot hoer, geklee in purper en skarlaken, wat “wandelgang-politiek” beoefen en “in die bed spring” met die wêreldlike leiers van hierdie geprofeteerde ekonomiese en polities-militêre mag (vers 18). Hierdie skarlaken vrou verteenwoordig ’n vals godsdiensstelsel wat genoem word: “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (vers 5). Die “waters” waaroor sy heers is “volke en menigtes en nasies en tale” (vers 15). Dit beskryf duidelik ’n soort veeltalige federasie of ryk. Waarlik, soos Jesaja geprofeteer het, sy is die “gebiedster van die koninkryke”.

Vergelyk ook Jesaja 47:7-8 met Openbaring 18:7, wat sê: “Omdat sy in haar hart sê: Ek sit as koningin [beskik oor mag] en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie”.

Die apostel Johannes skryf dat daar in die eindtyd, wanneer hierdie profesie verstaan sal word, “sewe konings [is]: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly” (Openbaring 17:10).

Ernstige studente van profesie besef dat die opvolging van vyf konings verwys na die “Heilige Romeinse Ryk” wat, onder vyf verskillende “koninkryke”, Sentraal Europa en die Middellandse See-gebied vir meer as 1 000 jaar oorheers het, van die vroegste tye tot die vroeë 19de eeu. Deur haarself herhaaldelik te kon verander en herskep, het hierdie politieke stelsel so taai soos enige hardnekkige onkruid geword. Van die bekendste hoofde was, in chronologiese volgorde: Justinianus, Karel die Grote, Otto die Grote, Karel van Habsburg en Napoleon.

Johannes skryf ook van ’n sesde koninkryk – “een is” – wat sou regeer wanneer hierdie profesie in die eindtyd verstaan sou word. Daardie koninkryk was die herlewing wat uitgeloop het op die Hitler-Mussolini “spilpunt” van Italië en Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog.

Nou, namate ons kan sien hoe eindtydse gebeure saamloop, weet ons dat een laaste koning “nog nie gekom het nie”. Daardie leier “wag sy kans af” om op die wêreldtoneel te verskyn – binne die leeftyd van baie van u wat hierdie boekie lees.

Maak die Bybel melding van die VSA en die Verenigde Koninkryk?

Abraham was beloof dat sy afstammelinge soos die sand aan die seestrand sou wees (Genesis 22:16-17). Hierdie belofte is oorgedra aan sy kleinseun, Jakob. God het Jakob se naam na Israel verander en aan hom vertel dat sy nageslag “’n nasie, ja, ’n menigte van nasies” sou insluit (Genesis 35:10-12). Toe hy oud was, het Jakob hierdie groot beloftes aan sy kleinseuns, Efraim en Manasse oorgedra (Genesis 48:15-20). Hierdie beloftes was nie net om die “hoofnasie” in die Midde-Ooste te wees nie. Die afstammelinge van Israel sou “bo al die nasies” wees (Deuteronomium 26:19).

Waar en wanneer het God hierdie beloftes vervul? Die koninkryke van Dawid en Salomo was groot, maar het hulle aan hierdie beskrywing voldoen? Nee! Hoewel Salomo se koninkryk moontlik die rykste in sy tyd was, was dit ’n enkele nasie, nie ’n “nasie [en] ’n menigte van nasies” nie. Verder was die grootte en bevolking daarvan baie klein in vergelyking met die Chinese ryk van daardie tyd. Sedert Salomo kon geen nasie met Jerusalem as sy hoofstad daarop aanspraak maak om “bo al die nasies” te wees nie. Het God hierdie vele beloftes met die verloop van baie jare vergeet?

Beslis nie! Die antwoord word gevind in 1 Konings 12 en 2 Konings 17, 24 en 25. Na die dood van koning Salomo, het Israel en Juda afsonderlike nasies geword en hulle is tot vandag nog steeds afsonderlik! Israel was deur Assirië ingeneem en toe was Juda deur Babilonië oorwin, meer as 100 jaar later. Albei is gedeporteer, maar slegs ’n gedeelte van die volk van Juda het teruggekeer!

Dit is ’n boeiende verhaal, te lank om in hierdie boekie te vertel, maar die feite staan vas. Die hedendaagse nasie wat homself “Israel” noem, is in der waarheid die afstammelinge van die antieke koninkryk Juda – die Jode. Die antieke koninkryk van Israel het sy identiteit verloor en is nou “soos die sand aan die seestrand” – die VSA, Brittanje, Australië, Kanada en groot dele van noordwes Europa. Die Bybelse en geskiedkundige bewyse is daar, hoewel baie verkies om dit te ignoreer. Ons is tesame die fisiese afstammelinge van die Bybelse patriarg, Israel. Die Almagtige sal ons tugtig en kasty vir ons toenemende sondes, soos Hy elke seun wat Hy liefhet, kasty (Hebreërs 12:6).

Indien u die volle waarheid wil weet oor hierdie noodsaaklike onderwerp, skryf asseblief vir ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? Indien u wil weet wie u is – indien u die oorsprong en profetiese identiteit wil vasstel van die Britse afstammelinge van Amerika, Brittanje, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en noordwes Europa – skryf dan aan die streekkantoor naaste aan u (soos genoem agterin hierdie boekie) vir u gratis eksemplaar van hierdie boeiende en insiggewende boekie.

Die finale ryk wat deur mense uitgedink is

Die mees onlangse herlewing van die Romeins-Babiloniese stelsel word beskou as heersend toe die profesie vir die eerste keer deur Herbert W. Armstrong in die laat 1930’s verstaan is. Dit was die Mussolini-Hitler spilmoondheidblok. Mussolini het erken dat hy gepoog het om die stelsel van die Romeinse Ryk te laat herleef.

In Openbaring 17:10-12 sien ons dat een laaste kop ná die sesde kop tot stand moet kom – een herlewing van hierdie stelsel moet dus nog plaasvind! Let daarop dat die tien horings wat op die oorspronklike dier uitgebeeld word, tien konings – of diktators –is! Hulle het nog nie ’n koninkryk (mag) ontvang nie, maar ontvang mag vir een uur as konings saam met die dier. Hier vind ons dat tien konings of diktators gelyktydig na vore sal tree en sal verenig deur hul steun aan ’n charismatiese leier – na wie in die Bybel as “die Dier” verwys – toe te sê. Waar sal hierdie finale herlewing van die Heilige Romeinse Ryk wees? Wie sal hierdie konings en nasies wees?

Die antwoorde is voor die hand liggend! Hierdie ryk, wat kerk en staat verenig, het homself herhaaldelik in Sentraal Europa en in lande wat aan die Middellandse See grens, laat herleef. Hierdie is dieselfde mag bestaande uit kerk en staat wat God regdeur Openbaring 17 en 18 veroordeel.

Dit is op die Europese vasteland waar hierdie stelsel weer sal herrys! Hierdie stelsel sal die gestalte van ’n “Verenigde State van Europa” – ’n Europese Ryk – aanneem, wat ongetwyfeld nie deur ’n demokraties-gesinde Brittanje oorheers sal word nie, maar wel deur ’n regeringstelsel wat mag konsolideer in die hande van ’n paar sleutelfigure in Europa en wat ’n amptelike verbintenis met ’n magtige godsdienstige invloed het!

Let ook op dat hierdie stelsel in Openbaring 17:14 uiteindelik aan sy einde kom deur oorlog te voer teen die Lam – Jesus Christus – ten tye van Sy Wederkoms as Koning van konings. Dit is binnekort tyd vir hierdie mylpale, soos die profesieë in Mattheus 24 aandui.

Profesie is tweeledig. God het Assirië van ouds gebruik om die Tien Stamme van noordelike Israel meer as 100 jaar voor die huis van Juda deur Babilon gevange geneem is, te straf (2 Konings 17:6; 25:21).

In hierdie eindtyd sal God egter die hedendaagse afstammelinge van antieke Assirië, tesame met die geprofeteerde moderne herlewing van die Babilonies/Heilige Romeinse Ryk stelsel gebruik om sy afvallige, sondige mense te straf, hoofsaaklik Kanada, Brittanje en Amerika. Hierdie hedendaagse afstammelinge van die patriarg Israel sal vir hul sondes gestraf word, so seker as wat hul voorvaders gestraf was. Die Jode, asook die ander oorblywende stamme van Israel en die heidene wat tussen hulle leef, sal terselfdertyd ook hulle deel van die straf ontvang.

Kom ek stel dit baie duidelik en eenvoudig. In die jare wat nou binnekort voorlê, sal u nuusberigte lees en hoor van die verval van die nasies van Engelse afkoms! Dit sal gewoonlik nie só bewoord word nie, maar dit sal vir u duidelik wees dat die VSA, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland al hoe meer probleme ondervind. Hulle sal finansiële probleme ervaar. Hulle sal geleidelik uit die arena van wêreldleierskap verdryf word. Wanneer hulle wel leiding probeer neem en militêr of andersins ingryp in wêreldsake, sal hulle al hoe meer foute begaan en daarvoor verkwalik word. ’n Groot aantal belangrike nasies sal hulle dan skaar by die Palestyne, die Irakese, die Iraniërs en andere wat Amerika nou die “Groot Satan” noem – al is dit dan net in die gees.

Aanvanklik sal baie nasies voorgee om simpatiek te wees teenoor hierdie nasies – die VSA, Kanada, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland – se heersende onbekwaamheid en probleme, maar hulle sal egter geleidelik vyandiggesind en bitter word, verál teenoor die VSA. Afguns sal veroorsaak dat hulle reken Amerika was vir te lank die groot kokkedoor. Amerika was ryk en magtig, en was die uitvoerder van dekadente vermaaklikheid en ’n selfsugtige leefstyl wat werklik walging en afkeer by ander gemeenskappe opgewek het.

Doodmoeg nasie

Amerika skuld tans biljoene dollars wat hulle nooit sal kan terugbetaal nie! Wie sal uiteindelik die trommel vashou – boonop in woede? ’n Nasie wat op ’n stadium die planeet se ekonomiese dryfveer was, is nou ’n skuldenaar wat binnekort ongewenste rekenskap sal moet gee. Amerika was vir dekades ten minste in staat om ’n goeie opbrengs op buitelandse bates te verdien, met die gevolg dat dit ’n verskansing teen die ergste uitwerkings van die begrotingstekort gebied het. Hierdie verskynsel is egter besig om tot ’n einde te kom. Soos een van die wêreld se hoogs gerespekteerde tydskrifte, The Economist, op 19 Januarie 2006 berig het: “In soverre dit die algemene sienswyse aangaan, is Amerika nou die wêreld se grootste skuldenaar. Te wyte aan sy voortdurende handelstekort, het sy rekening teen die einde van 2004 $2,5 biljoen in die rooi gestaan. Tog, op die een of ander wyse, slaag hulle steeds daarin om meer uit buitelandse bates te verdien as wat uitbetaal moet word om sy veel groter skuldlas te eer: $36,2 miljard meer in 2004 ... Dit is nie die inkomste van $36,2 miljard wat ’n raaisel is nie, sê hulle. Die onreëlmatigheid lê in die $2,5 biljoen se skuld. As Amerika steeds beter vaar as buitelanders, moet hul, ondanks wat algemeen aanvaar word, steeds ’n netto krediteur wees ... Maar wat hartseer is ... nadat Amerika in 2004 $36,2 miljard wins gemaak het, het dit gedurende die eerste drie kwartale van 2005 slegs $4 miljard op sy netto buitelandse bates gemaak. As die huidige tendens voortduur, sal Amerika in 2010 sowat $190 miljard moet opdok ... Amerika se netto buitelandse bates sal dan op $3,8 biljoen in die rooi te staan kom. Inderdaad ’n donker prentjie”.

Is die Amerikaanse finansiële posisie besig om ’n “donker aangeleentheid” te word? Amerika se leiers moet wakker word!

Ander nasies kan hulself dalk daarvan oortuig dat hulle geregtig is om ’n nasie aan te val wie se welbekende uitvoerprodukte ’n leefstyl insluit wat dwelms, seks, afbrekende musiek en slegte skuld propageer. Sal Amerika in die toekoms deur ander nasies daarvan beskuldig word dat hy hulle geld leen en steeds “in weelde” leef sonder enige werklike voorneme om die geld ooit terug te betaal?

Let op na God se opdrag aan Sy ware leraars pas voor die vreeslike Groot Verdrukking ’n aanvang sal neem: “En jy, mensekind, sê aan die huis van Israel: So het julle gesê: Gewis, ons oortredinge en ons sondes is op ons, en daardeur teer ons weg – hoe kan ons dan lewe?

“Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Esegiël 33:10-11).

Ja, inderdaad.

As ons ons opreg, as nasie, bekeer en ons tot God wend en Sy gebooie begin onderhou, kan Hy ons genadig wees. Hy kan hierdie nasionale straf vir ’n geslag of twee uitstel, want Hy sê: “Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë!”

Hoeveel van u glo werklik dat Amerika en die nasies van Britse afkoms ’n godsdiensherlewing sal beleef? Glo u werklik dat ons die Skrif sal begin bestudeer en daarvolgens sal leef? Of dat ons sal ophou om bekend te staan as nasies met ’n kriminele geneigdheid? Sal ons ophou om miljoene ongebore babas te vermoor? Sal ons ophou om ons oor te gee aan ongeoorloofde seks wat miljoene vaderlose kinders tot gevolg het?

Het ons die moed van oortuiging om ons vermaaklikheid te suiwer van siek seksuele perversie en geweld? Sal ons weer selfbeheersing kan toepas en ophou om alkohol en dwelms te misbruik? Sal ons ophou om van ons huweliksmaats te skei of om ons kinders te misbruik, en ons verander om God te eer deur Sy gebooie te onderhou en dít te doen wat welgevallig voor Hom is (1 Johannes 3:22)?

Die meeste van ons weet van beter. Tensy ’n ware, opregte bekering plaasvind – lê die Groot Verdrukking voor die deur!

Slegs Christus se Wederkoms as Koning van konings sal werklik ’n verandering van gesindheid op nasionale skaal teweegbring – selfs dít sal eers gebeur na ontsettende swaarkry. Wat ’n skynbare teenstrydigheid! Hoe jammer is dit nie dat, alvorens hierdie wêreld die beste tyd ooit kan beleef, ons deur die heel ergste “haglike tye” moet gaan nie? Jesus Christus kom egter weer en Hy sal ’n werklike, letterlike regering hier op aarde vestig om ons te verlos van die gemors waarin ons onsself laat beland het. In daardie toekomstige tyd, sal Jesus se regering die mensdom onderrig in die wette en weë van God. Mense wat ’n diepe begeerte het om ware Christene te wees, kan en moet hul – nou al – voorberei om ’n aktiewe rol in Christus se eerskomende Koninkryk te speel.

Wat het Jesus eintlik gesê?

Jesus het voortdurend, regdeur Sy Evangelie, van God se komende Koninkryk op aarde gepraat. In die gelykenis van die ponde het Jesus uitgewys wat die beloning sal wees vir diegene wat hul talente en tyd bestee het om God ywerig te dien. Aan die een wie se pond tienvoudig vermeerder het, sê Jesus: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Lukas 19:17).

Jesus sê nie dat Sy getroue dienaars “heeldag in die hemel sal rondsweef” – met niks om te doen nie! Hy sê eerder dat sy heiliges deel sal neem in die komende Koninkryk van God. Hulle sal oor vyf of tien stede regeer – afhangende van hoeveel hulle geestelik gegroei en hul “ponde” of “talente” vermeerder het. Die ware Jesus Christus het voorspel dat Hy as Koning van konings sal terugkeer na hierdie aarde om ’n wêreldregering te vestig (Mattheus 25:31-34; Openbaring 19:11-16).

Jesus se boodskap – die Evangelie van die Koninkryk – behels ’n wêreldregering. Daar is ’n groot behoefte dat reinheid, eerbaarheid en vrede op hierdie aarde herstel moet word. Dit is waarom die apostel Petrus verkondig het dat God “Hom [weer] mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:20-21).

Petrus het gesê dat God se aangewese woordvoerders voortdurend ’n nuwe begin van die wêreld voorspel het! Wat het hierdie woordvoerders voorspel aangaande die regstreekse regering van God wat op die aarde gevestig sal word?

Die Wêreld van Môre

Die profeet Miga het hierdie toekomstige vredestydperk beskryf: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek” (Miga 4:1-4).

Let daarop dat die mens nie meer sal leer oorlog voer nie. Hierdie is die taal van vrede en vooruitgang, met mense wat sal rus en die vrug van hul persoonlike pogings sal geniet. Niemand sal bang wees nie – want die mens sal leer om God se wette te gehoorsaam, individueel en ook as ’n nasie.

Die “wet” wat vanuit Jerusalem na die nasies sal uitgaan (vers 2), is natuurlik die Tien Gebooie. God se basiese, geestelike Wet is sedert die heel begin die grondslag van Sy opdrag aan die mens.

’n Jong man het Jesus ten tye van Sy bediening op aarde uitgevra oor die weg na die ewige lewe. Jesus se antwoord was: “As jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie”. “Watter?” hou die jong man vol. “Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie” (Mattheus 19:17-18).

’n Wêreldgemeenskap wat op die Tien Gebooie gegrond is, met die beloofde hulp van die Heilige Gees om mense in staat te stel om dit te onderhou, sal geen oorloë en feitlik geen misdaad, owerspel, gebroke huwelike, jeugmisdaad of leuens ervaar nie. Nasionale begrotings sal kan wegdoen met alle militêre uitgawes en met die oorgrote meerderheid van wat tans aan plaaslike en nasionale polisiestelsels bestee word. Baie ander “noodsaaklike” regeringsdienste sal ook as “oorbodig” uitgeskakel kan word. Sodanige dienste dra grootliks by tot hoë belasting. U kan u die enorme besparings indink wat gepaard sal gaan met geen leuens of diefstal nie, aangesien dit nie nodig sal wees om bekommerd te wees oor inbrake, winkeldiefstal, besighede wat ingedoen word en belastingbedrog nie.

Wat ’n geseënde samelewing!

Tog kom dit, so seker as wat die son môre gaan opkom en ondergaan! Die mense wat in hierdie samelewing gaan leef sal ook – deur Christus se genade – hulp en leiding, die Tien Gebooie as leefwyse onderhou.

Soos God vir daardie tyd beloof: “En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen” (Esegiël 36:26-27).

Hul grond sal uiters vrugbaar word en hul land meer vooruitstrewend as wat dit vir duisende jare was. Mense sal ’n nuwe gees – een wat God gehoorsaam – ontvang, met die gevolg dat die wêreld uiteindelik vreedsaam sal wees.

Wat baie mense egter nie besef nie, is dat hierdie komende tyd van vrede onder Christus se heerskappy ook ’n belangrike element van die Evangelie of “Goeie Nuus” is wat Hy self verkondig het. Dit is ’n noodsaaklike boodskap rakende die komende wêreldregering!

Regdeur Sy bediening op aarde, het Jesus Christus voortdurend van die komende Koninkryk van God gepraat. Die woord “Koninkryk” behels regering – hoe ’n land of groep lande bestuur word.

Nadat Jesus in die sinagoge te Kapernaum onderrig het, sê Hy: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur” (Lukas 4:43). In wat as die Onse Vader bekend staan, sê Jesus ons moet bid “laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheus 6:10). Hy gee ons opdrag om te bid dat God se regering op hierdie aarde hervestig moet word!

Christus se duisendjarige heerskappy

Toe Jesus na Sy opstanding aan die Apostels verskyn het, het hulle Hom gevra: “Gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Handelinge 1:6). Indien die Koninkryk van God niks meer as ’n geestelike droombeeld en nie ’n werklike regering was wat deur talle Ou-Testamentiese profesieë en deur Christus se eie uitlatings self voorspel is nie, het Jesus hier die gulde geleentheid gehad om daardie opvatting uit die weg te ruim.

Het Hy dit egter gedoen?

Christus sê inteendeel: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie” (vers 7). Die gevolg is dat die Apostels voortgegaan het om die Goeie Nuus van die komende Koninkryk van God te verkondig. Tot en met die einde van die tyd van die Apostels, het hulle deurgaans gepreek oor die komende Koninkryk of Regering van God wat op die aarde gevestig gaan word, met Christus Self as “Koning van die konings” (Openbaring 19:16).

Selfs na die dood van die oorspronklike Apostels, het baie van die vroeë kerkleiers steeds die boodskap van die duisendjarige heerskappy van Christus op aarde verkondig. Die voortreflike geskiedskrywer, Edward Gibbon, skryf oor hoe algemeen hierdie leerstelling ten tye van vroeë Christendom was: “Die antieke en gewilde leerstelling van die Millennium was nou verbind met die Wederkoms van Christus. Soos die skeppingswerk binne ses dae voltooi is, is hul duur in hul huidige staat, volgens oorlewering wat aan die profeet Elia toegeskryf word, op sesduisend jaar vasgestel. Deur dieselfde vergelyking te gebruik, word die afleiding gemaak dat hierdie lang tydperk van swoeg en twis, wat nou byna verstreke is, opgevolg sal word deur 'n vreugdevolle Sabbat van eenduisend jaar; en dat Christus, saam met die triomfantlike groep heiliges en uitverkorenes wat die dood vrygespring het óf wonderbaarlik herleef het, op aarde sal regeer tot die tyd wat bestem is vir die laaste en algemene opstanding” (The Decline and Fall of the Roman Empire, Gibbon, vol. 1, bl. 403).

Ons bevind ons nou naby die einde van 6 000 jaar van die mens se aangetekende geskiedenis! Die tyd sal binnekort aanbreek vir Christus se Koninkryk om op hierdie aarde gevestig te word! Hoewel party mense mag glo dat 6 000 jaar van aangetekende geskiedenis sedert Adam en Eva reeds verloop het, is dit duidelik nie die geval nie! Talle studente van Bybelse chronologie erken dat, danksy maande wat verskil in die opvolgjare van die konings van Juda, die tans aanvaarde chronologie wat jare gelede deur Aartsbiskop Ussher uiteengesit is, met 20 tot 30 jaar uit kan wees, met die gevolg dat dit maklik binne die grense van Bybelse chronologie kan val dat die eerste 6 000 jaar van die mens se geskiedenis vir selfs nog 25 jaar of so kan duur.

Met profetiese gebeure wat nou momentum kry, is ons egter van mening dat hierdie 6 000 jaar waarskynlik heelwat gouer as dít tot ’n einde sal kom! Dit sal die einde van 6 000 jaar van die menslike samelewing onder die invloed van Satan die duiwel wees (Openbaring 12:9; 20:3). Dit sal die einde van ses duisendjarige “dae” wees waartydens die mensdom die toets van menslike lyding afgelê het – om die belangrike les te leer dat die mens se weë verkeerd is – dat die mensdom wat van God afgesny is nie weet hoe om in vrede en vreugde te leef nie.

Die lewende Jesus Christus moet terugkeer om ons van onsself te red van algehele uitwissing van alle lewe op hierdie planeet deur kernoorlog en ander wyses van massavernietiging (Mattheus 24:22)! Diegene wat werklik Jesus se boodskap ter harte neem, sal die ontsagwekkende geleentheid hê om hulle by Christus te skaar met sy Wederkoms om oor die nasies van hierdie aarde te regeer in die eerskomende sewende duisendjarige dag – die duisendjarige Sabbat – waartydens Christus en die ware heiliges vrede op hierdie veelbewoë planeet sal herstel. Die apostel Johannes is geinspireer om die komende Millenium so te beskryf: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Ware Christene sal ’n werk hê om te doen

Die ware heiliges sal nie in die hemel rondsweef ná Jesus Christus se Wederkoms nie! Inteendeel, hulle sal ’n uitdagende en opwindende verantwoordelikheid hê – onder Christus wat Koning van die konings sal wees. Soos Openbaring 2:26-27 dit stel: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het”.

Let daarop dat dit die heiliges se toekomstige rol is om die nasies met ’n ysterstaf te regeer. Daar is vanselfsprekend nie rebelse nasies in die hemel nie! Hulle sal dus hier op aarde gestasioneer moet wees, waar die probleme is, en waar hulle saam met Christus kan werk om die oplossings te verskaf.

In die “gebed van die heiliges” in Openbaring 5:8-10, sê dit God “het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers”. Jesus het die Twaalf Apostels ook beloof: “En Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:29-30).

Individuele Christene wat “oorkom het,” sal oor stede regeer en elk van die Twaalf Apostels sal oor ’n hele stam van Israel hier op aarde heers. Aan wie sal die Twaalf Apostels verantwoordbaar wees?

In sy beskrywing van die herversameling van die volke van Israel uit hul gevangenskap in die komende Groot Verdrukking, het God Hosea geïnspireer om te skryf: “Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die HERE hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die HERE en na sy goedheid in die laaste van die dae” (Hosea 3:5). Dus sal die hele “Israel” in die “laaste dae” – met inbegrip van die Amerikaners en die nasies van Britse afkoms – herversamel word. Koning Dawid sal uit die dood opgewek word, soos ook al God se ware heiliges. Dan sal Dawid weereens getrou en doeltreffend oor die twaalf stamme, of volke van Israel regeer, soos die geval 3 000 jaar gelede was!

In Jeremia 30 beskryf God hoe Hy Israel uit hul komende gevangenskap sal herstel: “Vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie. Maar hulle sal die HERE hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek” (verse 8-9). Let daarop dat bykans alle geleerdes dit eens is dat Jeremia in om en by 600 v.C. geskryf is, bykans 400 jaar na koning Dawid se dood. Hierdie skrifdele beskryf dus wat sal gebeur ten tye van die opstanding uit die dood (Johannes 5:28-29).

Jesus Christus sal terugkeer as Koning van konings. Koning Dawid van die Bybel sal letterlik opgewek word om een van die konings te wees wat uit die gees gebore is en aan Christus verslag doen. Die Twaalf Apostels sal onder Dawid dien, en op hulle beurt sal duisende ware heiliges van God onder hulle dien en oor individuele stede regeer – soos ons reeds in Lukas 19:11-19 gesien het.

“En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel” (Esegiel 37:24). Die ganse Israel sal dus weereens in God se Wette en Sy verordeninge onderrig word, en al die nasies sal regeerders hê wat ten volle opgelei en vaardig is in God se Wette – iets wat God nog altyd beoog het (Deuteronomium 17:18-20).

Vriende, dink asseblief! Ons het nie hier te make met sentimentele leë beloftes nie! Die Groot God wat die bogenoemde skrifture geinspireer het, bedoel óf wat Hy sê – óf die Bybel lieg vir ons!

Die Bybelse boodskap is konsekwent

Bybelprofesieë van Genesis tot Openbaring dui op ’n letterlike koninkryk wat deur God op hierdie aarde gevestig gaan word. Soos die profeet Daniël dit baie bondig stel: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44).

Ná die Babiloniese-, Persiese-, Grieks-Macedoniese- en Romeinse Ryke saam met Rome se sewe “herlewings” – met inbegrip van die toekomstige laaste herlewing met tien konings of heersers wat hul mag sal afstaan aan ’n superdiktator, genaamd “die Dier” (Openbaring 17:9-14) – sal die lewende Jesus Christus as Koning van die konings terugkeer (Openbaring 19:16) om oor hierdie aarde te heers en die menslike samelewing weer in orde herstel voordat dit alle lewe op hierdie planeet uitwis (Mattheus 24:21-22).

Indien ons God se boodskap “glo” en daarop reageer, sal ons die wonderbaarlike geleentheid hê om onder daardie “ander konings” en heersers te tel wat Christus sal bystaan in hierdie baie werklike regering wat God op hierdie aarde gaan vestig! God het die apostel Paulus geïnspireer om hierdie einste punt te verduidelik: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korinthiërs 6:2-3).

Paulus verduidelik voorts dat die ware Christene in God se Kerk nou die korrekte tipe regering moet beoefen en leer om probleme tussen kerklidmate te “beslis”, aangesien ware Christene tans “in opleiding” is om konings en priesters onder Jesus Christus te kan word!

Waarom het u dit nog nooit tevore gehoor nie? Waarom word hierdie duidelike Bybelse boodskap byna nooit in die “algemene” hedendaagse kerke verkondig nie?

Christus se ware “klein kuddetjie” (Lukas 12:32) is êrens op hierdie aarde besig om die Waarheid aangaande God se groot doel te verkondig. Alhoewel God nie almal nou probeer “red” nie (anders sou Hy daarin geslaag het!), moet Sy ware Kerk die goeie nuus van die komende Koninkryk of regering van God as ’n “getuie” aan alle nasies verkondig (Mattheus 24:14). Mense in hierdie Kerk word geleer wat die ware doel van hul lewens is. Hulle word onderrig in hoe om voor te berei om letterlike konings onder Christus en koning Dawid te wees in God se komende Koninkryk. Christus se komende Koninkryk is vir hulle ’n groot werklikheid!

Is dit ook vir u?

Ons uitdaging en geleentheid

Almal van ons wat deel van daardie Koninkryk wil wees, moet leer om soos koning Dawid te dink. Hy skryf: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig” (Psalm 119:97-98). Ons behoort God se geestelike Wet, die Tien Gebooie, lief te hê en dit te bepeins. Ons behoort God se verordeninge te bestudeer, veral hoe hulle almal in die Nuwe Testament uitgebrei word. Dít is hoe ons God se regverdige, genadige manier van ’n oorvloedige lewe kan aanleer. Ons sal dan beter opgelei wees om daardie Wette in die Wêreld van Môre – die komende Koninkryk van God – aan ander te leer en dit te administreer!

Baie ander skrifture maak dit duidelik dat die Koninkryk van God ’n letterlike koninkryk sal wees wat op hierdie aarde gevestig gaan word. Die ware heiliges van God staan voor ’n ontsagwekkende uitdaging en geleentheid! Hulle sal nie net oor mensewesens op hierdie aarde regeer nie, maar ook oor die leerskare engele wat God tans gebruik om mense te “dien” en hulle te help voorberei vir hul toekomstige verantwoordelikhede in die Wêreld van Môre (Hebreërs 1:14).

Sommige mense wat nie werklik die Bybel bestudeer het nie, kan hierdie waarheid as heel verrassend ervaar, aangesien dit verwyderd staan van die algemene wanopvatting dat ons na die dood hemel toe sweef met basies niks om te doen nie! Nogtans stel God se geïnspireerde Woord hierdie roeping, hierdie hoop en hierdie Werk telkemale voor ons.

Dit is die beloning en die ontsagwekkende uitdaging vir God se ware heiliges. Ons moet ons talente en vermoëns nou tot diens van God aanwend. Ons moet sonde en Satan oorwin en daardeur werklik voorbereid wees om onder die lewende Jesus Christus te dien.

Kan dit alles “weg vergeestelik” word? Is ware Christene werklik geroep net om hemel toe te sweef en niks te doen tot in lengte van dae nie?

Nadat Daniël beskryf het hoe die finale “bose ryk” weggeneem en vernietig sal word, let op wat hy profeteer: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:27).

Omdat dit direk na die vernietiging van die finale herlewing van die Romeinse Ryk – die laaste poging tot ’n mensbedinkte een-wêreld regering – sal plaasvind, word hier baie duidelik van ’n letterlike, goddelike regering gepraat wat op hierdie aarde gevestig gaan word en wat aan die “heiliges van die Allerhoogste” gegee sal word.

Hoe duidelik!

In Psalm 149, lees ons die duidelike aankondiging van die geleenthede vir God se ware heiliges om met die diktators af te reken wat hulself net voor Christus se terugkeer aarde toe sal verhef. Kyk: “Laat die gunsgenote juig in heerlikheid; laat hulle jubel op hul bedde. Lofverheffinge van God is in hulle keel, en ’n tweesnydende swaard in hulle hand; om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke; om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie; om ’n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. ’n Eer is dit vir al sy gunsgenote! Halleluja!” (verse 5-9).

As ons onsself werklik sal oorgee aan die lewende Jesus Christus, as ons Hom gehoorsaam en dien, dan sal die Vader aan ons die wonderbaarlike geleentheid skenk om te help om uiteindelik ware vrede en vreugde na hierdie aarde te bring, want ons sou reeds die weg na vrede geleer het, die weg wat die nasies van hierdie aarde nie tans ken nie (Jesaja 59:8).

Onthou God se eie beskrywing van “getroue” Christene: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12).

God se doel sal bly staan

God profeteer dat die mensdom se “kennis sal vermeerder” gedurende “die tyd van die einde” (Daniël 12:4). Heel moontlik is die uitkenningsteken van ons tyd die ontploffing van stoflike kennis. Tegnologiese veranderings is besig om alles wat ons as “normaal” bestempel het, heeltemal op sy kop te keer. In Sy wysheid het die Skepper geweet dat wanneer ons fokus hoofsaaklik materialisties van aard is, ons lewens verstrik sou raak in afgodery en heidense praktyke. Wat ons vandag saai, sal ons môre maai. Die Een wat ons herhaaldelik in die verlede uit nasionale bedreigings soos die Spaanse Armada en die verdelging deur die Nazi’s by Dunkirk gered het, het onomwonde geprofeteer dat, aangesien ons Hom en Sy weë verwerp het, Hy nou Sy Hand – in liefde – sal aanwend om ons te straf en te verootmoedig in die komende Groot Verdrukking!

Ons kan dit slegs voorkom deur ’n nasionale en individuele verandering van hart te ondergaan, deur ’n opregte terugkeer na God, wat ons gewilligheid sal bewys om Sy weë, Sy regverdige Wette en Sy heerskappy oor ons lewens te volg. Sal ons dit doen?

Indien nie, sal die groot Skepper van die hemel en aarde ingryp in ons leierskap en dié van ander lande. Hy sal ons teister deur die weer, aardbewings, siekte-epidemies en ander rampe. Hy sal toelaat dat verdorwe, demoniese geeste toeslaan en die Anglo-Saktiese-Keltiese nasies en hul bondgenote vernietig deur die invloed wat hul sal uitoefen oor naywerige, hatige leiers wat nog op die wêreldtoneel moet verskyn! Toenemende terroriste-aanvalle sal ook ’n bykomende manier wees om ons “trotse mag te verbreek” (Levitikus 26:19)!

God is Almagtig! Hy beskik oor die mag om die geïnspireerde profesieë in Sy Woord te volbring. God se wil sal geskied, op die aarde net soos in die hemel.

Christus se boodskap ’n komende werklikheid

Die kragtige Goeie Nuus wat God deur Jesus Christus aan die mensdom gestuur het, is nie net Sy wonderlike aanbod vir algehele vergifnis van ons sondes van die verlede nie, maar is ook die boodskap van ’n wêreldregering wat binnekort ingestel gaan word om oor die ganse aarde te regeer! Dit sal nie ’n oorlogsugtige, kompeterende menslike regering wees nie. Inteendeel, die Skepper van die ganse mensdom sal ingryp om ons te verlos, te onderrig en tot geestelike volwassenheid te lei.

Sy heerskappy sal alles om u verander – die ganse menslike samelewing, die onderwysstelsels, die kulture en klasse strukture – en dit sal ook ’n einde maak aan die politiekery, die oorloë en die lyding! Ons praat hier van ingrypende veranderings! Ons alledaagse omgewing – dit wat vir ons op televisie opgedis word, die soort radioprogramme en die musiek waarna ons luister, die bedreiging om op straat, in ’n park en selfs by die skool of tuis beroof, aangerand, verkrag en vermoor te word – sal ten goede verander!

Moet uself nie om die bos lei nie! Dit is nie ’n godsdienstige “droombeeld” nie. Dit sal die geprofeteerde handewerk van die ware God wees, wat ons na Sy beeld geskape het, wat sal ingryp om hierdie wêreld tot sy sinne te skud en dit uiteindelik te verlos en ware vrede, voorspoed en geluk te bring.

Selfs die fisiese aarde – wat deur baie eeue heen gely het te wyte aan die mens se sonde en verwaarlosing – sal tot luisterryke prag herstel word. “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing” (Jesaja 35:1).

Hierdie is God se toekomsplanne en Hy beskik oor algehele wysheid en die oppermag om dit te bewaarheid! U behoort die wil van die grote God wat binnekort in ons wêreld sal ingryp om alles te verander, te leer ken en te verstaan!

Sou u meer hieroor te wete wil kom en waarlik in staat wees om hierdie dinge uit die Bybel te bewys, hou dan aan om na die Tomorrow’s World-televisieprogram te kyk en die Tomorrow’s World- en Wêreld van Môre-tydskrifte te lees. Skryf asseblief vir die gratis literatuur wat ons oor hierdie onderwerp aanbied en bestudeer u eie Bybel soos nog nooit tevore nie!

Indien u ook opreg wil reageer op hierdie inligting en op die ander kragtige waarhede wat u deur hierdie Werk ontvang, skryf of skakel dan ons streekkantoor wat agter in hierdie boekie verskyn! Vra vir ’n besoek en verstrek u telefoonnommer waar ons u kan skakel. Niemand sal na u huis toe kom sonder om eers ’n afspraak met u te maak vir ’n tyd en plek wat u pas nie. So ’n besoek sal die geleentheid skep om met ’n verteenwoordiger van hierdie Werk te gesels wat die Waarheid glo en onderrig. U sal dan die geleentheid hê om u Bybelvrae en ander verwante sake te bespreek – en om navraag te doen oor waar om saam met ander ware Christene te vergader, indien u wil. Daar sal geen versoek vir geld wees nie en geen druk sal op u uitgeoefen word om enigiets te doen of by enigiets “aan te sluit” nie.

Die Skeppergod sal in mensesake ingryp – binnekort! Dit sal per slot van rekening ’n positiewe en wonderlike verwikkeling wees – wonderliker as wat die meeste van ons nou kan begryp. Hoe dit ook al sy, ons almal moet verstaan en ons voorberei vir wat God beslis vir ons toekoms beplan het.

Maak gereed! Ryk nederig uit na God en Sy wil soos dit in die Bybel openbaar word. Wees bereid om te doen wat God sê, dan sal Sy ingryping vir u en u gesin ’n ontsagwekkende seën wees. Net soos u gesien het dat profesie in die verlede vervul is – en sien dat God se beloftes tans in u lewe bewaarheid word – net so sal u weet dat God se beloftes rakende die toekoms gewis en seker is. Onthou wat Jesus in Lukas 21:28 vir Sy getroue volgelinge gesê het: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is”